Die Dylan Lewis-beeldetuin

  • 0

Die Dylan Lewis-beeldetuin net buite Stellenbosch is ’n sensuele ervaring.

Die beelde is natuurlik die rede waarom ons soontoe gaan (en weer wil gaan), maar die tuin is ’n kunswerk uit eie reg.

Lewis het die stuk ongebruikte grond gekoop en met grondverskuiwingsmasjinerie begin speel. Ná hy klaar “gespeel” het, is daar nou ’n verleidelike stuk kuns van sewe hektaar en ’n staproete van ongeveer 2 km om te geniet.

Elke deel van die tuin is beplan; die fauna is met sorg en rede aangeplant. Dit voel of jy in ’n botaniese tuin stap, maar oral duik daar dan beelde op.

My vriendin het opgemerk dat dit ’n bietjie voel soos om in ’n wildtuin te stap op soek na wild. Jy kom om ’n draai en skielik is daar diere of lywe tussen die grasse en die bosse te sien.

Wie is Dylan Lewis?

Die kanse is goed dat jy reeds een van Dylan Lewis se werke gesien het. Hy is een van die min lewende kunstenaars wat al ooit ’n soloveiling by Christie’s in Londen gehad het.

Voeg daarby die talle solo-uitstallings in plekke soos Londen, Parys, Sydney, Toronto, Houston en San Francisco, dan mag jy dalk besef hoe bekend hy is.

In Kaapstad is van sy beelde in openbare ruimtes; ’n hele paar staan byvoorbeeld in Kirstenbosch. Sou jy jong kinders hê, het een van hulle dalk selfs al op ’n Lewis-beeld gespeel – van die beelde in openbare ruimtes het ’n bordjie by wat mooi vra dat kinders ouer as 12 liefs nie daarop moet klouter nie.

Maak ’n afspraak en gaan ervaar die beeldetuin

Besoeke aan die beeldetuin moet gereël word; jy kan nie bloot opdaag nie.

Hier is ’n skakel met al die nodige inligting wat jou sal help om ’n afspraak te maak.

Bespreek vroeg, want die tuin is gewild.

Maak ook seker die inligting wat jy verskaf, stem ooreen met dié van die persone in die motor. Kontrole by die hek is streng.

’n Terloopse nota: Al is hulle streng oor tye en toegang, is hulle ook toegeeflik. My besoek het saamgehang met dié van ’n vriendin wat ’n ander afspraak moes nakom later die oggend. Ek het dit aan hulle verduidelik en ons is sonder probleme toegelaat om vroeër reeds te kon begin met ons toer.

Volg die nommers

Anargiste mag die tuin aandurf soos hulle dit goed dink, maar vir diegene wat Lewis se reis as kunstenaar wil meeloop, het hy die tuin só uitgelê dat ’n mens sy groei as kunstenaar al stappende kan ervaar.

Lewis se ouers was albei kunstenaars. Sy pa was veral bekend vir sy vindingryke beelde van voëls; sy ma en ouma was albei skilders.

In sy eie woorde was hulle “a religious fundamentalist family” – iets wat hy later sou moes leer aflê om die sensualiteit van menswees en die natuur te omarm.

Die tuin en die wandelroete is só uitgelê dat ’n besoeker Lewis se werk in verskillende stadia van sy lewe as kunstenaar kan beleef.

My kiekies dien as ’n lusmaker en probeer hoegenaamd nie die omvang van alles of die chronologie vasvat nie.

By ontvangs koop jy jou kaartjie en kry daarmee saam ’n kaart wat die aanbevole roete verduidelik én uitstekende inligting oor werke waarna ’n mens kyk en oor hoe die tuin uitgelê is.

Iets oor die besoek

Lewis het bewustelik van die oorspronklike geboue behou en in die tuin geïnkorporeer. Saam met bestaande strukture het hy ’n meer geskep, en ook heuwels en terrasse uitgelê.

Aan die begin van die staproete is die tuin baie noukeurig en kunsmatig uitgelê en die rondings van die bosse is wulps. Dieper in word die natuurlike omgewing belangriker.

Selfs in ou, gevestigde vrugteboorde duike beelde op.

Hierdie spel tussen natuur en kuns, wild wees en bewustelik vorm gee, word op verskillende plekke aan die stapper verduidelik.

Lewis is goed bevriend met Ian McCallum en het baie by hom geleer oor hoe om ’n interne wildheid ten beste uit te leef.

Hierdie gebou heet The Pavilion en is ’n aantal jaar gelede in Kirstenbosch opgerig om Lewis se werk uit te stal saam met woorde en denke van McCallum. Die hele gebou is daarna na die beeldetuin verskuif. Let op hoe die restio’s die gebou eggo soos ’n mens naderkom. Wildernis en bewuste vorm is die hele tyd in gesprek met mekaar.

