Daniel Hugo oor digterlike gesprekke, Vers & Kapittel II en welkome hulde aan Ina Rousseau

  • 0

Die poësie en sy beoefenaars kort voortdurende bekendstelling en bewusmaking, sê Daniel Hugo, ’n meermaal bekroonde vertaler en digter in ’n gesprek oor sy tweede versamelbundel oor die digkuns, Vers & Kapittel II (en hy werk reeds aan ’n derde versameling). Hy is ook die redakteur van ’n belangrike bestekopname en huldiging van Ina Rousseau, Digter van die kwiksilwerwoord, wat pas verskyn het. Hy het met Willem de Vries oor gedigte, digters en brûe tussen letterkundes gesels.

In jou bundel Vers & Kapittel I en die onlangse Vers & Kapittel II skenk jy aandag aan (uiteenlopende) kanoniseerders van poësie in Afrikaans en in die Lae Lande. Jy neem hierdie rol self organies aan deurdat jy keure uit Nederlandse digters se poësie maak en dan in Afrikaans vertaal. Tradisie, vernuwing en ’n gesprek oor soorte gehalte word op velerlei maniere in hierdie bundels gevoer. Hoe beskou jy die taak van ’n digter-kanoniseerder, veral waar dit gaan om die dinamiese bande tussen Afrikaans en Nederlands in ’n meertalige konteks?

Digters as kanoniseerders is van groot belang – of dit nou as resensent, vertaler, bloemleser, onderhoudvoerder, voorleser of programsamesteller is. Die poësie en sy beoefenaars kort voortdurende bekendstelling en bewusmaking. Die digkuns moet toeganklik en interessant gemaak word om lesers te lok. Die kanon wat deur akademici saamgestel word, is altyd beperk van omvang, want die maatstaf is die geskiktheid daarvan vir wetenskaplike navorsing en onderrig. Nog ’n maatstaf is wat op ’n spesifieke tydstip polities korrek en byderwets is. Op dié manier is steeds dieselfde klompie digters ’n teenwoordigheid op kampusse, by kongresse en in akademiese publikasies.

.....

Ina Rousseau was ’n uitsonderlike komponis van die versklank.

.....

As redakteur van Digter van die kwiksilwerwoord is jy daarmee getaak om ’n huldigingsbundel oor Rousseau byeen te bring as deel van die reeks van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns oor Hertzogpryswenners. Vroeër het jy ook ’n keur uit haar werk, Die stil middelpunt, saamgestel. Met die verskeidenheid bydraes in die huldigingsbundel bied jy ’n onlangse bestekopname en verdere insae in haar digterskap, prosawerk en ondergewaardeerde aspekte soos haar vertalings uit verskeie tale en uit haar eie werk. Jou aandag aan haar werk en inbring van verskeie kenners doen veel om haar poësie en vakmanskap opnuut op die voorgrond te plaas. Haar werk is ook deel van die gesprek in die Vers & Kapittel-bundels. Wat aan haar vakmanskap en temas beskou jy vandag as van blywende waarde en belangrik vir die gesprek in die poësie tussen tradisie en vernuwing? 

Ina Rousseau was ’n uitsonderlike komponis van die versklank. Sonder om volledig staat te maak op volrym kon sy met alliterasie en assonansie ’n klankruimte skep wat die leser meevoer en oorrompel. Die ware betekenis van haar verse vind ’n mens in die orkestrasie van klank. Dit bereik ’n hoogtepunt in lang gedigte soos “Die krieke weet” (oor Uys Krige) en “Twis”, maar ook in kort verse soos “Die kersieboom”. Die laaste vier reëls daarvan klink só:

In die tyd van ranonkels en rose
bemark hy sy produkte, die albasterklein
balronde karbonkelrooi verpakkings
tot barstens toe volgeprop met fruktose.

