Breyten schrijven #30: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters, conversatie met Zandra Bezuidenhout

  • 0

Door het oog van de dichter is de titel van een gesprekkenreeks over de literaire nalatenschap van Breyten Breytenbach (1939-2024) en de impact op het schrijverschap van hedendaagse Afrikaans-, Engels- en Nederlandstalige dichters. Najaar 2026 verschijnt de bundel Postumiteiten voor Breyten in Zuid-Afrika, waarin de dialogen worden gebundeld. In een tweede deel met dialogen komen Breytenbach-navorsers aan het woord. Tot vandaag zijn afleveringen gepubliceerd met Joan Hambidge, Alfred Schaffer, Marlise Joubert, Antjie Krog, Louis Esterhuizen, Bernard Odendaal, Ilse van Staden, Andries Bezuidenhout, Diana Ferrus, Hein Viljoen, Pieter Madibuseng Odendaal, Klara du Plessis, Charl-Pierre Naudé, Nkateko Masinga, Erwin Mortier, Marius Crous, Gilbert Gibson, Heilna du Plooy, Alwyn Roux, Kleinboer en H.J. Pieterse.

De inleidende tekst met een toelichting bij de opzet van de gesprekkenreeks over de literaire erfenis van Breyten Breytenbach kan hier worden gelezen: https://versindaba.co.za/2026/01/21/yves-tsjoen-postumiteiten-voor-breyten/. In totaal komen veertig dichters aan het woord. De gespreksgenoten ontvangen allen dezelfde vijf vragen over hoe zij zich in hun schrijfwerk verhouden tot het oeuvre van Breytenbach.

...
Sy gedagtegoed strek verder en dieper as bepaalde situasies, plekke, reise, mense of dinge wat hy meegemaak het.
...

YT: Zandra, is in het lyrisch werk van Breytenbach voor jou een afzonderlijke bundel of zelfs een esthetische fase aan te wijzen die om een specifieke reden jouw uitgesproken voorkeur geniet? De schrijver heeft in drie omvangrijke delen zijn verspreid gepubliceerde bundels samengebracht: Ysterkoei-blues. Versamelde gedigte 1964-1975, Die ongedanste dans. Gevangenisgedigte 1975-1983 en Die singende hand. Versamelde gedigte 1984-2014. Welke Breytenbach is voor jouw dichterlijke loopbaan betekenisvol gebleken? Verkies je het vroege werk of de ‘late style’ in Breytenbachs lyriek? Zou je zelf gewagen van een bepaalde literaire invloed, dus een moment of zelfs een gedicht dat jouw dichterschap in enigerlei mate mee heeft gestuurd?

ZB:

[…] ek het aan jou borste geraak
verbaas oor my eie honger
en die lampkap se tossels het geskommel
die warm blom tussen jou dye
              was klewerig van dou

[…]

(Breytenbach, ‘ekstasis’, Papierblom (1998), in Rooiborsduif, 2019)

Rooiborsduif  (2019) bly steeds my gunstelingbundel, omdat hierdie versameling van Breytenbach se liefdesgedigte my op verskillende vlakke diep raak. Die manlike perspektief is veral vir ’n vroulike leser openbarend, veral ten opsigte van die verse se besondere teerheid en intimiteit wat anders as voorheen in Afrikaans ongewoon eksplisiet verwoord word. In my debuutbundel dansmusieke (2020), en ook daarna, het ek in sommige gevalle bewustelik die vryheid van ’n groter openheid benut. ‘Summer Holiday’ is so ’n voorbeeld:

SUMMER HOLIDAY

dit was die jaar van Cliff Richard
seven singles jukebox die Beach Boys
en ons kaliforniese klone almal seventeen
meisies draairoomysies in wit swembroeke
jongmans pronkvoëls op ’n melkwit strand
bries van Brylcream en kokosolie
skouers dye twaalfuurblink gesmeer
lippe koraal-oranje langs flikkerwaters
dieper in die deining ons twee
wat skommel op ’n binneband
met druppels son en water in ons wimpers
ons hare plaksels gladde seegras
bruingebrand en lieflik vir mekaar
tot ná die springgety
as in die aand die wind
ons afkoel in die duinesand

(Bezuidenhout, Aardling, 2006)

YT: Naast de expliciete maatschappijkritische poëzie zijn er de gedichten waarin de verbeelding van Afrika vorm krijgt, de vele liefdesgedichten, de lyriek waarin verval, verrotting en de dood bepalende motieven zijn, het nomadische Middenwereld-discours, de Zenboeddhistische gedichten. Is er een facet in Breytenbachs poëzie dat je met bijzondere belangstelling of affiniteit hebt gelezen? 

