Afrikaans wen aan waardering danksy opregte erns met wisselwerking – Breytenbach

  • 0

Vir Afrikaanse letterkunde begin daar nou ’n resepsieverbreding plaasvind. En die basis word gelê vir wat nou eers werklik ’n diepgaande wisselwerking en ’n gesprek is, ’n dialoog sou ons dit kon noem, tussen Afrikaans, wat natuurlik verwant is aan die Germaanse tale, én al die ander invloede wat ingekom het.

Só het die Afrikaanse digter Breyten Breytenbach op die afgelope Tuin van Digters-fees op die dorp Wellington in die Wes-Kaap gesê.

Vanjaar op die poësiefees was hy die eregas. Dit vorm deel van ’n internasionale viering van sy lewe en werk in die jaar wat hy sy 80ste verjaardag vier.

Breyten Breytenbach (Foto: Gerrit Rautenbach)

Hy het ruim bygedra tot verskeie insigryke gesprekke op die fees en het in stampvol lokale uit sy werk voorgelees. Hy het met sy kenmerkende versnit van luim en erns met Daniel Hugo, ’n bekende digter, omroeper en meermale bekroonde vertaler uit Nederlands in Afrikaans, en die letterkundige Yves T’Sjoen oor die geskiedenis en bande tussen Afrikaans en Nederlands gesels, die pad vorentoe en die program in Gent wat van 16 tot 18 Oktober plaasvind. (Lees meer oor dié program hier en hier.)

Die digter en vertaler Daniel Hugo het ’n gesprek gelei waaraan Yves T’Sjoen en Breyten Breytenbach deelgeneem het (Foto: Gerrit Rautenbach)

Eredoktorsgraad en kollokwium

In Oktober vanjaar is dit vyf jaar sedert die Universiteit van Gent aan Breytenbach ’n eredoktorsgraad toegeken het en daarmee saam ’n kollokwium oor Afrikaans daar aangebied is.

T’Sjoen is ’n literator verbonde aan Gent waar sy fokus moderne poësie, edisiewetenskap en Afrikaanse letterkunde is. Hy is ’n gewaardeerde deelnemer aan die Nederlandse komponent van die jaarlikse fees in en om die Breytenbach Sentrum op Wellington.

Die geleentheid in 2014 waar die Universiteit van Gent Breytenbach met die titel honoris causa vereer het, was “’n pragtige aand op 3 Desember in die aula van die universiteit; ek bewaar nog altyd as edelstene die klippe wat so simbolies as van grote waarde daar oorhandig is,” het T’Sjoen gesê.

Naas die plegtigheid het die eerste kollokwium plaasgevind, met die titel “Die taal se stiltes”, ’n versreël van Breytenbach. “En sindsdien het ons elke jaar ’n kollokwium. En die volgende kollokwium is in Oktober, met as die sentrale gas Breyten Breytenbach, omdat hy dan presies vyf jaar eredoktor is van ons universiteit, en ek mag ook namens die rektor praat – daarop is ons baie trots. Op die vooraand van die kollokwium gaan Breytenbach die sesde Mandela-lesing in die aula lewer. Daar sal Margriet van der Waal, wat die Universiteit van Amsterdam se leerstoel vir Suid-Afrikaanse Literatuur, Kultuur en Geskiedenis beklee, met Breytenbach in gesprek tree. Dus word dit ’n groot fees.”

Op ’n vraag van Hugo het T’Sjoen gesê dit is van belang dat Afrikaans in Gent gedoseer word “omdat dit so ’n fantastiese taal is en omdat so ’n fantastiese literatuur in die taal geskryf is en geskryf word”.

Yves T’Sjoen (Foto: Gerrit Rautenbach)

Afrikaans en Gent

Die oorsprong van die Afrikaans-kursus daar hang nou saam met die institusionele akkoord tussen die Universiteit Stellenbosch en dié van Gent, het T’Sjoen laat blyk. “Die akkoord is in 1996 onderteken en toe het kollegas van Stellenbosch na Gent gegaan en van my oudkollegas na Stellenbosch. Ek kry toe van Dorothea van Zyl die uitnodiging om in 1996 vir die eerste keer na Stellenbosch te gaan.”