Kleiner werke van Lewis word nou in The Pavilion uitgestal.

Verskeie bonsaibome kom ook in een deel van die tuin voor. Hierdie soort kuns is natuurlik ook ’n spel tussen die natuur en die mens se drang om te beheer.

Lewis het aanvanklik geskilder. In die ateljee wat digby ontvangs is, kan ’n mens van sy skilderye en sketse sien.

Soos ’n Da Vinci van ouds skets Lewis, en word die vorme daarna driedimensioneel omvorm.

Sy pa, Robin Lewis, was ’n goeie beeldhouer wat veral in voëls gespesialiseer het.

Kort ná Robin Lewis se afsterwe, op ’n redelik vroeë ouderdom, het die jong Dylan, wat toe nog ’n skilder was, begin om ook voëls in sy pa se toenmalige ateljee te vorm.

Die pa wat erg konserwatief Christelik was en sy seun het nie altyd oor dinge saamgestem nie en die jonge Dylan het skielik vryheid ervaar in die skep van voëls, wat terselfdertyd ook ’n raakvlak met sy pa kuns geskep het.

Tog moes hy onder sy pa se vlerk uitklim.

Dit was uiteindelik Dylan se belangstelling in die groot katte wat van hom ’n wêreldbekende figuur gemaak het. Hy het ’n tyd lank op ’n reservaat naby die Krugerwildtuin gaan bly waar hy luiperds kon bestudeer.

Hy het ’n studie van hulle bewegings en tegnieke gemaak.

Daar was ook, ewe-eens soos ’n Da Vinci van ouds, die geleentheid om disseksies op dooie diere te doen. Só kon hy spiere en spierbondels identifiseer.

Van ver af lyk Lewis se katte byna fotorealisties, maar dit is wanneer jy elke stuk in besonderhede beskou dat die kunsmatigheid, die bewuste los van ’n vinderafdruk, die skep van ’n bondel ontblote spiere, ’n mens opval. Sy katte is nie bloot realisties nie, hulle is ook brokstukke van kuns.

Dié fassinasie met spiere en broosheid sou ook maak dat Lewis gemakliker met die menslike liggaam kon begin omgaan.

Naaktheid was skielik nie meer ’n taboe soos in sy ouerhuis nie.

Die liggaam as spierbondel, die mens as ’n dier op aarde, al hierdie dinge het neerslag in Lewis se kuns gevind.

Daarmee saam het droom en werklikheid, mens en dier, goed en kwaad begin hande vat in sy beelde.

Van die werke straal seksuele genot uit.

Die liggaam word gevier.

Daar is pret in baie van hierdie beelde.

Daar is ook pret in die tuin ingebou. ’n Mens voel byna stout as jy by ’n tonneltjie inglip om na nuwe avonture te gaan soek.

Lewis sou later ook bekend word vir die enorme werke wat hy sou skep. Hier begin krag oorneem, die wildheid van energie verdring die bewustelike naboots van natuurlike vorme.

Hier in die tuin staan dié enorme beeld in gesprek met klippe, bome en die berge.

Daarnaas is ook talle klein beeldjies in die tuin.

Ook totemagtige figure word geplaas waar ’n besoeker saam met hulle vanaf ’n hoogte op die tuin kan afkyk.

My vriendin was besonder opgewonde oor dié meisie wat so, pootuit, aan die einde van die staptog na die res van die tuin sit en kyk.

Soos baie ander kunswerke is die Lewis-selfbeelde weggesteek – jy kom skielik op hom af.

Catharina, wat al heelwat meer gereis het as ek, sê dat sy nog net op twee ander plekke ’n soortgelyke kunservaring gehad het. Die eerste keer was toe sy Michelangelo se Dawid gesien het en die tweede was in Rodin se beeldetuin.

Groot woorde. Groot beelde. Klein beelde. Talle verrassings.

Koste en tydsduur

Vir die nuutste inligting, besoek gerus die webruimte.

Ons het R180 per persoon betaal, maar daar is afslag vir seniors en studente. Tans betaal kinders onder 18 nie om in te gaan nie.

Die webruimte stel ’n uur en ’n half per besoek voor. Ek sou dink dit is ’n minimum. Ons was byna drie ure daar en ons sou langer kon bly.

Lees ook:

Op die spoor van ’n wetenskaplike monnik

Michelin-sterre skitter in Stanford

Delft – juweel van Suid-Holland

Vakansie op die Veluwe

Sampai Jumpa Lagi, Indonesië – Memories van my 2016-trip Indonesië toe

Baviane van die Krugerwildtuin: Op reis na die familie?

Daar’s ’n hiëna in my truspieël

Greyton

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top