Dit is opvallend dat Ina se Engelse vertalings van haar gedigte – wat vir die eerste keer volledig in hierdie bundel gepubliseer word – ewe klankbewus is as die oorspronklikes in Afrikaans. Die slotreëls van “Die kersieboom” lui soos volg:

            He markets his products in the season
            of the ranuncula and the rose:
            the marble-sized ball-round ruby-red
            containers crammed with fructose.

Dit is veral haar klankvirtuositeit wat ’n heilsame invloed op digters sedert die tagtigerjare van die vorige eeu gehad het. Ek dink aan Lucas Malan, Zandra Bezuidenhout en veral aan Johann de Lange. Hy het dan ook uit erkentlikheid ’n aantal gedigte aan Ina opgedra, en dit is waaroor my artikel in die huldigingsbundel handel. Net soos Ina, skryf Johann byvoorbeeld ’n gedig oor ’n maraboe. Die beskrywing van dié afstootlike aasvoël eggo Ina se tipiese versklank:

            Rondom ’n karkas
            klapper sy snawel skerp
            soos messegoed:
            hy kwaak & sis
            twis oor elke kriesel
            met sy grieselige
            eetgenote ...

Benewens en aansluitend by die tema van die Tuin van Eden wat op ’n genuanseerde wyse dwarsdeur haar oeuvre opduik, het Ina Rosseau van die interessantste huweliksverse in Afrikaans geskryf. In haar tweede bundel, Taxa van 1970, staan byvoorbeeld die klassieke gedigte Korsmos 1, Korsmos 2 en Die laer waarin die uitgebreide metafoor as ’t ware ’n eie lewe en stukrag kry.

In my voorwoord by die bundel skryf ek: “As persoon was sy nooit in die kollig nie, maar sy het soos ’n ster aan die firmament gestraal vir dié wat meer van ’n skrywer verwag as strydkrete en selfreklame. Sy was ’n eindeloos presiese en perfeksionistiese samevoeger van klinkende frases wat langsaam oor ’n tydperk van vyf dekades soos ’n koraalrif aangegroei het tot verse, digbundels en ’n indrukwekkende oeuvre.”

.....

In die kort bestek van ’n gedig maak die onverstaanbare soms wel sin.

.....

In Vers & Kapittel II is jy in artikels, rubrieke, resensies en verskeie onderhoude aan die woord, oor jou eie poësie, asook dié van ander digters. Jy bied ook insae in die werk van diegene van wie jy gedigte in Afrikaans vertaal het. As leser en navorser stel jy ook belang in aspekte soos sinkronisiteit en om vergelykend te lees. Jy skryf dat poësie die lewe vir jou sinvol maak. Wat aan (Afrikaanse en Nederlandse) poësie is vandag vir jou dermate boeiend dat jy hierdie genre speurend en stip lees en daaroor skryf?

Dit is nie net die hedendaagse Afrikaanse en Nederlandse digkuns wat my boei nie – dit is die verskynsel poësie as sodanig en die talle vorme wat dit kan aanneem. Ek vind in die poësie die metafisiese en transendentale dimensie wat die godsdiens my nie kon bied nie. Vir die Christengelowige het die boaardse Woord vlees geword; in ’n geslaagde gedig gebeur die omgekeerde: die alledaagse, die vleeslike word Woord. En dit het psigies gesproke ’n bevrydende krag, dit verryk en verruim die lewe wat alte maklik benouend en beangstigend kan wees. In die kort bestek van ’n gedig maak die onverstaanbare soms wel sin.

In Vers & kapittel II kom volop helder formulerings en aforismes voor. Dit is ook só geskryf dat ’n groter leespubliek dit kan interessant vind. Vers & Kapittel II sluit in fabrieksgeheime oor die maak van gedigte en literêre vertaling, interessante agtergrondinligting en anekdotes. Vertel asseblief meer hieroor.

Daar bestaan maar net ’n handjievol bekwame lesers van gedigte. Die voorkoms van ’n gedig op die bladsy – waar die sinsgeledinge nie noodwendig saamval met die versreëlverdeling nie, die sogenaamde enjambement – verwar die oog. Daarom is daar veel meer mense wat liewer na poësie sal luister wat deur professionele vertolkers voorgelees word, soos op die radio en by kunstefeeste.