Die kursus in Gent is later uitgebrei. Afrikaanse taal- en letterkunde word vir die bachelorstudente aangebied. Ook op honneursvlak is tale en letterkundes van Suid-Afrika deesdae ’n studiemoontlikheid in Gent, “omdat ons nie alleen die fokus op Afrikaans het nie maar ook die kulturele diversiteit, die meertaligheid van Suid-Afrika”, het hy gesê.

Dit gaan dan ook om Afrikaans as ’n Afrikataal; Suid-Afrika is nie ’n land waar net Afrikaans en Engels gepraat word nie, maar nog soveel ander tale ook, het hy benadruk. “En ons werk tesame met kollegas by Tale en Kulture, ’n vakgroep by ons in die fakulteit. Hulle bied ook klasse aan, besoekende Suid-Afrikaanse akademici daar ook.

“Ons probeer ons studente nie net entoesiasties maak nie, maar ook kundig op die gebied van Afrikaans, Afrikaanse taalverwerwing, asook die taalgeskiedenis en die literatuur in Afrikaans. Sowel op bachelor- as op mastervlak het ons nou twee kursusse. En ek wil my vir die res van my akademiese loopbaan daarvoor inspan.”

Werk aan wedersydse begrip

Breytenbach ag dit ontsettend belangrik dat iemand soos T’Sjoen in Gent en Jerzy Koch in Pole “absolute sleutelrolle speel in hoe Afrikaans en die verskeie vorme van Afrikaans en die ander Suid-Afrikaanse tale in die buiteland ontvang word”. “Ek dink ons het verskriklik baie om by mekaar te leer.”

Jerzy Koch (Foto: Gerrit Rautenbach)

Afrikaanssprekendes kan trots, bly en erkentlik wees dat daar mense van die kaliber van T’Sjoen en Koch is wat bereid is om hierdie passeurs, hierdie tussengangers, te wees, het hy gesê. “Ek dink mettertyd weet hulle veel meer van ons as wat ons van onsself weet. Ek dink ’n mens moet ook in ag neem dat die Nederlandse en Vlaamse variante van die tale waaroor ons wil praat – want daar is ’n gedeelde moederskap van gemengde afkoms – óók onder beleg is.”

So byvoorbeeld kom ’n klakkelose aanwending van Engels wyd voor in die Lae Lande, tot selfs in situasies waar net Nederlandstaliges teenwoordig is. Aan Afrikaanssprekendes is hierdie verskynsel helaas nie onbekend nie.

“Ek terg partykeer as ek sê byvoorbeeld in Gent is daar die enigste aanvaarbare weergawe van Nederlands wat ek gaan gebruik en dit is Engels,” het Breytenbach teenoor die gehoor geskerts.

Hy sê daar is wel “veel minder werklike begrip wedersyds” en “ook net in terme van mekaar verstaan as wat ons noodwendig aanvaar”. “Ek dink ons aanvaar dat ons weet waarvan ons praat – dis net dat ons die woorde miskien nie op dieselfde manier aanwend nie, of dat die woorde nie presies dieselfde betekenis het nie.” In dié opsig is die boek van Azille Coetzee, In my vel, baie insiggewend, het hy gesê. “Sy praat juis onder andere ook oor hoe dieselfde woorde verskillende betekenisse het in Nederlands en in Afrikaans. Maar ook die verwysingswêreld is heeltemal anders. En ek dink dít is wat fantasties is.

“Hulle onthou miskien meer van die onmiddellike verlede – ek praat van ‘hulle’ as die noordelike Afrikaners, as ek dit so mag stel. Die uitgeweke Afrikaners, dié wat vergeet het om hiernatoe te kom. Dié wat die boot verpas het, dié wat miskien slim genoeg was om nie gesjanghai te word nie, nie aan boord gedu te word nie, dié wat nie in diens was van die Kompanjie nie, die vry mense, met ander woorde in die noorde. Ek dink hulle onthou miskien meer van die omstandighede en die agtergronde ook in die onmiddellike verlede as wat ons self geneig is; ek praat nou van ‘ons’ wat hier is, en ek is eintlik altyd hier – ek woon 15 maande van die jaar in Suid-Afrika! Ek dink ‘hulle’ onthou meer van die onmiddellike verlede: ek is getref daardeur wanneer dit gekontekstualiseer word, hoe sterk dit deurkom.”

