Met die beste bestanddele van die kosmark kan jy saans heerlike tradisionele Franse bredies berei.
Dis toe weer kos wat ons na die Franse streek, Dordogne, lok. Die streek wat ook bekend was as Périgord, is die hart van die Franse truffelbedryf, maar daar is verskeie dorpies in die streek wat alles waarvan jou maag kan droom, groei, stook, bak of maak.
Die klein straatjies is enige fotograaf se droom.
Dordogne is ’n distrik in die suidweste van Frankryk, geleë tussen die Loire-vallei en die Pireneë-berge.
Dit wat eens bekend was Périgord en wat rofweg ooreenstem met die huidige Dordogne, is verdeel in vier gebiede, genaamd die Périgord Noir (Swart), so genoem na die truffels wat daar gevind kan word; die Périgord Blanc (Wit), vir kalkkranse en steengroewe; die Périgord Vert (Groen), vir woude en bosbou; en die Périgord Pourpre (Pers), vir wyn en wingerdbou. Die geografie en natuurlike hulpbronne van Périgord maak dit ’n streek ryk aan geskiedenis en natuurlewe.
Foie gras
Périgord is bekend vir sy kookkuns, veral sy eend- en gansprodukte, soos confit de canard en foie gras. Périgord-wyne sluit Bergerac (rooi en wit) en Monbazillac in.
Toe die herfs sy oranje-bruin-geel kombers oor die Dordogne kom gooi, gooi ons ons tasse neer in ’n ou plaashuis tussen Lanteuil en Beynat.
Soggens word ons wakker met die klanke van die woud om ons. In die verte hoor jy ’n houtkapper teen ’n boomstam en snags hoor jy uile roep. Teen skemer kom bokkies om die huis wei.
Périgord-wyne sluit Bergerac (rooi en wit) en Monbazillac in.
Die kaggel brand elke oomblik wat ons tuis is en die rooiwyne uit Bordeaux, Bergerac en Monbazillac hou ons glase gevul.
Voor elke nuwe dorpie wat ons gaan verken, moet ons natuurlik eers ’n lekker koffie langs die pad drink.
Elke dag verken ons ’n ander dorpie. So ’n katspoegie weg, nadat ons eers vir koffie gestop het, is ons visier op Brive-la-Gaillarde (in die volksmond bloot Brive), maar dit het gelukkig met ’n liedjie – en nie ons vraatsugtigheid nie – begin. My skoonsus speel die liedjie “Hécatombe” van Georges Brassens oor die motorradio en toe ons vra hoekom, word ons gemaan om soos soet kinders te wag tot later. Dit handel wel oor die dorp se mark en was glo ’n bakleiery van “epiese proporsies” volgens die lirieke. Nie een van ons se Frans is goed genoeg om presies te verstaan waaroor dié markgeveg gegaan het nie, maar dat ons die mark wil besoek, is nou ’n feit.
My swaer lees vir ons meer oor die dorpie se geskiedenis op sy slimfoon, terwyl ons die klein kronkelpaadjies daarheen volg.
Om elke dag by sulke mooi toneeltjies verby te ry, wil jou sommer in ’n kunstenaar verander!
Al het die inwoners hulle rondom die 1ste eeu al hier gevestig, het die stad eers heelwat later begin groei. Vanaf ongeveer die 5de eeu het die oorspronklike stad begin ontwikkel rondom ’n kerk wat aan Saint-Martin-l'Espagnol gewy is. Gedurende die 12de eeu is mure rondom die stad gebou en tydens die Honderdjarige Oorlog is ’n tweede muur gebou. Hierdie vestings bestaan nie meer nie en is deur boulevards vervang.