’n Verdere afskrikmiddel is die wyse waarop akademici met die digkuns omgaan – meestal aan die hand van die jongste, kortstondige teorie. Dit is natuurlik vir ’n gehoor van mede-akademici bedoel, maar dié aanslag kom ook voor in koerantresensies wat kwansuis op ’n breër publiek gerig sou wees.

.....

Ek het die Engelse, Nederlandse en Afrikaanse digters veral leer ken deur biografieë waarin hul werk onlosmaaklik verknoop word met hul persoonlike lewe en met die literêre wêreld en tydperk waarin hulle aktief was.

.....

Ek het die Engelse, Nederlandse en Afrikaanse digters veral leer ken deur biografieë waarin hul werk onlosmaaklik verknoop word met hul persoonlike lewe en met die literêre wêreld en tydperk waarin hulle aktief was. Dié boeke is altyd vol anekdotes, persoonlike stories en ander “agtergrondinligting”. Dit is wat die leser se belangstelling prikkel en hom help om moeiteloos ook die literêr-historiese feite te verteer.

Sekere biografiese inligting is by sekere digters ’n voorwaarde tot begrip. In die geval van William Rowland moet die leser weet dat hy blind is, anders sal sy “uitkyk” op die wêreld en sy beeldspraak onverstaanbaar bly. In een gedig sê hy byvoorbeeld: “ek was my hande skoon soos motorruite”. In die geval van TT Cloete is dit belangrik om te weet dat hy ’n polio-slagoffer was. Ensovoorts.

Jy skryf oor onder andere digters se reaksie op mekaar se werk. In Vers & kapittel II lees ’n mens Breyten Breytenbach is oor bundels heen “’n kosmiese oerkrag waarsonder Afrikaans ondenkbaar” is, ook oor Benno Barnard van wie jy die bundel Het Trouwservies vertaal het. Jy skryf oor Barnard se tegniese vernuf wat “soos water vloei”. Op LitNet en Voertaal is onlangs voorheen ongepubliseerde verse van Barnard geplaas tesame met jou Afrikaanse vertalings daarvan. Breytenbach het op sy beurt op Barnard se gedigte gereageer met ’n eie gedig. (En Barnard het by ’n vroeëre geleentheid ’n gedig aan Breytenbach opgedra.) By die lees van Vers & Kapittel II en ook hoe meer ’n mens dink aan albei digters se betrokkenheid by en verweefdheid met Afrikaans, Nederlands en poësie, word daardie gesprek ál ryker. Boonop handel die eerste artikel in jou bundel oor die eeue lange beskouing en verband wat daar bestaan tussen voëls, digters en die poësie. Watter ander soort gesprekke in die digkuns waaroor jy in Vers & kapittel II skryf, het vir jou verrykende leesmoontlikhede gebied en hoekom?

Daar is talle. As ons bly by die ooreenkomste tussen voëls en digters, en die wisselwerking tussen die Nederlandse en Afrikaanse digkuns, kan ek wys op die artikel “Boerneef en die Nederlandse digkuns”. Boerneef se affiniteit vir die romantiese digters JC Bloem, Adriaan Roland Holst en JJ Slauerhoff is iets wat al in die verlede uitgewys is, onder andere deur Chris van der Merwe, Boerneef se nefie, in sy boek Tromboniusdagboekenkaart.

Ek dink ek is die eerste een wat die invloed van die Nederlandse Tachtiger Willem Kloos in ’n gedig van Boerneef kon uitwys. Dit gaan oor “Hoe stil kan dit word …” en Kloos se “Nauw zichtbaar wiegen …” Ek wys op die ooreenkomste en verskille tussen die twee gedigte. In albei speel voëls byvoorbeeld ’n belangrike rol. In Boerneef se vers word die digter by implikasie met die tortel geassosieer: “Hoe stil kan dit word as Sedoos gaan lê / wie kan dit mooier as die tortel sê”. By Kloos word die digter se onrustige hart versimboliseer deur ’n voël wat in die laatskemer nog verbyvlieg.

