
Bertus en sy Harley (foto deur hom verskaf)
“Steek die vure aan, hou die vlamme hoog en braai,” is Bertus Basson se raad aan Suid-Afrikaners.
Hy is in 2019 bekroon as Sjef van die Jaar. Bertus het ’n kosfilosofie gewortel in diens en bring ’n eg Suid-Afrikaanse koskultuur met ’n moderne blik op die tafel.
Bekend vir sy agt unieke restaurante en TV-reekse, soos In die sop, Ultimate Braaimaster en Kokkedoor, is die naam Bertus Basson geen onbekende in die hospitaliteit- en restaurantindustrie nie. Hy is egter nie net ’n bekende gesig in restaurante se kombuise en op TV nie, maar spog ook met drie kookboeke agter sy naam.
Vanaf die Hilton Hotel in Kloofstraat gesels Bertus tussen sy besige skedule oor sjef-wees, restaurante, sy liefde vir sy familie en Kokkedoor: vuur en vlam, onlangs te sien op TV vir ’n tweede seisoen.
“Ek werk dat ek hop,” sê hy, “en hoekom nie?”
Struisbaai se mooi vir Kokkedoor: vure, vlamme en nostalgiese braai-ervarings
Vir Basson was die verfilmingervaring van Kokkedoor: vuur en vlam (seisoen 2) iets wat hy as “fantasties” beskryf en hy vertel dat hy nie voorheen baie tyd in die Overberg deurgebring het nie. Hy het egter met sy Harley die pad aangepak en vir ’n paar weke in Struisbaai gaan woon en vertel van die heerlike tyd wat hy in dié kusdorpie deurgebring het.
“Die see-uitsig vanaf die Kokkedoor-studio in Struisbaai was ongelooflik. My familie kon kom kuier en ons het gereeld gaan vis en skyfies eet by die plaaslike eetplekke.”
Basson vertel dat dit altyd lekker is vir hom om tyd saam met medebeoordelaar Kobus Botha deur te bring en sê hulle is “soort van kindred spirits”. Die twee beoordelaars het goeie vriende geword deur die Kokkedoor-program en vir Basson was Botha se teenwoordigheid tydens die verfilming vir hom ’n hoogtepunt.
Hy sê dat hy ook die deelnemers wat “maar in jou hart inkruip” en die filmspan ewe veel geniet. “Dit is altyd hartseer as iemand gaan,” vertel hy. “Die reeks is onvoorspelbaar, ’n sterk deelnemer kan vroeg al uitval, terwyl ’n sukkelende deelnemer weer in die helfte van die program ontpop met ’n nuutgevonde dryf en begin skitter.”
Die program gooi die kinkel- en onthoubraaiers saam, terwyl hulle die kykers wys wat alles op die vuur gemaak kan word en “praat met ons as Suid-Afrikaners op ’n ander vlak”. Vir Basson lê die sukses van die program juis in die proses waar die nostalgiese onthoubraaiers uit hulle harte en die kinkelbraaiers met fyner tegnieke kennis maak en by mekaar leer.
“Kyk dit; dit is ’n amazing show. Dit gaan oor wie ons is, ons menswees en oor Suid-Afrikaanse kos. Daar is wonderlike mense om van te leer.”
Lamsvleis, Suid-Afrikaanse trots
Kokkedoor: vuur en vlam lê Basson na aan die hart en hy deel sy sentiment oor braai wanneer hy sê dat daar so baie is wat jy op die vuur kan doen. “Daar is baie verrassings met kos wat gemaak word oor vuur.” Verder prys hy Suid-Afrikaanse lamsvleis en sê dat Suid-Afrikaanse lam van hoë gehalte is en nie veel meer as net sout nodig het nie.
“Vergeet maar van die worcestersous en blatjang, net sout op ons lamsvleis is genoeg.”
Dié sjef lê self graag weg aan ’n lekker gebraaide lamstjoppie en is “gaande oor ’n flippen lekker burger”. As hy net een dis moet maak of kan eet vir die res van sy lewe, sal dit ’n burger wees. Sy burger moet eenvoudig en gefokus op vleis wees, skerts hy.
Hilton Hotel, burger joints en ’n kosreis
Vir die res van 2025 gaan Basson ook nie stilsit nie en hy gee weg dat hy, saam met Hilton Hotel, werk aan die opening van ’n hotel in Kaapstad en “nog so een of twee burger joints”.
