Breyten schrijven #17: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters, conversatie met Hein Viljoen

  • 0

De inleidende tekst met de opzet van de gesprekkenreeks over de literaire erfenis van Breyten Breytenbach is opgenomen in de eerste aflevering (https://voertaal.nu/breyten-schrijven-8-breytenbachs-lyriek-door-de-blik-van-dichters-conversatie-met-joan-hambidge/). Telkens leg ik de gespreksgenoten vijf vragen voor over hoe zij zich in hun dichtwerk verhouden tot de lyriek van Breytenbach.

YT: Hein, is in het lyrisch werk van Breytenbach voor jou een afzonderlijke bundel of zelfs een esthetische fase aan te wijzen die om een specifieke reden jouw uitgesproken voorkeur geniet? De schrijver heeft in drie omvangrijke delen zijn verspreid gepubliceerde bundels samengebracht: Ysterkoei-blues. Versamelde gedigte 1964-1975, Die ongedanste dans. Gevangenisgedigte 1975-1983 en Die singende hand. Versamelde gedigte 1984-2014. Welke Breytenbach is voor jouw dichterlijke loopbaan betekenisvol gebleken? Verkies je het vroege werk of de ‘late style’ in Breytenbachs lyriek? Zou je zelf gewagen van een bepaalde literaire invloed, dus een moment of zelfs een gedicht dat jouw dichterschap in enigerlei mate mee heeft gestuurd?

HV: Yves, ja, jy vrae dinge waaroor ek nog nie juis nagedink het nie. Ek dink die Ysterkoei-fase was vir my die belangrikste. Ek het my verstand daarmee gekry en dit ook intensief bestudeer vir my MA oor die anormalisering (vervreemding) in Breytenbach se werk (tot en met Lotus, Skryt en Met ander woorde). Ek ken daardie fase van sy werk waarskynlik die beste, maar ek het heelwat fasette van sy twee ander periodes ook indringend bestudeer. Ek was trouens my hele loopbaan lank besig met die studie en onderrig van sy werk.

In my eerste bundel, Waterkristal (1982), het ek ’n brief vir Breyten geskryf, soos dit ’n bietjie mode was destyds, en ironies kommentaar gelewer op sy werk en – tot my verleentheid vandag – ’n soort bekeringsboodskap tot hom gerig. Dit was voordat ek die spirituele diepte van sy werk begryp het. Die daaropvolgende gedig, ‘Impressionistiese gedig/reis met kalkoene’, is geïnspireer deur die reisgedigte in Kouevuur, en is ’n soort emulasie van sy gedigte. Ek het nooit met ’n breyteneske tong probeer praat nie, behalwe by twee geleenthede. Die eerste was toe ek vir Breytenbach bekendgestel het toe hy ’n lesing in Potchefstroom kom hou het. Die ander keer was in die gedig ‘I.M. Breyten’ wat ek na sy dood in sy idioom probeer skryf het.

In my poësie probeer ek altyd om direkte beïnvloeding te vermy – sover ek daarvan bewus is, natuurlik. Ek probeer eerder invloede verwerk of inkorporeer as om my groot voorgangers soos Van Wyk Louw, Eybers, Opperman, Breytenbach en Cloete direk na te praat. Of ’n digter wat ek bewonder, soos Peter Verhelst. Ek probeer met hulle in gesprek tree. Van die grootste invloede op my werk is sekerlik die Simbolistiese tradisie – Kloos, Gorter, Boutens, Leopold en die vroeë Nijhoff – waarmee ek in TT Cloete se klasse kennisgemaak het. Ek het dit egter, dink ek, op ’n lig-postmodernistiese manier probeer verwerk.

Breytenbach se werk het onteenseglik ’n groot invloed op my werk gehad, maar dan ’n soort indirekte invloed, omdat hy vir my dié groot voorbeeld is van wat ’n digter kan bereik. Ek bewonder sy vermoë om met die taal te speel, om dit te omvorm en om besonder meevoerende metafore te vind, en ek het, met name in my profiel van hom in Perspektief en profiel, probeer om van die geheime van sy genialiteit te ontrafel. In van my nuwer werk het ek wel sy metode, nl woordwerk, probeer gebruik, maar ek sal dadelik toegee: glad nie bereik wat hy daarmee bereik het nie. ’n Mens kan onderskei tussen hondwoorde en blomwoorde by hom: bloed, kak en saad enersyds en andersyds duiwe, engele en sterre. Ek het egter nie so ’n sterk liggaamlik-materiële surrealistiese verbeelding soos hy nie – of so ’n sterk bewussyn van die dood nie. En nie naastenby soveel kreatiewe talent soos hy nie.

