............
“Van die ontstoke rokers het ’n groep op Facebook gestig en rokers aangemoedig om hulle misnoeë tydens ’n protesoptog na die parlement te toon.”
............
Terwyl dorstige Suid-Afrikaners hulle lippe aflek om volgende Maandag in die tou te val om ’n kissie bier of bottel wyn te gaan koop, is die land se rokers op die oorlogspad. Hulle is woedend omdat hulle steeds nie sigarette of tabak mag koop wanneer vlak 3 Maandag in werking tree nie.
Sosiale media het behoorlik gegons nadat president Cyril Ramaphosa Sondagaand op nasionale televisie aangekondig het dat die verkoop van drank vir huishoudelike gebruik van volgende Maandag af weer toegelaat word, maar die verbod op tabakverkope van krag bly.
Foto: Pixabay.com
Van die ontstoke rokers het ’n groep op Facebook gestig en rokers aangemoedig om hulle misnoeë tydens ’n protesoptog na die parlement te toon. Die groep het ’n geleentheid op Facebook geskep waar hulle mense uitnooi om deel te neem aan die optog genaamd Protest march against the tobacco ban.
Volgens die uitnodiging sou die optog Dinsdag tussen 12:00 en 15:00 plaasvind. Dit is intussen uitgestel tot 2 Junie en daar word gevra dat dit landwyd plaasvind. Almal wat wil deelneem, is gevra om ’n item of kledingstuk wat die landsvlag se kleure vertoon saam te bring. Die plan was dat die betogers in enkelgelid van die parlement se hekke in Roelandstraat se rigting sal betoog met ’n veilige afstand van 1,5 m tussen hulle. Daar word nou gevra vir ’n landwye betoging volgende Dinsdag. Meer besonderhede sal glo later bekend gemaak word.
’n Ander groep op Facebook, Smokers against lockdown cigarette ban – South Africa, wou weet hoeveel van hulle meer as 30 000 lede bereid sou wees om ’n finansiële bydrae te lewer as hulle die verbod in die hof wil betwis. Die reaksie was oorweldigend. Honderde lede het aangedui hulle is bereid om by te dra vir regshulp om hulle saak in die hof te stel.
Verskeie kommentators betwis die logika agter die verbod en bevraagteken die beweerde wetenskaplike gronde dat dit help om COVID-19 te beveg.
............
“Die regering word in die week wat voorlê, deur verskeie partye en groepe hof toe gesleep om die rasionaliteit en grondwetlikheid van sy besluitneming en optrede te toets.”
............
Die aanlyn koerant Daily Maverick skryf in ’n meningsartikel dat die land se ongeveer 11 miljoen rokers die slagoffers is van die binnegevegte in die regerende party.
Volgens die koerant word die antitabakveldtog gedryf deur minister Dlamini-Zuma en diegene in die ANC wat haar veldtog teen Cyril Ramaphosa gesteun het om leier van die ANC te word. Dit is volgens die koerant ook die voorstanders van die sogenaamde radikale ekonomiese transformasie. Dit sluit glo mense in soos lede van uMkhonto we Sizwe se veterane soos Carl Niehaus en verskeie ander wat na bewering bande met onwettige sigarethandelaars het.
Die redakteur van Vrye Weekblad, Max du Preez, meen ook die voortsetting van die verbod op tabakverkope is geheel en al irrasioneel. Hy sê daar is geen wetenskaplike getuienis dat die rook van sigarette mense baie meer kwesbaar vir COVID-19 gaan maak nie. Volgens hom is dit net vermoedens en volgens voorlopige studies, net soos daar studies is wat beweer dat rokers meer immuun teen die virus as nierokers is.
“Selfs al was daar sulke klinkklare getuienis, bly die feit staan dat die meeste rokers nie opgehou rook het sedert die verbod aangekondig is nie. Verskeie opnames bewys dat meer as 9 uit 10 van die land se sowat 8 miljoen rokers steeds rook. Die nasionale inkomstediens en die polisie het herhaaldelik bevestig dat die sluikhandel in sigarette nou ontsaglik groot is.”
Al verklaring is volgens Du Preez dat Dlamini-Zuma al haar politieke mag ingespan het om haar private obsessie met rook deur die kabinet te stoomroller en dat Ramaphosa nie gevoel het hy kan haar weerspreek nie.
“Ek het geen bewys van enige onderduimsheid nie, maar Dlamini-Zuma moes seker geweet het die mense gaan skinder dat die enigste mense wat by haar belaglike verbod baat, die sigaretsmokkelaars is wat haar kandidatuur vir die presidensie van die ANC in 2017 help finansier het. Haar stiefseun, Edward Zuma, het ook bewese noue bande met van dié elemente,” het hy Maandag in sy gereelde nuusbrief aan Vrye Weekblad se lesers geskryf.
Die regering word in die week wat voorlê, deur verskeie partye en groepe hof toe gesleep om die rasionaliteit en grondwetlikheid van sy besluitneming en optrede te toets.
Lees ook
Buro: MvH