SASNEV-borrel: Dit bruis en borrel in Afrikaans en Nederlands by Toyota Stellenbosch Woordfees 2026

  • 0

Die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere- (SASNEV-) borrelgeleentheid was vanjaar deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees en is Saterdagmiddag by die BBP-tentarea van die Stellenbosse stadsaal gehou. Dit was “hoog tyd om die Week van Nederlands in Suid-Afrika af te skop”, aldus die sjiek uitnodiging, en natuurlik heel gepas met die Woordfees se 26ste feesslagspreuk “Dis hoog tyd”.

SASNEV versterk kulturele bande tussen Afrikaans en Nederlands.

Verlede jaar was die ontbytborrel ’n laatoggendgeleentheid in die Hofmeyrsaal en het die Week vir Nederlands op ’n hoë noot afgesluit. Vanjaar is die Borrel ook gebruik om die wenners van die Tweede Diktee met ’n glasie vonkelwyn te eer. Van die onderwysers en leerders wat die Diktee meegemaak het, was ook onder die gaste.

Onderwysers wat die leerders na die Tweede Diktee vergesel het, is Genevieve Adams (Hoërskool Manenberg), Amy Abrahams (Christel House South Africa, Kaapstad) en Joselin Jors (Swartberg Sekondêre Skool).

McKenzie Thomas en Allison Matroos (Departement Afrikaans en Nederlands wat die Tweede Diktee-teks aan leerders voorgelees het)

Die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere- (SASNEV-) borrelgeleentheid is ’n jaarlikse geleentheid om kultuurbande tussen Suid-Afrikaners, Nederlanders en Vlaminge te versterk, maar gaste kon vanjaar ook twee nuwe hooggeplaastes beter leer ken: Cornelieke Keizer, die nuwe konsul-generaal van die Koninkryk van die Nederlande in Kaapstad, en Peter ter Horst, die intredende voorsitter van Zuid-Afrikahuis Amsterdam.

Peter ter Horst (die intredende voorsitter Zuid-Afrikahuis, Amsterdam) en Jan Schinkelshoek (uittredende voorsitter Zuid-Afrikahuis, Amsterdam)

Peter ter Horst (intredende voorsitter Zuid-Afrikahuis, Amsterdam) spreek die gaste toe.

Jan Mutton (voorsitter SASNEV en oudambassadeur vir België) het die feestelikhede amptelik geopen en gesê dis ’n spesiale geleentheid om twee belangrike nuwe mense in die SASNEV-familie as deel van die funksie te hê. Hy was ook verheug dat die Borrel en Diktee nou amptelik deel van die Woordfees vorm, en dit is die ideale geleentheid om weer bande met vennote en vriende en borge te versterk.

Hy het vertel dat Peter vir Jan Schinkelshoek opvolg, wat die posisie sedert 2017 beklee het. “Peter het sedert 2014 ’n skakel- en kommunikasieagentskap in Den Haag bestuur, maar beskik oor uitgebreide ervaring met betrekking tot Suid-Afrika. Hy het in die 1990's vir agt jaar in die land gewoon en gewerk, waar hy as korrespondent vir NRC Handelsblad en RTL Nieuws verslag gedoen het oor die oorgang van apartheid na demokrasie. Hy het ’n boek oor daardie tydperk gepubliseer, getiteld De Trek – Thuisland Zuid-Afrika (1996).”

Jan Schinkelshoek (uittredende voorsitter Zuid-Afrikahuis, Amsterdam), Cornelieke Keizer, die nuwe konsul-generaal van die Koninkryk van die Nederlande in Kaapstad, en Jan Mutton (voorsitter SASNEV en oudambassadeur vir België).

