Breyten schrijven #20: Breytenbachs lyrische erfenis door de blik van dichters, conversatie met Charl-Pierre Naudé

  • 0

De inleidende tekst met de opzet van de gesprekkenreeks over de literaire erfenis van Breyten Breytenbach is opgenomen in de eerste aflevering (https://voertaal.nu/breyten-schrijven-8-breytenbachs-lyriek-door-de-blik-van-dichters-conversatie-met-joan-hambidge/). Telkens leg ik de gespreksgenoten vijf vragen voor over hoe zij zich in hun dichtwerk verhouden tot de lyriek van Breytenbach.

...
Breyten sal, so hoop ek, my gewilligheid om kritiek op hom te lewer sien in die teken van besorgdheid oor hoe maklik kulture in Afrika, soos die Afrikaanse, wat so lank onder outoritêre sterre staning gehad het, kan terugval in onkritiese papegaaimaniere.
...

YT: Charl-Pierre, is in het lyrisch werk van Breytenbach voor jou een afzonderlijke bundel of zelfs een esthetische fase aan te wijzen die om een specifieke reden jouw uitgesproken voorkeur geniet? De schrijver heeft in drie omvangrijke delen zijn verspreid gepubliceerde bundels samengebracht: Ysterkoei-blues. Versamelde gedigte 1964–1975, Die ongedanste dans. Gevangenisgedigte 1975–1983 en Die singende hand. Versamelde gedigte 1984–2014. Welke Breytenbach is voor jouw dichterlijke loopbaan betekenisvol gebleken? Verkies je het vroege werk of de ‘late style’ in Breytenbachs lyriek? Zou je zelf gewagen van een bepaalde literaire invloed, dus een moment of zelfs een gedicht dat jouw dichterschap in enigerlei mate mee heeft gestuurd?

CPN: Môre, Yves. Dankie vir die voorreg om deur jou genader te word met hierdie vrae aan my. Ek vind jou inleidende oorsig en omraming van Breytenbach se werk baie oordeelkundig en moet jou gelukwens daarmee in soverre ek hoegenaamd self iets werd is as ’n oordeel. In my eie geval is daar beslis meer as net ’n respekvolle kopknik aan Breyten. Daar is ’n estetiese verwantskap met sy werk, en ek sou sê dat die opvallendste verwantskap is met die surrealisme van sy denk- en beeldwyse. Nou, wat met surrealisme bedoel kan word, is veelduidig. Maar let op dat ek verkies om die woord werk in verwysing na BB se oeuvre gebruik, en nie net die nouer kader-beduidende term digkuns nie. Die surrealistiese aard van Breyten se digkuns deurstraal óók sy besinnende essays, sy politieke oordele, sy filosofiese sienings, sy sienings oor taal, oor genre, kultuur en spiritualiteit. Selde vind ’n mens in ’n skrywer se werk so ’n samevattende en samebindende etosbewustheid – al is dit op ’n bykans “slaapwandelende” manier – as juis by BB.

Neem byvoorbeeld sy begrip dans. Dit is ’n begrip wat die wesenlikste menslike aktiwiteit, naamlik die aktiwiteit van patroonsoeking – so deur my so benoem in my niefiksiepublikasie In die rede geval: waarom die mens mites maak – in ’n konteks van die erotiese (om Derrida by te haal: die aantrekkingskrag tussen tekens, en mense is ook tekens) plaas, in die kommunikatiewe, in die intens subjektiewe, in die veranderlike, en veral in die “huidige” – eerder as in die kaders van “waarheid”, die “ewige”, of in een van die groot oorgelewerde “katalogusse van betekenis”. Hy plaas betekenismaking per definisie deur middel van byvoorbeeld die dans-konsep (nie slegs ’n beeld by Breyten nie maar ook ’n politieke begrip) in die wonderbaarlik onbetroubare, in die verganklike, en in die persoonlike. Ditto BB se klem op die Zen-Boeddhisme. In hierdie dinge is hy wel moontlik nie so uniek buite Afrikaans nie, hy is deel van ’n wêreldtydsgees. Maar in die verbeeldingryke wyses waarop hy dit gedoen het, in taal, ondupliseerbaar, en dat hy hierdie soort denkspronge van stapel gestuur het in ’n besonder fundamentalistiese kultuur, naamlik die wit Afrikaanse kultuur van die vroegsestigerjare, van die apartheidtydperk, is wel uniek.

