De inleidende tekst met de opzet van de gesprekkenreeks over de literaire erfenis van Breyten Breytenbach is opgenomen in de eerste aflevering (https://voertaal.nu/breyten-schrijven-8-breytenbachs-lyriek-door-de-blik-van-dichters-conversatie-met-joan-hambidge/). Telkens leg ik de gespreksgenoten vijf vragen voor over hoe zij zich in hun dichtwerk verhouden tot de lyriek van Breytenbach.
...
Dit is Breytenbach se werk, ja, maar ook dit wat op hom volg, wat my opgewonde maak oor die Afrikaanse literatuur.
...
YT: Klara, is in het lyrisch werk van Breytenbach voor jou een afzonderlijke bundel of zelfs een esthetische fase aan te wijzen die om een specifieke reden jouw uitgesproken voorkeur geniet? De schrijver heeft in drie omvangrijke delen zijn verspreid gepubliceerde bundels samengebracht: Ysterkoei-blues. Versamelde gedigte 1964-1975, Die ongedanste dans. Gevangenisgedigte 1975-1983 en Die singende hand. Versamelde gedigte 1984-2014. Welke Breytenbach is voor jouw dichterlijke loopbaan betekenisvol gebleken? Verkies je het vroege werk of de ‘late style’ in Breytenbachs lyriek? Zou je zelf gewagen van een bepaalde literaire invloed, dus een moment of zelfs een gedicht dat jouw dichterschap in enigerlei mate mee heeft gestuurd?
KDP: Ek en jy het al oor my liefde vir Oorblyfsel / Voice over (2009) gepraat, die kreatiewe stel 12 gedigte wat in beide Afrikaans en Engels opgedra is aan die Palestynse digter, Mahmoud Darwish. Dit is een van Breytenbach se dunste boekies, nie noodwendig deel van die dominante narratief van sy ontwikkeling as ’n digter nie, en tog is dit vir my die bundel waarna ek gereeld terugkeer. Dié reeks gedigte en self-vertalings is, volgens die nawoord, “getransformeerde ‘variasies’” van Darwish se werk, met ander woorde daar is ’n effense poëtiese invloed, maar ook ’n taalkundige strekking, wat die Arabies heg aan Breytenbach se Afrikaans en dan vertalings na Engels, terwyl dit steeds oorspronklike verse bevat. Jy ken my werk, so jy weet ek stel belang in taal en die verhoudings tussen tale. Die manier waarop Breytenbach hier omgaan met tale en hoe hy die vertaling self as verdag opstel (“’n ander dag sal aanbreek, ’n vroulike dag” word “another day will inbreed, froglike and female”), maak die bundel se trajek vir my ’n vrugbare en opwindend onstabiele een. Betekenis lê iewers in die gaping tussen die woorde wat mekaar probeer weergee as kreatiewe proses.
Dit is gevaarlik om my eie betrokkenheid tot sogenaamde transtalige letterkunde (teks wat dinamies tussen tale beweeg) op Breytenbach te projekteer. Ek glo nie dat hy ooit self daardie term sou gebruik het nie, of dat die transtalige oorwegend sy belangstelling tot die digkuns was nie. Daar is wel by nabaat enkele gedigte in hierdie trant wat my boei. Byvoorbeeld ‘frère khère’ uit Die beginsel van stof (2011) betrek Afrikaans en Spaans, laat beide tale kommentaar lewer op mekaar: “en indien / en dan / en nou / es la hora de partir oh abandonado / wanneer dit die vertrekuur is / sal jy my hand terughou / broer / klip”. Hier funksioneer die Spaans as meer direkte, gedeeltelike vertaling, maar ook as ’n kontinuïteit van assonansie en ritme. In die gedig ‘vertaling / the cup of words’ uit Die windvanger (2007) is daar ’n meer verweefde spel tussen Engels en Afrikaans (dankie aan Alwyn Roux wat dit onder my aandag gebring het). Aanvanklik wissel die tale tussen versreëls, maar later word klank en betekenis heeltemal verwronge tussen tale: “’n lys / van name / and shadows en skadu’s / and gallows en dadels en kneukels / the five thousand shuttered phonemes of passion / en sjaals and shipwrecks soos slakke oor die oog”. Ek kan sommer aanvoel hoe lekker dit was om hierdie gedig te skryf!
