Dis my ding, Wellington: Die stigting van die Breytenbach Sentrum

  • 0
Kuns en literatuur meng by die Breytenbach Sentrum (Foto: Izak de Vries)

Kuns, kultuur, musiek en die digkuns, als en nog meer meng in die omtes van die Breytenbach Sentrum op Wellington. (Foto: Izak de Vries)

...
Dit is ’n plek wat al ’n wye verskeidenheid mense die geleentheid gegee het om hul unieke “ding” te kon doen en saam met ander te kon vier: Van musiekoptredes, boekbekendstellings, galeryopeninge tot die bedryf van ’n leerwinkel, ’n  tweedehandse boekwinkel, ’n teater, ’n koffiewinkel en ’n kunswinkel deur huurders op die terrein.
...

“Elke mens het sy ding, of dit nou iets is om te versamel, ’n stokperdjie of sport. Wat ook al dit is en wat ook al jou gelukkig maak, elke mens het sy ding,” open die gespreksleier, Engela Duvenage, die eerste praatjie in die nuwe gespreksreeks “Dis my ding, Wellington” wat  by die Breytenbach Sentrum op Wellington aangebied gaan word.

Ongelukkig is dit dikwels die geval dat mense nie vir hul passies betaal word nie en dat hulle ná werksure tyd daaraan moet afstaan. “Dis gewoonlik die goed agter die skerms en wat ander mense nie eens noodwendig besef gebeur nie,” sê Duvenage.

Bevoorreg is sy, vertel Duvenage. Een van die lekkerste dinge van haar werk as ’n joernalis is om met mense oor hulle passies te kan gesels en daaroor te skryf. Wanneer sy daaroor skryf, kry sy nie net die geleentheid om dit met ander te deel nie, maar ook om hierdie mense en hul passies te vier.

So is dit ook die doel van die nuwe gespreksreeks, om die Wellingtonners se passies en projekte met mekaar te deel en dit te vier.

Op Woensdagaand 17 Mei 2023 om 19:00 by die Bôrdienghuis op Wellington het Duvenage tydens eerste gesprek in die reeks met die drie oorblywende stigterslede van die Breytenbach Sentrum gesels. Dit is ’n plek wat al ’n wye verskeidenheid mense die geleentheid gegee het om hul unieke “ding” te kon doen en saam met ander te kon vier: Van musiekoptredes, boekbekendstellings, galeryopeninge tot die bedryf van ’n leerwinkel, ’n  tweedehandse boekwinkel, ’n teater, ’n koffiewinkel en ’n kunswinkel deur huurders op die terrein.

Manie Rust, Johan Conradie en Eugenie Wiggins in Koffie@Breytenbach, die koffiewinkel op die terrein van die Breytenbach Sentrum op Wellington. (Foto: Engela Duvenage)

Tydens die gesprek het die stigterslede, Eugenie Wiggins, Johan Conradie en Manie Rust, aan die gehoor vertel wat hul unieke passies is, ook wat die dryfkrag agter die projek was én die struikelblokke wat hulle moes oorwin om hul droom vir Wellington ’n werklikheid te maak.

Die geskiedenis van die gebou en hoe dit gestig is

Die gebou wat tans die Breytenbach Sentrum huisves, is in die 1800’s as die Commercial Hotel gebou. Daarna, in die laat 1890’s, is dit verkoop en is dit as ’n studentehuis gebruik. Tydens hierdie tydperk is die gebou herdoop na The Grevilleas na die bome wat voor die gebou gegroei het. In die 1940’s is dit selfs op ’n stadium as ’n basis vir die Wellingtonse Voortrekkerkommando gebruik.

In 1953 koop Breyten Breytenbach se ouers, Johannes (Hans) en Catherina (Kitty) Breytenbach, The Grevilleas. Hulle het die gebou as ’n losieshuis bedryf, terwyl hulle daar tot en met 1974 gebly het.

Dit was egter slegs die drie jongste van die vyf Breytenbach-kinders wat saam met hul ouers in The Grevilleas gewoon het; Breytenbach (13), Sebastiaan (12) en Rachel (5). Die twee oudste kinders, Jan en Cloete, het wel gereeld kom kuier.