Versamelings Afrikaanse werke in die buiteland

Hugo het die rol van Gent uitgelig wat betref die bewaring van Afrikaanse letterkunde en die beskikbaarstelling daarvan as navorsmateriaal, soos wat blyk uit die Ernst van Heerden-versameling in die Poëziecentrum in Gent en die “enorme groot boek-, tydskrif- en dokumenteversameling” wat dit van die Afrikaanse digter Fanie Olivier ontvang het. “Dit is dan ook ’n soort bewaringsprojek aan die een kant, maar aan die ander kant natuurlik ook wonderlike navorsingsmateriaal.”

T’Sjoen ag dit as “een van die rykste poësiebiblioteke buite Suid-Afrika van Afrikaanstalige poësie – met onder andere al die bundels van Breytenbach.” (Lees meer oor die Poëziecentrum hier en hier.)

“Aan die universiteit het ons ook ’n groot versameling met Afrikaanstalige literatuur en Fanie Olivier het ’n paar jaar gelede vir my gevra of sy privaat versameling in Gent opgeneem kan word. En wie is ons om daarvoor nee te sê? Hy sal ook by die kollokwium in Oktober wees. Dit sal die eerste keer wees dat hy sy versameling in Gent sal aanskou.”

Intussen het “’n soort domino-effek ontstaan”, het T’Sjoen gesê. “Daar is nog biblioteke op koms – ek maak my aan die een kant sorge dat al die privaat biblioteke van Afrikaanse literatuur na Europa kom. Dit sou híér beskikbaar moet wees. Dit is ’n literatuur wat ook hier bestudeer word, nie alleen in Europa nie, maar veral ook in Suid-Afrika. Maar ek begryp andersyds die bekommernis van sommige mense dat hulle liewer hul boeke dan tog op ’n veiliger plek wil onderbring.”

Daniel Hugo en Yves T’Sjoen (Foto: Gerrit Rautenbach)

Waardering het ’n uitwerking

Breytenbach het verder ingegaan op wat die bron van die erkenning vir Afrikaans beteken en die uitwerking daarvan.

“Daar kom erkenning vanuit die noorde, vanuit Europa – ons is gekopkoloniseer in die algemeen in Afrika – en ons hoop vir ons erkenning wat bestaan of wat aan ons toegeskryf word of aan ons gegun word van die noorde, van oorsee. Miskien oor ’n paar jaar gaan dit uit China wees. Dan hoop ons ook die Chinese gaan ook Afrikaans leer. Want soos die ou gesê het: Chinees is ook maar Afrikaans as jy hom báie stádig praat!

“Maar daardie waardering (vanuit Europa) het ’n uitwerking. Afrikaans kry ’n bietjie van ’n ruimte, ek sou nie sê aansien nie, miskien bietjie meer van ’n waardering, omdat daar mense is, geloofwaardige mense met werklike akademiese diepte en agtergrond en wat nie beskuldig word van enige partisan preferences of wat ook al nie. Daardie waardering spoel deur dat ons ook ’n bietjie van ’n groter ruimte in Suid-Afrika kry. Die tweede punt is dat julle ook tussengangers is tussen verskillende korrelkop Afrikaanstaliges en dis ’n baie belangrike funksie daardie. Ons praat beter met mekaar in Gent, ons wat Afrikaans van hier is, as wat ons hierso met mekaar sou praat. Dit is inderdaad so. Ons het die skeidsregter nodig. Die benevolent oom wat toesig hou dat ons mekaar nou nie dik dônner nie, om dit nou maar so te sê.”

Die voorreg om liminaal en marginaal te wees

Die waardering vir Afrikaans kry in Oktober die kollig op die kollokwium oor Afrikaans in Gent en daar is Breytenbach opnuut die hooftema; en, vra T’Sjoen vir Breytenbach toe, hoe voel dit om ’n tema te wees?

“Ek het gister aan iemand opgemerk, dit is nogal ’n vreemde ervaring om by mens se eie begrafnis aanwesig te wees,” het Breytenbach gesê. “Vandag het ek gevoel dat ek by die dag ná die begrafnis is en moet luister. Jy weet, nou begin die ding so ’n bietjie loskom. Mense sê ja, oukei, hy was ’n goeie ou gewees, máár. So nou wil ek eintlik daardie graf oopgrawe en regop sit en sê hei wag, whou, whou, whou – ek wou nog sê!

