’n Suid-Afrikaanse Kersete vir Marinda se laaste 2024-kookklas

  • 0

Marinda Engelbrecht en die joernalis Annette Havenga

Sedert Marinda Engelbrecht, ook bekend as Marinda Kook, se eerste kookklas in Meimaand vanjaar by Diemersdal Wynlandgoed afgeskop het, het Marinda tuiskokke op ’n kooktoer om die wêreld geneem.

Heerlike Marokkaanse disse

Van Marokko tot Japan en terug in Suid-Afrika, so leer Marinda, in samewerking met Diemersdal se Joanita en Jana Louw, tuiskokke om disse van regoor die wêreld te kook en volgens die land se tema te bedien. Hierdie tematiese kookklasse behels demonstrasies en deelname van omtrent 20 mense. Die gaste eet dan die voorbereide geregte wat vergesel word met van Diemersdal se topwyne. Met Joanita, Jana en ’n span hard aan die werk in die kombuis, demonstreer Marinda die disse en voorbereiding daarvan. Gaste kry die geleentheid om die bestanddele van nader te besigtig, te ruik en selfs te proe.

Joanita en Jana Louw

“Ek kan nie glo iemand wil weet hoe ek kook nie,” het Marinda eers gesê toe versoeke en help-my-pleidooie vir dié soort kookklasse begin instroom het. Jana en Joanita, die ma-en-dogter-duo wat in 2021 VIA se Aansit-kompetisie gewen het, was egter dadelik aan boord om saam met Marinda hierdie uitdaging aan te pak. Marinda en Joanita was saam op skool en is albei ewe lief vir kos en kosmaak. Saam met Jana het die drie begin beplan en eenparig op die tema van kosse oor die wêreld besluit. Die resepte is ’n spanpoging tussen Marinda, Joanita en Jana en saam is hierdie drie die perfekte gasvroue.

Marinda en Joanita aan die demonstreer

Op die vraag of sy weer aan ’n kookkompetisie sal deelneem, was Joanita se antwoord ’n besliste nee en sy sê dit was lekker om te kook, maar “daai wat jy so moet praat en die ander spanne moet kritiseer was nie vir my nie”.

’n Vistoring, danksy ’n leë tunablik

Joanita sê sy wil graag ook die gaste attent maak op die eenvoudige, alledaagse goed in die kombuis: “Tools wat almal nou al tydens die kookklasse gesien het en nooit aan dink nie, iets goedkoop wat veeldoelig is, soos om ’n leë tunablikkie te gebruik om ’n dis op te stapel.”

Dit is vir haar lekker om te sien hoe mense die kookklasse geniet en hoe almal met mekaar vriende raak. “Die interaksie tussen die mense en ons is ook lekker. Almal is gemaklik om vrae te vra.”

Mediterreense tamaties

Die sukses van die tematiese kookklasse is duidelik wanneer Marinda vertel dat die klasse vooruit bespreek word en gewoonlik vol is, “selfs nog voor die volgende datum bevestig is. Die dames gesels onder mekaar oor wie almal die volgende klas gaan bywoon en maak seker hulle bespreek saam.”

Die kookklasse se eerste stop was in Marokko, met zaalouk en hummus en plat Marokkaanse brood vir voorgereg, appelkoos-pastilla met koeskoes as die hoofgereg en beghrir met nougat vir die nagereg.

Speserye vir die Indiese kookklas

Daarna het die kookklas ’n Indiese draai gemaak, met onder andere disse soos kerrievis met panipuri-vispiekel, dhalkerrie, goan-seekos, hoendermasala op ’n stokkie en groentepiekel.

Diemersdal se wyn saam met disse uit die Mediterreense kookklas

Onder die heerlike disse vir die Mediterreense kookklas was daar ’n oondgebakte heelvis, Mediterreense tamaties, ’n Mediterreense medley-slaai en ’n suurlemoen-posset vir nagereg.

Dolmades, tzatziki en stokkies met olywe, wit ansjovis en gepekelde brandrissies

Die Japannees-geïnspireerde kookklas was ’n feestelike Oosterse spyskaart van miso kani sarada, ’n krapslaai met sesamsade en kaviaar, okonomiyaki, ’n Japannese pannekoek met ’n vulsel wat by die beslag gevoeg word, takati-tuna wat geskroei is, en ramen saam met bros vark en matcha-room.

