As Suid-Afrikaners aan Nederland dink, dink hulle baie keer aan Amsterdam met sy rooiligdistrik, winkels waar jy kan dagga rook, klompe en windmeulens. Maar Nederland as vakansieland bied veel meer as hierdie dinge.
Die Veluwe (met die klem op die eerste lettergreep) is ’n bosryke gebied in die provinsie Gelderland en beslaan sowat 1 000 vierkante kilometer. As ’n vakansie in die bos jou ding is, is dit die perfekte bestemming vir jou. Die gebied sluit ook ’n paar nasionale parke in, waaronder Het Nationaal Park de Hoge Veluwe en Het Nationaal Park Veluwezoom.
Die keer het ons gaan kuier in die vakansieoord Veluwschkarakter in die boomryke dorp Vierhouten. Net die regte plek as jy wil rus en die stilte van die natuur wil geniet. Hier kan jy kies om in ’n tent of ’n woonwa te kampeer, of jy kan een van die chalets of houthutte huur. Ons het ’n chalet gekies. Die plek is aan die klein kant, maar netjies en alles wat jy nodig het vir ’n rustige vakansie. Daar is ’n goedtoegeruste kombuis met skottelgoedwasser, yskas, 4-plaat-gasstoof en ’n kombinasiemikrogolfoond. Daar is ook genoeg eetgerei, potte, panne, bakke en borde, en selfs beddegoed. Bring net jou eie kos – dit is nie ingesluit nie.
Die chalet het ’n heerlike stoep met tuinmeubels waar jy lekker om die tafel kan kuier as die weer dit toelaat. Die chalets is verskillende groottes. Die een wat ons gekry het, het twee slaapkamers – een met ’n dubbelbed en een met ’n enkelbed. Daar is genoeg hangplek vir klere en ’n plek waar jy kan sit en werk. Op die televisie kan jy na Nederlandse, Duitse en Britse kanale kyk.
Wat om te doen?
Die beste manier om die omgewing te verken is te voet langs die onderskeie wandelroetes of – jy’t reg geraai – met ’n fiets. Daar is verskeie fietsroetes in die omgewing en ’n gratis gids is by ontvangs beskikbaar. Vir meer inligting oor fietsroetes, besoek routesopdeveluwe.nl. Ons het besluit om elektriese fietse by Hazeleger teen €22,50 per dag te huur. Hazeleger is in die buurdorp Nunspeet geleë, maar hulle was bereid om die fietse hier in Vierhouten op die kampeerterrein af te laai. Vir meer inligting, kyk by www.fietsverhuurhazeleger.nl. Die omgewing is redelik plat, so ’n mens het eintlik glad nie ’n elektriese fiets nodig nie. Alle roetes is duidelik met pale by kruispunte gemerk, so jy sal nie sommer verdwaal nie – al het jy nie ’n navigasiestelsel by jou nie.
Het Verscholen Dorp
Die roete wat ons gekies het, loop onder andere verby die Verscholen Dorp. Die herboude en bewaarde skuildorp het tussen 1943 en 1944 as veilige hawe vir Jode en ander voortvlugtendes van die Nazi-besetting gedien. Sommige van die huise was half ondergronds – soos op die foto’s te sien is. Die dorp is egter later tydens die besetting ontdek. In die proses moes agt mense – onder wie ’n sesjarige seuntjie – met hul lewens daarvoor boet. Begeleide toere na die dorp kan gereël word. Meer besonderhede kan by verscholendorpvierhouten.nl gevind word.
Kleinste stad van Nederland
Tussen die bosse en heidevelde deur kom ’n mens uiteindelik ook by die “kleinste stad van Nederland” – Staverden. Die landgoed is tussen die dorpe Ermelo en Elspeet in ’n skilderagtige omgewing geleë en bestaan uit ’n landhuis, koetshuis, ’n wintertuin en ’n aangelegde park. Staverden het ’n lang geskiedenis. Dit is deur die hertoë van Gelre as jagslot gebruik. Die wagte van die kasteel moes ook die wit poue, wat vandag nog op die landgoed is, versorg. Die poue se vere is gebruik om die helms van die graaf mee te versier. Die huidige kasteel is in 1904–1905 deur Frederik Bernard s’Jacob, die voormalige burgemeester van Rotterdam, gebou. Ná sy dood is die kasteel deur sy seun, Herman, bewoon. Sy erfgename het op hul beurt die grond met landhuis aan die organisasie Het Geldersch Landschap & Kasteelen verkoop. Daarna is die kasteel as hotel gebruik. Sedert 2016 is die kasteel egter weer in die hande van Geldersch Landschap & Kasteelen en word tans onder andere vir troues gebruik.