“Ons is geneig om oor te hel te veel om miskien op te maak vir wat ons gedink het kortgekom het in die verlede. ’n Mens moet darem ook nou nie te veel waarde heg aan waarmee ek besig was nie. Ek dink wel ons moet dit nie vergéét nie. Dis wel ’n baie belangrike punt om te maak. Dit is ’n voorreg om liminaal te wees, marginaal te wees.”

Klein tale binne ’n groot konteks

“Die beste ding wat ooit met Afrikaans en ons Afrikaanse tale gebeur het – sommige het dit lankal gehad – is dat die amptelike Afrikaans dit nou aan die lyf ervaar, om die waarheid te sê: Ons het staatsmag en staatsbeskerming verloor, ons het self tot ’n groot mate welwillendheid verloor, maar dit gaan ons daartoe dwing dat ons van nader moet kyk na wat die ware aard is van waarmee ons besig is. Ons is nie ’n staatsinstrument nie. Baie mense wou dit vir ’n lang tyd so gebruik, of vir ’n godsdienselement.”

Teenoor T’Sjoen het Breytenbach opgemerk dat tot ’n groot mate dit is “wat ’n mens aanvoel in Vlaams natuurlik ook”. “Julle het ook julle problematiek met die gesentraliseerde of gefedereerde staat. Julle is ook ’n klein taal binne ’n groot konteks. En selfs miskien tot ’n mate ook met Nederlands soos dit in die noorde gepraat word. Alhoewel taal vir die Hollanders nog altyd meer ’n manier was van besigheid doen.”

“Net om daardie gedagte klaar te maak, moenie dat ons nou te ver gaan met hierdie grootbek nie. Dis hoekom ek elke nou en dan ’n bietjie mínder waansin inbring deur voor te gee ek is Charl-Pierre Naudé. Dan het ek verskoning om nie heeltemal verkeerd te wees nie. Dis ’n voorreg om verkeerd te wees, maar ’n mens moet nou nie misbruik maak daarvan nie. Julle moet nou nie daardie proses van verkeerd wees te ver neem nie.”

Oor die komende program in Gent het Breytenbach geskerts “dat mense vergeet dat ons werklikwaar Calviniste is”. “Ons het altyd gesê hoe swaarder jy kry, hoe beter voel jy. Soos Mandela miskién sou gesê het: ‘We’ll double-cross that bridge when we get there’. ’n Mens kyk na jouself in die spieël en jy sê: ‘Charl-Pierre, wil jy dit werklik doen?’ Maar mens probeer nie wegskram daarvan nie. Mens moenie dink dat wat ’n mens miskien kan oordra gemandateer is of noodwendig verteenwoordigend is van hoe mense voel of dink oor ’n saak nie. Daar is ’n groot skeut persoonlike oortuiging en opinie by betrokke en dit is miskien ’n bietjie van ’n probleem om dit altyd te ontwar.”

Die gehoor luister na Breyten Breytenbach, Daniel Hugo en Yves T’Sjoen (Foto: Gerrit Rautenbach)

Mandela

Breytenbach sê dat “ons nog nie op die punt is waar as iemand kom vir ’n kollokwium na Gent dat hy nié noodwendig gesien word as emblematies of verteenwoordigend van ’n spesifieke denkskool of denkrigting nie. In my geval het ek natuurlik dikwels ope briewe vir Madiba geskryf toe hy nog in lewe was. Hierdie keer gaan dit die eerste keer wees wat ek vir hom ’n brief gaan skryf waarna ek hoop hy gaan luister, en ek dink dit gaan nie noodwendig aangenaam wees nie. Ek weet nie hoe hy daaroor sou voel nie. Maar ek dink die mense wat daarna gaan luister gaan nie noodwendig baie bly wees of hoor wat hulle dink hulle graag sou wou hoor nie, of wat hulle verwag om te hoor nie.

“En dis ’n ánder probleem: Dis hoekom ek daardie ding probeer aansny het van ons is nou werklikwaar by ’n punt waar ons vir die eerste keer dialoog met mekaar kan begin open. Nie net oor die taal nie, nie net oor die gedeelde en die uiteenlopende geskiedenis nie – want dit is heeltemal verskillende leefwêrelde. Ons is nie liberaal nie, hier was dit nooit liberaal nie, dis ’n radikaal eksentrieke land met al sy uitinge, al dink ons nie so nie. Ons is ook nie ’n intellektuele land nie, ons is ’n land van oorlewe; ons is nie ’n land wat baie waarde heg aan betroubaarheid, selfs vertroubaarheid nie. Ons heg veel meer waarde aan ‘kom ons hou dit vertroulik’. Dis ’n ander storie daai.

