Suid-Afrikaners is keelvol vir drakoniese inperkings

  • 0

Suid-Afrikaners is vies oor die drakoniese aard van die vlak 4-inperkingsregulasies wat van Donderdag (30 April) om middernag begin geld het.

Vir Jan Publiek is daar bykans geen verligting nie en die verskille tussen vlak 5- en vlak 4-inperking is vir gewone Suid-Afrikaners byna onbeduidend min.

Dit is veral die rokers en fikses wat vuur spoeg. In teenstelling met president Ramaphosa se versekering verlede week dat tabak van verlede week Vrydag af weer te koop sou wees, word die verkoop van tabak volgens die nuwe regulasies steeds verbied.

Drawwers, fietsryers en stappers is ewe min beïndruk met die nuwe regulasies. Daar mag slegs tussen sesuur en nege-uur soggens in die openbaar geoefen word binne ’n radius van 5 km van jou huis. “Hoe rym dit met die logika om samedromming te vermy as jy almal dwing om op dieselfde tyd te oefen?” wou baie mense op sosiale media weet. Ander het gekla omdat dit byna winter is en sesuur soggens nog pikdonker is in veral die Kaap. Diegene wat moet werk, is ook ontevrede omdat dit beteken hulle mag nie ná werk oefen nie.

Selfs nierokers het hulle stem oor die tabakverbod dik gemaak op sosiale media. Die bedryfshoof van South Africa Day, Barend La Grange, het op Facebook gesê dis nie nou die tyd om vir mense te preek hoe ongesond rook is nie. “Die minister van samewerkende regering, Dlamini-Zuma, gaan veroorsaak dat mense nié saamwerk nie.” Hy sê hy kan hom nie indink dat hy ooit ’n voorstander sou gewees het van sigaretverkope en ’n petisie ten gunste daarvan sou teken nie. Soos baie ander het hy ’n skakel op Facebook gedeel waar mense so ’n petisie kan teken.

Tax Justice Suid-Afrika het ook die regering se besluit om die verbod op die verkoop van tabakprodukte te verleng, veroordeel. Hulle sê dit is ekonomiese sabotasie. Die stigter van Tax Justice, Yusuf Abramjee, sê die besluit is nadelig vir die ekonomie omdat R35 miljoen in belasting op tabakprodukte daagliks verlore gaan.

Die onafhanklike tabakvereniging Fita beplan om met regstappe te begin nadat die regering ’n ommeswaai gemaak het oor die verkoop van tabakprodukte tydens vlak 4 van die inperkingsregulasies. Die voorsitter van Fita, Sinenhlanhla Mnguni, sê onwettige sigarette stroom die land se grense binne en die regering het reeds miljarde rand verloor. Mnguni sê die geld kon in die stryd teen die koronavirus gebruik gewees het. Hy sê ook dat dit landsburgers se grondwetlike reg is om te besluit of hulle wil rook of nie.

Die tussentydse DA-leier John Steenhuisen sê Suid-Afrikaners wat van die begin af ingekoop het in die noodsaaklikheid van inperking, verdien om beloon te word met groter vertroue van regeringskant, maar die teenoorgestelde het gebeur.

Intussen het twee van die land se hoëprofiel-advokate ’n prokureursbrief aan president Ramaphosa gestuur waarin hy versoek word om duidelikheid te gee oor die magte van die nasionale bevelsraad wat in beheer is van die koronakrisis in die land. Advokate Nazeer Cassim en Erin-Dianne Richards sê hulle is besorgd oor die moontlike risiko’s wat dit vir grondwetlike en demokratiese beginsels inhou.

Hulle spreek hulle ernstige kommer uit oor die hoe grondwetlik daar tans opgetree word om regulasies uit te vaardig. Die twee advokate sê in hulle brief aan Ramaphosa hulle doen dit nie ligtelik nie en ook nie om die regering se veldtog teen COVID-19 te ondermyn nie. Hulle verlang egter duidelikheid oor die parlement se toesighoudende rol en die moontlike magsmisbruik en uitermatige gebruik van staatsmag. “Ons versoek met groot respek groter deursigtigheid van die regering tydens hierdie tyd rakende regeringstrukture wat geskep word en die regeringsbesluite wat geneem word.” Die twee advokate se volledige prokureursbrief kan hier gelees word.

Die Verenigde Nasies (VN) se kommissie van menseregte het Suid-Afrika ook verlede week uitgesonder as een van die lande wat besig is om “’n giftige inperkingskultuur” te skep. Die kommissie het verwys na die hardhandige wyse waarop sommige wetstoepassers die regulasies afdwing. Hulle sê dit is onaanvaarbaar en onwettig om op iemand te skiet, of mense aan te hou of te mishandel omdat hulle desperaat op soek na kos is.

Die kommissie se bedryfshoof, Georgette Gagnon, het Suid-Afrika saam met dosyne ander lande daarvan beskuldig dat hulle benadering teenoor die inperking lomp en gemilitariseer is en dat hulle ’n giftige inperkingskultuur skep.

Lees ook

Staatsgreep in Suid-Afrika: Paranoia of "power to our people"?

Maak gereed vir nog ’n lang skof inperkings

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top