Bewaring en voortreflike kos op een bord

  • 0

Tans kom 50% van Ocean Basket se brasem van Abalobi, met planne om dit tot 80% te verhoog. (Foto: verskaf)

Een maal per jaar, op 21 November, word Wêreldvisserydag gevier. Dit bied aan mens weer die geleentheid om die plaaslike bewussyn van volhoubaarheid onder die loep te neem. En hoe lekker dat dit wat as potensiële krisis begin het, nou vir nie net ’n groot restaurantgroep voordelig uitgewerk het nie, maar ook ’n Suid-Afrikaanse vissersgemeenskap tot voordeel was.

Hierdie somer stel Ocean Basket nie net nuwe spyskaarte, wynlyste en drankies bekend nie, hulle verander al hoe meer vissers – én gaste aan hul restaurante – se lewens. Eersgenoemde kan met trots hul visvangberoep beoefen, en laasgenoemde word blootgestel aan ’n wyer verskeidenheid seekos, wat boonop volhoubaar en plaaslik gevang is.

Dis ’n wonderlike manier om die groep se 30ste bestaansjaar in 2025 te vier.

........
Om ’n hele vis te eet is ’n meer volhoubare en minder verkwistende manier van verbruik.
........

Maar wag, voor ek die wa voor die perde inspan, kom ons begin by die begin: Toe Ocean Basket twee somers gelede ’n wyer verskeidenheid seekos, waaronder heel seebrasem, begin bedien het, is dit só goed ondersteun dat hul hele voorraad binne ses weke uitverkoop was. Om ’n hele vis te eet is ’n meer volhoubare en minder verkwistende manier van verbruik.

Marilet Terblanche, hoof van spyskaarte vir Ocean Basket, Alet Kilchenmann, hoof van kos by Ocean Basket, en Steve Demosthenous, spyskaartvernuwing by Ocean Basket, by die bekendstelling (Foto: Clifford Roberts)

Die sukses van hierdie strategie het hulle onkant gevang. Die vis is toe uit Turkye ingevoer, en met die feesgety op hande kon hulle nie gou weer daardie hoeveelheid vis bestel nie.

Dis hoe dié interessante storie onlangs by die V&A Waterfront voor ’n groepie gaste ontvou het: Marco Coelho, die uitvoerende hoof van Ocean Basket se verskaffingsketting, was gretig om meer voorraad in sy koelkamers te hê. Toe hy nie betyds genoeg daarvan vir die feesgety kon kry nie, het hy op ’n ander strategie besluit.

Voor hy verder vertel, is almal se glase eers met Arniston Bay Wines se wit, rosé of rooi gevul.

Tussen al die gesels deur is almal se glase eers gevul met Arniston Bay Wines se wit, rosé of rooi. (Foto: Clifford Roberts)

“Die idee broei al lank in my kop om plaaslike vis te bedien en sodoende nie net varser vis op borde te bedien nie, maar om ook kleinskaalse vissersgemeenskappe wat nie groot genoeg vangste geproduseer het om voorheen oorweeg te word nie, in te sluit,” het hy vertel.

En so kruis sy pad toe met Abalobi, wat ’n nuwe wêreld van moontlikhede vir hom én die hele groep blootgelê het.

........
Abalobi, wat “vissers” in Xhosa beteken, is ’n Suid-Afrikaanse organisasie wat vooruitstrewende, billike, klimaatsveranderingbestande en volhoubare kleinskaalse vissersgemeenskappe vir die toekoms bewerkstellig.
........

Abalobi, wat “vissers” in Xhosa beteken, is ’n Suid-Afrikaanse organisasie wat vooruitstrewende, billike, klimaatsveranderingbestande en volhoubare kleinskaalse vissersgemeenskappe vir die toekoms bewerkstellig.

Elke oggend verlaat duisende bestaansvissers hul huise in kusdorpe en durf die oop see in klein bootjies aan om vis te gaan vang om hul gesinne te voed. Wanneer hulle terugkeer, is hulle uitgelewer aan die pryse wat by die hawe betaal word, en dikwels span mense saam om die pryse af te dwing. Dit beteken dat baie vissers nie eens brandstof kan koop vir die volgende dag se visvang of ’n gedeelte van hul vangs kan hou om hul eie gesinne te voed nie.