Hans en Kitty Breytenbach het na Onrus verhuis, nadat hulle die losieshuis in 1974 verkoop het. Kitty Breytenbach is daar oorlede in 1978, terwyl Hans in Grahamstad by Rachel was toe hy in 1989 sterf.

Die gebou is aan die Wellington-munisipaliteit verkoop en in kantore vir die ingenieursafdeling ingerig. In 1995 is dit in ’n daghospitaal omskep. Die gebou self was egter nie geskik vir dié doel nie, en daarom is die daghospitaal weldra na ’n ander gebou verskuif.

Vir ’n lang tyd het die gebou leeggestaan en vervalle begin raak. Dit is waar die stigterslede se reis met die sentrum 25 jaar gelede begin het.

Die ontstaan van ’n idee

Volgens Wiggins het mense destyds gesê “Wellington is the best kept secret”. As ’n reaksie op hierdie kommentaar gesels sy en Wellington se destydse stadsklerk, Jacques Carstens in 1997 tydens ’n jaareindfunksie vir die Toerismeburo oor hoe om die dorp kon te kon bemark. Kobus Victor, destydse onderburgemeester van Wellington-munisipaliteit, het daarop vir Wiggins gesê: “Ons sit hier met Breyten Breytenbach se ouerhuis en julle doen niks daaromtrent nie.”

...
Breytenbach is een van die literêre figure wat die internasionale literêre gemeenskap aan Afrikaans as digterstaal bekendgestel het. Sy bydrae tot die Afrikaanse literatuur het die internasionale gemeenskap bewus gemaak van Afrikaans as ’n volwaardige, onafhanklike taal; ’n taal waarin daar genoeg literatuur geskep is om, nes Nederlands, Duits, Frans, Engels en al die ander groot literatuurtale, bestudeer te word.
...

“En dit is waar die eerste bewuswording van die ou gebou ontstaan het,” vertel Wiggins. Dit sou byna 10 jaar neem voordat hulle die Breytenbach Sentrum se deure amptelik kon open.

Die redes agter hierdie moeisame en lang proses is ’n kombinasie van verskillende eksterne faktore en stappe wat geneem moes word vir die projek om ’n sukses te wees. Tydens die gesprek neem Wiggins ons op ’n reis soos sy deur hierdie stappe met ons gaan.

Stap een van die projek: Die koop van die gebou en goedkeuring van die Breytenbach-familie

Wiggins vertel dat ná hulle mondelings goedkeuring by die Wellington-munisipaliteit gekry het om die gebou te koop, het sy en Johan Conradie saam Manie en Winnie Rust besluit om die proses aan die gang te sit.

In die beginstadium van hulle projek het Wiggins dit goedgedink het om op 23 Februarie 1998 aan Breyten Breytenbach te skryf met die vraag: hoe sou hy en sy familie daaroor voel as hulle voormalige ouerhuis in ’n kultuursentrum omskep sou word?

Met geen plan B, indien iemand gekant sou wees teen die idee nie, was die groep inisieerders verlig en verheug toe Breytenbachs op 10 Maart 1998 per brief laat weet dat die familie die projek heelhartig ondersteun.

Wiggins, Conradie en Rust het ’n aksiekomitee gevorm en dinkskrums gehou waartydens hulle die missie en visie van die Breytenbach Sentrum uitgelê het.

Dit was die begin van ’n tweejaarlange proses van heen-en-weer oproepe, briewe, papierwerk en wag vir terugvoer van die munisipaliteit, voordat hulle amptelik die gebou kon kry.

Op 11 November 2000, tydens ’n openbare vergadering, is die eerste Raad van Trustees verkies en die Wellington-munisipaliteit dra die gebou oor aan hulle. Die eerste Raad het bestaan uit Ampie Coetzee (voorsitter), Eugenie Wiggins, Charlotte Cupido, Manie Rust, Francois Theron, Cloete Breytenbach (as verteenwoordiger van die Breytenbach-familie) en Michael le Cordeur.