Sover my kennis strek, is die ooreenkoms tussen DJ Opperman se gedig “Edms. Bpk.” en Robert Louis Stevenson se “My House” ook nog nie voorheen uitgewys nie. En so brei die web van intertekste uit soos wat mens in die wêreldletterkunde aanhou lees.

Jy het lank as ’n spesialis-radio-omroeper gewerk. Wat het dit bygedra tot hoe jy vandag poësie lees en daaroor dink?

Oor die tydperk van twee dekades het ek as regisseur van die poësieprogram na die beste Kaapse voordragkunstenaars geluister: Johan van Jaarsveld, Johann Nel, Margot Luyt, Juanita Swanepoel, Sandra Temmingh, Marko van der Colff, Nic de Jager en ander. By hulle het ek geleer presies hoe om die uitdaging van die enjambement te navigeer. Hulle het by my ook die noodsaak van korrekte pousering en frasering tuisgebring. Hopelik het my eie gedigte as gevolg daarvan mettertyd ritmies interessanter geraak. Sedertdien probeer ek ook gedigte skryf wat die oog én die oor bevredig.

In Afrikaans bestaan oor dekades heen ’n tradisie van beoefenaars van die digkuns wat ook literêr-teoreties daaroor skryf. Wie beskou jy as (steeds) rigtende voorbeelde vir die tradisie waarbinne jy poësiekritiek beoefen? Hoe sien daardie tradisie in Afrikaans vandag daaruit?

Wat ek van die digkuns as ambag en kunde weet, het ek geleer uit die opstelle van DJ Opperman, AP Grové, PD van der Walt, Ernst Lindenberg en Merwe Scholtz. Hulle was almal akademici wat sonder die kruk van die literatuurwetenskap intelligent oor gedigte kon skryf. Opperman en Scholtz was natuurlik self digters. Scholtz was wel op die hoogte van die kontemporêre literatuurteorie, maar dit het nie in die pad kom staan van sy natuurlike insig en gesonde verstand nie.

.....

Die hedendaagse digtende kritici wat my beïnvloed het, was veral die Vlaming Herman de Coninck, asook die Nederlanders Gerrit Komrij en Ilja Leonard Pfeijffer met hul rubrieke, resensies en opstelle oor digters en die digkuns.

.....

Die hedendaagse digtende kritici wat my beïnvloed het, was veral die Vlaming Herman de Coninck, asook die Nederlanders Gerrit Komrij en Ilja Leonard Pfeijffer met hul rubrieke, resensies en opstelle oor digters en die digkuns. In Afrikaans kan ek ongelukkig niemand uitwys nie.

Gedrukte boeke kry mettertyd ’n eie persoonlikheid en word soms die bewakers van intieme en unieke ervarings, anders as elektroniese tekste, mede deur invoegings en aantekeninge, laat jy blyk. Wat tel onder jou gunstelingvoorbeelde hiervan en hoekom? 

Jy verwys na die rubriek “’n Padda en ’n akkedis”. Daarin vertel ek hoedat ek in besit gekom het van enkele van die Engelse digbundels uit Ernst van Heerden se versameling. Een daarvan is die Amerikaanse digter Richard Wilbur se Ceremony and other poems. Toe ek daardeur blaai, kom ek by die gedig “The death of a toad” af op die volgende inskripsie: “for Ernst van Heerden / and his lizard / with very best wishes, / Richard Wilbur”. In sy reisboek Etikette op my koffer (1961) vertel Van Heerden hoe hy tydens ’n studiereis in die VSA ’n paar beroemde digters besoek het, ook Wilbur. Die “lizard” waarvan die Amerikaner in sy opdrag praat, verwys na Van Heerden se “Dood van die akkedis” wat heelwat ooreenkomste met die Engelse padda-gedig toon. Van Heerden het hom uiteraard daarop attent gemaak.

