Magiese markte

  • 0

Die lekkerste truffelrisotto wat ek nog ooit geniet het, was die lang wag in ’n ry werd in die Borough-mark in Londen, maar my geliefde wou eerder seekospaella hê.

Maak jou oë toe, laat jou sintuie oorneem en verbeel jou jy staan in die middel van ’n mark. Daar is die reuke van vars seekos iewers agter in ’n hoek, beleë kase nader aan jou neus. Dit meng met die reuk van risotto of paella wat in groot panne gebraai word, terwyl vars blomme die tikkie sagtheid bring. Iemand maal koffiebone en blaas melk tot wolkagtige spitsies en voor jou sny ’n slagter ham of salami in ragfyne skyfies. Maryke Roberts kyk terug na die markte waar sy die afgelope 31 jaar kop verloor het.

As jy op die Franse en Belgiese markte rondloop, is vars konyn natuurlik deel van die aanbieding. Ek wil dit darem maar nie só sien nie. Gee my enige dag winkelverpakking in stukke! Maar ek eet graag saam as dit gaar is!

My eerste kennismaking met Europese varsproduktemarkte was in 1993, toe ek en my toe studenteliefde – nou lewenslange geliefde – Europa met rugsakke geryloop het. Ons het pas klaar gestudeer, alles was moontlik en die rand was R5 teen die pond en R3 teen die dollar. Ons het papier-padkaarte gehad en van tiekiebokse af huis toe gebel.

Hierdie trok met verleidelike kase staan een oggend vroeg langs die rivier naby ons dorpie waar ons vir 10 dae in die Franse platteland kuier. Ons het gaan brood en melk soek en was van plan om terug te keer huis toe, maar kaas van Aurillac is net te lekker om nie te koop nie.

Sommige dae het ons ver afstande saam met interessante motoriste afgelê, ander dae het ons ses uur in die sneeu gestaan met rooi, verkluimde duime en geen geleenthede nie.

Ons verblyf was meestal in ons klein tentjie waarin nie een van ons kon regop sit nie; kos warm gemaak oor ’n stofie skaars groter as ons kamera. Ons rugsakke was swaar: van beddegoed, noodhulpsakkie, eetgerei en spaar-gaskanne vir ons stofie, en onderin ons reisigerstjeks en dagboeke versteek.

Die eerste maal wat ons by ’n varsproduktemark instap, was een koue wintersoggend in Amsterdam, by die Noordermarkt. Dis ’n ware plaasmark en word Saterdae gehou. Dis op ’n vierkant in die mooie Jordaan-distrik. Dit het in 1623 as pottebakkersmark begin en die bekende skilder, Rembrandt, was glo een van die gereelde kliënte.

Dis hier dat ’n oom ons gul naderroep en ’n skerf kaas sny uit ’n blok kaas met groot gate – iets wat ek nog net in kinderboeke gesien het en meestal met muise daarin. Maasdam-kaas, verklaar hy in ’n swaar Nederlandse aksent. Die kaas rus soet en neutagtig op my tong. Ek het nog nooit tevore só iets geproe nie. Met die beperkte winkelkaas-aanbiedinge van my plattelandse grootwordjare, is cheddar en gouda min of meer die wydte van my kaashorisonne.

Nie ver van die kaas-oompie nie, sny ’n vrou multigraan-rolletjies (meergranenbroodjes) en gee vir ons elkeen ’n halwe sny om te proe. Sy verklaar jy eet dit met ham en kaas en sterk koffie.

Kaas in Italië

Ons doen toe presies dit. En twee markverslaafdes is gebore.

Ek is nog nie oortuig nie, maar blykbaar is seepampoentjies groot lekkertes ...

Sedertdien is een van die eerste goed wat ons doen as ons op ’n reisbestemming besluit, om navorsing oor die kos- of varsproduktemarkte te doen.

Ons huur in 2001 ’n gerieflike kampeerwa en ry die Franse platteland plat. Ons wa het ’n lekker stofie, ruim yskas en groot tafel. By elke dorpie in Provence waar ons stop, soek ons die markies op, koop saucisson (die Franse weergawe van salami), verouderde camembert en livarot wat gou alles laat opstink en dus onmiddellik verorber moet word.

Die bakkery was vroegoggend ons eerste stop en ons kies tussen baguette of pain de campagne (Franse plattelandse brood wat lekker taai is om te kou). Daar is altyd ’n goedkoop bottel rooiwyn in die yskassie en met ons deur en vensters oop, trek ons langs die pad af vir middagetes uit die boonste rakke.

By een van die markies koop ons weer saucisson, maar die âne is heelwat goedkoper en ons vermoed dit het anyssaad in. My man se Frans is darem van so ’n aard dat hy weet ons wil nie jument of cheval (perdevleis) koop nie.

