Van die Boland tot Windhoek, van Bloemfontein tot Potchefstroom en van die Kaap tot Gauteng – die Jongerenprojekprogram het verseker dat 11 deelnemers, saam met twee begeleiers, uit België en Nederland op ’n besondere reis deur Suid-Afrika en Namibië geneem word. Oor byna vier weke het die deelnemers nie net verskillende landskappe en stede leer ken nie, maar ook kennis gemaak met die tale, geskiedenis, kultuur, akademiese wêreld en mense van Suider-Afrika.
Die Jongerenprojek (JP) is ’n akademiese en kulturele uitwisselingsprogram wat ’n groep “jongeren” uit die Lae Lande en Suider-Afrika byeenbring. Vanjaar se groep van 11 deelnemers uit België en Nederland is deur twee begeleiers vergesel en het Suid-Afrika en Namibië van 15 Julie tot 9 Augustus besoek. Die program is deur die Jongerenprojeknetwerk (JPN) in samewerking met vennote in Nederland en België gekoördineer. Die reis het vyf Suid-Afrikaanse streke en verskeie bestemmings in Namibië ingesluit.
Die reis was van meet af aan daarop gerig om deelnemers aan ’n veelvlakkige beeld van Suider-Afrika bloot te stel. Akademiese besoeke en lesings is afgewissel met kulturele aktiwiteite, historiese terreine, natuurervarings en, miskien die belangrikste van alles, die geleentheid om tyd saam met plaaslike gasouers deur te bring.
Boland

Die eerste been van die reis het deelnemers na die Boland geneem, met Stellenbosch as basis. Hier het die groep onder meer die Afrikaanse Taalmonument en Afrikaans Museum besoek voordat hulle ook by Akademia se Paarl-kampus aangedoen het. Die besoek aan die Paarl-kampus was ’n eerste vir die JP sedert die vestiging van die kampus en het deelnemers die geleentheid gebied om meer oor die ontwikkeling daarvan te leer en die kampus te verken.
Die Boland-program het verder ’n besoek aan Babylonstoren, ’n begeleide tuintoer, ’n wynkeldertoer en wynproe ingesluit. Die meer formele akademiese en kulturele program is aangevul deur ’n poësie-aand en ’n sokkie-aand – ’n geleentheid waartydens die deelnemers eerstehands met ’n bekende element van die Afrikaanse kuierkultuur kennis gemaak het.
Kaapstad

Ná die program in die Boland, het die groep na Kaapstad vertrek, waar die program ’n sterk historiese en akademiese karakter aangeneem het. Die deelnemers het onder meer die Parlement, Hooggeregshof, Iziko Slave Lodge en Robbeneiland besoek en deur dele van die historiese middestad gestap.
Die besoek aan die Universiteit van Wes-Kaapland het die akademiese komponent verder versterk. Dosente van die Afrikaansdepartement het blitslesings aangebied oor onder meer Swart Afrikaanse vroueskrywers, Afrikaanse variëteite en dialekte en Afrikaans in die media en joernalistiek. Die deelnemers het ook geleentheid gekry om met studente te gesels en ’n kampustoer te onderneem.
Bloemfontein

Die volgende bestemming was Bloemfontein, waar gasouers die deelnemers ontvang het en die groep die Universiteit van die Vrystaat besoek het. Die program het ook ’n begeleide toer deur die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) en ’n ATKV-tienertoneelproduksie ingesluit.
Die akademiese program is voortgesit met ’n lesing oor Afrikaanse rap-musiek, terwyl besoeke aan die Oorlogsmuseum en Planetarium deelnemers verder aan verskillende aspekte van Suid-Afrikaanse geskiedenis en kennis blootgestel het.
Namibië