Dit is ’n voorbeeld van die onverwagte vreugdes wat bibliofilie kan oplewer. Danie Marais het ’n pragtige gedig oor so ’n ervaring geskryf in sy bundel Al is die maan ’n misverstand. Daarin vertel hy hoedat hy ’n eksemplaar van Eugène Marais se Versamelde gedigte by ’n liefdadigheidswinkel aangeskaf het. Voorin die boek staan: “Jacobus Viljoen 1942”. En die hele boek wemel van aantekeninge. In die gedig reageer Danie Marais dan spesifiek op Jacobus se kantlyntekeninge by “Winternag”. Maar dit is ’n storie vir Vers & Kapittel III.

Uit onder andere die digter en bloemleser Gerrit Komrij se poësie het jy ’n keur gebundel en die gedigte as Die elektries gelaaide hand vertaal. Sy poësie is wat vorm betref, tradisioneel hoewel die inhoud daarvan geheel en al hedendaags is. Wat aan sy manier van die digkuns benader, spreek tot jou as digter in jou eie gedigte en as bloemleser? 

Oor die aard en aantreklikheid van Komrij se poësie het ek in die inleiding tot my vertaling geskryf en ’n uitgebreide weergawe daarvan is opgeneem in Vers & Kapittel I. As bloemleser het hy my geleer dat elitisme en snobisme taboe is. Die werf van die poësie is wyd en die bruilof groot. Laat die akademici hulle maar bepaal tot die eng kanon van hul vooroordele.

.....

In 1983 toe ek in België studeer het, het ek kennis gemaak met sy eerste erg omstrede bloemlesing uit die Nederlandse digkuns.

.....

In 1983 toe ek in België studeer het, het ek kennis gemaak met sy eerste erg omstrede bloemlesing uit die Nederlandse digkuns. Vyf jaar later het ek presies Komrij se ingesteldheid toegepas in Speelse verse van 1988. Hy het dus reeds ’n invloed op my poësiebeskouing gehad lank voor ek hom in 1998 in lewende lywe ontmoet het.

Die ruimheid van Komrij se opvatting van wat poësie is, blyk ook uit sy samestelling Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte (1999). Daarin staan onder meer die anonieme “Die Durbanse Poepwedstryd”. By die bekendstelling van die bundel in Antwerpen het ’n deftige Vlaamse dame en heer die Bourla-teater verlaat tydens Tom Lanoye se geesdriftige voorlesing van dié stukkie volksvermaak. Siedaar ’n literêre anekdote ter verryking van die literatuurgeskiedenis!

Hoewel bepaalde markverwante ooreenkomste bestaan tussen die uitgewerswêreld van Afrikaans en dié van die Nederlande, is daar diepliggende verskille wat regstreeks inwerk op die soort publikasielewe wat ’n skrywer se werk kan kry en het. Wat bied die Nederlandse publikasiewêreld vir die Afrikaanse leser? Hoekom sou ’n Afrikaanse leser ’n Nederlandse digter in Afrikaanse vertaling moet lees? 

Wanneer ’n Afrikaanse digter in die Lae Lande gepubliseer word, kry hy of sy natuurlik ’n groter gehoor en dikwels ook die moontlikheid om op koste van die uitgewer en ander instansies Nederland en Vlaandere te besoek. Om jou eie werk in vertaling te sien, maak dit op ’n manier nuut vir jouself wat as ’n kreatiewe impuls kan dien om vars metaforiese horisonne in jou poësie te verken.

.....

Wanneer ’n Afrikaanse digter in die Lae Lande gepubliseer word, kry hy of sy natuurlik ’n groter gehoor en dikwels ook die moontlikheid om op koste van die uitgewer en ander instansies Nederland en Vlaandere te besoek. Om jou eie werk in vertaling te sien, maak dit op ’n manier nuut vir jouself wat as ’n kreatiewe impuls kan dien om vars metaforiese horisonne in jou poësie te verken.

.....

