Met 10 kookboeke agter haar naam, ook koskommentator, inhoudsvervaardiger van reekse soos MasterChef SA, Kokkedoor, In die sop, boonop ’n passievolle huiskok, is Errieda du Toit geen onbekende in die spysenieringindustrie nie.
Met Kokkedoor vuur & vlam wat op 6 Februarie 2025 op ons kassies verskyn het, sal Du Toit se kreatiewe aandeel as inhoudsvervaardiger ’n sterk rol speel in die uitdagings en temas van die episodes en sy sê dat dit vir haar ’n ongelooflike reis was. Sy moes diep delf, konsulteer en saam met ander mense werk om dit uiteindelik saam te stel.
As inhoudsvervaardiger was sy ook nou betrokke by die oudisieproses.
Haar liefde vir die eg Suid-Afrikaanse disse en die oeroue metode van kos op ’n vuur maak skemer sterk deur wanneer sy met trots vertel van die verfilming.
Eg Afrikaans in ’n ikoniese omgewing
Kykers het in 2013 vir die eerste keer aan die Kokkedoor-tafel kom sit en oor die jare het nog familielede van die reeks (Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie) geurryke vermaak verskaf.
Vir Kokkedoor vuur & vlam, waarvan die eerste seisoen in 2023 uitgesaai is, gaan deelnemers alles in die vlamme, op die kole, binne-in die as of op die rooster moet voorberei.
Die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha is oor 13 episodes op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier.
Kokkedoor vuur & vlam was volgens Du Toit ’n “uitsonderlike geleentheid om ’n reeks oor iets so eg Suid-Afrikaans te kan maak in ’n ikoniese omgewing”.
Kokkedoor vuur & vlam is in die Overberg-streek in Struisbaai verfilm. Die Overberg se atmosfeer was vir Du Toit ’n groot inspirasie voor en tydens die verfilming van die reeks, terwyl sy aan die kreatiewe deel daarvan gewerk het.
“Die omgewing is soos ’n karakter, ’n rolspeler in die reeks. Die natuurskoon, mense en hulle gasvryheid ... ek sal nooit uitgekuier raak daar nie.”
Du Toit vertel dat sy elke keer iets nuuts ontdek wanneer sy in die omgewing kom.
Onvoorspelbare diep winter vir Kokkedoor vuur & vlam
“Overberg was ’n ongelooflike gasheer en gasvrou gewees.” So beskryf Du Toit die streek waarin hierdie seisoen van Kokkedoor vuur & vlam verfilm is.
Dit was vir haar ’n unieke ervaring om die reeks in die streek se diep winter seisoen te verfilm. “Ons assosieer Struisbaai en Agulhas met somer en vakansie, maar dit was lekker om die natuurelemente in die winter te ervaar en te sien hoe dit uitspeel in die reeks,” vertel sy opgewonde. Vir haar was dit soos die beste van twee wêrelde, aan die een kant die drama en die onvoorspelbaarheid van die see en dan die beheerde omgewing van die stoor waar die verfilming ook plaasgevind het.
Sy prys Suid-Afrikaanse inheemse produkte en landboubydraes en sê dat sy nie eens in 10 lewens die kospotensiaal wat die streek ’n sjef bied, sal kan uitput nie.
Dit is juis hierdie onvoorspelbaarheid van die see wat die omgewing so gepas gemaak het vir die reeks wat ewe onvoorspelbaar afspeel. Kokkedoor vuur & vlam omarm ’n reeks van onvoorsiene gebeurlikhede, en dit is juis hierdie aspek wat dit vir die kyker so boeiend maak.
“Onbeheerbaar,” sê Du Toit, “jy kan nooit voorsien wie die mense is wat in die finaal gaan eindig nie. Jy dink een ding, maar daar is soveel elemente wat bymekaarkom en dinge wat gebeur, net soos in die lewe. Jy sit jouself in iemand se skoene, assosieer met ’n deelnemer en dan val die een uit, alles deel van die proses.”
