In die skilderagtige Aprilskloof aan die voet van die Paardeberg in die Swartland lê Lammershoek, ’n plaas wat diep wortels in die Suid-Afrikaanse wyngeskiedenis het. Aanstaande jaar vier hulle drie eeue as wynplaas sedert die Nederlands Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) die grond amptelik as boerdery toegeken het.
Die toekoms onder ’n nuwe eienaar én bekroonde jong keldermeester wink blink met slegs twee gefokusde versnitwyne onder die Zwartwater-etiket, wat besit en bestuur word deur Stefan Johannes. Hy sê Lammershoek is die plek; Zwartwater is sy erfenis. En voeg dan met ’n glimlag by dat hy nooit eintlik bestem was om wyn te maak óf in Suid-Afrika te werk en woon nie. Maar daarby kom ons later.
Ses ander wynmakers koop ook druiwe hier van die bekroonde terroir van Lammershoek en maak wyne onder hul eie handelsmerke.
Die reuk van braaivleis vul ons neuse toe ons voor die proelokaal vergader vir ’n glas van Albert Ahrens se Vintage 2021-vonkelwyn.
Dis ’n klein groepie mense wat ’n heel besondere proe gaan meemaak: ’n meesterklas oor die storie van ’n oesjaar, 2026, en ’n baie spesiale rooiversnit. Die dag se uitnodigingskaartjie sê alles: “Die anatomie van ’n oesjaar”.
Die lente hang swaar in die lug en ons groepie klink glasies.
Stefan vertel dat ons Albert se vonkelwyn geniet, omdat daar nie ’n vonkelwyn op Lammershoek gemaak word nie, maar ook omdat Albert van 2002 tot 2009 wynmaker op Lammershoek was. Die hele dag wentel om erfenis en geskiedenis en dit was vir hom logies om Albert en sy vonkelwyn deel van die ervaring te maak.
Die vonkelwynbottels spog met interessante wasseëls. Albert verduidelik ook dat ’n Vintage bubble soos ’n stilwyn behandel word. Daarom ook sy besluit om sy Vintage met was te seël soos ’n stilwyn en nie met ’n kurk en draadsluiting soos Cap Classique of sjampanje nie.
Hy wys daarop dat die plant op die klimaat reageer: In ’n warm jaar gebruik die plant sy sure, terwyl dit in ’n koeler jaar sy sure behou. Vintage is dus die vaslegging van hoe die natuur daardie spesifieke seisoen met die plant gepraat het.
In die vatekelder agter ons wag keurig-gedekte tafels, maar nie voor ons tussen die store by sjef Pierre van Zyl en sy span verbygestap het waar allerhande lekkernye oor die kole berei word vir ons wyn-en-kos-paring nie.
Stefan gee ’n bietjie agtergrond oor die streek waar ons kuier: Die geologie word oorheers deur verweerde graniet van die Paarlberg, ’n besonderse terrein waar die dinamika van die grond, klimaat en geskiedenis in elke bottel neerslag vind. In die middel van die vertrek is ’n installasie wat die verskillende grondtipes op die plaas uitstal. Ons word aangemoedig om deur die loop van die kuier die grond in ons hande te hou en die verskil in tekstuur en vog te voel.
“Lammershoek is die oudste geregistreerde plaasnaam, sowel as die oudste wingerdplaas in die Swartland-streek. Die beskermende ligging in die kloof het aan die plaas sy naam besorg; dit was ’n hoek waar ooie hul lammers teen roofvoëls beskut het. Die historiese dokumentasie van die eiendom dateer terug na 1710, toe die plaas aan Vryburgers Adriaan van Jaarsveld en Cornelia Nel toegeken is.
“In die oorspronklike kelder waarteen ons gaste parkeer, herinner ’n historiese mosaïekvenster in donkerblou met die datum 1718 aan hierdie vroeë pioniersdae. Dit was reeds in 1719 dat die eerste 600 wingerdstokke op Lammershoek aangeplant is, wat die grondslag gelê het vir meer as 300 jaar se ononderbroke wynbou op dieselfde bodem,” vertel hy terwyl ons glase vir die eerste proe gevul word.
Stefan verduidelik ook die rede vir twee name op een proekaart: “Wynmakers besit nooit ’n terroir nie, maar kan dit bloot interpreteer, daarom is Lammershoek behou as die naam van die plek en die oorsprong, terwyl Zwartwater ons spesifieke interpretasie van hierdie historiese grond verteenwoordig.”

