Toe die Griffith Observatory in Los Angeles sy feesprogram vir 2026 – die sterrewag se 91ste bestaansjaar – bekend maak in vroeg Januarie, was Suid-Kaliforniese sterrekykers se skedules gou byderhand. Een datum wat uitstaan: 22 Augustus 2026 wat geoormerk is as een van die mees verwagte openbare Public Star Parties van die laatsomer, wanneer die maan ’n helder, wasagtige boggelbult sal wees.
Weervoorspellings kan wel eers dae voor die geleentheid met sekerheid bepaal word, maar mits die hemelruim bo Mount Hollywood skoon bly, sal die voorste grasperk van die sterrewag op dié Saterdagaand volgepak wees met teleskope wat deur vrywilligers van die Los Angeles Astronomical Society en die Sidewalk Astronomers vir die publiek opgestel word.
Dié nuus hoor ons tydens ons staduitstappie met Norwegian Cruise Line (NCL), nadat ons pas agt dae op die luukse Norwegian Bliss deurgebring het. Van Los Angeles het ons suidwaarts gevaar en by drie Meksikaanse hawens aangedoen, voor ons weer terug in die Stad van Engele ons reis afsluit met ’n halfdag-toer deur die stad. Vir vele is dit ’n verskoning om nog ’n dag in die stad te talm, voor hulle huis toe vlieg. Vir ons is dit die kans om soveel moontlik oor die stad te leer.
Elkeen van die skeepsvaart se uitstappies die vorige week was ’n hoogtepunt met uitstekende reëlings, ingeligte gidse en alles wat jy oor ’n plek wil weet, in een verkenningstog saamgevat.
Dis toe dae later dat ons weer op ’n bus met ’n gids sit. Dié keer met ’n Big Bus Tours-rit in vroeg Januarie. Die Big Bus-toeristebusroete gaan nie by die sterrewag verby nie, maar stop wel daar naby, as jy lus sou voel om die steiltes uit te stap tot bo.
“Wanneer die skemer oor die vlaktes toesak en die berglug van die Santa Monica-reeks afkoel, verander die groot metropool van Los Angeles in ’n oneindige see van glinsterende ligte. Teen die suidelike helling van Mount Hollywood staan die Griffith Observatory – helder verlig soos ’n Art Deco-katedraal van wit beton en bronskoepels,” gesels ons gids half in vervoering oor die mikrofoon.
Ook hy raak aan die 22 Augustus-byeenkoms en sê dit vorm deel van ’n betekenisvolle feesjaar waarin dié ikoniese baken twee dekades vier sedert die grootskaalse heropening en ondergrondse uitbreiding van die kompleks in 2006.
Wie sal dan nou nie na dié liriese beskrywing wil gaan kuier nie?
Ons neem egter net kennis en besluit om ’n paar dae later per motor self na die sterrewag te ry vir ’n uitstappie.
Ons toergids het verduidelik dat die binnekant van die sterrewag bedags ’n lekker kuierplek is as die winterswindjie so ysig waai, maar dat ons in die aand moet terugkeer vir die volle ervaring. En natuurlik is Wolfgang Puck Catering se Café at the End of the Universe net dié plek vir warmsjokolade en ’n toebroodjie.
Daar gekom, besef ons hoekom die gids gesê het dis nie sommer net nog ’n toeriste-aantreklikheid nie; dit is die primêre venster waardeur Suid-Kaliforniërs en besoekers al vir nege dekades lank na die heelal – én na hul eie stad – kyk. Hier, op die grens tussen die mensgemaakte ligte van die LA-kom en die ewige duister van die ruimte, smelt wetenskap, geskiedenis, argitektuur en die rolprentkuns saam.
Die Griffith Observatory lê sowat 346 meter bo seevlak, hoog bo Los Feliz en die res van Los Angeles se digbevolkte strate. Dis in Griffith Park – een van die grootste stedelike munisipale parke in die Verenigde State wat oor meer as 1 700 hektaar se ruwe berghange en klowe strek. Om die sterrewag te bereik, kronkel jou pad op teen Fern Dell Drive of Vermont Avenue, waar die besige stadsrumoer stadig vervaag en plek maak vir oorgroeide berghange.
Afgesien van sy wetenskaplike en historiese erfenis, het die Griffith Observatory oor die dekades ’n onuitwisbare stempel op die wêreldwye popkultuur afgedruk, as een van Hollywood se gewildste verfilmingsliggings. Danksy sy treffende ligging en argitektuur, is dit in honderde rolprente, televisiereekse en musiekvideo’s.
