Dlamini-Zuma praat bont oor regulasies

  • 0

.............

“Dit lyk egter of die minister versigtig is om die vrae skriftelik in die parlement te beantwoord omdat dit ernstige gevolge vir haar kan inhou indien dit later sou blyk dat sy die parlement mislei het. Dit is ’n oortreding van die parlement se etiese reëls om die parlement met skriftelike antwoorde op vrae te mislei.”

.............

Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, moes dié week bontstaan om te antwoord op parlementslede se vrae oor die regering se hantering van die COVID-19-pandemie, maar het die meeste van die vrae ontduik.

Zuma, wat die regering se omstrede inperkingsregulasies dié week ook weer aan die hof moet verduidelik, het verskeie vrae wat opposisiepartye skriftelik in die parlement aan haar gestel het, gesystap.

Nkosazana Dlamini-Zuma (Foto: Wikimedia Commons [openbare domein], US Department of State)

Hoewel die minister op sommige van die opposisielede se vrae geantwoord het, het sy verskeie vrae nie beantwoord nie omdat die inligting glo nie beskikbaar was nie.

News24 berig dat sy wel van die vrae wat aan haar gestel is, in hofstukke beantwoord het, maar nie in die parlement nie. Zuma se appèl teen ’n vroeëre hofbevinding wat vlakke 3 en 4 van die inperkingsregulasies as ongrondwetlik verklaar het, moet ook dié week aangehoor word.

Van die vrae wat Zuma nie skriftelik in die parlement kon of wou beantwoord nie se antwoorde is ook reeds mondelings deur haar beantwoord en verskyn in van die hofstukke wat deur haar ingedien is.

Dit lyk egter of die minister versigtig is om die vrae skriftelik in die parlement te beantwoord omdat dit ernstige gevolge vir haar kan inhou indien dit later sou blyk dat sy die parlement mislei het. Dit is ’n oortreding van die parlement se etiese reëls om die parlement met skriftelike antwoorde op vrae te mislei.

.............

“Zuma het ook by vorige geleenthede vrae oor die omstrede verbod op die verkoop van tabak omseil en in gebreke gebly om daarop te reageer. Sy volstaan daarby dat dit om mediese redes gedoen is.”

.............

Sy kon ook steeds nie ’n wetenskaplike rasionaal verskaf waarom daar ’n verbod geplaas is op die verkoop van tabak tydens die grendeltyd nie, en ook nie waarom die verkoop van alkohol tot en met vlak 3 van die inperking verbode was nie.

Die DA-parlementslid Gizella Opperman wou volgens News24 onder andere van die minister weet wat die redes was waarom daar besluit is om COVID-19 tot ’n nasionale ramp te verklaar in plaas van ’n provinsiale of streeksramp en watter data gebruik is om dit as ’n ramp te klassifiseer ingevolge die Rampbestuurswet van 2002.

Volgens haar skriftelike antwoord sal die redes daarvoor aan Opperman verskaf word sodra dit beskikbaar is.

Oor die vrae wat die DA-parlementslid Zakhele Mbhele aan die minister gestel het, was sy ewe ontwykend. Mbhele wou weet wat die wetenskaplike rasionaal en empiriese basis was vir die verbod op die verkoop van tabak en of sy en haar departement die hipotese ondersoek het dat nikotien COVID-19-infeksies dalk kan verminder. Dieselfde vae ontwykende antwoord is egter ook aan Mbhele gegee, naamlik dat die inligting nie geredelik beskikbaar is nie en so gou as moontlik verskaf sal word sodra dit beskikbaar is.

Zuma het ook by vorige geleenthede vrae oor die omstrede verbod op die verkoop van tabak omseil en in gebreke gebly om daarop te reageer. Sy volstaan daarby dat dit om mediese redes gedoen is.

Regter Norman Davis het vroeër vandeesmaand bevind dat Zuma se regulasies nie die toets van rasionaliteit geslaag het nie en dat van die regulasies inbreuk maak op mense se fundamentele regte.

Verskeie regskenners het saamgestem dat sommige van die regulasies omstrede is, maar meen Davis se uitspraak was te vaag omdat daar nie duidelik na spesifieke regulasies verwys is nie.

Die regering het ook gemeen ’n ander hof sal tot ’n ander beslissing kom en het teen die uitspraak geappelleer. Reyno de Beer, die president van Liberty Fighters Network wat die regering oor die inperkingsregulasies hof toe geneem het, het die afgelope naweek gesê hulle is slaggereed om die regering Woensdag ’n tweede keer in die hof te pak.

Lees ook 

Druk neem toe oor "irrasionele" regulasies tydens inperking

Suid-Afrikaners is keelvol vir drakoniese inperkings

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top