
“François Levaillant sou goed gedoen het in bemarking,” sê Ian Glenn in die verbygaan, ’n nagedagte. Hy is besig met ’n toespraak oor die 18de-eeuse ontdekkingstogte in Suider-Afrika van die bekende Franse natuurkundige.
Somerset-Wes se biblioteeksaal is stampvol met lede van die dorp se voëlklub wat vir Ian, skrywer van The first safari: searching for François Levaillant, kom luister oor die Fransman se pionierswerk ten opsigte van plaaslike voëllewe. Sy vertelling is fassinerend – omdat hy maklik oorkom as iemand wat gewoond is daaraan om voor ’n gehoor te praat en steeds in sy passie in ’n onderwerp kan wegraak.
Levaillant het verskillende tegnieke gebruik as hy ’n naam vir ’n onbekende spesie wou skep. Een daarvan was verwysing na edelstene, en vandaar Ian se gedagte oor bemarking. Hy verwys na Levaillant se skepsels: die pêrel van ’n pearl spotted owlet (witkoluil); goud van die golden oriole (wielewaal); die smarag van die emerald-spotted dove (groenvlekduifie); en malagiet van die malachite sunbird (jangroentjie).
“Daar is min, indien enige, natuurkundiges wie se benamings al so lank en in sulke hoeveelhede bly staan het,” sê Ian.
Hy behoort te weet. Voordat First safari in 2019 verskyn het, was Ian betrokke by die opsporing, samestelling en vertaling van Levaillant se verskeie verslae, dagboeke en kunswerke. Hy was onder andere mede-outeur van die Brenthurst Press-uitgawe van François Levaillant and the birds of Africa en kurator van ’n uitstalling oor Levaillant se werk vir die Iziko Museum van 2012 tot 2013.
Ian, ’n voormalige hoof van die Engelse Departement by die Universiteit Kaapstad en stigterslid van die Sentrum vir Film- en Mediastudies, se werk is deesdae aan die wyer omgewing gekoppel. In 2022 is sy boek Wildlife documentaries in Southern Africa uitgegee.

Ian Glenn en die voorsitter van Somerset-Wes se voëlklub, Wilene van der Merwe.
Maar met sy gesprek in die Helderberg bly dit duidelik hoe sy pad steeds verweef is met dié van Levaillant. Hy snoer sy taalagtergrond saam met die wetenskap en geskiedenis.
“Daar word uit die staanspoor verskillende tegnieke gebruik om spesies name te gee,” vertel hy. Onder andere is daar dalk verwysing in die naam na die klank wat die dier maak; sy geografiese ligging; die ontdekker van die dier; inheemse name; en fisiologie – hoe die dier lyk.
Hy vertel van Klaas’s cuckoo (meitjie) en die Narina trogon (bosloerie) – albei voëlname deur Levaillant vernoem na mense in sy geselskap. Lank voor die koms van tegnologie vir klankopnames, het Levaillant hom ook gewend tot musieknote om byvoorbeeld die roep van ’n visarend op skrif neer te lê. Terselfdertyd het hy die duette van sekere spesies se voëlsang ontbloot.
“Met sy skepping van ’n kaart en aanduidings van waar hy spesies teëgekom het, het Levaillant ook vir ons die eerste kaart van geografiese verspreiding van voëls gegee,” vertel Ian, wat vinnig byvoeg dat dit nie noodwendig altyd akkuraat was nie.
Maar onder Levaillant se observasies wat hom en ander navorsers veral verwar het, was die kuifkoptarentaal. Met die verwysing vertoon hy die tekening wat Levaillant van die voël gemaak het, asook die groot kursief van sy notas wat daardie era gekenmerk het.
“Die voël kom voor in die noordoostelike streke van Suider-Afrika, dele waar Levaillant nie gereis het nie. Die vermoede is dat die tarentaal se verspreidingsgebied 200 jaar terug veel wyer was en dat die groei in menslike nedersettings sy habitat so ingekort het.”
So het Ian nog verskeie dele van hierdie speurverhaal van ons natuurlewe vir die gehoor uitgelê. Dit word toe ook duidelik hoe baie dele van die verhaal nog opgelos moet word. Heelwat debatte word nog gevoer en is onder andere by www.birdsoftheworld.org, ’n webwerf van Cornell Lab in Amerika, te sien. Suid-Afrikaners is onder diegene wat gratis toegang tot die webwerf het.
Lees ook:
Vogelgedichten / Voëlgedigte deur Benno Barnard, vertaal deur Daniel Hugo