Wat bedoel ek met “fundamentalistiese”? ’n Kultuur wat in die eerste plek die metaforiese afwys as stramien van alle betekenisgewing; en tweedens haar selfbetekenis in ’n essensialistiese, heenwysende houding vind: héénwysend na “God”, na “Europa”, na “die ewigheid” en die gepaardgaande “essensies”, alles buite die “self”, die “eie”. (Hoewel die “eie”, heel paradoksaal, ook die “uitverkore” medium was om daardie “ewige waardes” á la patriargie, vir die wêreld te vertolk.) Ek reken dat Breyten se aangetrokkenheid tot die bruin Afrikaanse kultuur onder meer daarin geleë is dat hierdie kultuurband, in teenstelling met die wit Afrikaner-band van ouds, haar betekenis onomwonde in lukraakheid gevind en uitgelewe het. En hy het laasgenoemde as ’n onmisbare selfbegrip vir die Afrikaanse van die toekoms geëien.  Hierin stem ek met hom saam.         

Ek het veral aanklank gevind by die gevangenisgedigte van 1975–1983, omdat die digter hier baie gedetailleerd raak en die spanning tussen ingewing en besinning op deurlopende manier meer uitgebreid aanbied as elders in sy oeuvre. Maar al die dele van sy skeppende tapisserie is vir my betekenisvol. Om jou vraag onomwonde te beantwoord: Ek verkies dit alles. Ek is versigtig om ’n enkele gedig uit te sonder.

YT: Naast de expliciete maatschappijkritische poëzie zijn er de gedichten waarin de verbeelding van Afrika vorm krijgt, de vele liefdesgedichten, de lyriek waarin verval, verrotting en de dood bepalende motieven zijn, het nomadische Middenwereld-discours, de Zenboeddhistische gedichten. Is er een facet in Breytenbachs poëzie dat je met bijzondere belangstelling of affiniteit hebt gelezen?

CPN: Soos ek hierbo aandui, en jyself verwoord dit goed in (3) hier onder: die verskillende fasette is eggo’s van mekaar en almal ineenskakelend. Dit is alles een, voortrollende golf, wat die lig wat daarop val telkens anders weerspieël. Hoe het Breyten self geskryf, om dit in ander woorde, aan te haal? All one horse.

YT: De schrijver heeft zich uitgedrukt in beschouwende en lyrische teksten. Daarnaast hield hij publieke toespraken, schreef zijn Notes from the Middle World, de trilogie met ’n Seisoen in die paradys, The True Confessions of an Albino Terrorist en Return to Paradise. De literaire genres waarin de schrijver zich uitsprak en een beeldrijk universum creëerde, zijn onlosmakelijk met elkaar verbonden, wat ook over het schilder- en tekenwerk kan worden gezegd. Welke teksten kunnen jou begeesteren en welke leeservaring verbind je met particuliere teksten in het oeuvre?

CPN: Ek moet sê, ek is ’n groot aanhanger van Breyten se skilderwerk. Die fyn melankolie daarin is aangrypend, en dit is melankolies omdat die betekenisse daarin so raar en dikwels so tragies-snaaks is. Ek beskou die digkuns as die sleutel tot die res van sy werk. Die digkuns bied die register aan waarvolgens die res ontsluit moet word. Dit is moeilik om spesifieke tekste bo ander uit te sonder, maar laat ek dit nou doen terwille van die pret van die oomblik.

Die eerste gedigte in Die ysterkoei moet sweet – ‘bedreiging van die siekes’, ‘verslag’, ‘die dood begin by die voete’, en ‘breyten bid vir homself’ – het my leeservaring van gedigte eintlik ingelui. Alle digters wat ek daarna in my prille watsenaam ontdek het – Eybers, Van Wyk, Miroslav Holub, Pasternak, Alan Ginsberg, you name it – het gekom met die allereerste gedagte: Hoe verskil dit van Breyten se gedigte?

Ook Katastrofes, veral ‘Kersverhaal’. Neem ’n prosastuk soos ‘Sin vir waardees ho! Mannekyne’. Daardie titel is een van die mees bisarre reëls in die Afrikaanse letterkunde, en so snaaks! Ek wou nog altyd ’n literêre tydskrif, sê maar ’n jaarblad, uitbring met die titel Sin vir waardes ho! Mannekyne. Dus, Yves, as jy weet van ’n borgskap vir so ’n blad, wat resensies en nuwe werk sal bevat, laat weet my asseblief. Die titel sal ononderhandelbaar wees. Ek bespreek gou hoe ek hierdie reël die eerste maal gelees het, die tipe gedagtes wat dit by my losgemaak het. Dit is die middelsewentigs, mannekyne is een van die sleutels van die tyd: Twiggy van tien jaar tevore, Bardot, ag, nou vergeet ek al die name. Annelien Kriel is daar iewers, ook die verbanne Playboy van Hugh Hefner. Die bestaan van mannekyne, wat die huis- en vrouetydskrifte noodwendig erkenning aan moes verleen, het die landelik-gebaseerde sekerhede van die nuwe Afrikaanse jeug op losse skroewe geplaas deurdat dit die plek van glans, van persoonlike ego en eiewaan, en tydsgebonde skoonheid as deugdes voorgestel het, teësinnig, maar tog. En net daar byt Moses in die stof. (En toe hy opstaan, so aanleunend teen sy staf, steek die handvatsel daarvan haar been uit soos ’n kabaretdanseres! Behoede!) “Ho”, op sy beurt, is ’n uitroep wat jy op plase kry om ’n perd tot stilstaan te kry, of beeste aan te jaag. Dit was een van die mees gebruikte klanke in die jare van die Springbokradio-verhale. “Ho” het beteken die luisteraar is nou “oppie plaas”, óf iemand moet oppas.