Basson droom van ’n Suid-Afrikaanse reisprogram per motorfiets of met ’n Land Rover, gefokus op die Suid-Afrikaanse kosstories, en waar hy hierdie stories in diepte ondersoek. “Ons krap net die bodem,” sê hy. Hy vertel dat kosmaak beïnvloed word deur nood, kultuur en mense en hy wil weet waarom ’n Bo-Kaap-kerrie se smaak verskil van ’n Durban-kerrie.
As sjef wil hy met mense praat oor kos en hulle kosstories deel. “Ons het hierdie ikone in Suid-Afrikaanse kos, soos kerriepoeier. Dit is oral, maar dit is oral anders. Hoekom benader ons dit so?”
Tuis en snoek eerder as kaviaar
“Waar my familie is.” So antwoord Bertus Basson dadelik die vraag oor waar hy tussen restaurante en kosbeoordeling sy skoene uitskop.
“Ek spandeer die meeste van die tyd op my motorfiets of in restaurante,” vertel Basson. Hy lewe tussen Stellenbosch en die Bo-Kaap en vind sy tuiste daar waar hy sy vrou en sy gesin by hom het en hulle kan sien.
Hy verklap dat hy kwaad kan raak en vloek, maar dat hy homself nie juis steur aan wat mense van hom dink en sê nie, en nooit iets sal doen wat onnatuurlik aan sy aard is nie. “Dit is wie ek is en ek lei my lewe op my terme. Ek is Afrikaans; ek praat soos ek praat en eet soos ek eet.” Hy gaan voort om te sê dat mense jou soms op ’n voetstuk plaas en iets van jou verwag wat jy nie is nie, “dan word hulle teleurgesteld gelaat, maar dit is hulle wat jou op daardie voetstuk geplaas het”. Sy vierjarige dogtertjie spreek hom gereeld aan oor sy “lelike woorde”.
Sy gunsteling-sêding, vertel hy laggend, en daarmee stem sy vennoot Drikus saam, is: “Doen wat jy moet, moet net nie nonsens aanjaag nie.” In die hitte van die oomblik mag die woorde dalk so effens verskil!
Dit is vir hom belangrik om eerlik oor homself te wees en sê mense moet hulself wees en hoef nie skaam te wees om trots op hulself te wees nie. “Doen wat goed is vir jou, sonder om daarop te konsentreer om ander gelukkig te maak. Jy kan nie iets vir almal wees nie.”
Basson is bedag op die kosnood in Suid-Afrika en daarom nie ’n aanhanger van “super fine dining” nie. Hy sê sy lewe is nie “kaviaar en truffles nie, maar eerder snoek en patat”.
Dit maak hom trots en gelukkig om te sien hoe sy mense presteer en groei en sê dat dit vir hom lekker is om “te sien hoe mense goed doen”.
Hoe en waar ontspan ’n besige sjef soos Bertus Basson? “In die Karoo en by die see,” vertel hy. “Ons hou een keer per jaar vakansie by die see, maar ek is baie lief vir die Karoo. As jy ooit jou hart verloor, sal dit in die Karoo wees.”
Ten slotte
Basson sluit af met raad aan voornemende sjefs: “Wees net wie jy is en probeer om altyd dieselfde mens te wees. Dit is ’n moeilike industrie om in te beweeg; dit verg harde, fisiese werk, lang ure en aan die begin is die geld nie goed nie. Dit is moeilik om suksesvol te wees, maar as jy ’n passie het vir kos, drank, bak en mense wil dien, is dit ’n wonderlike bedryf om in te werk. Daar is plek vir almal in die hospitaliteitbedryf wat bereid is om hard te werk.”
Hospitaliteit is ’n manier vir mense om te begin werk uit niks uit nie en die geleenthede is oop in Suid-Afrika. “As jy wil muffins bak, bak dan die beste muffins in jou dorp.”
Basson raak ernstig wanneer hy oor die onderwerp van werktrots en ambisie praat. Hy gee weg dat hy deur harde werk sy doelwitte bereik het en self geen formele opleiding of matriek het nie.
“As jy ambisie het, iets bereik en goed doen vir jouself, is dit ’n lonende gevoel.”
Kos het hom al regoor die wêreld gevat en die bedryf maak dit moontlik om wonderlike mense te ontmoet, vertel Basson.
Hy maan ten slotte: “As dit nie vir jou is nie, moet dit nie doen nie. Dit gaan ’n moeilike pad wees om te stap as jy nie daarvan hou nie.”