ZB: Nog ’n faset van Breytenbach se poësie wat my aanspreek, en wat trouens deur sy hele oeuvre loop, is dat hy die synstoestand van die mens direk of indirek aan die orde stel. In die breë gaan dit vir hierdie digter-spreker nie slegs oor partikuliere ervarings nie. Sy gedagtegoed strek verder en dieper as bepaalde situasies, plekke, reise, mense of dinge wat hy meegemaak het. Veel eerder lees ek dit as metaforiese verwysings na aspekte van die menslike kondisie, veral ten opsigte van die op-weg-wees tussen geboorte en dood. As vertrekpunt steun hy dikwels op ’n verlange en uitreiking na ander mense, soos  na figure wat hy in sy jeug, sy familiekring en sy verlede beleef het. Nie die minste hiervan nie is die immer teenwoordige belewenis van die liefde. Hierin is sy aanbod nie soetsappig-sentimenteel, eensydig of week nie, maar teer en flambojant tegelyk, en sprekend van ’n ongeremde verbeelding. 

Daarnaas roep hy die nalatenskap van bekende denkers en skrywers op wat sy sentimente gedeel het, en koppel hy sy eie belewenisse aan beelde van opstand, onreg en sy eie verblyf in die gevangenis. Hy betrek ’n wye scala van menslike ervaring, en suggereer daarteenoor ook ’n ongenoemde (en onnoembare) instansie van goddelikheid, dikwels waar aspekte van die natuur betrek word. Langs hierdie weg verkry Breytenbach se verse ’n mistieke lading, een waarin daar tegelyk met die kenbare en onkenbare omgegaan word. Dit is in hoofsaak waarom die werk van hierdie digter my fassineer: die terloopse vervloeiing van die alledaagse met die numineuse.

YT: De schrijver heeft zich uitgedrukt in beschouwende en lyrische teksten. Daarnaast hield hij publieke toespraken, schreef zijn Notes from the Middle World, de trilogie met ’n Seisoen in die paradys, The True Confessions of an Albino Terrorist en Return to Paradise. De literaire genres waarin de schrijver zich uitsprak en een beeldrijk universum creëerde, zijn onlosmakelijk met elkaar verbonden, wat ook over het schilder- en tekenwerk kan worden gezegd. Welke teksten kunnen jou begeesteren en welke leeservaring verbind je met particuliere teksten in het oeuvre?

ZB: Uit die uiteenlopende tekstipes van Breytenbach se hand, sien ek ’n verband tussen sy skilderwerk en sy gedigte met ’n absurdistiese aanslag. Surreëel, kleurvol asook disproporsioneel en vreemd, met ’n plaerige humor, vang sy werk die aandag van lesers en kykers vas. Voorbeelde van sy visuele kuns verskyn op die voorplat van sommige bundels, en wek ’n aptyt vir die gedigte wat volg. Dieselfde geld vir sy skilderye wat in kunslokale op uitstalling was.

YT: Hoe heb je zelf het werk van Breytenbach leren kennen? Welk beeld bewaar je van de kennismaking en is het in de loop van het leesparcours eventueel gewijzigd? Welke rol dicht je Breytenbach toe met betrekking tot het Afrikaans, dat hij een “bastertaal” noemde – een creoolse taal en vooral als een taal van Afrika zag?

ZB: Die kennismaking met Breytenbach se werk staan my nog helder voor die gees. As student aan die Universiteit van Stellenbosch was ek bevoorreg om die digter DJ Opperman vanaf 1962 tot 1965 as leermeester te hê. Gedurende een van ons lesings het hy onverwags genoem dat ’n besonder talentvolle digter pas gedebuteer het; ene Breyten Breytenbach, toe nog vir ons ’n volstrek onbekende naam. Die professor het tereg voorspel dat ons nog veel van hierdie figuur sou hoor, en die klas as ’t ware afgevaardig om onverwyld na ’n bekende boekhandelaar op die dorp te gaan, waar die betrokke digter se bundel reeds op die rakke was. Min het ek geweet dat ek my in ’n latere studieperiode verder in Breytenbach se oeuvre sou verdiep, onder die entoesiastiese leiding van Louise Viljoen en Ronel Foster.

Op daardie reënerige oggend sou ek ’n halfuur later deur die uitstalvenster bly staar na ’n wavrag heldergeel hardebandboeke, groot van formaat,  kruis en dwars onder geel lampe opgestapel. Die titel Die ysterkoei moet sweet was swart en in ’n skewe lettertipe, byna soos ’n handskrif, op die omslag aangebring. Nog meer opvallend was die groot en hoekige skets van ’n koei se kop, oënskynlik in houtskool en swart ink uitgevoer.

Jare daarna sou ek die gedig ‘Fanmail vir Breyten’ skryf, en nog later voorlees by ’n verjaardagviering ter ere van die toe reeds bekende Breytenbach, ’n geleentheid wat heel gepas in die Breytenbach-kultuursentrum (vroeër die woonhuis van sy ouers) op sy tuisdorp Wellington aangebied is.