Vanaf Bloemfontein het die groep na Namibië vertrek. Windhoek en omgewing het ’n verdere dimensie aan die reis gebied. Die deelnemers het die Universiteit van Namibië besoek, waar hulle onder meer lesings oor die Afrika-milimeter-teleskoopprojek, veeltaligheid en kultuur ontvang het, met die hoogtepunt ’n begeesterde lesing deur parlementslid hon. John-Louw Mouton van die opposisie party, IPC. Deelnemers het ook die Neudamm-kampus, UNAM se proefplaas, besoek waar hulle onder meer kennis gemaak het met die Afrikaner-beesras.
Die groep is ook blootgestel aan die Namibiese wildbedryf deur ’n wildrit en besoek aan die Trophäendienste Taxidermy & Curios.
’n Besondere ervaring was die mak renosters by Little Las Vegas waar hulle vir twee aande oornag het.
In Swakopmund het die groep NamSnails, die Namibiese slakplaas besoek vir ’n begeleide toer.
Die Namibiese program het akademiese inhoud met kulturele en ervaringsgerigte aktiwiteite gekombineer. Dit het onder meer ’n San Bushmen Walk (’n demonstrasie van die tradisionele Boesman leefstyl en kultuur), ’n besoek aan die Namibia Craft Centre, en Independence Museum, ’n treurtrip na Usakos treinstasie en ’n geskiedkundige staptoer deur Swakopmund ingesluit.
Die groep het uiteindelik via Walvisbaai na Johannesburg teruggevlieg en regstreeks na Potchefstroom vertrek.
Noordwes

In die Noordwes het deelnemers die unieke natuurskoon van Potchefstroom en sy omgewing beleef tydens ’n stappie op die plaas Steiltes en ’n besoek aan Elgro River Lodge aan die oewer van die Vaalrivier. Hulle het ook ’n boerderylesing bygewoon en die plaas Waterford buite Viljoenskroon besoek, waar mielies, sojabone, sonneblomme en koring verbou word. Die besoek het deelnemers die geleentheid gebied om eerstehands kennis te maak met die gewasboerdery waarvoor die streek bekend is, onder meer deur die werking van tapkarre en die berging van graan in silo’s te ervaar.
Die program het verder ’n kampustoer van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus ingesluit, met onder meer ’n besoek aan die dameskoshuis Vergeet-My-Nie en ’n koshuisaksie by een van die manskoshuise, Veritas. Deelnemers het ook ’n sessie oor Afrikaanse en Nederlandse taboetaal bygewoon, ’n lesing oor die kuns van Jan van der Merwe meegemaak en die NWU-galery besoek. As afronding van die kultuurkomponent van die program het hulle die geleentheid gehad om die dameskoshuise se jaarlikse Sêroptredes by te woon – ’n gepaste manier om die program op ’n hoë noot af te sluit.
Gauteng
Die laaste deel van die reis het die groep na Gauteng geneem, waar hulle onder meer Sol-Tech en die Ditsong Nasionale Natuurhistoriese Museum besoek het en meer oor Suid-Afrika se gemeenskappe en geskiedenis geleer het. By die Universiteit van Pretoria het prof. Christiaan Bezuidenhout ’n lesing oor misdaad in Suid-Afrika aangebied, gevolg deur ’n middagetegesprek met Alicia Freitas oor die ATKV se aanbod en aktiwiteite. Die deelnemers het ook ’n lesing oor Sepedi deur Karien Brits by Akademia se Leriba-kampus bygewoon. ’n Besoek aan Konstitusieheuwel en ander kulturele aktiwiteite het ook deel uitgemaak van die Gauteng-been.