Net so kan die nuwe geografiese omgewing ’n inspirerende uitwerking hê. Sulke besoeke lei meestal ook tot die kennismaking met Nederlandstalige kollegas, met die noodwendige verryking en spanning wat vriendskappe teweeg bring. Daarby kom ook die blootstelling aan lewende, gesproke Nederlands – iets wat selde in Suid-Afrika ervaar kan word. En die weelde van ryklik belaaide boekwinkels!

En dit bring my by die tweede vraag wat ek kort en kragtig kan beantwoord. Nederlands is ’n onbekende taal in Suid-Afrika en Nederlandse boeke byna onverkrygbaar – ook Engelse vertalings daarvan. Die enigste werklike toegang tot Nederlandse of Vlaamse digters hier te lande is daarom in ’n Afrikaanse vertaling.

Bundels met Afrikaanse besinnings oor poësie het vroeër jare in die handel meer gereeld verskyn. Dat die tweede Vers & Kapittel wel uitgegee is in 2023 spreek dalk van verskille tussen wat ’n klein uitgewer kan doen teenoor die soort belange wat ’n kommersiële uitgewer bevorder. Wat is jou ervaring van om Vers & kapittel II by Turksvy Publikasies uit te gee? Wat bring die tradisie van klein uitgewerye na die groter Afrikaanse letterkunde?

 Klein uitgewers se hoofdoelwit en prioriteit is gehalte. Nie ’n geldmaaksom nie. Laasgenoemde is dikwels die aspek wat groot uitgewers kortwiek. En almal weet dat geld en gehalte nie altyd spanmaats is nie. Klein uitgewers hoef nie ’n bemarkingspan te raadpleeg (mense wat dikwels nie veel weet of verstaan van die waarde en inhoud van boeke nie) oor hoeveel geld uit ’n boek gemaak kan word nie.

Klein uitgewers kan gapings sien en vat … en dit kan vinnig(er) gebeur. Op voorwaarde dat alle rolspelers kundig is oor die spesifieke vakgebied en die uitgewer onverbiddelik is oor teksversorging, terwyl daar terselfdertyd gebruik gemaak word van ervare tegniese mense, kunstenaars en drukkers. Die span is dus kleiner, die onderhandelings korter, die waagmoedigheid groter.

In Suid-Afrika bestaan ’n groot tekort aan vertaling tussen die tale van die land (Engels buite rekening gelaat). Wat hou hierdie vertaalarmoede vir Suid-Afrikaanse lesers in? Wat beskou jy as gulde geleenthede vir literêre vertalers in hierdie verband?

Die grootste poësie-vertaalprojek in hierdie land die afgelope paar jaar is dié van die AVBOB-kompetisie. Jaarliks word vir die bloemlesing I wish I’d said 90 gedigte uit die ander 10 ampstale in Engels vertaal. Dit is tog merkwaardig dat ’n begrafnisondernemer die voortbestaan en lewenskragtigheid van die inheemse digkuns op die hart dra!

Vertalers is altyd afhanklik van uitgewers. Hulle moet opdragte kry. Om met ’n selfgekose vertaalde manuskrip by ’n uitgewery aan te kom, is ’n resep vir teleurstelling. Die uitgewer is inderwaarheid die belangrikste kanoniseerder in die geval van vertaalde boeke. Hulle maatstaf is selde suiwer literêr – die verkoopbaarheid van die produk gee meestal die deurslag. Die “gulde geleenthede” moet dus deur die uitgewers geskep word.

As Opperman se Letterkundige Laboratorium ’n rol gespeel het in jou digterskap, was daar iets soortgelyks wat jou as literêre vertaler touwys gemaak het, dit wil sê wat jou vergelykende blik help vorm het en waarvolgens jy een manier van vertaal bo ’n ander inspan? 

As vertaler is ek ’n outodidak. Ek volg geen vertaalteorie of spesifieke vertaler nie. Toe ek Herman de Coninck se gedigte in 1995 begin oorsit het in Afrikaans, was dit as ’n soort eerbewys aan hom bedoel, om my waardering vir sy poësie uit te druk. As digter het ek ’n broederskap met hom aangevoel, aangesien hy – net soos ek – versot was op beeldspraak en woordspeletjies. Hy was dus ook ’n vernufsdigter.