Stefan Johannes, Albert Ahrens en Armand Hartzer
Voor ons begin proe, kom Albert met baie interessante agtergrond: “Daar is twee fundamentele benaderings in die wêreldwye wynbedryf: Daar is basies net twee tipes wyne en twee ooreenstemmende filosofieë wat in wynproduksie gevolg word. Die verskil tussen ’n voorsienbare, voorspelbare wyn en ’n verteenwoordigende een. Die eerste filosofie fokus daarop om ’n konsistente wyn te produseer – een wat binne die grense van die wynwet gemanipuleer word, sodat dit aan ’n spesifieke smaakprofiel en verwagting voldoen en elke jaar presies dieselfde smaak het om sy plek op ’n winkelrak te behou.
“Daarteenoor staan verteenwoordigende wyn, wat weerspieël wáár en wanneer dit gemaak is. Wynbou kan verder volgens twee geografiese en klimatologiese sones verdeel word: kusstreke en kontinentale streke.”
Oor die kusstreek waar Zwartwater geleë is, merk hy op dat kussones ’n kleiner verskil tussen dag- en nagtemperature ervaar, terwyl kontinentale klimate veel groter temperatuurskommelings het. Hy verduidelik dat die druiwestok reageer op die klimaat waarin hy hom bevind: Wanneer dit warm is, verbruik die plant sy natuurlike sure, maar wanneer dit koud is, behou en beskerm hy dit. Daarom het wyne uit koeler klimate ’n hoër suurgraad, terwyl wyne uit warmer streke laer suurvlakke toon.
As gevolg van hierdie laer suurvlakke in warmer kusstreke, ontstaan die behoefte aan versnyding. Wynmakers kombineer verskillende komponente om die mees primêre doelwit van wynmaak te bereik: ’n harmonieuse balans in die eindproduk.
Dit bring ons by die hede en by die Zwartwater-rooiversnit. Die doel is eenvoudig: om die verskillende komponente wat Stefan en sy medewynmaker Armand Hartzer vir die finale rooiversnit oorweeg het, individueel te proe. Wat die komponente interessant maak, is dat hulle almal van dieselfde druifsoort Syrah en van dieselfde wingerdstokke kom, maar op verskillende plekke op die plaas geplant is.
Sommige blokke is nader aan afloopwater; ander lê hoër; sommige het weer meer toegang tot ondergrondse water. Elke aspek soos wind, hoeveelheid ure sonlig en die helling bring ’n ander geurprofiel na die druiwe en dus uiteindelik na die wyn.
Ons leer ook dat Shiraz vrugte en speserye na ’n versnit bring; Mourvèdre bring struktuur en ’n vleisagtigheid; en Carignan bring iets vars, suur en dan die kersie-compote-geure.
Stefan sê hul grootste doelwit is dat mense “plek” in plaas van “kultivar” in ag neem met wynkeuses. “Ons verkoop baie wyn aan ander wynmakers en dit gaan alles oor Lammershoek; nie oor kultivar nie.”
Ons proe wyne uit die wingerdblokke met interessante name soos Oorloop, Deurloop, Vryboord, Die Brug en meer.
Stefan verduidelik dat toe hulle die plaas in Desember 2022 oorgeneem het, al die wingerde slegs as “Blok 7” of “Blok 9” gemerk was. Hulle het toe besluit om vir elke spesifieke perseel ’n betekenisvolle naam te gee gebaseer op die terrein se unieke kenmerke en geskiedenis. Elke seisoen gee ’n ander naam aan wingerdblokke, maar as die plaaspersoneel die tweede seisoen dieselfde naam gebruik, bly dié naam.
Hy glo dat wynmaak nie wetenskap is nie, maar kuns. En vir iemand wat nie wynmaak gestudeer het nie, sê dit baie.
En dis hoe ons by Stefan se storie kom. Sy pa Martin was ’n boomboer op Zwartwater, net soos sy hele voorgeslag. Alhoewel Stefan baie van boerdery hou, het hy een ding vir seker geweet: Hy wil nie met bome boer nie, want die eindproduk is rou en sonder karakter. Stefan wou iets maak wat waarde toevoeg – iets soos kuns.
Ná skool het hy nie geweet wat hy wil studeer nie. Sy ma het hom uiteindelik ingeskryf om te gaan studeer, en hy vertel spottenderwys hoe hy in daardie tyd “op sy ma se nerwe gewerk het”. Dit is hoe hy toe uiteindelik BCom geswot het. Maar dit was glad nie stimulerend nie. Dit was juis in hierdie tyd dat twee vriende hom aan wyn bekend gestel het.
