........
“Gesonde grond beteken gesonde plante, wat gesonde diere beteken, en dit beteken weer gesonde mense en ’n gesonde samelewing en uiteindelik ’n gesonde aarde.” – Angus McIntosh (ook bekend as Farmer Angus)
........
Wanneer daar ’n e-pos van Spier-wynlandgoed buite Stellenbosch in jou inboks beland wat jou uitnooi na ’n “middag van goeie wyn, goeie kos en goeie gesprekke” saam met die plaas se bekende Farmer Angus en sy nuwe organiese wyne, weet jy jy is in vir ’n snoesige wintersmiddag en jy gaan baie nuwe dinge leer.
Hier is geen tekort aan geskiedenis op die plaas wat uit 1692 dateer nie, maar hier is ook die afgelope paar jaar geen tekort aan innovasie nie.
Spier is ’n WWF-bewaringskampioen en lid van die Wine Industry Ethical-handelsverenigings (WIETA). Spier is FSSC 22000, organies-gesertifiseer en vegan-vriendelik. Die besigheid beoog om teen 2030 ’n netto nul-belynde koolstofvoetspoor te bereik.
Voor ons na dié bekendstelling gaan, loer ons eers laatoggend in by die plaas se geliefde The Food Garden, waar jy jou eie groente en kruie kan pluk. Die ou perdestalle is omskep in ’n ruie kostuin waar alles op biodinamiese metodes gekweek word. Geen kunsmatigheid word hier toegelaat nie en jy kan as’t ware die plaas in elke happie proe.
Met ons gesonde oes in ’n koelboks in ons kattebak, stap ons oor na die grasperk voor die kafee en kry ’n glasie vonkelwyn en iets ligs om te kou, want ons weet later gaan die tafels kreun onder kraakvars én plaasvars produkte. Die kinders baljaar op die grasperk, die reuk van gebakte brood en gemaalde koffie dryf tussen die bome deur en mens wil-wil net lui word. Om ons geniet gesinne pieknieks, ook die kunsgalery wat in die ou wynkelder ingerig is. Die kuns bestaan uit 50 keramiekwerke onder die titel The persistence of memory en is nog tot 13 September oop vir die publiek. Dis gratis en ’n wonderlike manier om die plaas met ’n glas wyn in die hand te verken.
Vir ’n vriendin se verjaardag hoop ek om iets unieks en handgemaak by The Cowshed te koop en toe ek die wafelpatroon-afdroogdoeke in rooi en wit sien, kan ek haar hoor lag van opgewondenheid. Met ’n lekker kookboek en houtlepel daarby, is haar geskenk uitgesorteer. Dié luukse padstal-kunsgalery-boetiekwinkel is in een van die oudste geboue op die plaas ingerig.
Ons almal arriveer laatmiddag by die Spier Riverhouse terwyl die son goud deur die reusebome patrone op die gras gooi. Die drankie waarmee ons voor die kaggel verwelkom word, is die nuwe Farmer Angus Chenin Blanc en ook ’n rosé. Op die tafels tussen die plaas se oorvloedige groente-, kaas- en vleisaanbiedinge, is die Farmer Angus Red Blend, wat later geniet sal word.
Dié drie wyne is die nuutste stap in die plaas se omvangryke herlewingslandbou-boerderymetodes. Die afgelope paar jaar word daar selfs organiese hoendervere in die organies-gesertifiseerde wingerde gebruik om die grond klam te hou en onkruidgroei te verminder.
Die groenpionier agter die herlewingslandbou, Farmer Angus, oftewel Angus McIntosh, het vertel dat herlewingslandbou op gesonde grond berus. Hy woon op Spier en het die afgelope paar jaar bekend geword vir sy groener boerderymetodes, vryweihoenders, -beeste en -varke, en hy vertel: “Gesonde grond beteken gesonde plante, wat gesonde diere beteken en dit beteken weer gesonde mense en ’n gesonde samelewing en uiteindelik ’n gesonde aarde.” Die kort opsomming is dat herlewingslandbou saam met die natuur – en nie daarteen nie – werk. Dis geen nuwe beginsel nie, maar kry die afgelope paar jaar ondersteuning van vooraanstaande produsente.
“Herlewingslandbou is my lewenstaak – ek glo alle gesondheid kom uit gesonde grond. Hierdie drie organiese wyne wat ek saam met die keldermeester, Johan Jordaan, en sy span onder leiding van die organiese wynmaker, Tania Kleintjies, gemaak het, is ’n droom wat waar geword het en die uitvloeisel uit spanwerk wat in ware harmonie met die natuur vermag is.”
Tania vertel aan ons: “Die kelder is die kleuterskool waar die werk wat in die wingerde begin is, voltooi word.” Johan beaam elke stelling met ’n goedkeurende kopknik.
Die druiwe kom alles uit blokke van Spier se organies-gesertifiseerde wingerde op die plaas. Angus en sy kollega, Orlando Filander, het sedert 2009 die organiese en biodinamiese omskakeling van die plaas se wingerde bewerkstellig. Spier het in 2015 hul eerste organies-gesertifiseerde oes gehad. Spier was ook die eerste plaas in die land om die Simonit & Sirch-snoeimetode aan te neem, wat wingerdstokke se lewensduur verleng.
