Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het onlangs die wenners van die gesogte Akademiebekronings vir 2023 aangekondig. Die pryse word by twee bekroningsplegtighede in September vanjaar oorhandig. Lees Andries Visagie se huldigingswoord hier onder.
Die Vlaamse skrywer Erwin Mortier is bekend daarvoor dat hy diep gryp in die volle rykdom van die Vlaamse variëteite van die Nederlandse taal. Mortier se woordgevoeligheid bied aan ondernemende vertalers van sy werk talle geleenthede om hulle vernuf ten toon te stel. Fanie Olivier het die kans aangegryp om met Wanneer gode slaap ’n vertaling in Afrikaans te lewer wat jou asem wegslaan. In die roman is die hoogs bejaarde Helena aan die woord en kyk sy terug na haar jeug toe sy in die gruwels van die Eerste Wêreldoorlog in België en Noord-Frankryk vasgevang was. Die leser word ook meegevoer deur Helena se vertelling van haar afhanklikheid as verswakte bejaarde van haar versorgers. En wanneer sy nadink oor die uitdagings wat sy het om die wêreld in haar skryfwerk vas te vang, volg oorrompelende sinne soos die volgende in Fanie Oliver se vertaling: “Dit voel vir my dan asof die wêreld my die hof kom maak: Skryf my uit, verdubbel my. Trek my dampkringe na, my grondlae, my mantels en my siek herinneringe, en al die vlakke tussen wees en nie-wees wat net ’n mens, die mees ontaarde dier wat uit my slyme opgekruip het, tot bestaan kan wek.”
Fanie Olivier se werk as digter en as literator het sekerlik ’n waardevolle basis geskep vir die deeglikheid waarmee hy sy werksaamheid as vertaler benader. Sy noukeurige en oorwoë vertaling van Mortier se roman is duidelik ’n prestasie wat vra vir lof en erkenning.
Mevrou die Ondervoorsitter, ek versoek u nou om die SA Akademieprys vir Vertaalde Werk vir Wanneer gode slaap aan Fanie Olivier te oorhandig.
Stellenbosch
1 September 2023
Lees ook: