Derde verskoning vir ongegronde bewerings in Bird Island-boek

  • 0

....

Lees die jongste verwikkelinge (Augustus 2020):

Verklarings van Media24:

Media24 het verskoning aangebied vir die publikasie van lasterlike stellings aangaande Mnr Barend du Plessis in die boeke "The Lost Boys of Bird Island" en "Die Seuns van Bird Island" asook die emosionele skade wat die publikasie van die boeke vir die Malan- en Wiley-families kon veroorsaak het. Volg hierdie skakel na die relevante verskoning.

....

Die mediamaatskappy Media24 het ’n derde verskoning uitgereik vir die skade wat die omstrede boek Die seuns van Bird Island aangerig het aan die reputasie van drie voormalige Nasionale Party-ministers.

Die drie oud-NP-ministers wat in die boek daarvan beskuldig word dat hulle by ’n pedofielnetwerk betrokke was, is wyle generaal Magnus Malan, wyle John Wiley en Barend du Plessis, wat die enigste oorlewende van die drie is.

Die maatskappy erken vir die eerste keer prontuit dat die bewerings wat in die boek gemaak word, ongegrond is. In die eerste verskoning deur NB-Uitgewers op 30 Maart het die uitgewers gesê die verskoning is beperk tot Du Plessis en is nie van toepassing op enige ander persoon wat ’n rol gespeel het in die gebeure wat in die boek beskryf word nie. NB-Uitgewers het toe gesê hulle sal enige poging om die boek en sy inhoud te diskrediteer, in die toepaslike forum verdedig.

Ten einde verdere verspreiding van die boek te beperk, het NB-Uitgewers egter besluit om onverkoopte eksemplare van beide die Afrikaanse en die Engelse uitgawes van die boek aan die handel onttrek en die e-boek van aanlyn platforms vir e-handel te verwyder.

Die verskoning is deur Barend du Plessis asook die families van die ander twee ministers verwerp. Du Plessis se prokureur, Johan Victor, wat ook die ander twee ministers se families verteenwoordig, het gesê die boek is die ergste vorm van karaktermoord in die geskiedenis van Suid-Afrika se uitgewersbedryf.

.....

“Victor sê as regsverteenwoordiger neem hy met waardering kennis van die apologie. Hy sê dit is al ’n stappie nader daaraan om hierdie onverkwiklike aangeleentheid ter ruste te lê, maar daar was geen raadpleging met hom of sy kliënte daaroor nie.”

.....

Minder as ’n maand later het NB-Uitgewers ’n tweede verskoning uitgereik. Daarin het hulle ook verskoning gevra vir die emosionele skade wat die publikasie van die boek vir die Malan- en Wiley-families kon veroorsaak het. Victor het gesê sy kliënte is steeds geensins tevrede met die verskoning nie en aangedring op meer.

Daar is onder andere ’n skikkingsbedrag van R150 000 aan Du Plessis aangebied en ’n aanbod om R2,3 miljoen aan ’n liefdadigheidsorganisasie van Du Plessis se keuse. Victor het namens sy kliënte gesê dit is onvoldoende en dat die R150 000-skikking ’n belediging vir Du Plessis is.

In die jongste en derde verskoning waarin Media24 erken dat die bewerings in die boek ongegrond is, word ’n skikkingsbedrag van R3 miljoen aan Du Plessis aangebied.

Victor sê as regsverteenwoordiger neem hy met waardering kennis van die apologie. Hy sê dit is al ’n stappie nader daaraan om hierdie onverkwiklike aangeleentheid ter ruste te lê, maar daar was vermoedelik geen raadpleging met hom of sy kliënte daaroor nie.

“Wanneer dit kom by skikkings van dié aard is dit ons beskeie mening dat dit nie deur die media gedoen behoort te word nie maar deur behoorlik gemagtigde ampsdraers.” Hy sê die resultate en nie die besonderhede van die onderhandelings nie sal na so ’n gesprek in ’n gesamentlike verklaring aan die media bekend gemaak word.

Victor sê die tragiek is dat al word ’n miljoen maal verskoning gevra, sal die smet van die boek vir ewig op die internet bly. “Ons merk geensins dat daar enige sprake is van die versoek dat die uitgewer sal verseker dat by wyse van ’n ‘reg om vergeet te word’-proses alle verwysings na die boek en ons kliënte (gekoppel daaraan) geheel en al van die internet verwyder word nie.”

Die monetêre skikkings behoort volgens hom nie in die pers uitgebasuin te word nie en die aard van die skikking moet van vertroulike aard wees. “Daar word ook geen melding gemaak van enige interne dissiplinêre prosedures of voldoening aan korporatiewe oorsig en beheermaatreëls wat nagekom word nie.”

Lees ook 

Omstrede Bird-eiland-boek maak steeds opslae

Boek oor Bird Island was "karaktermoord" en "web van leuens"

Talle vrae oor omstrede Birds Island

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top