Du Toit skryf die sukses van die reeks toe daaraan dat elke deelnemer bereidwillig die spel speel en sê: “Daarsonder is daar geen Kokkedoor nie.”
Die deelnemers
Die deelnemers is onder enorme druk.
Foto: MW Media
“Na die verfilming sit deelnemers saam met die kyker op die rusbank na die reeks en kyk. Dan is dit maklik om te sien wat jy kon of moes gedoen het.”
Dit is juis die druk en die vreemde van die uitdagings wat die beste in die deelnemers na vore bring. Deelnemers moet net “swem, en die adrenalien laat hulle presteer en uitdagings binne die tyd voltooi”.
Die formaat
Elke deelnemer moet die spel speel sodat daar ’n onthou- en ’n kinkelkok is aan die einde van die reeks. Dit is die deelnemers se dryfkrag, ondernemingsgees en liefde vir kos wat die reeks ’n goed gebalanseerde een maak.
’n Onthoubraaier het nie formele sjefopleiding en professionele ondervinding nie, maar hul hart klop warm vir tradisionele kos. Hulle word gekies vir hul vernuf as ’n huiskok en hul kennis van onthoukos, terwyl kinkelbraaiers gekies word vir hul kwalifikasies en/of hul ondervinding in ’n erkende restaurant of professionele kombuis.
“Die onthou en die basis van braai en hoe die vernuwings bymekaarkom is wat ons noem die goue middeweg,” sê Du Toit.
Op die vraag wat vir haar die lekkerste van die reeks was, verklap sy met ’n tikkie emosie dat dit die oomblik was toe sy sien dat “ons trotse, tradisionele melktert op die vuur gaar gemaak kan word”. Sy voeg vinnig by: “Deur mense wat bang was om dit te doen.” Tog het hulle ’n skoumelktert van die vlamme en die kole afgehaal.
Du Toit is onbeskaamd emosioneel en trots daarop dat die reeks die onthou terugbring en wys dat enige iets moontlik is oor die oop vuur en sê dit gee diepte aan hoe ryk Suid-Afrika se braai-erfenis is.
Errieda
Haar kosloopbaan het begin op radio RSG (Radio Sonder Grense), en sy sê sy is besonder lief vir radio.
Vandag spesialiseer sy egter in kosreekse op TV met ’n Suid-Afrikaanse invalshoek wat die Suid-Afrikaanse erfenis insluit, soos die MasterChef SA- en Kokkedoor-reekse.
“Ek mis gedrukte koerante en is hartseer dat kosrubrieke nie meer in skrif is nie, maar ons vind nuwe maniere om die kosboodskap uit te bring.”
Du Toit se gunstelingreisbestemmings het met vuur te doen en sy reis soveel as wat sy kan na lande wat dieselfde vuurkulture as Suid-Afrika deel, “soos Brasilië waar ek ook in Rio die churrasco ervaar het, en Argentinië se platteland”. Laasgenoemde is een van haar hartstuistes.
Selfs Frankryk is op haar lys en sy verduidelik dat “mense reken nie die Franse as tradisioneel braaiers nie, maar die gaarmaak van kosse oor vuur is besonders, veral in areas waar daai gedurende parstyd met wingerdstokkies vuur gemaak word”.
Du Toit se betrokkenheid by die Durbanville Kinderhuis is ’n welwillendheidsaak wat haar na aan die hart lê en sy hoop om haar aktiwiteite daar uit te brei.
Sy vertel dat sy aanvanklik onwillig was om betrokke te raak, sy moes vir 144 kinders, die personeel en rolspelers, omtrent 170 mense, kosmaak en sê: “My broek het gebewe, ek kook nie regtig vir meer as agt mense nie.” Haar band met die kinderhuis het daar begin.
Intussen het sy al ’n “skare welwillendheidsmense” bymekaar om haar te ondersteun. Haar koslewe is een van samewerking. Haar laaste boek, getitel SAAM, onderstreep een van haar eie leuses: saam met ander mense. Isolasie stomp jou af; dit keer dat jy groei.