’n Berig in die Wellington News op 26 Oktober 2000. Op die foto is (van links) Johan Conradie, Eugenie Wiggins, wyle Herman Bailey (burgemeester) en Manie Rust. (Knipsel verskaf deur Engela Duvenage)

Dit was net die hoofgebou wat die munisipaliteit op daardie stadium aan hulle toegestaan het, verduidelik sy verder. By die stoep agter het die grens van die eiendom geloop. Die stuk waar die Digterstuin en die Bôrdienghuis nou is, was destyds nog munisipale eiendom en sou eers later deel van die Breytenbach Sentrum word.

Sedert sy totstandkoming word die Breytenbach Sentrum deur vrywilligers, meestal Wellingtonners, ondersteun wat op die trust en direksie dien. By die 80-jarige vieringe van Ampie Coetzee (middel), die eerste voorsitter van die Breytenbach Trust, was (van links) Johan Conradie, Janine Maske, Coetzee, Jan Koster, Louis Duvenage en Kobie Kotze. (Foto: Francois Lötter)

Dit was die eerste struikelblok wat hulle moes oorkom. Die volgende een het hulle nou in die gesig gestaar; dit was die toestand van die gebou.

Stap twee van die projek: Aansoeke om befondsing

“Op hierdie stadium was die gebou ongelooflik vervalle gewees,” maak Wiggins dit duidelik. Die toestand van die gebou was so sleg dat hulle eintlik nie in staat was om enige projekte daarin te bedryf of aan te bied nie.

Die gebou sou moes gerestoureer word as hulle dit ten volle sou wou benut en bewaar, maar daarvoor was befondsing broodnodig.

Sy sê dit was nog die tydperk voor sosiale media, back-a-buddy, crowdfunding en e-posse, daarom was dit moeilik gewees om mense bewus te maak van die projek en om fondse in te samel.

Volgens Wiggins het hulle brief na brief aan moontlike befondsers, gemeenskapslede, besighede, firmas en die plaaslike koerante geskryf. So het hulle gepoog om die gemeenskap oor hulle projek in te lig en opgewonde te maak.

Hulle het ’n lys van besighede en firmas deurgewerk en vir Pick n Pay, Raymond Ackerman, die Ruperts en diesulkes geskryf en vir befondsing gevra.

Die grootste probleem waarmee hulle egter gesit het, was die “hoender-en-eier-situasie” waarin hulle vasgevang was, verduidelik Wiggins. “Instansies sê hulle gee nie vir ’n gebou geld nie. Hulle gee wel vir projekte.”

Hulle kon niks in die gebou aanbied nie, omdat dit so treurig was, maar hulle kon nie die nodige befondsing kry om dit op te knap sodat hulle iets daarin kon aanbied nie.

Dit is waar hulle ten laaste besluit het om by die Nasionale Lotery aansoek te doen. Wiggins het Pierre-Jean Gerber, destyds die ANC-parlementslid vir Wellington, uitgenooi om die sentrum te kom besoek. Hulle het toe reeds beperkte aktiwiteite in die sentrum aangebied soos kitaarlesse, naaldwerklesse, dramaklasse en kunsklasse.

Sy het hom deur die sentrum geneem, gewys wat hulle reeds gedoen het en hulle droom vir die gebou met hom gedeel. Pleitend het sy hom gevra: “Skryf asseblief op jou briefhoof ’n brief wat ons kan saamstuur vir ons aansoek om befondsing te verkry van die Lotery.”

Teen hierdie tyd was Wiggins se kollegas al ’n bietjie moedeloos.

Manie Rust het Wiggins beskryf as “die voortrekker van die projek”. Volgens hom, as dit nie vir haar entoesiasme en deursettingsvermoë was nie, sou die projek nie ’n sukses gewees het nie.

Ten spyte van haar volharding, erken Wiggins self dat sy op die oggend van die 23ste Februarie 2005 moedeloos aan haar man gesê het: “Ek kan nie meer nie.” Dit was al reeds vyf jaar vandat hulle die gebou in die jaar 2000 gekry het, en hulle kon nog steeds nie die nodige befondsing kry om die gebou te restoureer nie.