Hy sê: “Hul passie vir die kuns van wynmaak was aansteeklik en die spreekwoordelike koeël was – hoewel net in my onderbewussyn – deur die kerk.”
Soos hy met sy studies aangegaan het, het hy die wynwêreld terdeë geniet – salig onbewus daarvan dat hy self eendag in dié veld sou eindig. Later het hy besef dat die wynwêreld die perfekte antwoord was op sy dilemma met tradisionele boerdery (naamlik dat dit nie kunstig genoeg is nie).
In die wynbedryf kan jy die hele waardeketting, van die boerdery self tot die finale, kunstige produk, beïnvloed. Hy het besef dít is sy nuwe droom; hy is immers reeds in Stellenbosch. Die enigste probleem was: Hy het niks van wynmaak geweet nie.
Omdat hy reeds so lank gestudeer het, het hy besluit om nie weer van voor af wynmaak te gaan swot en nog jare agter die boeke deur te bring nie. In plaas daarvan het hy, terwyl hy sy graad in Landbou-ekonomie voltooi het, aansoek gedoen om praktiese ervaring as ’n parsintern op te doen. Hy het uiteindelik by Le Riche Cellars beland vir die parstyd en dit was dáár waar hy besef het dat dít is wat hy met die res van sy lewe wil doen.
Dit was egter nie maklik nie. Ná die parstyd het hy gesukkel om ’n permanente posisie in die wynbedryf te kry, omdat hy nie die formele kwalifikasie in wynmaak agter sy naam gehad het nie.
Ná ’n strawwe soektog het Pieter Walser (van BLANKbottle) uiteindelik vir hom ’n kans gegee. BLANKbottle was vir vier jaar tot April 2023 sy leerskool, waar hy die fynere kunsies van die bedryf aangeleer het.
Intussen het sy ouers Australië toe geëmigreer. Terwyl hy by BLANKbottle gewerk het, het die plan vorm aangeneem om mettertyd saam met sy gesin soontoe te trek en daar te gaan wynmaak, veral omdat daar ’n klein blok wingerd op die nuwe plaas in Australië was. Die Covid-19-pandemie het egter gekeer dat hulle mekaar as familie kon sien.
“Ek het nooit gedink ek sal wynmaak in die Swartland nie. Dalk in die Hunter’s Valley in Australië, maar die lewe het ander planne gehad.”
Sy ouers het toe besluit om die Australiese deur finaal agter hulle toe te maak en terug te trek Suid-Afrika toe, sodat almal weer bymekaar kon wees.
Die gesin het toe in Suid-Afrika saam na plase begin soek om te koop. Die eerste een waarna hulle gekyk het, was Lammershoek, maar hulle het dit vinnig afgekeur, omdat dit te droog gelyk het. 30 plase later het hulle steeds niks gevind nie.
Stefan vertel: “’n Vriend het my gebel en gevra om net weer na Lammershoek te gaan kyk. Die vriend het gebel, want sy ander vriend wou immers ’n goeie buurman hê. Ons het toe weer gaan kyk, en na ’n bietjie dinkwerk oor hoe om daar te boer, het ons besluit om Lammershoek in geloof te koop. Dit is hoe ek uiteindelik op Lammershoek beland het.”
Die dag toe hulle die sleutels by die vorige eienaar kry, het dit begin reën – die swaarste reën in die geskiedenis van die plaas. Dit het só baie gereën, dat die damwal uiteindelik gebreek het. Dít was sy vuurdoop, wat hy spottend as ’n trial by water eerder as ’n trial by fire beskryf.
Terwyl die volgende komponente geskink word, vertel Stefan Lammershoek spog vandag met drie van die land se oudste geregistreerde en steeds aktiewe wingerdblokke.
Hierdie eeueoue droëlandbosstokke wat sonder besproeiing in die granietgrond oorleef, het oor dekades heen ’n diep wortelsisteem ontwikkel. Dit stel die stokke in staat om selfs in die uiterste Swartlandse hitte gebalanseer te bly en druiwe van uitsonderlike konsentrasie, struktuur en natuurlike karakter te lewer.
Desiderius Pongrácz, die bekende Hongaarse wingerdboukundige en skrywer wat die Kaapse wynbou hervorm het, het in die 1970’s die eienaars van Lammershoek geïnspireer en geadviseer om nuwe variëteite en klone op die plaas aan te plant: Carignan, Chenin en Pinotage.