Fanmail vir Breyten

Daardie jaar, pas na die klas,
(ons het gehoor dat jy al op die rakke was)
het ek jou Ysterkoei deur glas gewaar
jou uitgestalde woorde deur die raam betas.

Daarbinne was dit knus.
Tussen die boeke het ’n reuk
van sweet en ink gehang.
Die winkel was ’n lugballon,
’n lamp, ’n Niet.
Ek was getoor, ek kon dit hoor
toe ek my Koei op skuld moes koop.
Vol soos ’n uier
het ek die groot geel boek gedra
en onder eike wat van winter drup
al langs die meulstroom af geloop,
geswenk na “Sonop” om die hoek.

Simonsberg staan pril en pers
- ek was nou by die laaste vers -
terwyl die son met Breyten in my skoot
vanuit die Ooste oor my kom.

En sedertdien hoor ek die mondmusiek,
proe ek die asem in die Zen
van Breytenbundels wat verlig          deur winkelvensters wasem.

(Bezuidenhout, Tydskrif vir Letterkunde 46, 2, Jan. 2009)

YT: Kun je in een paar zinnen het grensverleggende en zelfs de iconische betekenis van de dichter Breytenbach onder woorden brengen? Of anders gezegd: hoe zou je zelf voor toekomstige lezers van Breytenbach, in Zuid-Afrika en elders, de poëzie aanbevelen?

ZB: Breytenbach was die eerste Afrikaanse digter om totaal weg te breek uit die tradisionele aanpak en tematiek van die bestaande digkuns in sy moedertaal. Soos die Vyftigers in Nederland, sou hy met ’n vryer en selfs revolusionêre benadering en werkwyse ’n sprankelend nuwe soort poësie laat opklink. Weg was die eens voorspelbare vormgewing met formele sins- en woordkonstruksies, vaste strofebou en geykte beelde as vormelemente. So ook was die digter Breytenbach se  tematiek verbluffend eietyds, selfs gewaagd en konfronterend, veral ten opsigte van die seksuele en politieke inkleding. 

Ten slotte twee gedigte van Breytenbach, nl. ‘seisoenegids’ (p.22) en daarna  ’n fragment uit ‘kalwerliefde’, albei liefdesverse uit Rooiborsduif.

seisoenegids

om jou te soen laat my dink
aan wingerde        maer in die deurweekte winters
groen soos die maan in die somer        en in die herfs
die barnsteen en die blou
en die ritselende reën
van
vallende
blare

die barnsteen en die blou
wanneer die aarde ruik          en ek jou (soen)

waarlik jy bêre die 4 seisoene in jou kieste

Uit: ‘kalwerliefde’

[…]
heup teen heup
en tong om tong
ons weet nog nie tongsoen is ongesond nie
en soms as die ander
ons in die steek laat
bevind ons ons alleen
ons dra pienk onderklere
’n roos is ’n roos is ’n roos…
ons het baie baie lief
ons huil en kou gomtotdat dit seermaak
dis ’n verligting as dit ook agter die rug is
[…]

Die lesende publiek was nie deurgaans positief oor hierdie nuwerwetse wendinge nie, alhoewel die ‘skokeffek’ vir ingeligte lesers en vakkundiges fassinerend was, en so sou bly. Breytenbach het in ’n toenemende mate ’n ikoniese figuur geword: ’n wegbereider vir die eietydse Afrikaanse poësie, met ’n eie kwaliteit en idioom wat tot dusver nie in sy moedertaal nagevolg of geëwenaar is nie. Spore daarvan is wel te vinde in die werk van Bibi Slippers, Gilbert Gibson en Danie Marais. ’n Kritikus het geskryf dat hy resonansies van Breytenbach in my eie werk hoor, in welke geval dit waarskynlik ’n onbewustelike invloed was.

Ek het so ver moontlik alle optredes van Breytenbach bygewoon, vanaf dié by die Universiteit van Kaapstad se Somerskool in 1974 waar sy jong vrou Yolande ook teenwoordig was. Daar was ook ander geleenthede, bv. die Spier-poësiefees buite Stellenbosch, sy optrede by Protea-boekwinkel op dieselfde dorp, asook by die Digtersfees op Wellington. Elke keer was dit ’n besondere verrassing en voorreg dat die digter bereid was om met besoekers in gesprek te tree en sy eie bundels te teken. Dit was die digter se bloeityd, wat ongelukkig deur sy dood in 2024 beëindig is. Sy “klokke van glas”… “lui lui” egter nog in sy verruimende nalatenskap.

Lees ook:

Tweespraak met Zandra Bezuidenhout: "’n Wedersydse kulturele uitreiking tussen brontaal en doeltaal by wyse van die geskrewe en gesproke woord"

Breyten schrijven #29: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters, conversatie met H.J. Pieterse

Breyten schrijven #28: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters, conversatie met Kleinboer

Breyten schrijven #27: "Those past times were confusing – and I want to ask you forgiveness if I promised you an impossible utopia"

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top