De Wetshof Landgoed in Robertson het sy gewig gegooi agter ’n merkwaardige inisiatief om die dalende bevolking van die berghaan (Terathopius ecaudatus) te help stuit. Die majestueuse roofvoël, in Engels bekend as ’n bateleur, het De Wetshof se ikoniese Bateleur Chardonnay geïnspireer.
Die berghaan is aangewys as Suid-Afrika se voël van die jaar vir 2024. Nadat De Wetshof bewus gemaak is van die bedreigde status van hierdie Afrika-arend, het hulle by die Trust vir Bedreigde Natuurlewe, in Engels bekend as Endangered Wildlife Trust, aangesluit om dié bewaringsliggaam se werksaamhede, wat GPS-tegnologie gebruik om die vlugpatrone van die roofvoël regdeur sub-Sahara-Afrika te monitor, te ondersteun.
Hierdie GPS-instrumente sal die Trust in staat stel om belangrike data vas te lê vir onder meer die identifisering van die berghaan se vlug- en vestigingsroetes. Die vasvang van dié data sal die Trust in staat stel om bewaringsprogramme te loods in ’n poging om die kommerwekkende vinnige afname in getalle van hierdie roofvoël te stuit.
Johann de Wet, uitvoerende hoof van De Wetshof Landgoed, sê dit was skokkend om te verneem dat daar slegs ongeveer 1 000 volwasse berghane in Suid-Afrika voorkom. “Afgesien van die algemene etos van bewaring in die De Wet-familie, was die huidige status van die berghaan ontstellend, aangesien die naam van hierdie arend al meer as 30 jaar met De Wetshof vereenselwig word deur die Bateleur Chardonnay, wat een van Suid-Afrika se mees ikoniese witwyne geword het. Toe die berghaan as voël van die jaar vir 2024 aangewys is, het ons die Trust gekontak om te verneem hoe De Wetshof betrokke kan raak by projekte wat dalk relevant tot die arend is.”
Johann, soos sy pa Danie en broer Peter, is ’n lewenslange natuurliefhebber wat steeds jaarliks die Suid-Afrikaanse bosveld besoek waar die De Wets dekades gelede vir die eerste keer met die berghaan in aanraking gekom het. Dit was Danie de Wet, legendariese wynmakerpionier van Suid-Afrikaanse Chardonnay en eienaar van De Wetshof, wat ’n nuwe wyn uit ’n spesiale wingerd Bateleur gedoop het toe hy op soek was na ’n naam vir dié wyn se eerste oesjaar in 1991. Hy het ’n swewende berghaan in die Krugerwildtuin waargeneem en só het die naam by hom opgekom.
“Sodra gesprekke met André Botha van die Trust begin en ons van die berghaanbewaringsprojek gehoor het, het De Wetshof dadelik ingestem om prakties betrokke te raak deur een van die GPS-apparate wat aan ’n berghaan geheg sal word, te borg. Hierdie inisiatief sal deel vorm van ’n driejaarprojek om data in te samel oor die voël se bewegings, wat nodig is om faktore te identifiseer wat tot sy afnemende bevolking lei en sy bestaan bedreig,” sê De Wet.
Die berghaan kom regdeur Suid-Afrika en sub-Sahara-Afrika voor, insluitende Botswana, Mosambiek, Tanzanië en Zambië, sowel as in lande verder noord, onder meer Kameroen en Kenia. Bedreigings wat gelei het tot die dalende bevolking van die berghaan sluit in die verlies van natuurlike habitat vir landboudoeleindes, windturbines, kragdrade en die vergiftiging van dierekarkasse met die doel om dooie voëls vir tradisionele medisyne te gebruik.
André Botha van die Trust sê die berghaan is waarskynlik een van die mees herkenbare, en beslis die kleurrykste, van suidelike Afrika se groot roofvoëlspesies en skep ’n ikoniese teenwoordigheid in die Afrika-lugruim. “Die arend is kwesbaar weens ’n reeks bedreigings, veral habitatverlies en vergiftiging, laasgenoemde as gevolg van sy neiging om gereeld op karkasse te aas,” sê Botha. “Tog is die berghaan een van die minder bestudeerde groot roofvoëlspesies op die kontinent, en dit is belangrik vir ons om meer werk op hierdie dier te doen om sodoende ingeligte besluite oor sy bewaring te kan maak.”
Om hierdie gapings in navorsing en data oor die berghaan aan te spreek, en om effektiewe bemarkingstrategieë te implementeer, sal die Trust naas GPS-opsporing ook genetiese opnames maak om ’n dieper begrip van die spesie se ekologie en genetika te kry. Dit sal ook help om hulle uitdagings beter te verstaan.
“Hierdie baanbrekerprojek sal lei tot gerigte bewaringsaksies wat hopelik die langtermyn oorlewing van hierdie manjifieke arend in sub-Sahara-Afrika sal verseker,” sê De Wet.
’n Totaal van 30 berghane van beide geslagte en verskillende ouderdomsgroepe sal gevang word deur kenners op maniere wat hulle nie sal seermaak nie. Elke voël sal toegerus word met ’n liggewig, sonkragaangedrewe GPS-apparaat wat aan ’n harnas geheg is. Die proses sal onder toesig van ervare veeartse uitgevoer word om minimum stres en skade aan die voëls te verseker.
Daar is tans agt voëls met opsporingsapparate in die Krugerwildtuin, ook dra twee voëls in noordelike Mosambiek en een in westelike Zambië reeds die apparate. Die GPS-eenhede word van Duitsland ingevoer en kos 3 000 Amerikaanse dollar stuk. De Wetshof dra die koste van een so ’n apparaat, wat binnekort ’n berghaan op sy reis deur die lug van Suider-Afrika sal vergesel.
“Ek en die De Wetshof-span sien uit daarna om die berghaan te ontmoet wat ons geborg het om hierdie kritiese data vir die Trust se projek te versamel,” sê De Wet.
“Vir De Wetshof is dit ’n eer en van groot belang om by hierdie inisiatief betrokke te wees. Die resultate sal hopelik help om die afnemende bevolking van ’n manjifieke voël te stuit, een wat net so deel is van De Wetshof as ons Chardonnay-wingerde.”