Die bundels waarop my antwoord geskoei is, dui seker op my intensiewe lees van Breytenbach se latere skryfwerk, maar ek kyk ook hier op my lessenaar na my groeiende stapel ouer werk, onder andere Katastrofes (1963), (‘YK’) (1983) en so aan, asook Lady One (2002) wat hy so vir my as kind geteken het.
YT: Naast de expliciete maatschappijkritische poëzie zijn er de gedichten waarin de verbeelding van Afrika vorm krijgt, de vele liefdesgedichten, de lyriek waarin verval, verrotting en de dood bepalende motieven zijn, het nomadische Middenwereld-discours, de Zenboeddhistische gedichten. Is er een facet van Breytenbachs poëzie dat je met bijzondere belangstelling of affiniteit hebt gelezen?
KDP: Ek probeer om ander tipes antwoorde te gee as wat ek reeds in hierdie reeks raakgelees het. So sal ek eerder na die vorm van Breytenbach se digkuns as die tematiek verwys. So het ek bepaald ’n voorliefde vir lang- of reeksgedigte (soos wat ek ook natuurlik self skryf), gedigte wat hulself kan versprei oor die spasie van meervoudige blaaie (soms selfs die hele boek), gedigte wat nie vasgepen hoef te wees in die liriese wurggreep van ’n driekwart bladsy nie. Alhoewel bundels soos Lotus (1970) of Voetskrif (1976) reeds deurgaande genommerde gedigte bevat, is dit die latere werk wat werklik hierdie vorm vir my uitvul. Ek dink veral aan Op weg na Kû (2019) wat reekse skep met asteriske of desimale benommering (bv. gedig nommer 8.4.1.1) sodat die gedigte nie net vorentoe tel of stu nie, maar ook onderafdelings ontwikkel soos ’n tipe poëtiese mise-en-abyme. Om gedigte in ’n reeks te benommer, skep natuurlik ’n lineariteit of progressie wat interessant kontrasteer met die meer sikliese en spirituele dimensies van Breytenbach se werk. Dit suggereer ’n ritme of mantra, iets wat eindeloos vorentoe beweeg as herhalings – dat elke gedig dieselfde kan wees en tog ook totaal verskillend. Soos wat hy vra in gedig nommer 6.1: “En as die onsigbare doel die eenwording is? / En as die ritmes van bestaan en diepvreugde / die beweging na daardie doel is? / En as ons nooit weer kan ophou nie?”. Dit is nie asof sy gedigte antwoorde is nie, maar die reeksvorm self eggo die ondersoek.
YT: De schrijver heeft zich uitgedrukt in beschouwende en lyrische teksten. Daarnaast hield hij publieke toespraken, schreef zijn Notes from the Middle World, de trilogie met ’n Seisoen in die paradys, The True Confessions of an Albino Terrorist en Return to Paradise. De literaire genres waarin de schrijver zich uitsprak en een beeldrijk universum creëerde, zijn onlosmakelijk met elkaar verbonden, wat ook over het schilder- en tekenwerk kan worden gezegd. Welke teksten kunnen jou begeesteren en welke leeservaring verbind je met particuliere teksten in het oeuvre?
KDP: Boklied (1998) en toe nou onlangs ook Verwelkingslied (2025) is nie noodwendig my gunstelingtekste van Breytenbach om te lees nie, maar as dramatiese werke (oftewel liedere?) bring hulle die kwessie van genre na vore. Soos jy tereg uitwys, het Breytenbach in ’n verskeidenheid mediums gewerk – poësie, prosa, die album Mondmusiek (2001), beeldende kuns, ens. – maar dan nog toneelstukke ook. Dit meen dat sy uitset nie soseer interdissiplinêr as multidissiplinêr is nie, met die digkuns altyd as die kern, of die tonaliteit, wat sy werk, konsepsueel-gesproke, laat rym. Dít vind ek opwindend.
