Cradock, ’n klein oase om te ervaar

  • 0

Cradock is ’n dorpie in die middel van die Karoo, maar op die grootpad, en ’n mens kan binne ’n paar uur daar wees van die naaste internasionale lughawe af. As jy ’n blaaskans van die groot stad soek, is dit ’n plek om te ondersoek.

Die bergkwagga

As ’n bonus is die Nasionale Bergkwaggapark maar enkele kilometers vanaf die dorpskern geleë. Dit is ’n lieflike wildtuin met baie wild en een van die min plekke in die land waar die bedreigde bergkwaggas geredelik te sien is.

’n Deel van Cradock se sjarme is die lieflike restourasiewerk wat dele van die dorp in ’n sjarmante tydkapsule verpak, maar tog ook al die geriewe van ’n knus verblyf en Wi-Fi aan die besoeker bied.

Chris Marais en Julienne du Toit

Ek was onlangs in Cradock en het, onder andere, met Chris Marais en Julienne du Toit gesels oor verskeie dorpies op die platteland.

Hulle ken die agterpaadjies en die dorpies en die stories.

Met die agteruitgang van die spoorweë het die nywerhede in die kleiner dorpies begin swaarkry en nasionale roetes is nou die speelplek van groot lorries wat sommer deur die dorp ry.

In Cradock, soos in talle ander Karoodorpies, het privaat eienaars egter ingespring, huise opgekoop en opgeknap, en moeite gedoen om die dorpe se infrastruktuur weer te verbeter.

Dit beteken die munisipaliteit sien ook weer kans, en so word die hele gemeenskap opgehef.

Marais sê ’n hele aantal ontwikkelaars begin die waarde sien van beleggings op die platteland. Jy kan soms in so ’n dorpie ’n hele straat koop vir die prys van ’n huis in die stad.

In Cradock was dit die uitgebreide Antrobus-gesin wat moue opgerol het om ’n straat langs die historiese hotel, bekend as die Victoria Hotel, op te knap. Hulle bedryf dit nou as ’n eenheid, bekend as Die Tuishuise & Victoria Manor.

Die resultaat is ’n lieflike straat vol sjarmante huisies waarin ’n mens kan gaan wegkruip vir die stadsgewoel.

Daar is ander verblyf ook in Cradock. Google sal geredelik regstaan met opsies. Die Tuishuise se sjarme is egter iets om te onthou.

Ek het vir twee nagte in een van die Tuishuise oorgebly.

Die stoepie is klein, maar binne is dit lieflik.

’n Mens voel soos Alice wat in ’n ander land instap sodra jy die huisie betree.

Die meubels is oud, maar in ’n goeie toestand.

Die hoofslaapkamer se dubbelbed het aanloklik gelyk, maar aangesien ek alleen gereis het, sou ’n enkelbed in die derde slaapkamer genoeg wees. Eendag wil ek terugkom saam met die geliefde ...

Vir my is die kwaliteit van ’n plek se stort ’n manier om hulle takseer, en ek was aangenaam verras met die krag van die stroom. Dit was heerlik. Komende uit waterskaars Gqeberha wou ek egter nie onnodig water mors nie, so ek het myself net ’n kort tydjie gegun. Die bad sal ook maar moet wag tot ek iemand met my saambring!

In die kombuis kan ’n mens self basiese kos voorberei, maar die kos by die Manor is voortreflik.

Die melk word elke dag vars afgelewer en in kraffie in die yskas geplaas, so koffie en tee is geen probleem nie. Daar in die lieflike kombuis wil ’n mens kuier en gesels.

Cradock kan koud word in die winter, maar ek het ’n rukkie voor ek in die bed gespring het gewoon die elektriese kombers, standaard op elke bed, op 1 aangesit en het heerlik geslaap sonder om eers een van die dik donskomberse nodig te hê.

Loit Sōls

Mia Arderne

Die sitkamer en kombuis het sommer ’n fotoateljee geword toe ek die Saterdag skrywers uit die Paulet Huis in Somerset-Oos ontvang het.

Lisa Ker

Cradock is die ideale plek om konferensies aan te bied, en dit is ook een van die redes waarom Lisa Antrobus-Ker ’n dryfveer is agter boekfeeste soos die Schreiner Karoo Writers Festival en die Etienne van Heerden Veldsoirée. Laasgenoemde word saam met Darryl David, Suid-Afrika se boekfeesimpressario, aangebied.

David besit selfs een van die lieflike Tuishuise.

Laatmiddag het ek ’n koppie koffie gemaak en rustig in die agterplaas in die son gaan sit, welgeluksalig.