.....

As vertaler is ek ’n outodidak. Ek volg geen vertaalteorie of spesifieke vertaler nie.

.....

Uys Krige was eintlik die enigste voorbeeld van ’n poësievertaler wat ek destyds geken het. Verskeie kritici het uitgewys dat hy nogal vrysinnig omgaan met die bronteks. Later het ek self begryp dat om die vertaalde weergawe as ’n selfstandige vers in die doeltaal te laat slaag, sulke afwykings dikwels noodsaaklik is. As die vertaler self ’n digter is, is dit seker onvermydelik dat sy eie woordeskat en styl plek-plek sal deurskemer. 

Hoe het die skryf van poësie jou lees van gedigte help vorm? Wat het die lees van gedigte van ander en van elders vir jou eie poësie beteken? Is die Vers & Kapittel-bundels dalk as ’n antwoord hierop te lees? 

’n Skrywer is in die eerste plek ’n leser – ander se skryfwerk is dit wat jou inspireer om self die woord-oerwoud in te waag. Wanneer jy dan begin dig, loop jy jou vas in sekere tegniese en taalkundige probleme. Vanselfsprekend gaan soek jy by jou voorgangers en tydgenote om te sien hoe hulle dit opgelos het.

Een van die groot struikelblokke vir ’n Afrikaanse digter is die dubbele negatief. Die tweede onbeklemtoonde “nie” aan die einde van die sin beland klokslag ook aan die einde van die versreël. Dit is geen probleem vir die skeppers van vrye verse nie, maar vir die rymelaar is dit onhoudbaar. Elisabeth Eybers het dit omseil deur woorde met die voorvoegsel on- en agtervoegsel -loos in te span, terwyl TT Cloete sonder blik of bloos die lastige “nie” na die volgende reël uitskuif. Dit is ongelukkig nie ’n besonder elegante oplossing nie – net so min as die blote weglating daarvan.

Daar is ook die vraag oor watter tradisionele versvorms, soos die haikoe, vandag nog bruikbaar is. Ek kom tot die volgende slotsom: “Sedert die Renaissance word die veertienreëlige sonnet met sy honderd-en-veertig lettergrepe beskou as die toppunt van die Westerse letterkunde. Die Ooste het ons geleer dat daar ewe veel emosie en intellek en verstegniese vaardigheid verpak kan word in sewentien lettergrepe. Die Japannese beoefenaars van die haikoe het in die twintigste eeu die genre vernuwe deur hulle nie alleen tot natuurindrukke te beperk nie, maar deur ook alledaagse dinge te beskryf, soms selfs met ’n satiriese inslag.”

Dit is die soort dinge waarvan ek verslag doen in die twee Vers & Kapittel-bundels.

Kan lesers van jou poësie en vertalings uitsien na verdere publikasies? Waaraan werk jy tans? 

Ek werk op die oomblik aan Vers & Kapittel III – weer met artikels, rubrieke en resensies, maar in plaas van onderhoude sal twee gedenklesings geplaas word, onderskeidelik oor DF Malherbe en NP van Wyk Louw. Daar lê ook ’n voltooide digbundel in die laai. Ongelukkig het vertaalopdragte grotendeels opgedroog sedert Nicol Stassen van Protea Boekhuis besluit het om weens finansiële redes sy vertaalprogram in te kort.

Lesers van jou werk weet al dat vormvastheid op onverwagse maniere rym met kreatiwiteit én hedendaagse tematiek. Wat bied die vernufsvers wat praatpoësie en vrye verse ontbeer in jou beskouing daarvan, en ook andersom?