Ons eet die lekker lang rol vleis oor etlike dae op ons reise. Toe ons weer huis toe bel, noem hy vir sy ma dat ons voortaan net die âne gaan koop, omdat dit bekostigbaar is. Sy lag en sê dis heeltemal te verstane: dis donkievleis!

O, die gedagte aan die lang ore en groot oë ...

In Deira se souk (mark)

In Dubai gaan ons in Deira na die spesery souk (mark) toe vir dadels en speserye, en kom met klein sakkies ragfyn saffraan huis toe. Die mark is iets uit ’n Lawrence of Arabia-film en jy kan skaars glo jy is in die moderne woestynstad. Klein, nou gangetjies waardeur klein straaltjies sonskyn patroontjies op die vloer maak, kan jou maklik laat glo jy leef 200 jaar gelede.

In New York in 2010 besoek ons die Queens-nagmark en tussen al die mense van alle kulture en tale wat daar woon, eet ek die beste pizza van my lewe. By ’n stalletjie uit ’n klein klei-pizzaoondjie gee die oom vir my ’n sny peperoni-en-knoffelpizza met kaas wat sulke lang drade trek ...

Om in New York rond te loop en kase uit Frankryk by ’n stalletjie te sien, pure bederf.

Nie ver van hom af nie, verkoop ’n Amerikaner met ’n rooi baret die lekkerste Franse kaas en ons koop vir ’n vale.

Hier teen 2012 begin ons oor Desembers reis; wanneer almal se kantore gesluit is vir die feestyd, is dit ook stiller by ons. Maar om van die miljuisende vakansiegangers teen die kus weg te kom, kies ons koers noorde toe. Ons ontdek die Kersfeesmarkte van Oostenryk, Praag, Duitsland, Finland, Estland. Jy drink warm wyn met speserye wat uit reuse-wynvate getap word, geniet churros (toe nog onbekend by die huis) en tuisgemaakte warmsjokolade, wat jou knieë laat swik, as nagereg om die winterkoue te verdryf. Jou half verkluimde vingers wat salig om die warmte vou.

Sampioene in Italië

In 2013 nooi vriende ons saam Italië toe. Ons verken onder meer Bologna en Emilia-Romagna, Lombardy. Daar sit jy op die sypaadjie met Aperol en breek hompe verouderde kaas, tamaties en basiliekruid, met verouderde balsamiese asyn wat jou kiewe laat water van lekkerte. Ek wens ek kan een van die reuse-parmesaanwiele huis toe bring en soos die Italianers my kokende pasta binne-in die uitgeholde wiel rol vir ekstra kaasgeur wat ek daar verneem mantecata nella forma di Parmigiana genoem word. Elke keer as ek hier ’n peperduur stukkie parmesaan vir my pastageregte rasper, dink ek aan die rojale skywe wat die ooms by die markte uitdeel.

Vir lekkertes van ’n ander aard, volg ons die Turke na die Grand Bazaar in Istanboel. Daar koop jy speserye en lekkers en tee in oop sakkies waarvan die reuke jou neus wil mal maak.

’n Hele paar het vertel dat die Dönerci Şahin Usta die beste plek is om ’n tradisionele döner-kebab te eet. Die reuse-lams-, bees- of hoendervleis wat in ’n omgekeerde kegel oor die kole rooster, se reuk kom haal jou ver in die gangetjie af. Dit meng met die reuk van speserye van ander stalletjies en word kokend warm in dun skyfies afgesny.

Dit word dan binne ’n pitabroodjie gesit, met vars blaarslaai, tamatie, uie, knoffel, brandrissie en smeersels hummus. Ek hou van ’n bietjie joghurt met komkommer in daarop om die brandrissie bietjie te laat bedaar.

Daarna stap jy na een van die Turkse lekkergoedstalletjies (Turkish delight), daardie soetigheid met rooswater en pistachio, en drink sterk Turkse koffie, jy absorbeer die mark se geure en reuke.

Die lekkerste truffelrisotto wat ek nog ooit geniet het, was die lang wag in ’n ry werd in die Borough-mark in Londen, maar my geliefde wou eerder seekospaella hê. Die chorizo en seekos was vars, peperagtig en die rys net reg, met daardie lekker socarrat (die amper aangebrande lagie onderaan) vir agterna nog lank kou.

Die markte in Seychelles

Die markte in Seychelles en Mauritius is iets heeltemal anders. Hier is dit vanielje, hope vars vrugte wat gawe ooms vir jou in repies sny vir maklik eet en waarvan die soet stroop teen jou arms afloop – die beste teenvoeter vir die hitte.

Die kruie en brandrissies op ’n mark in Port Louis, Mauritius laat my mond water.

In 2019 toer ons vir bykans vier weke deur Indië. Ons verkyk ons aan al die vars produkte, speserye, tee en kruie wat in elke denkbare stegie verkoop word. Hulle sê een swaeltjie maak nie ’n somer nie, maar een stalletjie maak beslis ’n mark daar!