“Ons is altyd besig om dinge te probeer regmaak, omdat die uiterstes tot ’n groot mate so vér van mekaar is. Terwyl daai probleme tot ’n groot mate reeds in Europa opgelos is, kan julle openlik oor sekere dinge praat.”

T’Sjoen stem saam dat sommige dinge in Europa meer openlik bespreek kan word. “Maar jy kan ook nie sommer alles sê nie. Dit is ook beangstigend omdat daar ook in Europa ’n soort vrees is om jou uit te spreek. Jy moet jou konformeer, jy moet pas in ’n vaste vorm. Ons moet meer nonkonformistiese denkers hê, soos jy.”

Dat meer nonkonformistiese denke nodig is, het Breytenbach beaam. Hy het ook daarop gewys dat T’Sjoen se “voorloperwerk” en “oopmaakwerk” belangrik is en dat hy hom baie goed van sy taak kwyt. “Ek dink jy doen dit uitstekend. Ek dink jy doen dit op ’n baie, baie ewewigtige manier. Ek kan my identifiseer met ’n werklike begrip, simpatie en empatie met die problematiek wat ons is die gesig staar. Maar ek dink jy het ook ’n breë aanvoeling vir dinge wat vir ons nog te pynlik is om te erken. Dat ons net soveel empatie moet hê met die groter problematiek. Ek dink dit is iets wat ons kan leer. Maar dit gaan nie noodwendig so verstaan word nie. Daar gaan iets van die Afrikaner aan jou bly kleef as jy teruggaan Europa toe, en wat nie aanvaarbaar gaan wees vir álmal nie. Staal jou maar. Wees sterk. Eet jou Post Toasties. Vat jou biltong en jou Marmite saam.”

Taal en stigma

Is daar steeds ’n stigma aan Afrikaans in sekere kringe in Europa, ook in Gent? wou Hugo verder weet na aanleiding van wat Breytenbach gesê het.

“Absoluut, ja,” het T’Sjoen gesê. “Ons het sedert 2017 in Gent die leerstoel Suid-Afrika met as benaming tale, literature, kultuur en maatskappy. Die leerstoel word befonds en ons moet voorlê welke instituut of organisasie geld wil spandeer en investeer in die organisasie van die leerstoel. En soms kry ons die advies om nie op bepaalde voorstelle in te gaan nie. En daardie advies word vanuit ’n politiek-ideologiese standpunt geformuleer. En dit word ons op die hart gedruk dat ons ons nie moet konformeer aan bepaalde organisasies nie. Maar daar is ook in Vlaandere bepaalde politieke organisasies wat vanuit ’n misplaaste nostalgie nog altyd ’n beroep doen op Afrikaans en op ’n manier terugverlang na ’n vredeperiode in hierdie land toe sekere mense met ’n ekstreem-regse fascistiese stempel gedweep en aangeskurk het by die regime wat hier toe die vlag geswaai het.

“Ons moet dus heel erg versigtig wees dat alles wat ons doen om Afrikaans nie polities gekoöpteer word deur bepaalde politieke faksies nie. Wat my betref, ek is baie oop wat Afrikaanse letterkunde betref – ek het geen politieke of andere bedoelinge nie, behalwe om my liefde daarvoor uit te druk: vir die taal, vir die skitterende literatuur, die pragtige skrywers, en veral die kulture in die land wat in soms heel moeilike omstandighede bestaan. Ek het geen politieke agenda nie. Ek wil nie Afrikaans op die akademiese kalender op die agenda plaas omdat dit my op die een of ander manier sou baat nie. Nee, dit is gewoon uit liefde vir die taal en die literatuur in Afrikaans.”

