
Die hele dorp het die blommegees gevang!
- Foto’s: Clifford Roberts
Die RHS Chelsea Flower Show word sedert 2013 elke jaar in Mei in Chelsea in Londen gehou en lok jaarliks 157 000 besoekers. SA het sedert 1976 altesaam 43 keer deelgeneem en ons fynbos bekoor beoordelaars elke jaar só, dat die harde werk van die SA span al 37 goue medaljes ingepalm het.
SA het vir vier jaar nie deelgeneem nie, maar die afgelope twee jaar is ons met mag en mening terug en dié uitstalling – die grootste wat SA nog aangepak het – is onlangs op die Overbergse dorpie, Stanford, gedupliseer.
Danksy die visie van ’n paar plantliefhebbers en bewaringskundiges, was dié uitstalling deel van Stanford in Bloom wat van 10–24 September gehou is. En hoe gepas dat dit op Erfenisdag ten einde geloop het, want is fynbos nie die integrale deel van ons land se natuurerfenis nie?

Die vlamrooi blomme omraam deur geel en wit fyner blommetjies het die aandag getrek.
Die groter blomfees het onder meer verskeie kunsuitstallings en optredes met Rocco de Villiers en ander bekendes gehad.
Die besoekerstal by die Chelsea-skou word deur die kapasiteit van die 4,5 hektaar terrein beperk, maar omdat soveel mense dit wil ervaar, is die skou in 2005 van vier dae na vyf dae verleng en die eerste twee dae is net vir RHS-lede.

Van die blomme het fluweelsag gelyk en mens moes jou inhou om nie daaraan te vat nie!
Ook die Stanford-uitstalling se getalle is beheer om te verseker dat almal genoeg tyd by die blomme kon deurbring en behoorlik foto’s kon neem en die heerlike geure van die fynbos kon inasem.
Leon Kluge, internasionale blomkunstenaar en bekroonde ontwerper wat die laaste twee goue medaljes vir SA by Chelsea gewen het, het weer die leisels geneem om die Kaap in slegs 64 vierkante meter te vertoon. Hy het Tristan Woudberg as regterhand gehad.

’n Paar foto’s van die hoogtepunte by die RHS Chelsea Flower Show in Londen waar Leon Kluge en Tristan Woudberg goud ingepalm het.
Vanjaar se uitstalling is geïnspireer deur SA se twee magtige oseane, die Indiese en Atlantiese Oseaan, wat aanleiding gegee het tot ’n menigte habitatte, van die fynbos van die Kaap tot die meer subtropiese weligheid van KZN.
........
Vanjaar se uitstalling is geïnspireer deur SA se twee magtige oseane, die Indiese en Atlantiese Oseaan, wat aanleiding gegee het tot ’n menigte habitatte, van die fynbos van die Kaap tot die meer subtropiese weligheid van KZN.
........
’n Dramatiese kloof het die ontwerp oorheers wat deur ’n berg Proteas gesny het om verskeie watervalle en kranse te onthul wat beplant is, met kransbewonende plante van die oostelike platorand. Van die kenmerkende plante in hierdie deel van die uitstalling het die blou Streptocarpus (’n inheemse familielid van die Afrika-viooltjie) en die ikoniese disa-orgidee ingesluit, wat uit die mosagtige mure van die reusekloof te voorskyn kom.

Tristan Woudberg, kunstenaar-tuinier, wat saam met Leon die goue medalje vir SA losgeslaan het.
Ander plante uit die somerreënvalgebiede sluit in die treffende Sandersonia aurantiaca of Kersfeesklokke, sowel as vlamlelies. Die Stormsrivier-monding, geleë op die grens van die Wes- en Oos-Kaap, het die konstruksie van die rivier met sy dramatiese lewende kranse geïnspireer.

Moeilik om te glo dis binne-in ’n saal wat hierdie pragtige natuurtoneel uitgebeeld is.
In die nabygeleë NG Kerk het Talks in town – ’n spesiale reeks praatjies oor die Chelsea Flowers in Stanford, die RHS Chelsea Flower Show 2025 in Londen en die werk van die Grootbos Stigting – baie mense gelok. Sprekers het onder meer benewens Leon Kluge, ook ingesluit: Tristan Woudberg, kunstenaar-tuinier; Tanya Visser van Die Tuinier-tydskrif; Vicki Thomas, die bekende botaniese kunstenaar; Helen Boem, blom-ontwikkelingsbestuurder vir RHS Flower Show; Rupert Koopman, botanis; Hayley Cawthra, paleontoloog; en verskeie ander natuur- en bewaringsspesialiste.