Etes in die Vic is iets waarmee jy jouself mag bederf. Die Wimpy oorkant die straat mag goedkoper wees, maar in die Manor kan jy in styl aansit by ’n wit damastafeldoek, silwer eetgerei en ’n heerlike vuur wat knetter terwyl jy stadig die drie verkwiklike gange eet.

Lisa se sussie is die sjef. Sy is egter nie een vir die kamera nie en verkies om deur haar kos te praat. En hoe!

Ontbyt is eweneens ’n bederf. Sondagoggend het ek vroegoggend my maag gaan volmaak, uitgeboek en na die Bergkwaggapark gery.

Voor ek nog in die park in is, kon ek al meerkatte en ’n bakoorjakkals op my lysie sit.

’n Koedoebul

Na die eerste vyf kilometer binne in die park was die spesietelling reeds meer as dubbeld die aantal kilo’s. (Met die prys van petrol dink ek dit is ’n goeie manier om waarde te bepaal.)

’n Eland

Daar is ook verblyf in die park. Soos dikwels die geval is, is akkommodasie in die nasionale parke basies, maar meer as aanvaarbaar. Die huisies gaan waarskynlik omtrent dieselfde uitwerk as om heerlik in die dorp te bly. Die afstand tussen die dorp en die park is klein, so ek weet watter opsie ek sou verkies.

Springbokke

In die park is daar wel ook kampstaanplekke wat heelwat goedkoper sal uitwerk.

’n Rooirugstreepkoppie

Ek hou van kamp, maar ek weet my geliefde sal in die winter dit nie waag in die Karoo nie. Die nagte raak koud, maar die dae is aangenaam. Vir my Europese familie sal winterdae in Cradock mals wees.

’n Volstruis

Dit was ’n heerlike sonskyndag toe ek in die park in is. By ontvangs was die temperatuur aangenaam, maar ek wou bergop. Helaas, daar bo was die temperatuur aansienlik laer, met ’n windjie wat jou laat ritteltit het.

Hierdie foto is op ongeveer 1 800 m bo seevlak deur my kamera, wat op ’n klip gestaan het, van my geneem. Dit was snerpend koud, en nie een enkele leeu het in my belanggestel op daardie hoogte nie.

Mphuthumi Ntabeni

Vroegmiddag is ek terug dorp toe om vir Mphuthumi Ntabeni te gaan ontmoet. Ntabeni is ’n bron van kennis oor dorpe in die Oos-Kaap, en oor literatuur. Sy tweede roman, The wanderers (uitgegee deur Kwela), is tans op die langlys van Sunday Times-fiksieprys.

Ek het toe so ’n bietjie deur die middedorp gestap.

Selfs die bank is ’n mooi gebou.

Die klein winkeltjies wissel – party is sjarmant, ander kry swaar. Hier is iets vir almal.

Wees gewaarsku: Dit is moeilik om weg te kom sonder om ’n windpomp te koop.

Aangesien die nasionale pad reg deur die hart van die dorp loop, is fotograwe altyd trots as hulle die lieflike ou NG Kerk van sandsteen kan afneem sonder ’n gedoente met 50 wiele voor. (Ek oordryf nie. Die voorhakers het agtien wiele en elk van die sleepwaens sestien.)

Die kerk se ontwerp is gebaseer op dié van St Martin-in-the-Fields op Trafalgarplein in Londen. Paul Kruger, latere president van die Zuid-Afrikaanse Republiek, is hier gedoop.

Ander bekende politici kom ook van hier. Vier name wat sinoniem is met Cradock, is Fort Calata, Matthew Goniwe, Sicelo Mhlauli, en Sparrow Mkhonto. Hulle is op 27 Junie 1985 by ’n padblokkade voorgekeer, deur polisie gearresteer en is uiteindelik vermoor. Vir hulle is ’n groot gedenktuin in Cradock opgerig.

Etienne van Heerden

Verskeie groot skrywers, soos Olive Schreiner, Guy Butler en Etienne van Heerden, kom van Cradock af.

Die huis waar Schreiner as kind gebly het, is nou ’n museum en besoekers kan daar gaan inloer.

Bibi Slippers

LitNet, Voertaal se sustersblad, het ook nou ’n skrywersresidensie begin om aan skrywers die geleentheid te bied om in een van die Tuishuise te bly en ’n maand lank gewoon net te skryf. Bibi Slippers is die eerste inwoonskrywer.

As jy moeg word vir die lewe in die stad, is hier ’n uitkoms! Pak die motor en gaan ontspan, of gaan skryf daardie roman!

Lees ook:

Die Schreiner Karoo Writers’ Festival, ’n fotoblad

Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywerskap

Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywer: Bibi Slippers oorgehaal vir die muse van die Karoo

Die Dylan Lewis-beeldetuin

Op die spoor van ’n wetenskaplike monnik

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top