Breytenbach bly by die dinamieke en moontlikhede tussen Afrikaans en Nederlands toe hy sê: “Ek dink weer eens dat dit miskien vergelykbaar is. Dit gaan in beide gevalle op verskillende maniere gemanifesteer word oor daardie ongelooflike dinamiese spanningsveld tussen die soeke na die eie, die soeke na begrip, die soeke na waarom ek hier is, waar ek vandaan kom en die noodsaak of die gevoel wat ook net so eg is om te weet jy is deel van ’n groter geheel. Jy kan nie aanspraak maak op enige vorm van universaliteit as dit nie gegrond is in die lokale nie.

“Daar is ruimte en daardie ruimte skep beweging. En daardie beweging skep tot ’n mate konflik. En dis goed dat dit so is. Ek dink wat ons miskien van mekaar leer en kán leer, is as ons ooit eendag by die punt sou kon uitkom waar ons ons diversiteit ’n werklike plus en ’n werklik positiewe bate maak, van ons uiteenlopendhede en van ons saambindende uiteenlopendhede, dit iets is wat ons met vreugde noorde toe sou kon dra en sê: Hier is dit. Ná 400 jaar. Hier is iets wat ons vir julle ook kan gee.

“Ek dink eerlikwaar hierdie soeke na oplossing, die getas en die pyn wat daarmee saamgaan, is iets wat ook vir Europa tot ’n groot mate nog veel meer en waarskynlik ook binnekort nog op ’n diepergaande manier van betekenis gaan wees. Want in Europa is geen probleem ooit opgelos nie.”

Daniel Hugo en Yves T’Sjoen luister na Breyten Breytenbach (Foto: Gerrit Rautenbach)

Dinamieke in Pole

Pole is ook marginaal op baie maniere, maar met ’n ongelooflike geskiedenis daaragter, het Breytenbach uitgewys. “En as hulle nou sou praat of moet nadink oor hoe jy jouself teenoor Islam posisioneer, of teenoor die immigrante van Islamitiese afkoms, die probleme wat dit sou skep of nie skep nie: Is dit verrykend of nie, en wat beteken dit? Daardie manier waarop Europa sienderoë verander. Die honderde mense wat verdrink in die see, en die redes hoekom hulle na Europa toe probeer kom en die wanindrukke waaronder hulle verkeer en die manier waarop hulle geabsorbeer word of nié. Uitgedeel onder mekaar asof hulle kwotas is. Dit is goed waarmee mense elke dag hiér te doen het.”

Oor Afrikaans in Pole vertel Koch dat hy in Poznań by ’n groot fakulteit, Engels, inbeweeg het en toe besef het hy kan nie so aangaan met Afrikaans soos met die studente van Nederlands die geval was nie – dit moet in ’n wye opset aangebied word.

“Die probleme wat jy aangekaart het, het ons ook in Pole: Ons het ’n nasionalistiese, konserwatiewe regering wat net oor die patriotiese gevoelens praat. Hulle beleid is heeltemal sosialisties as dit oor die ekonomie gaan. Jy kan nie duidelik sê dat hulle konserwatief is nie. Dit is die landskap waarin jy met jou klein taaltjie, ook as Nederlands, jou binne hierdie fakulteit en die universiteit moet posisioneer. En vir my is die Lae Lande altyd ’n voorbeeld van hoe jy tussen die drie elemente van Engeland, Duitsland en Frankryk oorleef. Jy is klein, maar jy moet jou duidelik maak. Die grotes is verbaas dat jy bestaan en dat jy daar is, tussen hulle, onder hulle as ’n wésentlike element. Ons kry dit reg. Maar ons is deels ook afhanklik van die getalle studente wat inkom.”

Ook die Poolse universiteit het ’n groot skenking boeke uit Suid-Afrika ontvang, het Hugo genoem.

“Iemand uit Johannesburg het vir ons meer as 5 000 boeke gegee. Ons moes net betaal vir die vervoer,” het Koch gesê. “Dit is ’n nogal gewaardeerde boekeskenking. Daar is interessante goed van voor die Tweede Wêreldoorlog, byvoorbeeld van die damesromans uit die jare twintig en dertig wat nie meer hier gelees word nie, maar wat destyds literêre pryse ontvang het. Daar is wel byvoorbeeld byna volledige Breytenbach en Karel Schoeman versamelings, baie van Leroux en ander grotes. Met ander woorde, ek is baie bly, want dit is soos in Gent – as jy nie die boeke daar het nie, is daar nie ’n basis vir verdere ontwikkeling en iets wat die studente aantrek nie.”

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top