Die Namakwaland is meer as net twee maande se blomme

  • 0

Vir die meeste Suid-Afrikaners bestaan Namakwaland net vir ’n vlugtige paar weke in Augustus en September. Vir die res van die jaar word hierdie uitgestrekte halfwoestyn-streek grootliks deur die massas vergeet, ’n stil, droë hoekie van die land wat wag op sy jaarlikse, dramatiese gedaanteverwisseling.

Wanneer die winterreëns op die regte tyd geval het, stroom duisende reisigers noordwaarts, gewapen met kameras en hoë verwagtinge, ingestel op daardie een poskaart-volmaakte prentjie: ’n eindelose, skitterende tapyt van oranje en wit gousblomme en pers en pienk vygies wat onder ’n potblou hemel oopgegooi is.

Ons het bespreek vir die laaste naweek van die bekende Namaqua Flower Camp, ’n luukse rariteit in die Namaqua Nasionale Park wat net vir vier weke opgerig word. Natuurlik suggereer die naam dat jy tussen die blomme gaan kamp.

Maar die natuur laat hom nie voorskryf nie. Die aarde het niks om te bewys nie. Die skoonheid is steeds daar; dit vra net dat jy jou oë oopmaak vir ’n ander soort teater.

Vanjaar het die winterreëns vroeg uitgesak en toe weer weerbarstig weggebly, en die aarde het besluit om eers vroeg en toe ook skaam te wees, met sy blommeprag daar in dié noordelike nasionale park.

Om Namakwaland slegs aan sy blomme te meet, is om ’n ryk, meesleurende boek net op sy voorblad te beoordeel. Hierdie landskap is 365 dae van die jaar oermooi op ’n manier wat jou siel stilmaak. Sy skoonheid lê in die strak, eerlike lyne van die koppies, die mistieke oggendmis wat van die oseaan af oor die sukkulente rol, die eindelose stilte wat jou ore laat tuit en die rou, magtige ontmoeting tussen die aarde en die wilde Atlantiese Oseaan.

Die blomme het grootliks in hul ondergrondse slaap gebly. En tog, wie dink dat ’n skaam blomjaar ’n teleurstelling is, het nog nie ervaar wat gebeur wanneer die elemente hul eie teater opvoer nie.

Ons tref toe ’n onverwagse winternaweek in die hartjie van die laatlente.

Die briefie in ons tent verklaar: “Sommige jare is die blomme uitsonderlik. Sommige jare is hulle meer subtiel. Maar elke seisoen bring sy eie magie. Ons nooi jou om stadiger te leef. Kyk hoe die lig oor die oseaan verander. Deel goeie kos en samesyn en ongelooflike sonsondergange voor die branders jou aan die slaap sus.”

Wanneer die kleure onder jou voete stilbly, verskuif die fokus na die grootsheid van die lug en die elemente. Die woestynkuslyn van die Namaqua Nasionale Park, net ’n kilometer noord van die Groenriviermond-ingang, skryf in sulke tye sy eie, onvergeetlike storie. En dit is juis hier waar die Namaqua Flower Camp sy tentpenne inslaan.

Die park het 40 soogdiere en 123 voëlspesies en is Suid-Afrika se derde grootste park. As die weer mooi is, is daar baie om te verken.

Maar daar is iets poëties aan die vlugtige bestaan van die tentkamp. As jy in Julie op hierdie spesifieke kusstrook sou staan, sou jy niks sien nie. Net die ruwe, onaangeraakte fynbos, die verwaaide sandduine en die rotsagtige riwwe teen die branders. Geen fondamente nie, geen kragdrade nie, geen bakstene of beton wat die natuurlike balans versteur nie. Net oop, wye aarde onder die winterhemel.

Dan soos ’n lugspieëling wat uit die Weskus-mis verrys, kom die opslaanspan aan. Binne ’n kwessie van dae verander hierdie afgesonderde landskap in ’n luukse oase. Vragmotors bring massiewe seildoektente, stewige houtvloere, meubels, fyn linne, kombuistoerusting en kragopwekkers wat stilweg in die agtergrond werk. Met uiterste akkuraatheid en respek vir die brose ekosisteem word 15 luukse tente, ’n ruim eet- en kuiertent en ’n volledige mobiele kombuis meesterlik opgerig.