Min het sy geweet dat daar ’n brief van die Lotery nog op dieselfde dag by haar huis sou aankom. ’n Brief waarin daar aangekondig is dat die Nasionale Lotery R937 000 aan hulle sou skenk!

Stap drie van die projek: Die restourasie van die hoofgebou

Hierdie skenking het die langverwagte restourasieproses moontlik gemaak. Die volgende stap was om argitekplanne en toestemming van Erfenis Wes-Kaap te kry, voordat hulle enige veranderinge aan die ou historiese gebou kon aanbring.

Te danke aan Manie Rust het die span in kontak gekom met Johan Malherbe, van Malherbe Rust Argitekte, wat die planne gratis geteken het. Malherbe is toe ook later as die projekbestuurder aangestel, waarna hy JJ Joostenberg Bouers van Paarl vir die bouwerk aanbeveel het.

By die amptelike opening van die Breytenbach Sentrum in 2007 was (hooffoto van links) Eugenie Wiggins (stigterslid en trusteeraad), Johan Conradie (stigterslid en later ook trusteeraadslid), wyle Charlotte Cupido (dien op eerste trusteeraad), Michael le Cordeur (trusteeraadslid), wyle Ampie Coetzee (lank voorsitter van die trusteeraad), Manie Rust (stigterslid en trusteeraadslid) en wyle Cloete Breytenbach (trusteeraadslid namens die Breytenbach Sentrum). Agter is Ansie Truter (destyds van die Wellington Museum) en Wellingtonner Schalk Burger (seremoniemeester). Al vyf Breytenbach-kinders was teenwoordig by die openingsgeleentheid (foto bo regs, van links): Jan, Rachél, Breyten, Sebastian en Cloete. (Foto's: Christopher Young, knipsel verskaf deur Engela Duvenage)

Twee jaar later, op 26 Februarie 2007, word die Breytenbach Sentrum uiteindelik feestelik geopen!

By die amptelike opening was Breyten Breytenbach in gesprek met Wellington se destydse burgemeester, wyle Herman Bailey. (Foto verskaf)

“Volgens die argitek is die Breytenbach-huis ’n Victoriaanse gebou wat op een van die eerste dorpserwe gebou is. Die gebou is ’n tipiese dubbelverdieping van die tyd en weerspieël die stylelemente van Victoriaanse argitektuur. Die restourasie van die gebou is gedoen om ook verteenwoordigend te wees van die tyd waarin die Breytenbachs daar gebly het,” vertel Wiggins.

Die Grevillias-gebou voor en na restourasie in 2007. Dit is in 2022 weer gedeeltelik opgeknap danksy ‘n skenking van die Rupert Historiese Geboue Trust. (Foto's verskaf)

Verdere befondsing, vanaf Johan Rupert en Media24, stel die trustees in staat om ’n bestuurder, Theo Kemp, in Februarie 2008 aan te stel. Hy het die fondamente gelê het van wat tans by die sentrum gebeur.

Theo Kemp by die Breytenbach Sentrum in 2008. Hy is later opgevolg deur Francois Lötter, wat tot 2022 bestuurder van die Sentrum was. (Foto: Izak de Vries)

“Dit is maar baie sulke tipes papierwerk wat baie tyd gevat het,” eindig Wiggins hul reis van hoe die sentrum tot stand gekom het.

Francois Lötter en Breyten Breytenbach (Foto verskaf)

“Dit was alles papierwerk wat gedoen is deur vrywilligers,” herinner Duvenage die gehoor. Dit was vrywilligers wat ook nog tussendeur hul eie, onafhanklike beroepe gehad het. Dit is waarna Duvenage aan die begin van die aand verwys het: Die werk wat agter die skerms gebeur waarvan mense onbewus is, en passies waarvoor mense nie betaal word nie.

Hiervoor wil sy die stigterslede van die Breytenbach Sentrum vier! Te danke aan hulle kon sy self baie dinge by die sentrum leer en waardevolle vriendskappe daar vorm.