Die Grootbos Stigting se kwekery het besoekers die kans gegun om van die mooi plante te koop en die herinneringe in hul eie tuine te laat voortleef.
By een van dié praatjies deur Leon het meer as 250 mense opgedaag. Ek dink so half hardop dat Leon die fynbos-evangelie verkondig. Dis seker die meeste lidmate wat daai kerk in jare gehad het.
Hy het in verskeie lesings in die kerksaal vertel hoe daar te werk gegaan is om die uitstalling só mooi te maak, dat dit ’n goue medalje verower het.

Bo en onder: Die skaal van die uitstalling op Stanford het mense se asems weggeslaan.
Hy het vertel dat hierdie die grootste uitstalling nog was, met bykans 25 000 stele fynbos-snyblomme. Die uitstalling verteenwoordig die Kaapse berge, veral die Kaapse Vougordel – ’n reeks berge wat van die Cederberg, 200 kilometer noord van die Kaapse Skiereiland, vir 850 kilometer langs die kus tot by Gqeberha in die ooste strek. Hierdie majestueuse berge is miljarde jare gelede gevorm, toe die Falkland-plato teen die Afrika-plaat vasgestoot het en veroorsaak het dat die sedimentêre rotslae in parallelle lyne oor die vlaktes opgevou het.

Die fluweelagtige voorkoms van dié blom pas glad nie by sy naam nie!

Nader aan die water en skaduwee het allerhande ander inheemse blomme gepryk.
Een van die klein interessanthede waarvoor ons moet gaan uitkyk, is dat ’n familie vosse elke aand by die Chelsea-blommeskou in Londen kom kuier het en van die “bergwater” by die Suid-Afrikaanse stalletjie kom drink het, het hy vertel.
“Die meeste fynbosplante stel tanniene in water vry, wat ’n pragtige amberkleur skep wat ons dikwels in die Kaap se natuurlike bergstrome sien. Ons het rooibostee gebruik om die kleur van die bergwater net reg te kry, sodat dit lyk of die tanniene van die fynbos dit so gekleur het.”

Die spierwit Louise was baie vroue se gunstelingblom.

Leon en Tristan se fyn oog het plante wat saamgroei, mooi bymekaar gegroepeer en vir ’n kleur skouspel gesorg.
By die uitstalling in Stanford is daar luiperdspoortjies in die sand om die uitstalling eg Suid-Afrikaans te maak!
Ek het ook hier my eie stempel afgedruk – enkele dae voor die uitstalling ten einde geloop het, so ek het darem nie Leon se kollig gesteel nie! Ek het ’n paar jaar gelede bewus geword van die groep, Cape Town Rocks. Dis mense wat klein gladde rivierklippies in vrolike kleure en patrone verf en oral in die Kaapse Skiereiland los. Die idee is om vreugde te bring.

Die klippie wat ek ’n paar dae vantevore op die strand opgetel het.

Die klippie kry ’n nuwe tuiste in die uitstalling!
Ek tel gereeld van dié klippies op op ons vroegoggend-stappies op die strand en het die klippies al so ver as Ysland gelos.
Op hul Facebook-blad sê een van die lede dat die doel van die klippies nie is om weggesteek te word nie, maar om vreugde te bring.
Ek het onlangs ’n klein klippie met ’n groen padda-ontwerp opgetel en besluit hy sal goed aard in die fynbos van Leon se uitstalling. Hy het daar langs die poeletjie neffens die luiperdspoortjies sy lêplek gekry.
Ek hoop hy reis nou verder voort saam met Leon en sy span en leef in ’n ander uitstalling of tuin voort om ook daar vreugde te bring.
- Die uitstalling sou nie moontlik gewees het nie sonder die ondersteuning van die Rupert Natuurstigting, Michael Lutzeyer van die Grootbos Stigting, Cape Flora SA, Keith Kirsten van Keith Kirsten Horticulture en Marinda Nel. Die projek is ook onderskryf deur die Kirstenbosch-tak van die Botaniese Vereniging.