Ilse Feinauer (Departement Afrikaans en Nederlands), Phillip Louw (hoofredakteur en uitvoerende direkteur, Buro van die WAT) en Jan Mutton (voorsitter SASNEV en oudambassadeur vir België)

Cornelieke het agt weke gelede in haar pos begin en vind nog haar voete in Suid-Afrika. Sy het in haar toespraak gesê: “Enigiemand wat my ken, weet hoe lief ek vir literatuur is. En die briewe tussen die Suid-Afrikaanse skrywers André P Brink en Ingrid Jonker is van my gunstelinge. Vir my vertel dit een van die mooiste en mees tragiese liefdesverhale wat ek ken.

“Toe ek genooi is om namens die Nederlandse Ambassade en Konsulaat in Suid-Afrika by SASNEV se jaarlikse Woordfees-borrel te praat, en om die pryse vir die tweede Diktee vir Afrikaans saam met SASNEV se voorsitter, Jan Mutton, te oorhandig, het ek nie besef dat hulle ook ’n groot rol gespeel het om Ingrid Jonker se argief terug na Suid-Afrika te bring nie.

“Die versameling, wat manuskripte, briewe en persoonlike dokumente insluit, word nou by die Universiteit Stellenbosch gehuisves. ’n Belangrike deel van Suid-Afrika se literêre geskiedenis, terug waar dit hoort. Dit is ’n wonderlike voorbeeld van die werk wat SASNEV en sy susterorganisasie, die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam, doen om die literêre, taalkundige en kulturele bande tussen Suid-Afrika, Nederland en Vlaandere te handhaaf en te versterk.

“Ek het my in ’n tweede naweek agtereenvolgens in Afrikaans verdiep deur middel van literatuur en teater. Ek het twee vertonings geheel en al in Afrikaans gesien: My kind druip en Gryp elke GrasHolm. Tydens die eerste een het ek dalk 50–60% verstaan van wat gesê is, maar ek het gevind dat ek al hoe meer opgetel het soos wat die toneelstuk aangegaan het. Teen die tweede een het ek selfs van die grappies begin snap. Nie ’n slegte manier om ’n taal te leer nie, veral wanneer dit twee dinge behels waarvoor ek lief is: literatuur en teater.”

Cornelieke Keizer (nuwe konsul-generaal van die Koninkryk van die Nederlande in Kaapstad) lewer haar toespraak.

Jan Mutton (voorsitter SASNEV en oudambassadeur vir België) spreek die gehoor toe.

Cornelieke is gevra om die sertifikate aan die eerste- en derdepryswenners van die Tweede Diktee saam met Jan Mutton te oorhandig. Die wenner is Amé Breytenbach van die DF Akademie, en Ellroy Treurnich van Christel House South Africa in Kaapstad was in die derde plek. Die tweedeplekwenner is Victor Gräbe, hoofseun vir 2027 van die Engels-mediumskool Fairmont High School. Sy prys is deur sy onderwyseres, Michelle Knoetze, ontvang.

Sertikfate is daarna uitgedeel aan die onderwyser en vakadviseur wat die meeste studente vir die Diktee ingeskryf het. Die pryse het onderskeidelik aan Esmé Cupido van Princeton Hoërskool en Ernest Adams, vakadviseur in die Metro-Suid Onderwysdistrik, gegaan.

Esmé Cupido van Princeton Hoërskool en Michelle Knoetze van Fairmont High School. Esmé het die prys ontvang vir die onderwyser wat die meeste leerders vir die Tweede Diktee gewerf het.

Jan Schinkelshoek (uittredende voorsitter Zuid-Afrikahuis Amsterdam) het in sy afskeidstoespraak gesê: “Dit voel weer bekend. Weer eens het ons van Nederland af gereis – spesifiek van Zuid-Afrikahuis in Amsterdam – om fisies teenwoordig te wees by die Woordfees, die kultuurfees in Stellenbosch wat al hoe meer ’n bekende naam word.

“Dit voel asof ons nooit weg was nie.

