Dit sal ’n tragedie wees as Amerikaanse hulpfinansiering aan Suid-Afrika opgeskort word in reaksie op die Onteieningswet soos wat president Donald Trump van Amerika dreig om te doen.
So waarsku die DA na aanleiding van die bohaai wat in Suid-Afrika losgebars het oor Trump se omstrede dreigement.
Die DA, wat sterk gekant is teen onteiening sonder vergoeding, sê in ’n verklaring dit is nie waar dat die wet toelaat dat die staat arbitrêr op grond beslag kan lê nie. Dit vereis wel billike vergoeding vir wettige onteienings ingevolge artikel 25 van die Grondwet.
Die DA, wat die ANC se grootste vennoot in die RNE is, sê hulle neem met diepe kommer kennis van Trump se dreigement om kritieke hulpfinansiering in reaksie op die Onteieningswet te besnoei.
“Alhoewel die Wet gewysig moet word om te voldoen aan die volgordevereistes soos uitgelig deur die minister van openbare werke en infrastruktuur, Dean Macpherson, is daar ook geleenthede om ander bekommernisse wat sedert die bewering oor die betrokke wet in die publiek geopper is, te hanteer,” sê die party in hulle verklaring.
Die RNE is tans in die proses om die Trump-administrasie te betrek om die situasie op te klaar. Die DA sê hulle ondersteun hierdie pogings.
“Eiendomsreg is die grondslag vir die sukses van ons ekonomie, en die DA sal altyd veg om te verseker dat dit ten volle beskerm word.”
Die DA sê dit is jammer dat individue probeer het om hierdie wet uit te beeld as ’n wysiging aan artikel 25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.
Volgens die DA het hulle reeds enige verandering aan artikel 25 van die Grondwet, wat eiendomsreg beskerm, suksesvol teengestaan. Die party sê hulle sal voortgaan om te verseker dat die Wysigingswet op Onteiening in alle opsigte grondwetlik gesond is.
Reuters berig dat die VSA $440 miljoen (sowat R8 miljard) aan Suid-Afrika toegewy het in 2023. Die meeste hiervan ondersteun MIV- en TB-gesondheidsdienste. Dit is lewensreddende hulp wat ook duisende Suid-Afrikaners in diens het.
Hierdie befondsing is noodsaaklik vir die handhawing van lewensreddende MIV/Vigs-behandeling en ondersteuningsdienste vir die kwesbaarste lede van die samelewing. Boonop vloei miljoene Amerikaanse dollar na Suid-Afrikaanse NRO’s en staatsdepartemente vir humanitêre en omgewingsprogramme wat die land se kwesbaarste gemeenskappe direk bevoordeel.
Dit sal volgens die DA ’n tragedie wees as hierdie befondsing beëindig word weens ’n wanbegrip van die feite.
Al Jazeera het in 2018 berig dat AfriForum in die VSA was om staatsamptenare se simpatie te werf oor die moorde op wit boere en om beleggers te waarsku oor die regerende ANC se voorgestelde plan om grond sonder vergoeding te onteien. AfriForum het destyds ’n verklaring uitgereik waarin hulle “president Trump se aankondiging dat die VSA onteiening gaan ondersoek”, verwelkom het.
Maandag het AfriForum in ’n verklaring gesê hulle gaan ’n amptelike skrywe aan die Amerikaanse regering rig en versoek dat strafmaatreëls wat Trump teen Suid-Afrika wil instel, eerder senior ANC-leiers direk moet teiken en nie Suid-Afrika se inwoners nie.
Die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum deel is, het gesê hulle sal later vollediger op Trump se uitsprake oor Suid-Afrika reageer.
Die redakteurs van die webwerf GroudUp, wat verslag doen oor menseregtestories, sê in ’n meningstuk AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, moes hom en sy organisasie beslis nie in ’n posisie bevind het waar hulle bygedra het tot hierdie aaklige situasie nie.
GroundUp sê Kriel kan wys hy is verbind tot die demokratiese proses in Suid-Afrika deur ’n beroep op Trump te doen om geen sanksies teen Suid-Afrika in te stel nie, insluitend teen ANC-lede of Ramaphosa. Volgens GroundUp behoort dit AfriForum nie te keer om sy politieke doelwitte na te streef nie.
Lees ook:
"[Amerika] is ons woning nie": Ramaphosa en Trump se trompop botsing
Trump ontketen ’n storm in Suid-Afrika oor grondonteiening sonder vergoeding
Straight shot: Tembeka Ngcukaitobi about the Expropriation Act
Praktiese wenke as onteiening sonder vergoeding jou in die gesig staar