Domino dauphinoise

Vir die ete op tuisbodem is die gaste bederf met ’n verfrissende tamatie-en-waatlemoensop, ’n seekostoring en gevulde tamaties. Domino dauphinoise, ’n Franse aartappelgereg, en murgpampoentjies met arbei-salsa het die chateaubriand-filet en ’n gerookte varkboud, tradisioneel vir Kersfees, gekomplementeer. ’n Murgpampoentjie het nog nooit so glansryk gelyk soos hierdie drie kokke dit voorberei het nie. Vir nagereg het die Kersfees-roomysbom nie net mooi gelyk nie, maar het komplimente van elke gas ontvang.

Die mooiste murgpampoentjies

Ella van Langebaan het al vier van die vyf klasse bygewoon en sê: “Die klasse is amazing. Ek leer baie en ek doen alles wat ek leer.” Ella sê dat die Marokkaanse klas haar gunsteling was tot dusver en dat “vreemde goed nie meer so vreemd” is nie.

Nog ’n gereelde gas, Dalene, sê: “Dit gee my inspirasie.”

Marinda plaas ook klem daarop dat die resepte maklik is, juis sodat tuiskokke dit self met gemak kan maak en verskeie smake van oor die wêreld na hulle eie tafels kan bring. Tydens haar demonstrasie gebruik sy graag die woorde gewoon, vinnig en maklik. Dit is musiek vir enige tuiskok se ore.

’n Mediterreense medley-slaai

Vir Marinda lê die lekkerte van die kookklasse in die samesyn en vriendskappe wat tydens hierdie klasse gesmee word en sy sê dat sy ’n “groot liefde vir almal” het. “Dit is vir my so special, die magic van ’n klomp vrouens saam.” Alhoewel die laaste klas van 2024 net uit vroue bestaan het, sê Marinda dat die manlike geslag ook graag die klasse bywoon.

Vir die laaste kookklas van 2024 het Marinda die lekkerte van ’n Suid-Afrikaanse Kersfeesete in ’n lywige spyskaart na die tafel gebring. Tipies soos Suid-Afrikaners daarvan hou om te eet, geurig en met genoeg om van te kies.

Plek om neer te skryf

Die oggend het afgeskop met ’n gesellige groet tussen die dames; koffie, tee en kort op die hakke daarvan, vonkelwyn. Lieflike dekor op die lang gedekte tafels het die gaste begroet en gedrukte afskrifte van die resepte was in plek. Daar was genoeg spasie om notas te maak oor al die wenke en idees wat Marinda mildelik uitgedeel het.

“Ouens, proe julle kos,” sê Marinda.

Diemersdal se sesde geslag wynmaker, Thys Louw, het kom inloer, maar het weer vinnig verdwyn na ’n koppie koffie. Hy het sommer ook van die geleentheid gebruik gemaak om te spog oor Diemersdal se kenmerkende Sauvignon Blanc.

Lucinda, Praise, Sharon en Gertruida is die personeel wat alles aan die gang hou.

Marinda het die Diemersdal-personeel in die kombuis ook bedank en het gesê dat sy “dit nie sonder die span sou kon doen nie. Ons is soos familie.”

Voordat die kuier in alle erns kon begin, het Marinda gesê dat Kersfees ’n tyd van gee en omgee is. Sy het afgesluit met ’n kort Kersboodskap en spottend gesê: “Dit is Krismis, gebruik volroom.”

Maar ook: “Mag daar op elke tafel van elke Suid-Afrikaner ’n broodjie wees om te breek. Mag ons nie net geskenke oopmaak nie, maar ook ons harte vir mekaar.”

Gevulde tamaties

Kook om die wêreld, in jou eie kombuis, onder leiding van Suid-Afrika se gunstelingkok, Marinda Engelbrecht. Marinda dink aan haar klasse as ’n kultuurbyeenkoms. Sy beloof om net asem te skep voordat die klasse in 2025 weer sal voortgaan, maar sê ook sy weet nog nie watter lande op 2025 se spyskaart is nie. Wees egter verseker dat dit beslis sal voortbou op die konsep om eenvoudige disse van regoor die wêreld in koningsmaaltye te verander.

Mooi én lekker groente

Die kookklasse vind gereeld plaas, maar die kokke se skedules moet in ag geneem word wanneer datums beplan word.

Hou die sosiale media dop vir meer inligting.

Lees ook:

Wonderlike kulinêre geheime wag in Brive en omstreke in Dordogne

Herlewingslandbou hier die wagwoord – en jy kan dit proe!

Dinner at the very edge of history

Oud en nuut neem sommer lekkerbekkig hande op Vergelegen

Earthbox: Eetervaring onder die grond bring nuwe perspektief

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top