Dis nie luuks in fluweel en smarag en robyne nie; dis luuks, omdat dit vlugtig is. Dis vir in-die-oomblik-leef. Die geskenk van ’n vlietende aard.

Dit is ’n reuse-onderneming van menslike vernuf en presisie, aangedryf deur ’n streng volhoubaarheidsfilosofie. Want sodra die vier seisoenale weke verby is, gebeur die indrukwekkendste deel van die proses: Alles word afgeslaan. Binne ’n oogwink verdwyn die tente, die beddens, die kombuis en die lanterns.

Die span pak elke bout, moer en muskietnet op. Geen plastiekbottel, servet of broodkorsie bly agter nie.

Wanneer die laaste voertuig wegry, bly net die voetspore in die sand oor, wat die middagwind kort voor lank ook weer gelykvee. Die aarde herwin sy stilte, ongeskonde en onversteurd, asof geen mens ooit daar was nie.

Maar vir daardie vier weke wat die kamp wel daar staan, bied dit aan ’n klein groepie bevoorregte besoekers ’n sitplek in die voorste ry, en die vertoning is die natuur in al haar fasette.

Om hier te bly, herdefinieer die begrip luuksheid heeltemal. In die stad beteken luuksheid dikwels oordadige dekor, slimfoonknoppies en kits-warmwater. By Namaqua Flower Beach Camp lê die ware luuksheid in die stadige, menslike sorg wat agter die skerms gebeur.

Binne-in die tent wag ’n skuiling wat jou nooi om jou skoene uit te skop en die storms van die lewe buite te laat raas. Die linne op die bed is vars, krakerig en sneeuwit. En dan is daar die geheime wapen teen die woestynkoue: Onder die dik wolkombers is die elektriese kombers wat jy aansit voor jy oorstap vir aandete.

Aan die agterkant van die tente staan ’n tuisgemaakte donkie. Dié outydse, eenvoudige, maar geniale warmwaterstelsels wat met vlamme gestook word. Vroegoggend voor die eerste lig oor die sandduine breek, en weer laatnamiddag wanneer die seewind sy koue tande wys, kan jy die sagte knetter van die houtvuur agter die tente hoor. Die kamppersoneel stook die donkie met geduld en toewyding.

Jy het ’n vlaggie in jou tent wat jy binne sekere ure wapper en twee manne kom aangedraf: een met ’n leer en een met ’n reuse-emmer kokende water wat in die seilsak bo jou badkamer ingegooi word.

Om in ’n ruim seildoekbadkamer te staan met die stoom wat om jou skouers draai, terwyl die ysige Weskus-wind buite teen die rant van die tent pluk, is ’n fisieke genot wat geen vyfster-stadshotel kan naboots nie.

Dit is ’n rustieke – maar fyn afgeronde – ervaring van omgee en gerief.

Hoewel die wildernis buite sy spiere wys, ontbreek niks aan die binnekant van die kamp se gemeenskaplike ruimtes nie. Ná jou verkwikkende stort, slenter jy onder die beskutte paraffienlampie-beligte eet- en kuiertent in.

Die atmosfeer tussen die klein groepie gaste is knus en deurdrenk van ’n besondere soort kameraadskap. Stormweer bring mense altyd hegter aan mekaar. Terwyl die reën teen die groot tent se doek waai en die wind buite tol, sit almal rondom die tafels en gesels oor die dag se uitstappies in die park, of die lang pad wat afgelê is om vanaand hier te kan wees.

Die geure uit die kombuistent verlei jou neus. Die sjefs tower die mees vertroostende driegang-aandetes op – van geurige bredies en kerries en varsgebakte brood tot heerlike nageregte wat die koue van die nag heeltemal verdryf.

Wanneer die aand ten einde loop en jy met ’n laaste bietjie wyn in die sitkamer sit, gesels en beplan jy saam met ander toeriste aan die komende dag.

In jou tent het personeel die bed berei, ’n soetigheid op jou kopkussing geplaas en die koffie en beskuit is gereed vir môreoggend.

Wanneer die eerste swaar, enkele reëndruppels ten laaste teen die tent se seildoekdak begin tik, skep dit ’n meesleurende, hipnotiese simfonie.