Gerrit Komrij het graag gepraat van die “rymvoorsprong” wat die digters van formele verse het. Vormvastheid sorg dat ’n gedig nie net innerlik nie maar ook uiterlik, dit wil sê sigbaar, ’n esteties bevredigende argitektoniese vorm aanneem. Daar is niks strelender vir my oog as die voorkoms van ’n Italiaanse sonnet met sy twee kwatryne gevolg deur twee tersines nie. Maar dan moet dié struktuur ook aangedui word deur wit ruimtes – die strofes moet afgebaken word dat dit kan asemhaal soos ’n beboude stadsgebied met voetgangerspaaie en parke.

Die vernufsvers maak uiteraard groter aanspraak op die verstand as die gevoel, en ek was nog altyd ongemaklik met die uitstal van gevoelens. Die twee is egter nie onversoenbaar nie – dit het JC Steyn in sy bundel Die grammatika van liefhê oortuigend bewys, soos ook NP van Wyk Louw in Tristia.

.....

Praatpoësie en vrye verse boei dikwels deur ’n soepeler ritmiese gang as vormvaste gedigte. Dit bied ook meer ruimte om ’n verskeidenheid sprekende karakters in te voer en om ’n verhaal of anekdote te vertel.

.....

Praatpoësie en vrye verse boei dikwels deur ’n soepeler ritmiese gang as vormvaste gedigte. Dit bied ook meer ruimte om ’n verskeidenheid sprekende karakters in te voer en om ’n verhaal of anekdote te vertel. Hierdie soort poësie is al voortreflik in Afrikaans beoefen, byvoorbeeld deur Uys Krige, Ingrid Jonker, Breyten Breytenbach, Adam Small, Gert Vlok Nel, Danie Marais, Peter Snyders en Nathan Trantraal.

Vertaling bring veel na die letterkunde waarin vertaal word. Gegewe die feit dat jy verreweg een van die mees gerekende vertalers uit Nederlands in Afrikaans is, wat beskou jy as die vernaamste meriete en verryking wat Nederlandse poësie vir die Afrikaanse poësie inhou? 

Hoe wyer ’n leser sy leesnette uitgooi, hoe bevredigender die vangs. Daarom is dit altyd goed om anderstalige digters te lees – in die oorspronklike taal of in vertaling.

Die ouer Afrikaanse digters tot ongeveer die tagtigerjare van die vorige eeu was almal geskool in die Nederlandse digkuns. Hulle gedigte bevat dan ook talle verwysings daarna. Vir lesers van die ouer poësie is ’n kennis van die Nederlandse digters dus belangrik. Dit word vir jonger lesers egter ’n struikelblok omdat Nederlands lankal uit skoolleerplanne verdwyn het en op ’n al hoe kleiner skaal by universiteite gedoseer word.

.....

Op die oomblik vind daar ’n boeiende parallelle-ontwikkeling in die Nederlandstalige en Afrikaanse digkuns plaas. Daar is in beide tale ’n nuwe geslag digters, meestal vroue, wat skryf oor identiteits- en genderkwessies. In Nederland is dit kinders van immigrante; in Suid-Afrika skrywers uit die bruin gemeenskap wat ’n leefbare ruimte probeer vind in ’n onsimpatieke, rasbewuste en seksistiese samelewing.

.....

Op die oomblik vind daar ’n boeiende parallelle-ontwikkeling in die Nederlandstalige en Afrikaanse digkuns plaas. Daar is in beide tale ’n nuwe geslag digters, meestal vroue, wat skryf oor identiteits- en genderkwessies. In Nederland is dit kinders van immigrante; in Suid-Afrika skrywers uit die bruin gemeenskap wat ’n leefbare ruimte probeer vind in ’n onsimpatieke, rasbewuste en seksistiese samelewing. Daar bestaan reeds ’n wisselwerking op dié terrein tussen die twee tale wat uitgebrei kan word deur verdere wedersydse vertaling. Dit is ook interessant om die hedendaagse gebruik van Kaaps te vergelyk met die innoverende en soepel wyse waarop die nuwe geslag skrywers met Nederlands omgaan.

Lees ook:

Spiegelnotities: Over het poëziewerkschrift Vers & Kapittel II van Daniel Hugo

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top