En dan is daar die sinsnede “sin vir waardes”. Afrikaanse opvoeding van die tyd wat mens as die hoogbloei van die apartheidtyd kan aandui was vervuil van die “voorligters” – alle soorte voorligters (behalwe seksvoorligters) (ja, oukei, ’n paar verdwaaldes van hulle ook). “Waardes” was ’n groot issue, wat baie onderwysers tot trane gedryf het. (Ek respekteer tot vandag toe daardie onderwysers, selfs die kakkes, want hulle is deel van die palet waarmee ek my tyd as kind ingekleur het, al was dit in teenstelling met hulle, met Breyten en die Sestigers as nuwe gidse. Ek is seker Breyten beskou sy onderwysers van die Boland ook maar as deel van die reënboog. Laat ek nie verder uitflap nie. Jy kan sien waarom ek ’n tydskrif met daardie naam wil begin. (Chapeau, Breyten). (Jy kan sien hoe Breyten met ’n enkele reël ’n hele tydsgebonde kultuuruniversum van Afrikaansheid kon oproep, met die belangrikste spanninge van die tyd daarin vervat. In hoeveel woorde? Vyf!)

YT: Hoe heb je zelf het werk van Breytenbach leren kennen? Welk beeld bewaar je van de kennismaking en is het in de loop van het leesparcours eventueel gewijzigd? Welke rol dicht je Breytenbach toe met betrekking tot het Afrikaans, dat hij een “bastertaal” noemde – een creoolse taal en vooral als een taal van Afrika zag?

CPN: Ek het die werk van Breyten in Die groot verseboek van DJ Opperman leer ken. Enkele onderwysers het ook oor hom begin praat (of fluister). En baie dankie aan die uitmuntende biblioteekdienste van die staat, wat, in weerwil van sensuur, hul rol onverbeterlik vervul het, my dank aan Nahoon Biblioteek in Beach Road, Oos-Londen.

Die reël waarmee ek soms in die oggende wakker geword het, was: “Laat die sluwe bitter eende op my graf kak in die reën”. (Ha, ha, vat so, dominee!)

YT: Kun je in een paar zinnen het grensverleggende en zelfs de iconische betekenis van de dichter Breytenbach onder woorden brengen? Of anders gezegd: hoe zou je zelf voor toekomstige lezers van Breytenbach, in Zuid-Afrika en elders, de poëzie aanbevelen?

CPN: Grensverleggend is hy, sowel as ikonies. Grensverleggend vir die redes wat ek na onder sal uitwys. Ikonies omdat hy ’n besonder deurdagte beliggaming gee aan die ikoon van die naatfiguur, sowel as aan die ikoon van die “rewolusionêr”. Hy is respekvol terugkykend teenoor dit wat hy wil verander, en ook onkorrupteerbaar getrou aan die nuwe waardes wat hy probeer bevorder.

Breyten Breytenbach is die sluismeester van die postmoderne (nie net die postmodernismestroming nie) in die Afrikaanse letterkunde. Voor daardie sluis – die postmoderne, met Breyten as die sluismeester – is dit ’n enkele rustige, breë rivier wat aankom. Ná die sluis, aan die ander kant van die sluis as jy stroomaf kyk, sien jy ’n verdeling van die voormalige groot stroom in ’n veelvouldige bruising van riviervertakkings, wat steeds vandag bly vermenigvuldig. Onder daardie vertakkings is die meta-modernisme, waarbinne ek geneig is om myself as prosaïs sowel as digter te sien. As voorbeeld kan ek my eerste digbundel, Die nomadiese oomblik, noem, wat grotendeels bestaan het uit sonnette. Dit is nóg moderne nóg postmoderne sonnette. Dit is post-postmoderne sonnette (ek het nog nie die term meta-modernisme geken nie maar dit wel aangevoel), waarin daar teruggekeer word na die “vormmatigheid” van die moderne sonnet, maar met ander oogmerke en implikasies. Die publikasiejaar was 1994, en wêreldwyd was hierdie verskuiwing aan die gang, hoewel die term nog nie ’n frekwensie geniet het nie. In Afrikaans het ek veel by Eybers geleer, maar gesien deur die tussenlens van ’n Breytenbach. Gesien deur die sproei van die sluismeester.