Ek het die eerste opvoering van Boklied gemis as ’n jong dogter van 10 of 11, maar kon toe die nuwe opvoering daarvan by Woordfees in 2025 meemaak. Dit was verbysterend, lank, meeslepend, snaaks, maar ook ’n gewaarwording van ’n manuskrip wat die verhoog nodig het om werklik te lewe. So kan die lees van ’n teks ook meer as lees self wees, meer as oë op papier. Om amper drie dekades te wag om hierdie toneelstuk te kan sien, om ouer te word, om ervaring op te bou, om die drama as boek te lees, om staaltjies daaroor te hoor... dit het tog alles te make met hoe ek toe uiteindelik vroeër vanjaar in ’n gehoor kon sit en die play lees met daardie groter, uitgebreide verstaan van hoe letterkunde verweef kan raak met die wêreld soos dit van die bladsy se raamwerk afstap.
YT: Hoe heb je zelf het werk van Breytenbach leren kennen? Welk beeld bewaar je van de kennismaking en is het in de loop van het leesparcours eventueel gewijzigd? Welke rol dicht je Breytenbach toe met betrekking tot het Afrikaans, dat hij een “bastertaal” noemde – een creoolse taal en vooral als een taal van Afrika zag?
KDP: Ek het grootgeword met die sin dat Afrikaanse poësie gelykstaande is aan Breyten Breytenbach. In my ouers se boekery was die Breytenbach-afdeling prominent. Van sy debuutbundel tot die lateres het ek stelselmatig by hulle “gesteel” om nou in my boekrak in Montreal aan te hou. Afgesien van hierdie dinamiese inleiding tot sy werk, het ek self ook, effe later in my ontwikkeling as ’n leser, die afleiding gemaak dat niemand anders se werk soos Breytenbach s’n klink nie, dat hy ’n inslaggewende impak gelewer het, nie net op die Afrikaanse digkuns nie, maar ook op Afrikaans as taal. Hy het ’n manier om Afrikaans terselfdertyd as omgangstaal en as hoogdrawend aan te wend. Die werk is nie storievertellend nie, maar dit is intiem. Dit is liries, maar dit is ook kras of abstrak of meditatief. Die draagwydte van Breytenbach se poësie is juis so groot omdat hy Afrikaans duidelik skeppend kon benut. Ek verstaan die politiese strekking van die term “bastertaal,” maar op ’n ander register is die verbastering of die vernuwing van sy taalgebruik ook net die werkswyse van ’n uitsonderlike digter wat Afrikaans kreatief sy eie gemaak het.
YT: Kun je in een paar zinnen het grensverleggende en zelfs de iconische betekenis van de dichter Breytenbach onder woorden brengen? Of anders gezegd: hoe zou je zelf voor toekomstige lezers van Breytenbach, in Zuid-Afrika en elders, de poëzie aanbevelen?
KDP: My vorige antwoord het dalk reeds hierdie een beantwoord. Ek het duidelik ’n baie hoë dunk van Breytenbach se oeuvre. Ek sal dan wel bysê dat ek altyd ’n gesonde klap skeptisisme weg het wanneer dit kom by die verheerliking van enige figuur. In hierdie einste reeks meen Antjie Krog byvoorbeeld dat “Afrikaans […] nooit weer ’n digter soos hy [Breytenbach sal] hê nie – ’n meester.” Hoekom nie? Hoekom sal daar nie weer ’n merkwaardige digter opgelewer word in Afrikaans nie? Breytenbach is ’n buitengewoon sterk digter in die Afrikaanse literatuur, maar daar moet altyd ruimte wees vir ’n taal se letterkunde om te groei, om te verander, om dalk anders te klink, om op daardie anderse wyses ook groot bydraes te lewer. Dit is Breytenbach se werk, ja, maar ook dit wat op hom volg, wat my opgewonde maak oor die Afrikaanse literatuur.
Lees ook:
Breyten schrijven #17: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters, conversatie met Hein Viljoen
Breyten schrijven #16: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters, conversatie met Diana Ferrus