Pongrácz het die spesifieke Carignan-wingerdblok in 1976 op Lammershoek gevestig waarin hy tot 20 verskillende Carignan-klone aangeplant het om hul aanpassing op die Swartlandse granietgrond te toets.
Hierdie stokke verleen vandag steeds uitsonderlike konsentrasie, diepte en karakter aan die wyne.
Die Chenin Blanc-blok is geplant in 1968. Hierdie droëlandwingerd lewer die dryfkrag agter Lammershoek se ikoniese oustok-Chenin Blanc en eksperimentele witversnydings.
Die Pinotage-bosstokke (geplant in die vroeë 1980’s) is droëlandbosstokke wat uitsonderlike balans en ’n meer natuurlike, teruggetrokke styl Pinotage oplewer.
By elk van die komponente wat geproe is, is daar peuselhappies bedien met interessante name soos Eerste lig, Som van sy dele, Na donker en Onverwagte geselskap.
As verwelkomingsdrankie in die verouderingskelder is die Zwartwater Estate White Blend 2024 geproe.
Met die eerste vlug is geroosterde brioche, tartare met Boland-groente, gerookte Stanford, mielie, groenblatjang en truffel voorgesit.
Met die tweede vlug is kortrib-taco met Asiese slaai en sitrusjoghurt bedien.
Die derde vlug se lekkerte was gebraaide hoender, Macadamia-brandrissie, romerige gochujang en koljander en ’n brûlée-uietert met swartknoffelemulsie.
Die vierde vlug was ’n proe van die Estate Red Blend 2024, 2025 en 2026 met lamsrib en geroosterde ribeye met ’n kruiesous.
Stefan het vertel dat 2025 die beste oesjaar is wat Suid-Afrika die afgelope eeu gehad het.
Albert verduidelik dat die impak van ’n oesjaar na ’n veel dieper driejaarsiklus strek: Die weerstoestande van die vorige jaar bepaal reeds die knoppe wat op die lote vorm vir die huidige seisoen. ’n Nat seisoen in die verlede sê vir die plant om meer trosse uit te stoot in die seisoen wat volg.
Die wingerdbouers moet dus die huidige seisoen interpreteer en antisipeer hoe dit die volgende jaar se oes gaan beïnvloed, deur byvoorbeeld vrugte af te pluk as daar te veel trosse is en ’n droë, warm seisoen voorlê.
Hy beklemtoon dat wanneer ons in die suidelike halfrond van ’n oesjaar praat, byvoorbeeld 2021, dit eintlik verwys na die hele groeiseisoen wat in die tweede helfte van die vorige jaar in lente van 2020 begin het, aangesien die druiwe aan die begin van die nuwe jaar geoes word.
Die dag is afgesluit met ’n granaat-, vanielje- en kokosneutpoeding.
Stefan sê die plaas fokus net op hul wit- en rooiversnit. Hul kliënte wat jaarliks hul druiwe koop, sal aanhou om bekroonde enkelkultivarwyne van die plaas se druiwe te maak. “Ons sal nooit enkelkultivarwyne maak en sodoende met Lammershoek se kliënte meeding nie.”
Dis oor ’n glasie van die 2024 wat ek met Jolene Janse van Rensburg, bestuurder van die Swartland Wyn- en Olyfroete, gesels voor ons huiswaarts keer.
“Dis wonderlik om ’n plaas soos Lammershoek as deel van die Swartland Wyn- & Olyfroete se verhaal te kan hê. Dit is tog waar die Swartland-wynbedryf se wortels lê. Die Wynroete vier vanjaar sy 40ste bestaansjaar en om te kan terugkyk na waar alles begin het, beklemtoon net weer die vasberadenheid van die mense wat die Swartland hul tuiste noem.
“Ek glo dat mense nie die Swartland kies nie, maar dat die Swartland sy mense kies. Dis ’n gemeenskap van kreatiewe mense, maar ook mense wat nie terugstaan vir uitdagings in ’n streek waar dit nie altyd maklik is om te boer en ’n bestaan te maak nie.”
Lees meer oor die roete se geskiedenis hier: https://voertaal.nu/swartland-wyn-en-olyfroete-vier-40-jaar/
- Die 2026 Red Blend verouder nou in vate en word eers in Mei 2028 vrygestel. Die 2025 is tans in tenks en word in Desember gebottel. Die huidige oesjaar wat by die kelder te koop is, is die 2024 en dit kos R395.
Meer inligting is by https://www.zwartwater.co.za/ te kry.
Foto’s: Clifford Roberts en verskaf