Reën op ’n tentdak het nog altyd ’n eienaardige soort troos gebring – ’n herinnering aan menslike broosheid en ons behoefte aan skuiling. Maar hier, waar die branders van die oseaan skaars 100 meter van jou tentstoepie af breek, voel die geluid heelwat meer intens.

Jy lê op jou rug, krul jou tone dieper in die warmte van die elektriese kombers in, met ’n goeie boek in die hand. Die bedlampie skyn op die bladsye. Dit is ’n oomblik van pure, onversteurde vreugde; ’n uitnodiging om die besige gejaag van die alledaagse lewe af te skakel en jou oor te gee aan die kuns van lees en luister.

Die kragopwekker gaan ’n uur ná die laaste gaste uit die eettent vertrek het af.

Die donderweer rol oor die duine, maar jy dryf droomland toe op ’n gerieflike “skipbed”.

Die volgende oggend word jy nie wakker gemaak deur ’n skelle wekker of stadsgedreun nie. Om 7:30 staan die fles kookwater buite jou tent. Die rokie van die donkie dwarrel bo die tente en met ’n koppie stomende moerkoffie kyk jy uit oor die see.

Die storm het teen dagbreek bedaar. Die wolke dryf nou hoog en dun oor die oseaan en die lug is vars. Die seewind dra die onmisbare, heerlike reuk van nat fynbos, sand en verfriste aarde saam met hom.

Ons het ’n piekniekmandjie bespreek en besluit om vir ’n paar uur in die park rond te ry – donker wolke of te nie. Op die ou einde eet ons in die bakkie om uit die sagte reën te bly, maar gelukkig het ons flessies met warm tee en die lekker bekerhouertjies langs ons sitplekke is net die plek vir stomende lekkerte.

’n Skaam blomjaar is nie ’n verlore seisoen nie; dit is ’n uitnodiging om anders te kyk. Dit herinner die mens daaraan dat ons nie die natuur kan beveel om op opdrag te presteer nie. Die aarde volg sy eie wysheid, sy eie seisoene van rus en oorvloed.

En dikwels is “niks om te sien” die geheime kode vir jou om heeltemal af te skakel, vir middagslapies en boeklees. Vir glase wyn drink en gesels en soms net sit.

By Namaqua Flower Beach Camp ontdek jy dat die ware magie van Namakwaland nie net in die blomme lê nie, maar in die landskap self, die mense wat die kamp met soveel sorg bestuur en die ervaring van algehele afsondering.

En wanneer jy aan die einde van jou verblyf wegry, weet jy dat hierdie oase oor ’n paar dae net so spoorloos sal verdwyn. Die tente sal opgelê word, die donkie sal koud word en die kuslyn sal weer teruggegee word aan die seewind en die stilte.

Maar die herinnering aan daardie warm bed, die reën op die seildoek en die donderweer oor die Atlantiese Oseaan sal vir altyd in jou gemoed bly breek.

Volgende jaar kan ons weer kom blomme kyk, maar hierdie vredige ervaring was enig in sy soort.

Kitsfeite
  • Aanstaande jaar vier Namaqua Flower Camp hul 15de bestaansjaar. Hou hul webwerf dop vir wanneer besprekings vroeg in 2027 open by https://flowercamps.co.za/.
  • Die Namaqua Nasionale Park – Suid-Afrika se derde grootste park – is heel jaar ’n plek om jou siel se rus te herstel. Daar is talle plekke waar jy kan wildkamp en niemand sien vir dae nie. Meer inligting is by https://www.sanparks.org/parks/namaqua.
  • Ons het die roesrooi Ford Ranger XLT 10AT 4x4 vir hierdie uitstappie toetsbestuur. Die voertuig het sy pad deur die deurdrenkte Namaqua Nasionale Park moeiteloos genavigeer. Die tienspoed- outomatiese ratkas het naatloos gewissel, terwyl die vierwiel-aandrywing en die diep profiel van die bande meedoënloos deur die sagte wit sand gery het. Die ruim en stil kajuit het ’n gevoel van absolute geborgenheid gegee – in sterk kontras met die nat, ruwe veld wat buite onder die grys hemel gestrek het. Meer inligting by www.ford.co.za.

Foto’s: Clifford Roberts

Lees ook:

Masiya’s Camp huldig meesterspoorsnyer se gedagtenis

Los jou lewensbagasie by die Mount Camdeboo-hek

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top