............
“Dinsdag se hofuitspraak waarin sommige van die regulasies van vlak 3 en vlak 4 van die staat van inperking deur die Pretoriase Hooggeregshof as ongrondwetlik en ongeldig verklaar is, het die regering gedwing om die omstrede regulasies opnuut onder die loep te neem.”
............
Druk op die regering is besig om uit al hoe meer oorde toe te neem om weg te doen met irrasionele regulasies tydens die grendelstaat wat niks te doen het met die verspreiding van die koronavirus nie.
Dinsdag se hofuitspraak waarin sommige van die regulasies van vlak 3 en vlak 4 van die staat van inperking deur die Pretoriase Hooggeregshof as ongrondwetlik en ongeldig verklaar is, het die regering gedwing om die omstrede regulasies opnuut onder die loep te neem.
Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit se sakeskool het in ’n verklaring gesê die hofuitspraak beteken groter onvoorspelbaarheid in ’n reeds onsekere ekonomiese en openbaregesondheidsomgewing.
Parsons sê die regering moet dringend aandui wat hy volgende gaan doen. Hy sê die jongste beslissing skep ’n geleentheid vir die regering om die inperkingsregulasies te rasionaliseer en te verfyn.
Sommige van die regulasies is deur regter Norman Davis as irrasioneel beskryf. Die beslissing is vir twee weke opgeskort en die huidige regulasies sal voorlopig steeds geld. Die hof het beslis dat die nasionale koronavirusbevelsraad die regulasies moet hersien, wysig en publiseer. Die kabinet sê hy wil eers die uitspraak bestudeer voordat hy daarop reageer en sal waarskynlik teen die uitspraak appelleer.
Government has taken note of the judgment delivered by the Gauteng Division of the High Court today, 2 June 2020, declaring the Alert Level 4 and Alert Level 3 Lockdown regulations unconstitutional and invalid: https://t.co/QDgHYej8Fd
— South African Government (@GovernmentZA) June 2, 2020
Die saak is deur die organisasie Liberty Fighters Network (LFN) ingedien. Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, sê alles wat die regering gedoen het, is om lewens te red deur die verspreiding van die koronavirus te beperk.
Die president van LFN, Reyno de Beer, het die hofuitspraak verwelkom dat van die inperkingsregulasies ongeldig is.
’n Regskenner van die Universiteit van Kaapstad het aan RSG gesê die regering kan in die Konstitusionele Hof appèl teen die Hooggeregshof se beslissing aanteken.
’n Kenner van Publieke Reg, Richard Calland, sê die uitspraak kan moontlik die regering se pogings om die koronavirus te bekamp, ontspoor.
............
“Intussen hou rokers die hofaansoeke om die verbod op tabakverkope ook ongeldig te laat verklaar met ’n arendsoog dop.”
............
Die VF Plus se parlementslid en woordvoerder van handel, nywerheid en mededinging, Jaco Mulder, sê volgehoue druk deur opposisiepartye en burgerregte-organisasies is van kardinale belang om die Suid-Afrikaanse regering verantwoordbaar te hou gedurende die tyd van inperking.
"Die minister van handel, nywerheid en mededinging, Ebrahim Patel, moes as voorbeeld hiervan die Kommissie vir die Beskerming van intellektuele Eiendom (KBI) se rampbestuursregulasies die naweek onder druk terugtrek.”
Mulder het ook die Sakeliga-hofuitspraak verwelkom waarin gelas is dat burokratiese inperkingsregulasies wat inbreuk maak op sakeondernemings se vryheid om te kan handel dryf, geskrap moet word.
Sakeondernemings wat in vlak 3 mag sake doen, kan nou met hul selfuitgereikte permitte handel dryf sonder om aan bykomende regulasies wat ingevolge die Rampbestuurswet ingestel is, te voldoen.
"Die regering se volgehoue pogings om die sakewêreld te mikrobestuur, is deur die volgehoue druk gestuit en bevoordeel veral klein- en mediumgrootte-ondernemings wat nie by die Departement van Handel en Nywerheid geregistreer is nie,” het Mulder gesê.
"Die VF Plus sal bly veg vir ’n markgerigte ekonomie waar ondernemings vry van staatsinmenging kan sake doen."
Intussen hou rokers die hofaansoeke om die verbod op tabakverkope ook ongeldig te laat verklaar met ’n arendsoog dop. Behalwe die hangende hofsake daaroor het ’n belangegroep wat rokers verteenwoordig, Smokers Against SA Cigarette Ban, ook ’n klagte by die Menseregtekommissie ingedien teen die verbod op tabakverkope.
Die protesgroep, met sowat 40 000 lede beroep hulle op die Grondwet wat sê dat elke burger van die land fundamentele regte het wat beperk mag word slegs indien dit binne die raamwerk van die Grondwet is. Hulle voer aan daar bestaan geen rasionaal agter die regering se besluit om ’n verbod te plaas op die verkoop van tabakprodukte nie. Hulle sê rokers het die reg om te kies wat hulle in die privaatheid van hul wonings doen.
Lees ook
Buro: MvH