Die Mullick Ghat-blommemark

Dis egter by die mooie Mullick Ghat-blommemark in Kolkata waar ek my oorgee aan die hemelse geure. Miljoene blomme kom daagliks in en vlytige vingers maak bosse, rangskikkings en ingewikkelde beeldhouwerke wat locals kom opkoop om by die tempels neer te sit. Ek weet ons is net vir drie dae in Kolkata, maar ek koop tog ’n gemengde bos blomme vir ons kamer en die reuk vul elke hoekie en gaatjie vir die res van ons verblyf.

Rungis-mark in Parys

Vroeg in Januarie hierdie jaar staan ons in die pikdonkerte by die treinstasie om by die Rungis Internasionale Mark (Marché international de Rungis) in Parys te gaan inloer. Die mark in die suidelike Rungis-woonbuurt naby die Orly Internasionale Lughawe vier vanjaar sy 55ste bestaansjaar daar. (Dit word Ran-jies uitgespreek, hoor ons gou. Die reghelp is te verstane, want Rungis met ’n Afrikaanse aksent klink amper asof jy groen gis te vinnig gesê het.)

Die Rungis Internasionale Mark is enorm

Die mark beslaan ’n allemintige 234 hektaar en is ’n rapsie groter as die hele Monaco. Om 234 hektaar se vars produkte opgestapel te sien en te verstaan, is soos om hoër graad Wiskunde in Frans aan ’n Argentyn te probeer verduidelik. Die maklikste manier van my kant, is om te sê dat die vrugte en groente alleen 10 sale (pawiljoene soos die Franse dit noem) beslaan en ons teen 08:30 meer as 18 000 treë gegee het en net drie sale deurgestap het.

’n Orgidee-paradys en blomme in oormaat by Rungis

Die kaart en inligtingstuk buite teen die muur vertel dat 1 226 ondernemings daagliks hier handeldryf. In 2022 is meer as 6,4 miljoen aflewerings opgeteken en het meer as 4 341 nuwe aankopers die mark begin gebruik. Die mark dien Frankryk en die groter Europa en dié wat nie self hul produkte kan kom koop nie, kan aanlyn bestel.

Die mark is soos ’n klein dorpie op sy eie met restaurante, vulstasies, kantore en winkeltjies. En om daagliks vir bykans 13 000 werknemers iets te ete en te drinke te gee, verg natuurlik wye verskeidenheid.

Vars vis op ’n markie in een van die systraatjies van Parys naby die Eiffeltoring.

Ek het in een of ander Wesgro-navorsing gelees dat wyn, druiwe, sitrus, vis, appels, pere en kwepers onder die top-10-uitvoerprodukte uit die Wes-Kaap na Frankryk is. Om daar te staan met ons land se mooiste produkte in trots-Suid-Afrikaanse bokse, voorwaar ’n vreugde. So vinnig soos ek foto’s neem, so vinnig kom die klein skopgrafies en lig die houtpalette om die vars produkte na die afleweringstrokke wat buite in die donker wag, te neem.

Die mooiste okkerneute

In die suide van Frankryk ontdek ek die mooiste okkerneute op ’n vroegoggend-markie in ’n klein systraatjie in die Middeleeuse dorpie, Sarlat. Die tandelose oom vertel dat Sarlat in die 14de eeu die Wieg van Okkerneute geword het, en sedert 1950 is die okkerneut van die Périgord-bedryf bekend vir vier tradisionele kultivars: Corne, Marbot, Franquette en Grandjean. Hy neem ’n handvol uit ’n groot bak en druk dit in my palm. Toe ek geld wil uithaal, wys hy nee, dis sy geskenk. Voor ek kan groet, kraak hy een oop en lê die pragtige wit en bruin neute op my palm. Soos ons loop, trap ons kort-kort op ’n neut om die dop net genoeg te kraak om nie die beloning binne te verloor nie.

’n Trok met verleidelike kase staan een oggend vroeg langs die rivier naby ons dorpie waar ons vir 10 dae in die Franse platteland kuier. Ons het gaan brood en melk soek en was van plan om terug te keer huis toe, maar kaas van Aurillac is net te lekker om nie te koop nie. Vinnig is ons middagete van brood en kaas en rooiwyn uit papierglasies ’n feesmaal.

In ’n klein dorpie op pad na die aktiewe vulkaan op Réunion verkoop die man onder ’n stel trappe allerhande tuisgemaakte souse.

Soos my ouma altyd gesê het: Sy sal nooit maer en mooi wees nie, maar genoeg en gelukkig! Dis ek daai.

  • Foto’s: Clifford Roberts
Lees ook:

The Indian Ocean: For the sights, but for the food, too

Oud en nuut neem sommer lekkerbekkig hande op Vergelegen

Jong sjef oortref in die vlaktes

 

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top