Ná ’n halfuur se rit op die fiets is dit sekerlik tyd om jou dors te les. Maak dan ’n draai by die Uddelaer-brouery. Dit is op die landgoed reg oorkant die imposante Staverden-kasteel uit 1853 geleë. Hier kan jy kyk hoe die beroemde Uddelaerbier gebrou word en kan jy ’n heerlike Uddelaerbiertjie buite op die terras geniet. Vir meer inligting, besoek https://www.uddelaer.nl.
Op die landgoed self kan jy deur die pragtige tuine wandel, verder fietsry op een van die fietsroetes, of ’n versnapering in die Brasserie geniet. As jou begroting ’n bietjie knap is, kan jy ’n heerlike piekniekmandjie pak en voor die kasteel geniet by die houttafels wat daarvoor aangebring is.
Kasteel Cannenburch
Nog ’n kasteel wat die moeite werd is om te besoek, is Kasteel Cannenburch in Vossen – sowat 40 minute op die fiets vanaf Vierhouten.
Die kasteel het oor die eeue heen aan verskeie (adellike) families behoort en is op die ruïne van ’n Middeleeuse kasteel gebou. Na die Tweede Wêreldoorlog is die kasteel gekonfiskeer en die inhoud opgeveil; die portrette wat al geslagte lank in die kasteel gehang het, is verbied om verkoop te word. In 1951 is die kasteel aan die organisasie Geldersch Landschap & Kasteelen oorgedra en ’n jaar later is dit vir die publiek oopgestel. Tussen 1976 en 1981 is dit gerestoureer. Danksy die pogings van Geldersch Landschap & Kasteelen is verskeie oorspronklike voorwerpe terugbesorg, waaronder besondere meubelstukke, silwer en selfs ’n 16de-eeuse kokosneutbeker. Die kasteel kan binne besigtig word en kaartjies is op die terrein beskikbaar.
Daar is ook ’n restaurant waar jy heerlike Hollandse geregte, en natuurlik pannekoek, kan geniet.
Jy kan ook op een van die roeiswane op een van die damme rondvaar of in die groentetuin verdwaal. Om die kasteel is daar ook verskeie fietsroetes. Vir meer inligting sien cannenburch.glk.nl.
Sensasionele sandbeelde
Ongeveer 15 km vanaf Vierhouten vind jy die bekende beeldetuin in Garderen. Die tuin bestaan al 25 jaar en is deur Adri en Joke van Ee begin, maar pas in 2009 het die eerste ’t Veluws Zandsculpturenfestijn plaasgevind. Die fees word elke jaar om ’n bepaalde tema gehou. Vanjaar se tema fokus op die Tweede Wêreldoorlog. Benewens belangrike veldslae soos die Slag om Arnhem en D-Dag, word ook die bevryding, die lewe van Anne Frank en die Koningshuis uitgebeeld. Die sandbeelde is elke jaar van April tot Oktober te sien. Vir meer inligting besoek zandsculpturen.nl.
Eén van de leukste activiteiten op de #Veluwe is weer open: 't Veluws Zandsculpturenfestijn in #Garderen. Reserveer nu online je kaartje en geniet van de prachtige zandbeelden. Dit jaar in het thema '75 jaar vrijheid'. Meer info op: https://t.co/0a1uwU0THQ #GoBarneveld pic.twitter.com/sk3VMrh7uR
— ✍ JurgenHillaert ⭐⭐⭐⭐ (@JurgenHillaert) June 8, 2021
Aan die einde van so ’n kultuurryke fietstog in die bosse is daar niks lekkerder om die aand af te sluit met ’n lekker biertjie of ’n glasie wyn buite in die bos nie. Proost!
- Teks en fotografie: Milton Webber
Lees ook:
Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Mentje, kind van Pas-Opkamp deur Irma Joubert
Sampai Jumpa Lagi, Indonesië – Memories van my 2016-trip Indonesië toe