Die distrik is tot in 1919 Brive genoem, toe dit herdoop is na Brive-la-Gaillarde. Die woord Gaillarde (wat steeds in Frans gebruik word) is waarskynlik vir dapperheid of krag in die stad se naam ingesluit, maar dit kan ook na die stad se mure verwys. Brive strek nou buite sy oorspronklike grense na Malemort en Ussac.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog was Brive-la-Gaillarde ’n streekhoofstad van die weerstandsbewegings, wat as ’n setel van verskeie geheime inligtingnetwerke en verskeie van die vernaamste weerstandsbewegings opgetree het, waaronder Armée secrète en Mouvements Unis de la Résistance.
Brive-la-Gaillarde was die eerste stad van besette Frankryk wat homself op 15 Augustus 1944 bevry het. Hiervoor het die stad die Croix de guerre 1939–1945 ontvang. Dit beteken oorlogskruis, ’n militêre verering dus.
Die Middeleeuse sentrum is oortrek met klein winkeltjies, restaurantjies en verskeie kafees.
Ons draf heel eerste by die toerismeburo in en vra uit oor alles wat in die dorp en omgewing te sien is. Voor die gawe toerismebeampte kan vra, kom dit soos ’n koor uit ons monde: “Ons hou van lekker kos en wyn en interessante drankies en ja, ons weet van die mark.” Sy besef as daar wynplase, of enige plaaslike vervaardigers is, moet sy ons in daardie rigting stuur.
Sy lag tog te lekker en sê ons is nie net in die regte dorp nie, maar ook skuins oorkant die pad van een van die lekkerste wynondervindings: die proelokaal en wynwinkel van Denoix-distilleerdery wat uit 1839 dateer.
Ons is gewapen met ’n paar name van lekkerbekplekke in die omgewing en begin ons kuier by Denoix. Die produkte kan gratis geproe word en selfs die toer van die distilleerdery en verouderingskelder is verniet. Ons teug aan die Suprême Denoix-likeur, die Armagnac à l'Orange en die Fenouillette de Brive.
Die besoek volg die 180 jaar van die distilleerdery se geskiedenis, ook dié van die Denoix-familie, wat steeds die besigheid lei, so ook die likeurmakers se kundigheid wat dit in stand hou.
In hierdie familiegeskiedenis het die vriendskap van Jean Lurçat, ’n kunstenaar, ’n groot rol gespeel: Lurçat se voetspoor is in die ontwerp van verskeie likeuretikette, sowel as in sy eie likeur, wat in samewerking met sy vriendin, Elie Denoix, ontwerp is.
’n Paar artefakte getuig van die outentieke verlede.
’n Paar artefakte getuig van die outentieke verlede van die distilleerdery: outydse bottels, etikette en foto’s, sowel as die groot boek van rekeninge.
Dis tyd om van die likeurs te bottel.
Voor een van die groot vate sit ’n werker en vul likeurbottels.
Die Église Saint-Martin
Die historiese dorpie is ’n lekkerte op die oog. Ons loer ook by die Église Saint-Martin (’n ou kerk) in vir ’n bietjie sielstilte en om die koue hande te laat ontdooi.
Die bekende Brive-kosmark
Ons is natuurlik gelukkig toe ons mae begin draai, want die dorp is nie verniet bekend vir sy ongelooflike kosmark nie – ten spyte van Georges se neerhalende liedjie. Smulpape soos ons moet waarlik met leë mae gaan kuier.
Dit word toe alles duidelik toe ons by die mark kom. Die marksaal is na Georges Brassens vernoem. My skoonsus lag van oor tot oor. “Ek het geweet julle hou van geskiedenis en ’n storie met ’n kinkel!”
Knoffelbotter-en-basilieslakke
Ons kry by een van die stalletjies ’n bordjie met knoffelbotter-en-basilieslakke – nog in hul skulpe – en die oom maak dit oor ’n klein vlammetjie vir ons warm. Toe die botter begin borrel, eet ons die slakke met afgebreekte stukkies baguette.
