
’n Lugfoto van die Saldanha Wine and Spirit Company (foto: verskaf)
........
“Ek bly tans langs die see in Saldanha. Oor so ’n paar minute gaan ek my duikpak aantrek en ’n bietjie kos gaan vergader vir môre se ete. Wat kan nou heerliker wees ...”
........
Die uitnodiging: “Kobus Botha, vars van Frankryk, kook in Suid-Afrika se ‘Boere-Bahamas’ en jy is genooi.” Wie sal nee dankie sê vir die kans om die gewilde Kokkedoor vuur en vlam-beoordelaar se kos op die wit sand van Saldanhabaai (Kobus noem dit Boere-Bahamas) te geniet? Boonop kom dit met die voortreflike wyne van Adi en Cornelia Badenhorst van Kalmoesfontein in die Perdeberg. As daar AA Badenhorst Family Wines op die etiket staan, is ons daar!
Die Saldanha Wine and Spirit Company in Hoofstraat 35, Saldanha, van die see se kant gesien. (Foto: verskaf)
Dis ’n potblou Saterdag wanneer ons by die Saldanha Wine and Spirit Company indraai. Dis die tuiste van Adi se sjerrie-verouderingskelder en daar is groot planne vir dié voormalige motorhawe waar sjerrie in groot eikehoutvate verouder en gaste op die wit stukkie strand met hul voete in die sand kan sit.
Wyn, sjerrie en vonkelwyn van AA Badenhorst Family Wines vergesel elke gang van Kobus se smul-spyskaart. (Foto: Clifford Roberts)
Kobus (Kobus Braai vir dié wat weet ...) is agter in die oop vertrek doenig. Gaste word in die oorkantse hoek met wyn bedien. Selma Willemse, wynmaker saam met Adi by AA Badenhorst Family Wines, hou die glase vol en Adi trakteer met wyn- en sjerriestories. Nadat almal ’n draai in die klein kelder (waar jy op ’n ou grafsteen trap om by die vate uit te kom) gemaak het, is dit tyd vir iets om te kou.
Selma Willemse, wynmaker saam met Adi, hou ons glase vol. (Foto: Clifford Roberts)
Terwyl almal aan geelstertpatee en Melba-roosterbrood smul, gaan hang ek daar by die toonbank en vra uit oor dié unieke braaifees.
Só tussen uie en knoffel kap deur, vertel hy: “My meisie, Lou, wat die puik eetplek Sibling in die Bo-Kaap bedryf, het my aan Adi-hulle voorgestel, nadat hulle haar dié Saldanha-venue gewys het met die idee dat sy dit moet gebruik vir etes. Adi is ’n bekroonde wynmaker en Cornelia (Jan Boland Coetzee se dogter) het die ou motorhawe langs die see gekoop om sjerrie te verouder. Befok heerlike sjerrie. Lou het geweet dat ek droom van ’n eetplek op die see, met vars seekos.
Die sjerrievate lê in die koelte en verouder. (Foto: Clifford Roberts)
Adi vertel bietjie oor sy sjerriereis. (Foto: Clifford Roberts)
“Ek duik al van kleins af, skiet baie vis en hou van kos versamel uit die see, insluitende skulpvis, seewiere en vis. So, sy het my aan hulle voorgestel en ons het dadelik besluit om saam te werk.”
Ons word buitentoe gejaag vir die eerste gereg: rou Saldanha-oesters saam met sjerrie. Ons maak kringetjie onder die lattedakkie en hier help Lou en die ander Kokkedoor-beoordelaar, Bertus Basson, om oesters oop te kraak. Hy is vandag ’n gas, maar die mag van die gewoonte neem oor ...
Saldanha-oesters wat met sjerrie bedien word. (Foto: Clifford Roberts)
Die oesters kry geen Tabasco of suurlemoensap nie; dis vlesig en geurig en so Weskus as kan kom.
Ons kry warm lappies vir vuil hande, voor die mossels wat onder dennenaalde gerook word, bekend as L’éclade de moule, wat basies gerookte mossel beteken, teatraal berei word. Dis heerlik bekend en vreemd tegelykertyd en báie Frans. Daarna gaan woel hy by ’n braaidrom en ons kry geelstertvelle wat bros gebraai is. Ek verlang na my ouma en varkkaiings wat só uitgebraai is.
Kobus op sy gelukkigste: agter die vlamme. (Foto: Clifford Roberts)
........
“Die Franse tegnieke kom van my reise in Frankryk. Ek reis rond met my massiewe braais en gaan doen high-end etes regoor Frankryk, by chateaus, woude en villas. So kom ek baie mense teë wat erg is oor kosmaak en dit geniet om hulle kennis met my te deel.”
........
Geelstertvel wat bros gebraai is. (Foto: Clifford Roberts)
Selma en Adi kom met nog sjerrie en Kobus gesels voort: “Die Franse tegnieke kom van my reise in Frankryk. Ek reis rond met my massiewe braais en gaan doen high-end etes regoor Frankryk, by chateaus, woude en villas. So kom ek baie mense teë wat erg is oor kosmaak en dit geniet om hulle kennis met my te deel. Ek hou van kos wat mooi is om te maak en lekker om te eet, soos die mossels onder die vlammende dennenaalde. Of die koek op ’n spit.”