“Dit het geleidelik ’n tradisie vir ons geword om hierdie wonderlike geleentheid te gebruik om ons kontakte in Suid-Afrika te hernu, die situasie te evalueer, vars idees op te doen en ons samewerking te versterk. Natuurlik in die eerste plek met ons susterorganisasie, SASNEV. Dit is die sewende keer dat ek hier is.

“Maar dit is meer as net roetine, meer as bloot ’n werksbesoek. Dit blyk duidelik uit die wonderlike ontvangs wat ons gekry het – ’n werklik hartlike en bemoedigende verwelkoming wat deur SASNEV gereël is. Dit voel soos tuis. Onder vriende.”

“Dit is hoog tyd om mekaar weer op hoogte te bring. Daar het baie gebeur sedert verlede jaar. Ons nuwe direkteur, Susan Coetzee-van Rooy, het reeds ons Huis verlaat. Sy kon nie die roepstem van die akademie weerstaan ​​nie – sy het ’n aanbod gekry om ’n voltydse professor aan die Noordwes-Universiteit te word. Dit is verstaanbaar, maar tog jammer – veral omdat dit so gou gebeur het.

“Ek sou graag haar opvolger aan u wou voorstel. Die werwingsproses het egter nog nie die stadium bereik waar ’n nuwe direkteur in sig is nie. Maar ek verwag dat dit nie veel langer sal duur nie.

“Die persoon wat ek wel aan u kan voorstel, is my opvolger as voorsitter van die bestuur van ons Huis, Peter ter Horst. Destyds het ek hom van Suid-Afrika na Nederland gebring om my op te volg as hoofredakteur van die Haagsche Courant. Nou, al hierdie jare later, bring ek hom weer terug.

“Peter sê altyd dat Suid-Afrika sy tweede tuiste is. Sy oudste dogter is hier gebore.”

Hy het gesê teen die tyd dat hy op 1 Januarie vertrek, hy nege jaar lank as voorsitter sou gedien het. “Dit was jare waarin ons – na die totstandkoming van die Zuid-Afrikahuis [die gevolg van samesmeltings en organisatoriese herstrukturering] – sterk belê het in ons kernmissie: die versterking van kulturele bande tussen Nederland/Vlaandere en Suid-Afrika.

“Ons skryf tans ’n nuwe hoofstuk in ’n ou boek – die boek van langdurige historiese, maatskaplike en kulturele bande tussen Nederland en Suid-Afrika. Terwyl ons die bladsye omblaai, skryf ons voort – op skoon bladsye. Baie het tussen ons lande verander; verandering is aan die gang en sal nog ’n geruime tyd voortduur – en dit teen ’n vinnige tempo. Ou patrone verkrummel, tradisionele netwerke kwyn, en nuwe verhoudings ontstaan ​​– sowel hier as daar.

“Dit sal dus van kardinale belang wees – miskien meer as ooit tevore – dat ons mekaar bly vind. Dit sal waarskynlik die grootste uitdaging vir die komende jare wees: Hoe bereik ons ​​mekaar? Dit kom neer op uitruiling.

“Ons doen reeds baie in hierdie verband: deur studente, jongmense en joernaliste, deur organisasies soos SASNEV, en deur universiteite. Moet ons hierdie kontakte nuwe lewe gee? Hoe? Met wie? Waar lê die geleenthede?

“Dit sal die hooftaak van die Zuid-Afrikahuis wees – onder leiding van ’n nuwe voorsitter en ’n nuwe direkteur. Ongetwyfeld sal nuwe klem geplaas word, ander paaie ingeslaan word en alternatiewe roetes verken word.

“Tog bly ons missie in wese onveranderd. Ons is die Nederlandse huis met ’n warm hart vir Suid-Afrika en vir die Afrikaanse taal en kultuur. En dit is wat ons sal bly – selfs in ’n konteks wat verander het en steeds verander.

“Daar is talle geleenthede om daardie missie uit te brei, te versterk en te vernuwe; om van die verlede los te kom en nuwe paaie na die toekoms te verken.