Johan en Tania se organiese wyne maak al die afgelope paar jaar opslae en spog met nie minder nie as 42 toekennings, waarvan die blinkste ster sekerlik die First Stone Organic Red-versnit is wat verlede jaar ’n goue medalje in die glorieryke Concours Mondial de Bruxelles en 4,5 sterre in die Platter’s-wyngids 2023 behaal het.
Hierdie toekennings het Spier duidelik as een van die leiers in die organiese wyne-sektor bevestig.
Die dag se fokus is op herlewing as beginsel – nie net in die wingerde nie, maar ook as leefstyl. Verskeie sprekers van regoor die Wes-Kaap het hul insigte én projekte rondom hierdie beginsel met gaste kom deel.
Die landbouskrywer, Chris Burgess, tans redakteur van Landbouweekblad, het meer oor sy reis met herlewingslandbou vertel en hoe skepties hy aanvanklik oor die volhoubaarheid van dié stelsel vir grootskaalse boerdery was. Nou is hy ’n groot voorstander en eer produsente regoor die land wat hierdie beginsel toepas.
Ná sy praatjie gesels Augusta de Brandt, die Wes-Kaapse voorsitter vir die Suid-Afrikaanse Kongres vir Vroeë Kinderontwikkeling en die gemeenskapskakelpersoon van die Bonnievale 418-projek, wat onder meer die Jakes Gerwel Tegniese Hoërskool tot stand gebring het. Hul doel is om met behulp van gemeenskappe skole te vestig en jeugwerkloosheid in daardie dorpe teen 2030 uit te wis. Lees meer oor dié en ander skole hier.
Met kerslig wat tussen die happies klein kolletjies lig verskaf, is die gesels hartlik. Voor ons verder gaan luister na ander sprekers, kry ons kans om blare te druk, net soos wat die etikette vir Angus se wyne gedruk is. Angus vertel hy het blare uit die wingerde versamel sodat almal kon meemaak aan die blaardruk-kunswerke. “My ma het my as jong seun hierdie tegniek geleer en dit bring die wyne terug tot waar alles begin het. Nou kan julle ook elkeen jul eie blarekunswerk huis toe neem om die aand en die ervaring vir altyd te onthou.”
Livio Tognon van Simonit & Sirch is ’n herlewingslandbou-snoeispesialis en het gewys hoe wingerde korrek gesnoei moet word, voor die Amerikaanse professor en filmmaker, Peter Byck, meer vertel het van sy dokumentêre film Roots so deep (you can see the devil down there). Hy is betrokke by die Arizona State University waar hy studente leer om kort dokumentêre films oor volhoubaarheidsprojekte te maak.
........
“Mense maak dit af as outydse nostalgie, maar ons glo dis antieke wysheid. Dis nie net beter vir die aarde nie, maar dit gee ons ook beter wyn.” – Johan Reneyke (Reyneke Organic Wines)
........
Die laaste spreker van die aand is Johan Reyneke, biodinamiese wingerdboukundige en wynmaker van Reyneke Organic Wines. Johan het vertel dat die horingou maniere van boer, waar balans, geen kunsmatige middels en inmenging die wagwoorde was, sy filosofie is. “Mense maak dit af as outydse nostalgie, maar ons glo dis antieke wysheid. Dis nie net beter vir die aarde nie, maar dit gee ons ook beter wyn.”
Die Farmer Angus-wynreeks bestaan uit die Farmer Angus Chenin Blanc wat R595 per bottel kos en uit ’n erfeniswingerd kom wat in 1984 geplant is. Dit was die perfekte pasmaat vir Farmer Angus se prosciutto. Die Farmer Angus Rosé teen R495 het aarbei en vanielje op die neus en aarbei- en koljandergeure op jou tong. Ons drink dit met die Farmer Angus Black Forest Ham.
My gunsteling vir ’n lekker aand voor die kaggel, is die Farmer Angus Red Blend teen R695, met geure van swartbessie en sjokolade op die neus en vanielje en bosbessie op jou tong. Dis net dié maat vir Farmer Angus se vryweibeesvleis.
Angus het aan gaste vertel dat sy reis met herlewingswynmaak begin het nadat hy Nicolas Joly se boek oor biodinamiese wingerdboukunde, Wine from Earth to sky, gelees het. In 2006 het hy ’n vergete Chenin Blanc-blok by Spier ontdek en onder die mentorskap van Avice Hindmarch met biodinamiese en permakultuurtegnieke geboer. “Ek het wyn gemaak, maar die kwaliteit kon bevraagteken word en teen 2014 het ek besef ek moet wynmaak vir die spesialiste los en sedertdien maak Johan en Tania die wyne.”
Johan vertel dat die wyne nie net uitsonderlik in smaak is nie, maar die holistiese boerderyaanslag maak hulle ook uniek. “Ons beskou die plaas as een lewende ekologiese stelsel. Die wingerde is net een deel van hierdie komplekse web van verbintenisse tussen plante, diere en mikrobes in die grond. Ons werk is om met die natuur se ritmes te werk; stukkie vir stukkie, druiwekorrel vir druiwekorrel en een hand op ’n slag.”
Die Farmer Angus-wyne is op die plaas by die restaurante, wynproelokaal en aanlyn beskikbaar.
Vir meer inligting oor hoe jy in die kostuin kan gaan oes, besoek: https://www.spier.co.za/visit/food-garden.
Lees ook:
Earthbox: Eetervaring onder die grond bring nuwe perspektief