Die mossels is netjies op ’n plank gepak en toe onder dennenaalde bedek en gerook. (Foto: Clifford Roberts)
Hy lag lekker vir ’n grappie van Adi se kant en sê hy, Adi en Cornelia is al drie passievolle mense “met ’n joie de vivre wat aansteeklik is. Ons geniet wat ons doen terdeë en is baie goed daarmee. Dit bring met dit ’n diepte van kennis oor wat ons doen en gaste vind dit boeiend.”
Hy probeer elke Woensdag, Vrydag en Sondag oop te wees, wanneer hy kan. Vir groepe groter as 15 maak hy enige tyd oop, lag hy.
“Die vars seekos spyskaart bly dieselfde – dit is die seisoen van baie van ons lekkerste vis, soos geelstert. Daarna gaan ek oop wees vir events, waar ek die spyskaart sal aanpas by die seisoen (en teen daai tyd sal ek al lus wees vir vleis). Ek sal egter steeds net kook waarvan ek hou, soos ek in Frankryk ook doen, met ander woorde, ek bepaal die spyskaart.”
Eens het hier spogmotors gestaan en op die sementvloer is daar seker motors gediens ook, maar nou is dit ’n seekosfees! (Foto: Clifford Roberts)
Ons gaan bo in die lang vertrek, waar daar toentertyd spogmotors gestaan het, aansit. Eers is daar boerebaisse, sy weergawe van die lekker seekossop, Bouillabaisse. Kobus se vissop het net plaaslike vis in en daarby saams ’n stukkie brood en knoffel-mayonnaise.
........
Ons gaan bo in die lang vertrek, waar daar toentertyd spogmotors gestaan het, aansit. Eers is daar boerebaisse, sy weergawe van die lekker seekossop, Bouillabaisse. Kobus se vissop het net plaaslike vis in en daarby saams ’n stukkie brood en knoffel-mayonnaise.
........
Hy woel weer daar eenkant en roep ons dan vir die volgende liplekkerte: sagte seekat met inheemse Weskus-herebone. Niemand het hulle laat nooi vir tweede – en derde – porsies nie, maar Kobus het gewaarsku die middag en die spyskaart is nog lank!
Seekat en inheemse Weskus-herebone. (Foto: Clifford Roberts)
Met die hoofgereg van varsgebraaide geelstert waarop hy sommer ’n hele homp botter gesmelt het, wat met kaaskapokaartappel (pommes aligot) bedien is, kom sit hy ook aan. Langs hom sit Lou en hul trots oor ons so lekker eet, is sigbaar. Gaste kreun behoorlik van die lekkerte oor dié kaasaartappels wat veerlig geklits is en aan ryk polenta herinner.
Geelstert op die kole, is daar iets lekkerder? (Foto: Clifford Roberts)
Kobus vertel hy geniet sy tyd in Suid-Afrika besonder baie. “Ek kom redelik gereeld hierheen – ek het steeds ’n huis in Somerset-Wes wat ek deel met my suster Elmarie [vervaardiger van onder andere Boer soek ’n vrou] en ek kom uit vir die verfilming van Kokkedoor vuur en vlam en my geliefde bly in die Kaap.
“Ek bly tans langs die see in Saldanha. Oor so ’n paar minute gaan ek my duikpak aantrek en ’n bietjie kos gaan vergader vir môre se ete. Wat kan nou heerliker wees ...”
Die rumkoek wat hy op die spit gebraai het, is ’n toetslopie, maar heerlik! (Foto: Clifford Roberts)
Maar voor hy kan gaan, wat van nagereg?
Die moerkoffie prut lustig op die vlamme in ou emaljekannetjies en hy gaan wys ons die rumkoek wat hy oor die spit gaargemaak het. Dis ’n toetslopie, vertel hy gou, toe die eerste snytjies bros onder die broodmes breek. Maar dis heerlik en soet en die perfekte dansmaat vir swart koffie.
Dis net voor sonsak dat ons groet. Son, strand en seekos op sy beste. Met goeie wyn en nuwe vriende!
As hy kan gaan duik en visskiet, is hy in die hemel.
Kitsfeite:
- Die seekos-etes is R1 250 per kop, minder vir kinders (kinders en honde met maniere is welkom). Dit sluit wyn, sjerrie en vonkelwyn van AA Badenhorst Family Wines en al die kos in. Alle besprekings, behalwe vir groepe wat hom kan e-pos by jcdbotha@gmail.com, is deur Dineplan by https://www.dineplan.com/restaurants/kobus-botha-at-the-saldanha-wine-and-spirit-co.
- Die Saldanha Wine and Spirit Company is in Hoofstraat 35, Saldanha.
Lees ook:
Wonderlike kulinêre geheime wag in Brive en omstreke in Dordogne