YT: Naast de expliciete maatschappijkritische poëzie zijn er de gedichten waarin de verbeelding van Afrika vorm krijgt, de vele liefdesgedichten, de lyriek waarin verval, verrotting en de dood bepalende motieven zijn, het nomadische Middenwereld-discours, de Zenboeddhistische gedichten. Is er een facet in Breytenbachs poëzie dat je met bijzondere belangstelling of affiniteit hebt gelezen?

HV: Daar is eintlik drie fasette van Breytenbach se poësie wat ek met besondere belangstelling gelees en ondersoek het, nl topologiese vervorming, liminaliteit en kreolisering. Oor kreolisering sal ek verderaan iets sê. Topologiese vervorming is ’n ontdekking van Martie Muller, een van ons PhD-studente. Vir haar is dit ’n kernfaset van die postmodernisme. Ek beskou dit as een van die kroonblare van die heilige lotus van Bretyenbach se werk. Dit kom kortliks daarop neer dat verwysingsrame gerek of vervorm word, net soos wat ’n mens byvoorbeeld ’n stuk plastiek kan uitrek of vervorm. ’n Möbius-strook is byvoorbeeld so ’n ruimtelik vervormde struktuur.

Breytenbach se poësie is vol van verwysingsrame wat hy opstel, verwring, laat kruis en op mekaar laat inwerk. Die drie bekendstes is reis, seks en skryf. Maar topologiese vervorming kom oral in sy werk voor, byvoorbeeld in ‘Windblom’ (uit Papierblom). Die eerste strofe lui:

soms hou jy ’n hibiskus
in die kelk van jou gedagtes:
jy sit geelogig aan die rand
van hierdie land van aande
met die wind in die hande
’n fluistering van dooie ore komma

Die topologiese vervormings is nogal moeilik om te volg. Om ’n hibiskus in die kelk van jou gedagtes te hou, verander jou gedagtes reeds in ’n blom. Dan verbeel jy jouself dat jy op die rand van daardie gedagteblom sit, wat ook die rand van ’n land van aande is – ’n donker land, ’n land sonder vooruitsigte? Of miskien sit jy letterlik op die rand van die land, op die strand, met ander woorde, soos strofe 2 suggereer en probeer jy die wind in jou hande vang – die wind wat “’n fluistering van dooie ore” is, wat eintlik nie bestaan nie.

Liminaliteit as ’n tussentoestand, of oorgangstoestand anderkant ’n drumpel, is veral in die tronkpoësie belangrik, want die tronk is letterlik so ’n tussen- of deurgangsruimte, nes ballingskap en die Middelwêreld dit is. Titels soos Lewendood of Eklips en die figuur van RIP Lazarus – die dooie wat uit die graf opstaan – is liminale kontruksies. ’n Gedig soos ‘Droomwaak’ (uit Lewendood) druk die dubbele donkerte van die tussentoestand uit, anderkant die deur van al-hamra, die rooi doolhof, waar vryheid dood lê, die tyd stol en die self sterf:

in ’n grot waar swart son en swart wind
en swart maan en swart sterre en die heerlike
blou douglinstering verdof

Die merkwaardige is dat dit flardes volkspoësie en woorde van Celliers, Totius en Van Wyk Louw is wat die spreker help om hierdie donker en verlore toestand te oorkom.

YT: De schrijver heeft zich uitgedrukt in beschouwende en lyrische teksten. Daarnaast hield hij publieke toespraken, schreef zijn Notes from the Middle World, de trilogie met ’n Seisoen in die paradys, The true confessions of an albino terrorist en Return to Paradise. De literaire genres waarin de schrijver zich uitsprak en een beeldrijk universum creëerde, zijn onlosmakelijk met elkaar verbonden, wat ook over het schilder- en tekenwerk kan worden gezegd. Welke teksten kunnen jou begeesteren en welke leeservaring verbind je met particuliere teksten in het oeuvre?

HV: Die tekste wat die grootste emosionele en intellektuele uitwerking op my gehad het, dink ek, was Kouevuur, Confessions of an albino terrorist, (‘Yk’), Papierblom en Op weg na kû. Die verhaal van sy gevangeskap in Confessions is skrynend aangrypend, maar ook uitdagend. Eintlik kan enige teks van Breytenbach ’n mens begeester as jy eers begin oplet hoe ryk sy metafore is en hoe vindingryk hy woorde ontgin en verwysingsrame omvorm sonder dat dit ’n serebrale spel bly, maar diep emosionele en spirituele ervarings ontsluit.

YT: Hoe heb je zelf het werk van Breytenbach leren kennen? Welk beeld bewaar je van de kennismaking en is het in de loop van het leesparcours eventueel gewijzigd? Welke rol dicht je Breytenbach toe met betrekking tot het Afrikaans, dat hij een “bastertaal” noemde – een creoolse taal en vooral als een taal van Afrika zag?