Wat is haar gunstelingdis om gaar te maak? “Ag, dit is maar legio, waarvoor ek lus is.”
Sy sê wel dat as sy net een dis moet kook vir die res van haar lewe, dit ’n bredie sal wees. “Suid-Afrikaanse, tradisionele bredies, van kweperbredie tot waterblommetjie- en tamatiebredie. Die tegniek is so eg aan ons, waar ’n bredie vandaan kom, wat daarin gaan en die invloede daarvan oor die eeue. ’n Deel daarvan leef in potjiekos voort.”
Sy gesels oor oorlede Pieter Veldsman en beskryf hom as haar kosvader. Met nostalgie vertel sy hoe spesiaal sy tamatiebredieresep vir haar is. “Dit is meer as ’n resep; daar is wysheid en siel daarin.”
Sy woorde aan haar was iets wat haar altyd sal bybly: “Errieda, ek skryf vir jou hierdie resep stadig, in die hoop dat jy die bredie sal stadig maak.”
Alhoewel Du Toit nie self in ’n professionele hoedanigheid in ’n kombuis of restaurant staan nie, en eerder raad gee, mentor speel en ’n luisterende oor het om te bied, het sy ’n idee wat dit van mense eis. Sy gebruik elke geleentheid om vir kokke en jong sjefs aan te moedig en sê dat sy “’n koor van verwysings het” vir iemand wat wel die rigting oorweeg.
Du Toit sal haarself laat omkoop met ’n eenvoudige, ongekompliseerde, uniek Suid-Afrikaanse poeding soos Japie se gunsteling. Sy sê dat baie mense, veral die jonger geslag, dié nagereg, wat verewig is in die Kook en Geniet, nie ken nie. Nog ’n tydlose gunsteling vir haar is iets wat meer vaardigheid verg en Suid-Afrikaners eie gemaak het: ’n pavlova, “’n wolk van heerlikheid”.
Sy is instinktief lief vir disse waarin sy haar Suid-Afrikaanse wortels kan sit en sê dit is asof haar kosvaders en -moeders op haar skouer sit en haar kosprioriteite bepaal. Selfs ervare huiskokke het so nou en dan flops, spot Du Toit op die vraag of daar hoop is vir hulpelose kokke en vertel dat sy net nou die dag haar brownies laat flop het. Haar raad vir dié wat nie juis kan bak of kook nie is om ’n vertroude resep te gebruik. “Daardie kerktannieboekies, die tried and tested-tipe resepte. Gaan die resep goed deur en moet nie met eerste probeerslag opgee nie.”
Verder beklemtoon sy ook die nodigheid van ’n goeie stel maatbekers en ’n kombuisskaal.
Du Toit bieg dat sy nie groen vingers het nie en ’n hopelose tuinier is. Sy noem haarself ’n “reeksmoordenaar van potplante”. Die enigste kruie wat sy aan die groei kan kry, is roosmaryn, “wat gewoond is aan ’n moeilike lewe”.
Ten slotte
Errieda du Toit is ’n teepot en is lief vir pizza uit ’n houtstoof. Haar passie vir haar tuisbodem is aansteeklik en wakker ’n Suid-Afrikaanse trots aan.
Sy deel ’n wenk dat kaneel nie net vir soet disse is nie, maar ewe tuis is in vleisgeregte soos beesbredies. Vir haar is koljander ’n hoeksteensmaak en iets waarsonder sy nie kan klaarkom nie en sy sê sy raak “senuweeagtig as dit min raak”.
Sy moedig kykers aan om Kokkedoor vuur & vlam te kyk en sy sê dat dit onvoorspelbaar en “van uitstaande gehalte is”. Die kyker kan magic verwag van die deelnemers en sal hulle goed leer ken wanneer hulle “die maskers laat val”.
-
Alle foto’s verkaf.
Lees ook:
’n Suid-Afrikaanse Kersete vir Marinda se laaste 2024-kookklas