Vanjaar het die program ook ’n besonderse item ingesluit, naamlik ’n huiskamerkonsert deur Jannie du Toit. Deelnemers en gasouers is behoorlik bekoor deur Jannie du Toit tydens ’n intieme geleentheid in Muckleneuk. Hy het ’n besondere verbintenis met die Lae Lande en deur middel van sy musiek en verhale het hy die verhouding tussen die Suide en die Noorde op ’n unieke wyse belig.
Die laaste dag van die reis het deelnemers na die Voortrekkermonument geneem, waar daar ook ’n lesing deur die Sakeliga aangebied is oor die posisie van die Afrikaner binne die hedendaagse Suid-Afrika.
Daarmee is ’n reis wat by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl begin het, op ’n simboliese wyse deur ’n begeleide toer deur die Voortrekkermonument in Pretoria afgesluit.
Meer as net taalbande
Hoewel die akademiese en kulturele program ’n groot verskeidenheid ervarings gebied het, het die belangrikste deel van die JP waarskynlik plaasgevind in die ruimtes tussen die formele aktiwiteite.
Die deelnemers het tydens die reis by gasouers tuisgegaan. Hierdie verblyf bied veel meer as bloot akkommodasie: dit skep ’n geleentheid om die alledaagse lewe van Suid-Afrikaners en Namibiërs van naderby te ervaar. Dit is ook hier waar die verwantskap tussen Afrikaans en Nederlands dikwels op die mees natuurlike wyse na vore kom.
Deelnemers kan Nederlands praat terwyl hul gasouers in Afrikaans antwoord, met die een wat soms probeer om ’n woord of uitdrukking uit die ander se taal te gebruik. Hierdie informele taalontmoetings vorm deel van die besondere menslike verbintenisse wat deur die projek ontstaan en wat dikwels lank ná die reis voortduur.
Die JP is daarom uiteindelik meer as ’n program van lesings, besoeke en uitstappies. Dit is ’n netwerk van mense wat deur taal, kultuur en gedeelde ervarings aan mekaar verbind word.
Die reis gaan voort
Die JP word moontlik gemaak deur die samewerking van die Jongerenprojeknetwerk, vennote, hoëronderwysinstellings, vrywilligers, gasouers en borge. Hierdie netwerk stel die projek in staat om ’n akademiese én kulturele program aan te bied waarin deelnemers Suid-Afrika en Namibië vanuit verskillende perspektiewe kan leer ken. ’n Groot dank aan elkeen wat bygedra het om hierdie jaar se program ’n sukses te maak. Sonder elke vrywilliger, gasouer, ouddeelnemer en vanjaar se borge sou hierdie uitwisselingsprogram nie moontlik gewees het nie.
Dankie aan die gasouers wat tydens die verskillende streke die deelnemers so tuis laat voel het. Aan die borge wat op verskeie maniere bygedra het, hetsy in die vorm van ’n finansiële bydrae of andersins. Ons stel dit hoog op prys. In die besonder wil ons die volgende borge by name bedank: die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van Wes-Kaapland, die Universiteit van die Vrystaat, die Noordwes-Universiteit, NWU-Kunste, die Universiteit van Namibië en Akademia se Taalsentrum; die ATKV, die Van Ewijck-stigting, Stichting Neerlandia, die Fonds Neerlandistiek, SASNEV, ATKB, StudentePlein en die Sakeliga; Paul Roos Gimnasium; Checkers, InteliGro en Wyd & Suid Meat Market; Carl en Cawood Crous en Sanet Prinsloo.
Aan die medeorganiseringskomiteelede in die suide vir hierdie jaar se Jongerenprojek, Emma Wiehman (Boland), Marlé-Zanne Barnard (Boland), Shawna-Leze Meiring (Kaap), Mieke Wiehman (Kaap), Chànde van der Westhuizen (Kaap), Angelique van Niekerk (Vrystaat), Sanet Prinsloo (Namibië), Annika van der Linde (Namibië), Monique Rabé (Noordwes), Hardus Ludick (Noordwes), Natasja Schellaars-Le Roux (Gauteng) en Mia Coetzee (Gauteng) – ’n groot dankie vir die tyd wat julle afgestaan het om die program saam te stel, asook julle moeite om die deelnemers te ontvang en in die verskillende streke te begelei. Ons sou dit natuurlik ook nie kon laat realiseer sonder die organiseringskomitee in die noorde nie, en ’n groot dankie aan die span by die Zuid-Afrika Huis Nederland (ZAHN) en die Vlaams Zuid-Afrikaanse Vereniging (vzw) – in die besonder Bernard Slaa, Frank Judo, Lex de Jongh (begeleier 2026) en Arne Rossel (begeleier 2026).
Kort ná die afloop van die 2026-reis begin die beplanning vir die volgende uitwisseling. In 2027 sal deelnemers uit Suider-Afrika weer die geleentheid kry om die Lae Lande te besoek. Geregistreerde tweedejaar- en ouer studente van enige hoëronderwysinstelling en studierigting in Suid-Afrika en Namibië kan aansoek doen sodra die besonderhede van die volgende reis bekendgemaak word. Meer inligting oor die Jongerenprojek en die organiserende instelling, die Jongerenprojeknetwerk, kan by die volgende skakel gevind word: https://jpnsa.co.za/
**
DJ Cloete is die Jongerenprojeknetwerk (JPN) se voorsitter en Gauteng-streekskoördineerder.