Die unieke passies van die individuele stigters

Rakende mense se verskillende passies was dit interessant om te leer van elke stigterslid se individuele passie tydens die gesprek. Alhoewel hulle passies oorvleuel en mekaar aanvul, het elkeen tog hul eie, unieke “ding” tot die projek bygedra.

In 1998 toe Wiggins vir Manie Rust genader het om betrokke te raak by die projek, was hy onder meer betrokke by die Wellington Museum en die plaaslike kunsvereniging. Die geskiedenis, musiek en kuns was nog altyd onder sy “dinge” wat hom gelukkig maak.

Rustig vertel hy aan die gehoor dat ’n mens soms die gemeenskap moet wakkerskud, sodat hulle die wêreld rondom hulle en alles wat mooi is, raak kan sien, waardeer en oor die geskiedenis kan oplees. Dit is dus belangrik vir hom dat ’n stukkie van Wellington se geskiedenis deur middel van die Breytenbach Sentrum behoue bly.

Rust vertel ook dat hy nog altyd ’n waardering gehad het vir kuns in al sy vorms, van die eenvoudigste tot die grootste. Verder vertel hy dat die Breytenbach-huis vir hom ’n plek moes wees waar almal bymekaar kon kom en deel hê aan die kuns, kultuur en geskiedenis; iets wat duidelik sigbaar is in die missie en visie van die Breytenbach Sentrum.

“Die sentrum en die gemeenskap het al my persoonlike verwagtinge nie net bevredig nie, maar dit is meer as wat ek gehoop het dit gaan wees,” sê Rust.

Johan Conradie in die tuin wat hy steeds help in stand hou. (Foto: Izak de Vries)

Conradie se unieke “ding” is gegrond op sy liefde vir sy moedertaal, Afrikaans, en meer spesifiek die Afrikaanse digkuns. Hierdie liefde en passie van hom het gelei tot die ontstaan van die Sentrum se besonderse Digterstuin, wat tydens die eerste jaarlikse Tuin van Digters-fees in September 2012 geopen is.

'n Gedig van NP Van Wyk Louw (Foto: Izak de Vries)

Die idee vir ’n Digterstuin het ontstaan na aanleiding van ’n artikel wat Conradie in die rubriek “Van alle kante” in Die Burger oor Britse digters gelees het. In die artikel word vertel hoe die Engelse gemeenskap hul digters vereer deur middel van ’n “Poets Corner” in Westminster Abbey, Londen. In die artikel word verder beklemtoon dat daar nie ’n soortgelyke gebaar in Suid-Afrika is nie, behalwe dat die werke in navorsingsentrums geberg en gelos word.

'n Gedig van Ronelda Kamfer (Foto: Izak de Vries)

“Hierdie woorde het ’n vonk in my kop en hart laat ontplof,” vertel Conradie. “Waarom dan nie ’n lewendige ‘Poets Corner’ nie?” Hy het veral sterk hieroor gevoel, omdat hulle in Wellington juis die ideale plek daarvoor gehad het – die Breytenbach Sentrum; die einste huis waarin die Suid-Afrikaanse digter, Breyten Breytenbach, grootgeword het. Daarom het hy die plan gekry om wat eens ’n parkeerarea was in ’n tuin te omskep.

Naspers het ’n skenking gemaak om die droom te help verwesenlik.

'n Gedig van Breyten Breytenbach (Foto: Izak de Vries)

Opreg verklaar Conradie dat hy bly is die sirkel is uiteindelik voltooi – waar Hans Breytenbach eens groente gegroei het, groei daar nou weer plante. Dit is vir hom simbolies aan Afrikaans as ’n groeiende taal. “Daar word gehoop en vertrou dat hierdie aardse ‘Poets Corner’ vir ons as ’n soort boskatedraal nog verder sal groei en ’n inspirasie sal wees vir al die kreatiewes van ons moedertaal, Afrikaans,” sê Conradie terwyl hy voorlees uit die toespraak wat hy by die tuin se opening in 2012 gemaak het.

Hy is steeds nou betrokke by die instandhouding van die tuin, steeds dankbaar vir die hulp wat die dorp se mense gee daarvoor.

