Delft – juweel van Suid-Holland

  • 0

Delftse blou porselein (Foto: Pixabay)

Die naam Delft klink dalk bekend – daar is immers ook ’n Delft in Suid-Afrika – maar dit is dalk nie die eerste plek waaraan ’n mens dink as jy Nederland besoek nie.

Die stad is ’n klipgooi van Den Haag – ’n mens kan sommer met die trem van Den Haag af ry, maar daar is ook ’n goeie treinverbinding met ander stede in Nederland.

Wat om te sien

Die stadshuis

Delft spog met ’n pragtige historiese stadskern. Begin jou besoek hier op die plein waar jy die Middeleeuse Stadshuis kan besigtig en die reusagtige Nieuwe Kerk kan gadeslaan. Die plein is omring deur eetplekke – van bekostigbaar tot aan die dure kant. Op ’n sonnige dag kan jy lekker agteroorsit en ’n biertjie geniet en in die koeler weer kan jy jou verlustig aan ’n egte Hollandse stoofpotje. Langs die Nieuwe Kerk vind jy ook die VVV (Vereniging voor Vreemdenverkeer) oftewel die toeristeburo. Hier kan jy meer uitvind oor begeleide wandelroetes of ’n vaart op die gragte. Sommer voordat jy nog by die toeristeburo aanmeld, kan jy die historiese Nieuwe Kerk verken. As jy fiks genoeg is, kan jy ook die hoë toring uitklim en die uitsig oor die stad bewonder. Kaartjies met inligting oor beide die Nieuwe Kerk en Oude Kerk is by die ingang van die Nieuwe Kerk beskikbaar.

Nieuwe Kerk – skat van die koningshuis

Nieuwe Kerk, Delft

Bouwerk aan die kerk se eerste gebou, van hout, het in 1381 begin en die gebou is in 1382 ingewy. Twee jaar later is begin om die basiliek van steen om die houtkerk te bou.

Die praalgraf

Die kerk is egter meer bekend as laaste rusplek van die koninklikes, die Oranjes. Dit is duidelik sigbaar aan die praalgraf van Willem van Oranje – die Vader des Vaderlands – agter in die kerk. Tydens die Tagtigjarige Oorlog was die Oranjes die belangrikste maghebbers in Nederland, met die stad Breda as vesting. Toe Willem van Oranje in 1584 vermoor is, kon hy egter nie in Breda begrawe word nie, omdat dié stad onder Spaanse besetting was. Omdat Willem van Oranje I ’n residensie in Delft gehad het, is die stad as sy laaste rusplek gekies. Die indrukwekkende praalgraf is in 1623 bo-op sy graf opgerig. Sedertdien is die grafkelder in die Nieuwe Kerk die laaste rusplek van 45 lede van die Huis van Oranje en die Huis van Oranje-Nassau. Prins Bernhard is die laaste koninklike wat hier begrawe is, op 11 Desember 2004.

Antoni van Leeuwenhoek-roete

Antoni van Leeuwenhoek se tuinhek

Op hierdie wandelroete van 55 minute loop jy terug in die tyd van die VOC, skilders soos Johannes Vermeer en Pieter de Hooch, asook wetenskaplikes soos Antoni van Leeuwenhoek, die grondlegger van die mikrobiologie, wat met sy selfgemaakte mikroskope bakterieë en spermatosoïede ondersoek het. Die roete begin by Oostpoort – die enigste oorblywende stadspoort van Delft. Besoekers kan langs die roete Antoni van Leeuwenhoek se geboortehuis, die Nieuwe Kerk en die Meisjeshuis besoek.

Keramiekroete

Openbare kuns

Dié roete van 60 minute neem jou deur sekerlik die bekendste produk van die stad – Delftse blou porselein (sien generiese foto bo). Langs die roete besoek jy openbare keramiekkunswerke, die Royal Delft-museum en pottebakkerye. By die Royal Delft-museum kan jy op ’n begeleide toer gaan om te sien hoe word die Delfts blou-produkte gemaak in die enigste nog bestaande fabriek van Delfts blou. Daar is ook ’n winkel waar jy egte Delft-porseleinprodukte kan koop en geskenke vir vriende in Suid-Afrika.

Rembrandt van Rijn se skildery "Die nagwag" herskep in teëls van Delftse blou

Loop deur die tuin van Museum Prinsenhof en volg die blouwit keramiekstene en leer ken die onverwagse voorwerpe wat maak dat Delft die Keramiekstad genoem word.

Openbare kuns

Vermeer-wandeling en die Vermeer-sentrum

Delft is nie net bekend vir sy keramiekwerk, geskiedenis en wetenskap nie. Dit is ook die stad van die 17de-eeuse skilder Johannes Vermeer, bekend vir sy werke Meisie met die pêrel en Die melkmeisie. Al langs die roete ontdek jy die plekke wat ’n belangrike rol in Vermeer se lewe gespeel het: sy geboortehuis, woonhuis, en plek waar sy skildery Die straatjie geskilder is. Die roete loop langs ses Vermeer-kubusse, almal met inligting oor die plekke in Vermeer se lewe.

As jy klaar gewandel is, kan jy sommer by die Vermeer-sentrum ’n draai maak. Hier kan jy reproduksies van al sy skilderye sien, en meer leer oor Vermeer en die tegnieke en simbole wat hy in sy skilderkuns gebruik het. Die beste manier om die museum te verken is tydens ’n rondleiding met ’n gids. Oudiotoere is ook beskikbaar.

Steeds by Vermeer: As jy ná al die wandelinge, Delfts blou en skilderkuns nog asem oor het, kan jy Vermeer se graf in die Oude Kerk besoek. Kaartjies vir toegang tot die kerk kry jy ingesluit by jou besoek aan die Nieuwe Kerk. Dié kerk se skewe toring is een van die bekendste landmerke van die stad. Die stadsvaders was in die Middeleeue nie bewus van die onstabiele grond waarop die kerktoring gebou is nie. Dit het egter tydens die bouproses merkbaar geword. Om die probleem reg te stel, is gepoog om die toring verder meer regop te bou – van daar die knik in die toring. Die grond is gelukkig intussen gestabiliseer en die toring sak nie verder weg nie.

Oude Kerk

Behalwe Vermeer se graf is ook dié van Antoni van Leeuwenhoek en die seevaarder Piet Hein in die kerk se grafkelder. In die kerk self kan jy die praalgraf van die seevaarder Maarten Tromp sien. In beide die Oude Kerk en die Nieuwe Kerk is daar gereeld orreluitvoerings. Kennisgewings is gewoonlik op die voordeur vasgeplak, of besoek https://oudeennieuwekerkdelft.nl vir meer inligting.

'n Grag in Delft

Om die dag af te sluit kan jy ’n welverdiende biertjie of glasie wyn by een van die restaurante langs die gragte of op die Grote Markt drink. Of bly sommer vir aandete! Proost!

  • Fotografie: Milton Webber, tensy anders vermeld
Lees ook:

Marken en Volendam

Vakansie op die Veluwe

Sampai Jumpa Lagi, Indonesië – Memories van my 2016-trip Indonesië toe

Baviane van die Krugerwildtuin: Op reis na die familie?

Greyton

Reis in die tyd van die korona: Die wysheid van die meeue

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top