“Is dit nie presies wat ons samewerking – die vennootskap tussen Nederland, Vlaandere en Suid-Afrika – nodig het nie?” het hy afgesluit.

Erwin Rode (voorsitter Orde van den Prince), Roy Dielemans (SASNEV-raad) en Jan Schinkelshoek (uittredende voorsitter Zuid-Afrikahuis, Amsterdam)

Peter – wat op 1 Januarie 2027 sy nuwe pos opneem – het in sy kort toespraak gesê: “In die afgelope twee jaar, terwyl ek as raadslid gedien het, het ek die waarde en potensiaal van ons Huis ten volle leer waardeer. Dit is ’n wonderlike kennis- en kultuurinstelling wat Suid-Afrika met die Lae Lande verbind. En dit verdien veel groter erkenning. Ek hoop om, saam met die raad en ’n nuwe direkteur, verder tot daardie doelwit by te dra.”

Hy het aan Jan gesê: “Dis natuurlik onmoontlik om in jou voetspore te volg. Ek het al een keer vroeër probeer – toe ek hoofredakteur van die Haagsche Courant was. Binne vier jaar is daardie koerant begrawe. Verwoes. Kommersieel tot niet. Ek hoop die Zuid-Afrikahuis hou baie langer as dit.

“Oor my verbintenis met Suid-Afrika ... ek het tien jaar hier deurgebring. Ek was ’n joernalis en ’n korrespondent, tydens wat ek beskou as die opwindendste en fassinerendste tydperk van die onlangse geskiedenis. Ek het elke deel van die land besoek en ’n klein vonkie liefde vir Afrikaans ontwikkel.

“Dit is nie so intens soos die passie wat jy al so lank het nie, maar ... jy hoor die klanke, die woorde. Jy lees die poësie, die letterkunde ... hoor die musiek. En dit het my ’n bietjie aangesteek. Ek het ook baie onderhoude in Afrikaans gevoer. Dit het my gewys hoe uiteenlopend – geweldig uiteenlopend – Afrikaans is.

“Ek het met Eugène Terre'Blanche by sy huis in Afrikaans onderhoude gevoer, en Soli Philander hier in die Kaap. Ek het met generaal Viljoen in Afrikaans onderhoude gevoer, en Neville Alexander ook. So ... Dit het my geleer hoe eensydig die beeld van Afrikaans in Nederland was.

“En wanneer ek vandag sien hoe die ‘Born free’-generasie hier Afrikaans omhels het – dis fantasties. Dinge gaan goed. Mense is soms ’n bietjie pessimisties oor die rol van Afrikaans en die posisie van Afrikaners in die nuwe bestel. Maar wanneer ek sien dat daar steeds honderde boeke hier uitgegee word en dat die jong geslag steeds in Afrikaans skryf, voel ek gerus – soos daardie spreuk teen die muur tuis: ‘Alles sal regkom.’

“Almal speel hul rol. Ek sal my plig vanuit Nederland nakom; dit belowe ek. Ek hoop om noue kontak met julle te behou en elke jaar te kom kuier om hierdie bande verder te versterk.”

Die middag is met samesyn, eetgoed en nog borrels afgesluit.

Giselle Botha en Michelle Kleu (albei van Innovation City wat gereeld met SASNEV saamwerk)

Karin Benjamin van Lierop, Sonja Loots en Pieter Malan kuier met borrels.

  • Foto’s: Clifford Roberts (Canon R6)
Lees en kyk ook:

SASNEV Ontbytborrel was veel meer as netwerkgeleentheid

Pareltjes uit Amsterdam: Susan Coetzee-van Rooy van die Zuid-Afrikahuis

Neerlandistiekdag 2026 en die Alfred Schaffer-erelesing: Wanneer ’n taal joune word sonder dat dit jou moeder se taal is

 

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top