Ons koop later haselneutbrood, beleë kaas en glaspotjies en blikkies vol confit de canard (eendpatee), nadat een van die tannies vir ons die hele proses verduidelik het en verseker het dis nie eendlewerpatee nie. “Ons eende word nie geforseer om te eet nie, hulle loop heeldag vry rond,” het sy beduie. Lyk my selfs hier is die eendlewerpatee-debat aan die gang. Eendpatee word van die hele eend gemaak en verg dat die karkas vir etlike ure in sout gepekel word voor dit baie stadig in sy eie vet gekook word. Daar is gewoonlik tiemie, knoffel en uie in die sous en nadat dit vir bykans 10 uur gekook word, word dit tot growwe patee gemaal.
Daarby saam kry ons ’n bottel wyn en ’n bakkie vars tamaties en ons kry sitplek langs die rivier. Laatontbyt uit die boeke! Ja, jy het reg gehoor, laatontbyt met rooiwyn!
Heerlike romerige kammossels met droë wyn is net die dis vir ’n koue dag.
Teen die tyd dat ander mense tee en koek geniet, sit ons in ’n restaurant en geniet murgsagte kammossels en droë witwyn.
En aangesien mens nou in die hartjie van truffelwêreld is, is ons baie gelukkig om by verskeie winkeltjies verby te stap wat graag klein happies foie gras met truffel aanbied. Dis egter die truffelsout wat my hart steel en ons kan nie wag om daardie aand lekker Franse bredie met ons markaankope te gaan maak nie!
Die Le Moulin de Maneyrol (die Maney-rolmeul) se ligging word verklap deur ’n reuse- goudgeel neut langs die pad.
Net meer as 15 km verder kry ons Le Moulin de Maneyrol (die Maney-rolmeul). Daar lê ’n reuse- goudgeel neut langs die pad en ons besluit om in te draai.
Charlie Le Gallo
Charlie Le Gallo doen hier ongelooflike werk met okkerneute uit die reuseveld voor die meule. Daar is haselneut- en okkerneutolie, ook ander produkte te koop. Alles word met die hand gedoen en dis streekstradisies wat hy hier lewend hou. Die vertrek is warm binne en die neutreuk vul jou neusgate.
Die toekennings teen sy muur getuig van die kwaliteitprodukte wat hy maak
Hy vertel dat neutolie wat op die tradisionele manier uit neute onttrek is, algemeen was voor die oorlog. “Diere soos donkies of perde het die meulsteen gedraai. Die tradisie het begin uitsterf en ek het 13 jaar gelede besluit om dit weer te laat herleef,” vertel hy terwyl hy bakke vol neute vashou en met houtlepeltjies op ons handpalms lê. “Haselneute groei nie hier nie, want dit verg baie water. Ek koop dit van ’n naburige provinsie, maar dis my okkerneute. Die olie is heerlik oor slaaie en varsgebakte brood.” Hy staan nader aan die toonbank om ons alles te laat proe. Teen die mure is al sy toekennings en op ’n rak is koekies en ander produkte van okkerneutmeel gemaak.
Ons wil nie die hele proe van al sy produkte doen nie, want ons het heerlike Bordeaux-wyne by Denoix gekoop; die kaggeltjie roep en dis al stikdonker buite. Ons koop wel ’n paar bottels olie en ek kan net dink hoe lekker dit oor die varsgebakte donker suurdeegbrood gaan wees, wat genadiglik in die kattebak is en nie naby genoeg om hompe uit te breek nie.
Die stilte in die motor terug huis toe is getuie van die kulinêre lekkertes waarmee ons beloon is – en so ’n tikkie knuppeldiktes ook!
Kitsfeite
- Die bekende Brive-kosmark is Dinsdag-, Donderdag- en Saterdagoggend van 07:30 tot ongeveer 13:00 oop by Place du 14 Juillet en in die Halle Georges Brassens.
- Meer inligting oor dié dorp en omgewing is by https://en.brive-tourisme.com/fr/visites/marche-brive-la-gaillarde/ te kry.
- Meer oor die neutmeul wat ons besoek het, is hier: https://lemoulindemaneyrol.com/.
Foto’s: Clifford Roberts