Die Universiteit Stellenbosch (US) se jongste standpunt dat Afrikaans nie ’n inheemse taal is nie, het Afrikaanse akademici en taalstryders vir Afrikaans die harnas in.
Dit volg nadat die universiteit eensydig besluit het om ’n nuwe konseptaalbeleid vry te stel waarin Afrikaans nie as ’n inheemse taal erken word nie.
Die universiteit word uit verskeie oorde daarvan beskuldig dat hulle besig is om Afrikaans by die universiteit nog verder te verskraal en Afrikaans se regte as een van die land se amptelike inheemse tale nog verder te beperk.
In ’n ongewone stap het die US se Departement Afrikaans en Nederlands nou ook tot die stryd toegetree. Die departement het die universiteit se standpunt oor Afrikaans skerp gekritiseer in ’n ope brief aan die rektor, Wim de Villiers.
In die brief sê hulle die departement bestaan nie uit taalaktiviste of taalstryders nie, maar hulle kan nie langer stilbly oor die universiteit se hantering van veeltaligheid of Afrikaans nie. Die dosente sê studente is verbaas dat hulle toegelaat word om in hulle departement nog in Afrikaans met die studente te mag kommunikeer.
Die Rooiplein (Universiteit Stellenbosch) (Foto: Lourie Pieterse [CC BY-SA 3.0], via Wikimedia Commons)
Hulle maak ten sterkste beswaar daarteen dat Afrikaans in die nuwe konseptaalbeleid nie as ’n inheemse taal geag word nie. Dit is nie net wetenskaplik foutief om Afrikaans uit te sluit as inheemse taal nie, maar ook ideologies gekleur.
Die departement is op hulle Facebook-blad geloof vir hulle standpuntinname. Frederik van Dyk skryf dat hulle uitgesprokenheid teen onreg beloon sal word. “Ek staan breëbors van trots hieroor. Dankie vir ’n rewolusionêre verwikkeling. Mag hierdie skrywe nog baie fakulteitslede wat elders in vrees stilbly, oorhaal tot aksie.”
Die departement sê in hulle ope brief hulle hoop die universiteit kan die dringende noodsaaklike kopskuif maak na werklike veeltaligheid eerder as slegs Engels. Hulle sê Afrikaanse studente is gereeld die slagoffers van ’n soort mikroaggressie op grond van hulle moedertaal.
Die Afrikaanse Taalraad (ATR) het hulle ook sterk op Twitter oor die aangeleentheid uitgespreek. Hulle sê die US-konseptaalbeleid se klassifikasie van Afrikaans as uitheemse taal spreek van ’n ideologiese en onwetenskaplike benadering. “Dit onderskat ook die verenigde weerstand wat hierop sal volg. Luide protes lê nie in die Taalraad se aard nie, maar hieroor sal selfs ons die barrikades betree,” lui ’n boodskap wat deur die ATR op Twitter geplaas is.
Die US-konseptaalbeleid se klassifikasie van Afrikaans as uitheemse taal spreek van 'n ideologiese, onwetenskaplike benadering en onderskat die weerstand wat hierop sal volg. Luide protes lê nie in die Taalraad se aard nie, maar hieroor betree selfs ons die barrikades #USTaal
— Afrikaanse Taalraad (@Taalraad) March 27, 2021
In ’n onderhoud wat Hanlie Retief Sondag in Rapport met die US se rektor gehad het, ontken hy heftig dat Afrikaans as onderrigtaal by die universiteit verskraal word. Volgens hom is Afrikaans en Engels steeds die universiteit se onderrigtale.
Oor die besluit om Afrikaans as inheemse taal uit te sluit is De Villiers se verweer dat die nuwe beleid belyn word met die Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoëronderwysinstellings (2020). De Villiers het aan Retief gesê die taalhersieningstaakgroep het die definisie van amptelike en inheemse tale uit hierdie dokument gebruik.
Hy beweer daar is geen sprake van die verskraling van die Afrikaanse aanbod in die konsepbeleid nie.
Uit die algemene reaksie op sosiale media is die meeste mense skepties oor die universiteit se verbintenis tot Afrikaans.
Lees ook op Voertaal en LitNet:
Persverklaring: Uitnodiging om kommentaar te lewer op eerste konsep van hersiene Taalbeleid (2016)
US-taaldebat 2021: Taal op Maties ‒ Vir moedertaalonderrig of vir volk en vaderland?
US-taaldebat 2021: Die taalkwessie aan die Universiteit Stellenbosch
US-taaldebat 2021: Is die Universiteit Stellenbosch besig om Afrikaanse studente te ont-taal?
US-taaldebat 2021: Toe, wanneer word jy baas oor ’n ander se mond?
SU language debate 2021: Inside the anxious world of the taalstryders
US-taaldebat 2021: Skande op Maties – rooi ligte in die US se taalbeleid
US-taaldebat 2021: Stellenbosch se taalbeleid lankal onsmaaklik en toksies
Uit die argief (2006): Etlike gedagtes oor moedertaalonderrig in Suid-Afrika na Apartheid