Chris Kastern, Abalobi se direkteur verantwoordelik vir groei (Foto: verskaf)

Abalobi spreek hierdie krisis aan deur finansiële insluiting, kollektiewe sosiale entrepreneurskap en ’n datagedrewe benadering tot die herbou van visserye, wat tradisionele vissers verhef om aktief aan verantwoordelike visvangpraktyke deel te neem.

In ’n al groter aantal kusgemeenskappe werk Abalobi saam met vissers om tegnologie in te span. Dit stel vissers in staat om as’t ware eienaarskap van hul vangste en hul finansies te neem.

Deur data-eienaars te word, bou hulle ook organisatoriese kapasiteit en raak betrokke by deursigtige en naspeurbare voorsieningskettings wat billike markpryse bewerkstellig. Meer nog word die kritieke rol van vroue en die voedselsekerheidsbehoeftes ook hiermee onderstreep.

Die idee om Suid-Afrikaners te oorreed om heel vis te eet het Ocean Basket se wonderlike reis met Abalobi laat begin. (Foto: verskaf)

Sodoende is die vissers gereed om hulself binne die waardeketting te herposisioneer, hul visserye te herbou, en te help om meer etiese voedselstelsels te ontwikkel vir groter sosiale en ekologiese volhoubaarheid.

Behoorlike boekhoudingstelsels gun vissers die geleentheid om vir onvoorsiene uitgawes te begroot; om selfs lenings by ‘n bank te kan aangaan, en vooruit te beplan vir tye wanneer die vis dalk nie so volop gaan loop nie.

Die nuwe spyskaart het nou ’n verskeidenheid vis-, calamari- en garnaalburgers. (Foto: verskaf)

Dis in hierdie visserswaters waar hierdie klein skuitjies daagliks uitgaan, waar Kaapse brasem, soortgelyk aan seebrasem, gevang word.

“Ons by Ocean Basket het ons vinnig verbind tot ’n billike prys vir hierdie vis. ’n Prys wat deurlopend dieselfde bly en nie afhanklik is van vraag nie. Dit het ’n groot ekonomiese impak op verskeie vissersgemeenskappe gehad. Sedert vroeg-2023 het Ocean Basket byna 28 ton seebrasem van hierdie gemeenskappe gekoop. Dis visser wat van tradisionele, lae-impak-handlynvisvang gebruik maak.

Gesonde en heerlike slaaie met of sonder seekos is nou ook op die spyskaart. (Foto: verskaf)

Oor die afgelope twee jaar het die ooreenkoms tussen Ocean Basket en Abalobi uitgebrei na 14 vissershuishoudings, 103 bemanningshuishoudings en 20 huishoudings van visskoonmakers en gemeenskapsgebaseerde kwaliteitspanne.

Tans kom 50% van Ocean Basket se brasem van Abalobi, met planne om dit tot 80% te verhoog. Terwyl seebrasem vir eers die primêre fokus is, is daar planne om die ooreenkoms uit te brei na ander spesies, soos geelstert en silwervis.

“Die direkte betalings aan vissersgemeenskapslede tot dusver het byna R1,5 miljoen beloop, wat verseker het dat vissers, visskoonmakers en gemeenskapsgebaseerde gehaltebeheerspanne billike en ’n konsekwente vergoeding vir hul harde werk ontvang.”

Marco sê wat hom opgeval het, is die vissermanne se noue verbintenis met die oseaan en hul passie vir volhoubare visvangmetodes. Ocean Basket betaal nie bloot meer vir vis nie, maar ook ’n baie regverdige prys.

 

Chris Kastern, Abalobi se direkteur verantwoordelik vir groei, vertel ons: “Ons verhouding met Ocean Basket was instrumenteel om die krag van ’n regverdige en billike seekoswaardeketting te demonstreer. Dit het ons gewys dat verantwoordelike visvang beide ekonomies lewensvatbaar en ekologies gesond kan wees. Hierdie vennootskap tussen Ocean Basket en tradisionele vissers demonstreer wat bereik kan word wanneer besighede ook mense en die planeet naas wins prioritiseer. Saam bewerk ons ​​’n beter, meer veerkragtige toekoms vir tradisionele vissers.”

