Groter vryhede wink van Maandag vir Suid-Afrikaners

  • 0

..............

“Die minister van samewerkende regering, Nkosazana Dlamini-Zuma, het gesê mense sal tussen sesuur soggens en sesuur saans buite mag oefen, maar nie in groepe nie. Alkoholverkope word van Maandae tot Donderdae tussen nege-uur en vyfuur toegelaat.”

..............

Van Maandag af kan Suid-Afrikaners na hartelus weer enige tyd van die dag in die buitelug gaan oefen of gaan stap mits dit nie in groepe is nie. Hulle mag ook weer sekere dae van die week ’n koue bier of ander alkoholiese drank gaan koop om mee te ontspan, maar mag dit net in hulle eie huise drink.

Foto: Pixabay.com

Rokers sal egter tot minstens vlak twee moet wag voordat hulle hul voorraad kan aanvul om ’n dampie te slaan of hoop die hof bevind voor die tyd die regering het buite sy mag opgetree toe hulle ’n regulasie uitgevaardig het wat die verkoop van tabak gedurende sekere fases van inperking verbied.

Die nuwe regulasies wat Maandag in werking tree, is Donderdag op dag 63 van die nasionale staat van inperking aan die media verduidelik deur ministers van die nasionale bevelsraad.

Die minister van samewerkende regering, Nkosazana Dlamini-Zuma, het gesê mense sal tussen sesuur soggens en sesuur saans buite mag oefen, maar nie in groepe nie. Alkoholverkope word van Maandae tot Donderdae tussen nege-uur en vyfuur toegelaat. Aanlyn verkope van alkohol word ook toegelaat.

Restaurante, gimnasiums en kroeë bly egter gesluit en sigaretverkope word nie toegelaat nie. Restaurante en kitskosplekke mag wel wegneemetes bedien en klante kan dit self daar gaan afhaal en hoef dit nie meer by hulle te laat aflewer nie.

Die aandklokreël word ook van Maandag af opgeskort, maar dit sal steeds onwettig wees om vir vriende en familie te gaan kuier.

..............

“Die Departement van Samewerkende Regering hou vol dat die verbod op die verkoop van tabakprodukte tydens die inperking, op wetenskaplike bewyse gegrond is. Die departement het gereageer nadat die burgerregte-organisasie AfriForum gedreig het om hof toe te gaan indien die regering nie die verbod teen 1 Junie ophef nie.”

..............

Feitlik alle besighede sal weer toegelaat word om normaal sake te bedryf. Sekere besighede, soos haarkappersalonne bly egter steeds toe.

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, sê sy is vol vertroue dat skole gereed sal wees om Maandag te heropen vir graad 7- en graad 12-leerlinge. Motshekga het skole in Centurion en Pretoria besoek. Sy sê skole landwyd het aangedui dat personeelkwessies opgelos is en die leerplan aangepas is. Motshekga het die versekering gegee dat beskermende toerusting vir onderwysers by skole afgelewer sal word voor die leerlinge terugkeer.

Hotelle en gastehuise sal steeds toe wees behalwe as dit vir kwarantyndoeleindes gebruik word. Daar mag ook vir die eerste keer weer sonder toestemming openlik tussen provinsies gereis word sodat kinders, studente en onderwysers terug by die skool kan kom.

Die Departement van Samewerkende Regering hou vol dat die verbod op die verkoop van tabakprodukte tydens die inperking op wetenskaplike bewyse gegrond is. Die departement het gereageer nadat die burgerregte-organisasie AfriForum gedreig het om hof toe te gaan indien die regering nie die verbod teen 1 Junie ophef nie. Volgens AfriForum is die verbod irrasioneel en ontneem dit rokers van hulle regte en vryheid. Die tabakorganisasie Fita is reeds besig met hofstappe teen die verbod.

AfriForum het ’n prokureursbrief laat beteken op die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, waarin die minister in kennis gestel word dat die organisasie verdere regstappe sal doen indien die rookverbod nie opgehef word nie. Die brief is ook op die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, beteken.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, sê dat daar geen rasionele grondslag vir die rookverbod bestaan nie en dat die geheimsinnigheid van die regering in dié opsig op ’n skending van die publiek se burgerregte neerkom. Roets spreek ook sy kommer uit oor gerugte dat Dlamini-Zuma vriende in die onderwêreld het wat onwettig met sigarette smokkel.

“AfriForum veg nie vir rook nie; ons veg vir vryheid: vryheid vir die gemeenskap om nie aan verregaande voorskrifte onderwerp te word nie,” sê Roets.

In die prokureursbrief versoek AfriForum dat die rookverbod opgehef word. Indien die minister nie teen 3 Junie 2020 voldoende op AfriForum se prokureursbrief antwoord nie, sal verdere regstappe oorweeg word.

Lees ook 

Oop kerke kry die wind van voor

Woedende rokers wil vuurmaak onder regering

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top