Wat Breyten se tipering van Afrikaans as “kreoolse” of “bastertaal” betref: Dit is deels waar, maar sy tipering gaan ook mank aan ideologiese afsluiting, jammer om te sê. Afrikaans is ’n taal beide met klassieke, Europees-oorgelewerde kenmerke sowel as kreoolse Afrika(s)-kenmerke, veral in die variante van Afrikaans. Hierdie kreolisering het lank voor die aankoms van die hervestigde dialekte (Suid-Nederlandse, Franse en ander papegaaiklanke) op Afrika-bodem begin, en hier ingrypende wendinge ondergaan. Afrikaans in sy huidige vorm is beide deel van Afrika, sowel as deel van ander plekke op die aardbol, insluitende Oer-Indië. Waar begin Afrika? Watter Afrika?

En moet Afrikaans se reg op ’n voortbestaan afhang van die argument oor sy  generering op die Afrika-vasteland? Ek glo nie. Dit is politieke opdringerigheid wat aan wetenskaplike taalkartering wil voorskryf. Die “bodem-argumente” oor allerlei, hier en elders in die wêreld, is ’n selfvoldane resepteboek, wat my betref, en wat ek net deels ernstig opneem, afhang van hoe honger ek is vir vrede en geraasloosheid.

En tog verstaan ek Breyten se argumentvoering. Dit was en is effektief, en ook waar, maar ek glo (want ek het hom geken as mens) dat hy ook sou wou hê die volle waarheid uiteindelik gekarteer moet word. Hy wou egter sy stem aan die spanninge van sy spesifieke gewrig in die tyd verleen, en daarmee is niks verkeerd nie. Breyten sal, so hoop ek, my gewilligheid om kritiek op hom te lewer sien in die teken van besorgdheid oor hoe maklik kulture in Afrika, soos die Afrikaanse, wat so lank onder outoritêre sterre staning gehad het, kan terugval in onkritiese papegaaimaniere.

Breyten Breytenbach is by uitstek die fenomenoloog van die Suid-Afrikaanse digkuns, en hierin kan jy ook sien dat hy ’n invloed op my gehad het. Laat ek afsluit met die laaste gedig uit Die beginsel van stof (2011), wat dalk ’n omraming kan besorg vir hoe ek Breyten Breytenbach in spanning met sy voorgangers en navolgers sien:

Oopskryf 

hoe om jouself toe te maak
met woorde
as beskerming teen die woordlose
koue gekerm van die ewigheid

Dit was vir my ’n wonderlike ervaring om die bundel Rooiborsduif. Gedigte oor die liefde (2019) saam te stel. Een van die sleutels daarvan was die romantiese/die romantiek. ‘n Mens sou ewe goed ’n bundel oor Breyten Breytenbach en humor kon saamstel. Weens die erns van die tyd waarin hy gelewe het, is laasgenoemde sleutel, onder die bos sleutels wat Breytenbach se werk en denke beslaan, onderbeklemtoon en soms selfs vergete. Ek haal uit die gedig ‘die uitstrooiing van die as’ aan (hy het die gedig geskryf na aanleiding van sy broer Basjan se begrafnis), wat dalk ook gepas is by herdenking van Breyten se eie vertrek uit ons midde:

dit wou ek nog vir jou sê
dat ons jou as toe uitgestrooi het
        oor die ouers se graf
        grys en greinerig
dat ’n vaal wolkie so groot soos ’n man se hand
        weggewaai is
        oor die naburige veld
maar dat die voëls dit nie sal eet
en die miere nie hoedjies daarvan sal kan maak
        vir hul nagmaaldienste nie.

Miere en nagmaaldienste? Hoe klein en dierbaar is ons bestaan op aarde nie. Dankie dat jy kom kuier het, Breyten.

Lees ook:

Breyten schrijven #19: Breytenbachs lyrische erfenis door de blik van dichters, conversatie met Klara du Plessis

Breyten schrijven #18: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters, conversatie met Pieter Madibuseng Odendaal

Breyten schrijven #17: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters, conversatie met Hein Viljoen

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top