HV: Breytenbach se werk was, saam met André P Brink, Etienne Leroux en Chris Barnard s’n, “in die lug” in my laaste jare op skool. In my dienspligjaar (1969) het Rinie, my geliefde, vir my Die huis van die dowe as ’n kersgeskenk gegee. Dit was seker die begin van my bewuste engagement met sy werk.

Ek kan nie onthou wat my eerste reaksie op die bundel was nie, maar ek het wel die liefdesverse soos ‘slaap klein beminde’ en ‘die skoelapper en die slak’ daarin bewonder en my verwonder aan die sublieme banaliteit van gedigte soos ‘die gat in die lug’ en ‘verstop op die platteland’. Of aan die vindingryke taalspel in ‘muisval’ en ‘woordkasteel’. Die opvallendste vir my, vandag nog, is die soort malende herhaling wat ons in ‘drome is ook wonde’, ‘vleiswiel’ en ‘my broed van gaas tot geur’ kry – die uitbreiding of permutasie van woorde. Dit is een van Breyten se digtersgeheime, dink ek.

Breytenbach het ’n liefdesdigter gebly, maar my aanvanklike beeld van hom het gaandeweg verander deurdat ek begin besef het watter groot rol die Zen-Boeddhisme en sy politieke aktivisme in sy werk speel. Dit is natuurlik radikaal gewysig deur sy gevangeskap en sy moeilike, maar aangrypende, tronkpoësie. En later deur sy omvangryke na-tronkwerk.

Destyds was Breytenbach se verklaring dat die Afrikaner ’n bastervolk met ’n bastertaal is, skokkend, maar agterna het dit duidelik geword dat hy die saak helder en duidelik gesien het. Ek dink die Afrikaanse letterkunde is ook in talle opsigte ’n kreoolse letterkunde wat verskillende tradisies vermeng en aangepas het by die skrywers se poëtikas en by die Afrika-wêreld.

YT: Kun je in een paar zinnen het grensverleggende en zelfs de iconische betekenis van de dichter Breytenbach onder woorden brengen? Of anders gezegd: hoe zou je zelf voor toekomstige lezers van Breytenbach, in Zuid-Afrika en elders, de poëzie aanbevelen?

HV: Met sy werk het Breyten ’n ontsaglike groot bydrae gemaak om die ekspressiewe krag van Afrikaans te ontgin en grootliks uit te brei. In die gewoonste woorde soos duif, wind, of stof het hy heerlike ryk moontlikhede en ’n ryk historiese agtergrond ontsluit. Sy vindingryke topologiese vervormings is ook voorbeelde daarvan. Nie net met sy skeppings soos skryt of aarsenaar nie. Die “aarsenaar” is die een wat “laat aars”, “’n gat laat maak” van homself én die leser, maar dalk ook ’n vervorming van “aarselaar” (een wat huiwer) of van “aarseerder” (tekenaar wat skuins lyne trek).

Sy ander groot bydrae was om die band tussen Afrikaans en apartheidsdiskoers aan die kaak te stel en te bevraagteken – en om ’n alternatief daarvoor – die Middelwêreldiskoers – daar te stel.

Sy volgende groot bydrae was om Zen-Boeddhisme in Afrikaans gestalte te gee en die vermoë om in Afrikaanse mistieke begrippe en ervarings uit te druk, geweldig uit te brei. Om die nul te oorloop, met ander woorde. Ek dink nie ons kon al die diepte peil van sy poëtika van asemhaling en die relasies wat daardeur tot stand gebring word nie; die “diepte-klank” van sy poësie deurgrond nie, al bespot en relativeer hy dit ook graag. In die Andersmaak-opstel skryf hy immers dat taal “ook jou helder lyn [is] na die duistere ongesegde, die voor-verstandelike, die gemompel van dagbreek en die gefluister van sononder, na die donker skaduwees wat om die woorde flikker, na die ‘dieper’ betekenisse van syn” (31).

Breytenbach se groot bydrae, dink ek, is die groot projek van andersmaak – andersmaak van die taal, ervaring, religieuse besef, die land en die politiek en ook die self. Dit is ’n poging om ons gevestigde konsepte en maniere van verstaan, ons “mutasies en murasies” soos Breytenbach dit noem in ‘ek se plek’ (uit Papierblom: Afrika 1998:72), ons statiese en verstarde idees, te omvorm, te vermeng, te kreoliseer ter wille van die ervaring van ’n wesenstoestand van stilte en niet. En om die hele proses dan weer op te stuur.

Lees ook:

Breyten schrijven #16: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters, conversatie met Diana Ferrus

Breyten schrijven #15: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters, conversatie met Andries Bezuidenhout

Breyten schrijven #14: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters. Conversatie met Ilse van Staden

Breyten schrijven #13: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters, conversatie met Bernard Odendaal

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top