Sekerlik die bekendste hiervan is die 1955-fliek Rebel without a cause, waarin James Dean as Jim Stark speel. Die deurslaggewende tonele, waaronder die dramatiese mesgeveg op die terras en die sterrewaglesing, het die sterrewag wêreldberoemd as ’n simbool van jeugdige rebellie gemaak. Die eerste stop wat ons maak vir ’n foto, is die bronsborsbeeld van James Dean net regs van die gebou.
Van The Terminator (1984) tot Transformers (2007) en Adele se eksklusiewe konsert One night only (2021), bly die gebou ’n geliefde doek vir Hollywood se kreatiewe geeste.
Maar geen moderne rolprent het die magiese, romantiese sfeer van die sterrewag egter so mooi vasgelê soos Damien Chazelle se Oscar-bekroonde musiekblyspel La La Land (2016) nie. In die rolprent se mees betowerende toneel stap die hoofkarakters Sebastian (Ryan Gosling) en Mia (Emma Stone) na sluitingstyd by die stil planetarium in; terwyl Justin Hurwitz se swewende walsmusiek speel, lig die paartjie van die grond af op en dans hulle letterlik tussen die geprojekteerde sterre en sterrestelsels van die koepel.
Om die tiende herdenking van dié fliek se vrystelling in Augustus vanjaar te vier, bied die Griffith Observatory Foundation twee eksklusiewe herdenkingsvertonings van die rolprent op 3 en 17 Augustus aan, kompleet met voorvertoningsgesprekke deur die prent se choreograaf Mandy Moore en produksie-ontwerpers David Wasco en Sandy Reynolds-Wasco.
Van die groot opelug-waarnemingstoepe rondom die gebou het jy ’n 360 grade uitsig wat min plekke ter wêreld kan ewenaar. Reg langs die sterrewag, op die naburige Mount Lee, troon die wêreldberoemde Hollywood-teken se spierwit letters. Van die noordelike terras af kry jy een van die skoonste, onbelemmerde kykies op hierdie nege reuseletters wat die rolprentdroom versinnebeeld.
Voor jou strek die hele Los Angeles-kom uit. Op ’n helder dag of met sonsak sien jy die wolkekrabbers van Downtown Los Angeles (DTLA) soos geometriese gietvorms teen die horison oprys. Dit lyk amper soos kant aan die einde van ’n lang, plat stuk materiaal.
Verder suid strek die geruite patroon van strate, snelweë en woontye uit tot by die Palos Verdes-skiereiland. Weswaarts volg die blik die beroemde Wilshire- en Santa Monica-boulevard al die pad na die Stille Oseaan. Dié beeld is oorbekend danksy Hollywood se flieks en reekse.
Wanneer dit nag word, word die uitsig ’n skouspel van miljoene liggies wat soos ’n omgekeerde sterrehemel onder jou voete lê. Dit is hierdie kontras – die menslike beskawing onder en die kosmiese stilte bo – wat die plek sy unieke atmosfeer gee, hoor ons binne by een van die vrywilligers wat mense rondwys.
Ons lees in ’n spesiale hoekie dat die verhaal van die Griffith Observatory onlosmaaklik deel van die fassinerende lewe van kolonel Griffith Jenkins Griffith is. Hy was ’n immigrant uit Wallis wat in die laat 19de eeu ’n fortuin in die Kaliforniese mynbou- en eiendomsbedryf gemaak het.
Hy het in 1882 die historiese Spaanse Rancho Los Feliz gekoop. In Desember 1896 het Griffith 1 220 hektaar hiervan aan die stad van Los Angeles geskenk, met die spesifieke voorwaarde dat dit ’n openbare park moet wees – vir altyd. Hy het geglo dat openbare parke noodsaaklik is vir die gesondheid en siel van ’n stad.
Na ’n besoek aan die Mount Wilson-sterrewag bo Pasadena – waar hy deur ’n reuseteleskoop na die hemelruim gekyk het – het hy ’n lewensveranderende insig gekry. Hy het verklaar dat “as almal net deur daardie teleskoop kon kyk, dit die wêreld sou verander”.
In sy testament van 1919 het hy ’n aansienlike som geld aan die stad bemaak om twee strukture in die park te bou: ’n opelugteater (die Greek Theatre) en ’n openbare sterrewag met ’n planetarium en vertoonsale.
