Marianne Lomberg (BVSc Hons) is ’n veearts wat dit geniet om met mense oor hulle diere te gesels. Stuur jou vrae na veearts@voertaal.nu.
Marianne Lomberg (BVSc Hons) is a veterinarian who enjoys talking to people about their animals. Send your questions to veearts@voertaal.nu.
Marianne Lomberg (BVSc Hons) is een dierenarts die graag met mensen over hun dieren praat. Stuur je vragen naar veearts@voertaal.nu.
***
Martel skryf:
Goeiemôre, ek het ’n artikel of antwoord van u gesien op Facebook en gewonder of u kan help.
Ons het ’n tweejarige boerboelreun, Boesman. Dis ons derde boerboel, so ek ken boerboele.
Ons bly op ’n plot en as ons kuiergaste kry, hardloop hy altyd voor die motors in om hulle bande te byt. Ek het hom hierdie week probeer keer toe ’n vriendin kom kuier het en hy het vir my gegrom. Dit was ook nie die eerste keer nie – as hy in my pad is en ek probeer hom skuif, grom hy ook vir my.
Boesman en Fielies (boelterriërteef) gryp mekaar gereeld, maar ek los hulle, want ek is te bang om tussen hulle te kom.
My probleem is my man is min by die huis. Hy werk baie weg en ons het drie jong seuns.
Het baie al opgelees dat ek nie vir Boesman moet slaan as hy vir my grom nie, want volgende keer gaan hy my nie waarsku nie, net byt.
Hoe maak ek? Ek vertrou nie meer vir Boesman nie. Ek is bang hy byt vir my of een van ons seuns as my man nie by die huis is nie.
Enige raad sal ek waardeer.
Groete
Martel Greeff
Beste Martel
Boerboele is wonderlike honde, maar elke nou en dan is daar een wat moeiliker is om te beheer soos wat hulle volwassenheid bereik. As ’n ma van seuns sal jy waarskynlik die idee van die skoolboelie herken: Hulle is eintlik net vreeslik onseker van hulself, maar ongelukkig is hulle groot en sterk genoeg om kleiner kinders af te knou, en terwyl hulle besig is daarmee, voel hulle minder kwesbaar.
Die probleem met boelies is dat hulle soms ernstige beserings kan veroorsaak voor hulle eers besef dat hulle in die hitte van die oomblik te ver gegaan het. En dis wat my bekommer oor Boesman – ek twyfel nie dat hy ’n goeie hart het nie, maar boerboelle is ongelooflik sterk, en indien hy nie skroom om te grom of te baklei nie, kan hy kwaai skade aanrig voor hy dit agterkom.
Vertrou jou instink met hom. As jy bekommerd is, is dit omdat daar rede is. Gesels met ’n gedragskundige of met jou veearts oor gedragsklasse vir Boesman, maar onthou dat jy jou nie verbeel nie. Indien jy bekommerd is oor Boesman by jou seuns, is dit omdat jy rede het daarvoor.
Sterkte
Marianne
Vandag se antwoord word geborg deur My Pet Club (www.mypetclub.co.za). My Pet Club wil jou help om tyd en geld te bespaar, ook kennis op te bou wat jou sal help om die beste moontlike sorg aan jou troeteldiere te gee.
Lees ook:
Vra die veearts: Dit lyk soos ’n bosluis, maar is dit velkanker?
Vra die veearts: My hond wil niks anders as tafelkos eet nie
Vra die veearts: Raad vir ’n rou kol wat nie wil genees nie?
Vra die veearts: Is daar ’n verskil tussen ’n dierenarts en ’n veearts?
Vra die veearts: Sodra dit aand word, toon hond my vreemde gedrag
Vra die veearts: Die werkers het vir my ’n babasteenbokkie gebring
Vra die veearts: Dit lyk of iets in ons troetelhen se keel vassit
Vra die veearts: My nege weke oue rottweiler-tefie het katgriep
Vra die veearts: Kan iemand help om ons honde in vrede saam te laat wees?
Vra die veearts: My hond raak histeries, so erg dat sy my byt
Vra die veearts: My Jack Russell is doof, grondpaaie laat hom kerm