As gewese dramadosent is ’n mens glad nie verbaas dat Wiggins se unieke “ding” wat vir haar vreugde gee, drama en die kunste is nie. ’n Mens kan wel ook uit haar verhaal ’n liefde en waardering vir Wellington en sy gemeenskap hoor. Dit is vir haar belangrik om iets unieks en besonders aan Wellington te bewaar en met ander Wellingtonners te deel, sodat hulle ook trots op hul gemeenskap sal wees.

Hierdie behoefte van haar word beklemtoon deur Conradie se afsluitingswoorde: “Ons moet almal trots wees. Daar is menigte dorpe wat wens hulle het wat Wellington het. Ek is trots op Wellington. Ek’s trots op die mense en ek is trots op wat hier gebeur.”

Buiten die plaaslike gemeenskap is dit ook belangrik vir Wiggins om ander gemeenskappe van die ou historiese gebou te vertel, as ’n manier om Wellington as ’n internasionale kultuurtoerismebestemming te bemark. Veral aangesien die sentrum met die digter, Breyten Breytenbach, geassosieer word en hy ’n belangrike literêre figuur vir die stigters is.

Breytenbach is een van die literêre figure wat die internasionale literêre gemeenskap aan Afrikaans as digterstaal bekendgestel het. Sy bydrae tot die Afrikaanse literatuur het die internasionale gemeenskap bewus gemaak van Afrikaans as ’n volwaardige, onafhanklike taal; ’n taal waarin daar genoeg literatuur geskep is om, nes Nederlands, Duits, Frans, Engels en al die ander groot literatuurtale, bestudeer te word.

Met die Breytenbach Sentrum neem sy, die stigterslede en almal wat sedertdien betrokke was by die sentrum, hierdie missie verder deur geleenthede te skep waar onder meer Afrikaans as digkuns en literatuur gevier, waardeer en bewaar word.

Wat is die Breytenbach Sentrum?

Die sentrum is ’n plek waar meer as een kultuurstudieveld (beeldende kunste, musiek, drama en skryfkuns) gekombineer en betrek word om nie net ’n waardering vir kuns en kultuur te skep nie, maar ook mense daarin te bemagtig.

Gert Vlok Nel en Manie Rust (Foto verskaf)

Te danke aan enkele bronne van befondsing, skenkings en tyd van verskeie vrywilligers oor die jare heen, bly die Breytenbach Sentrum ontwikkel. Tans bestaan die sentrum onder meer uit ’n tweedehandse boekwinkel, ’n kunsgalery, die Bôrdienghuis Teater, die Breytenbach Boekklub, ’n musiekskool, ’n dramaskool, ’n koffiewinkel, die Cloete Gemeenskapsgalery, ’n jeuglektuur skryfskool, ’n filmklub, ’n leerwinkel en die jaarlikse Tuin van Digters-fees. Kantoorspasie word ook verhuur, en dit dien ook as vergaderplek van byvoorbeeld die Wellingtonse Kunsvereniging.

Dit is die Breytenbach Sentrum se droom om eendag die res van die omliggende terrein, wat oorspronklik deel van die Commercial Hotel in die 1800’s was, ook te bekom en sodoende die eiendom te herenig soos dit eens was. Daarmee sal hulle die gemeenskap van Wellington nog verder kan vier en bedien.

Om meer uit te vind oor huidige projekte wat hulle aanbied, besoek gerus hulle webtuiste breytenbachsentrum.co.za.

Wellington, ons sien uit na die volgende “ding” wat julle met ons gaan deel in episode twee van die gespreksreeks “Dis my ding, Wellington”!

  • Engela Duvenage en Louis Duvenage, haar man, het baie moeite gedoen om feite te verifieer beeldmateriaal te verskaf vir hierdie artikel.
Lees ook:

Die elfde Tuin van Digters deur Izak se lens

Toast rig ’n gemaskerde satelliet op Roof en (Or)Wellington

Antjie Krog gehuldig by vanjaar se Tuin van Digters

Tuin van Digters 2020, ’n fotoberig

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top