Die ontwerp van die gebou is toevertrou aan die bekende argitekte John C Austin en Frederick M Ashley. Die bouwerk het in 1933, op die hoogtepunt van die Groot Depressie, begin as deel van die WPA (Works Progress Administration) se werkverskaffingsprojekte. Op 14 Mei 1935 het die Griffith Observatory amptelik sy deure geopen. Binne die eerste vyf dae het meer as 13 000 mense deur die deure gestroom.
Die gebou self is ’n argitektoniese meesterstuk wat Beaux-Arts-simmetrie met Art Deco-besonderhede kombineer. Die drie wit betonkoepels en groenerige koperdakke is van kilometers ver sigbaar. Wanneer jy die hoofingang binnestap, staan jy in die Central Rotunda. Aan die plafon hang die beroemde Foucault-pendulum, ’n meganiese toestel wat bewys dat die aarde om sy eie as draai, terwyl die pendulum heen en weer swaai. Die gewelf van die rotonde is versier met pragtige muurskilderings deur Hugo Ballin, wat die vooruitgang van die mensdom uitbeeld deur die wetenskap, sterrekunde, navigasie en mitologie.
Maar terug by die sterrewag en sy eintlike doel: Binne kan jy verskeie permanente besienswaardighede sien, maar die 12 duim Zeiss-refraktorteleskoop in die oostelike koepel, wat sedert 1935 in gebruik is, is sekerlik die bekendste. Meer mense het al deur hierdie spesifieke teleskoop na die hemelruim gekyk as deur enige ander teleskoop op aarde, vertel een van die personeel trots.
In die westelike koepel projekteer ’n stel spieëls en lense van die Coelostat (sonteleskoop) ’n regstreekse beeld van die son met sy sonvlekke en formasies op ’n skerm binne die saal. Onder die groot sentrale koepel vind jy die Samuel Oschin Planetarium. Anders as die meeste moderne planetariums wat slegs vooraf-opgeneemde digitale vertonings gebruik, word die vertonings hier gelei deur lewendige, opgeleide sprekers wat die gehoor op ’n meesleurende reis deur die heelal neem.
Tussen 2002 en 2006 het die sterrewag vir vier jaar gesluit vir ’n omvattende herstel- en uitbreidingsprojek van $93 miljoen. Omdat die historiese buitekant nie verander moes word nie, het ingenieurs onder die berg ingegrawe en meer as 3 716 vierkante meter se nuwe uitstalruimte, die Gottlieb Transit Corridor, en die moderne Leonard Nimoy Event Horizon-teater onder die bestaande gebou geskep.
En die beste van alles: Daar is geen toegangsfooie nie, want kolonel Griffith het spesifiseer dat toegang tot die sterrewag en die teleskope altyd gratis vir die publiek moet wees, sodat die gewone mense ook die geheime van die kosmos kan ontdek.
Die Griffith Observatory is meer as net ’n monument. Dis ’n lewende getuienis van kolonel Griffith se visie: dat wetenskap en skoonheid nie die alleenreg van die elite moet wees nie, maar toeganklik vir enige mens wat bereid is om op te kyk.
Hier lok Los Angeles nie net die sterre nie; die sterre word deel van die stad self.
Kitsfeite:
- Loer by https://griffithobservatory.lacity.gov/ vir meer inligting en openingstye.
- Parkering op die berg is beperk en duur, maar die DASH Observatory-bus vanaf die Vermont/Sunset Metro-stasie bied ’n gerieflike alternatief. Die beste raad is om ten minste twee uur voor sonsondergang aan te kom om die uitstallings te verken, die goudkleurige sonsondergang te aanskou en daarna self deur die historiese Zeiss-teleskoop te kyk.
- Vir sterrekundegeesdriftiges strek die wetenskaplike opwinding regdeur die laatsomer. Op 20 Augustus en 17 September vind die maandelikse All space considered-program in die Leonard Nimoy Event Horizon-teater plaas, waar die sterrewag se eie sterrekundiges die nuutste ontdekkings in die ruimte bespreek.
- Vir al die skeepsvaarte wat van en na Los Angeles vertrek of by dié hawe aandoen, loer by www.ncl.com.
- Vir die roetes van die Big Bus, loer by https://www.bigbustours.com/en/los-angeles/los-angeles-bus-tours.
Foto’s: Clifford Roberts
Lees ook:
Going the distance: Ivory Coast museum finds new lease on life at 45
Stap terug na ’n diep verbintenis met jou geskiedenis by Soetmelksvlei