’n Uitgebreide spyskaart en Suid-Afrikaners se bereidwilligheid om ’n heelvis te eet gee nou vir honderde vissersgesinne nuwe hoop. (Foto: verskaf)

Die welwillendheid strek nog wyer: Die samewerkingsprojek het nou boonop Kaapse brasem, ’n groenlysvisspesie, vir vissers ekonomies lewensvatbaar gemaak. Die Suider-Afrikaanse Volhoubareseekosinisiatief (Sassi) ken kleurkodes aan visspesies toe, van rooi (rede tot kommer) tot oranje (dink twee keer voor jy eet) en uiteindelik groen (die mees volhoubare en bes bestuurde keuses beskikbaar).

Dit bring ons terug by die nuwe spyskaart: Daar is nie net verskeie nuwe wyne nie, maar ook wyn-en-kos-pasmaat-voorstelle, “slushees” – met of sonder alkohol. Soos ons meer uitvind, so word die geregte uitgedra.

Sjefs en kookboekskrywers Jenny Morris en Louisa Holst is baie opgewonde oor die nuwe diverse spyskaart, wat ook na plaaslike vissers omsien. (Foto: Clifford Roberts)

Die kosspyskaart bou voort op Ocean Basket se gewilde seekosgeregte, maar dis met baie meer elegansie aangepak. Selfs die eetgerei en glase is nuut. En met verskeie kleinbordjieopsies, soos slaaie en selfs burgers, is daar waarlik iets vir elkeen.

Gaste kan nou kies uit gewone aartappelskyfies, soetpatatskyfies of diepgebraaide murgpampoentjies. (Foto: verskaf)

Die burgers is nie sommer enige burgers nie – daar jy kan kies uit vis, calamari en selfs garnale. Met die skyfies kan jy kies uit aartappel, soetpatat of krakerige murgpampoentjie. Daar is ook lekker suurlemoen-en-koeskoes-slaai of gepekeldekomkommerslaai.

Wonderlike bykosse en slaaie bied waarlik iets vir elkeen. Gepekelde komkommer en joghurt is heerlik met seekos. (Foto: verskaf)

Natuurlik is geen maaltyd volledig sonder behoorlike nagereg nie. Hier is “Saturdaes” soos wat ons daar hoor, “baie beter as die tradisionele Sundaes”, met roomys en allerhande geure soos The Sweet Saffer met koeksister- en malvapoedingstukkies; Nutty Greek met baklava en geroosterde amandelvlokkies; en Lemon Meringue met meringue, suurlemoen en broskoek op die spyskaart.

Die borde was gou leeg en gou-gou het almal iets soets voor hulle gehad.

’n Uitgebreide spyskaart en Suid-Afrikaners se bereidwilligheid om ’n heelvis te eet gee nou vir honderde vissersgesinne nuwe hoop. (Foto: verskaf)

Ocean Basket is in 1995 in Pretoria gestig en sy missie was nog altyd om seekos van hoë gehalte vir almal toeganklik te maak. Van sy nederige begin af het Ocean Basket gegroei tot ’n internasionale seekosrestaurantnaam met takke in 16 lande en ongeveer 180 restaurante wêreldwyd.

Ocean Basket se internasionale uitbreiding het in 2008 begin en sluit nou restaurante in Afrika, Asië, die Midde-Ooste en Europa in. Onlangse toevoegings tot die familie sluit ook restaurante in die Verenigde Koninkryk in.

Lees ook:

’n Suid-Afrikaanse Kersete vir Marinda se laaste 2024-kookklas

Wonderlike kulinêre geheime wag in Brive en omstreke in Dordogne

Herlewingslandbou hier die wagwoord – en jy kan dit proe!

Oud en nuut neem sommer lekkerbekkig hande op Vergelegen

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top