Tabakreus tree met die regering in gesprek

  • 0

......

“Batsa is die grootste vervaardiger van sigarette in die land, met meer as 20 handelsmerke, onder andere Dunhill, Kent, Rothmans en Peter Stuyvesant. Die maatskappy sê in ’n verklaring wat Woensdag uitgereik is, ‘in hierdie stadium’ is hulle bereid om met die regering saam te werk om ’n oplossing te vind vir die probleem eerder as om regstappe te doen.”

......

Volgens Netwerk24 gaan die land se grootste tabakvervaardiger, British American Tobacco Suid-Afrika (Batsa), nie meer die regering hof toe neem oor die verbod op sigaret- en tabakverkope nie. Die tabakreus gaan eerder kyk of hulle en die regering nie ’n “vredespypie” kan rook nie.

Foto: Pixabay.com

Batsa het vroeër gedreig om die regering voor die hof te daag nadat die minister van samewerkende regering, Nkosazana Dlamini-Zuma, verlede week in weerwil van president Cyril Ramaphosa se vroeëre aankondiging verklaar het dat die verbod op die verkoop van tabakprodukte onder vlak 4 van die inperking van krag bly.

In ’n onverwagse wending het Batsa Woensdag aangekondig dat hulle besluit het om eerder met die regering in gesprek te tree oor die formulering en toepassing van die regulasies. Die groep sê hulle is bekommerd oor die sluikhandel in onwettige sigarette wat te midde van vlak 4 meer as ooit floreer.

Batsa is die grootste vervaardiger van sigarette in die land, met meer as 20 handelsmerke, onder andere Dunhill, Kent, Rothmans en Peter Stuyvesant. Die maatskappy sê in ’n verklaring wat Woensdag uitgereik is, “in hierdie stadium” is hulle bereid om met die regering saam te werk om ’n oplossing te vind vir die probleem eerder as om regstappe te doen.

Een van die grootste besware van tabakmaatskappye teen die regering se verbod op die verkoop van tabak is dat daar nie genoegsame bewyse is dat daar ’n verband bestaan tussen die rook van tabak en die verspreiding van COVID-19 nie.

Hulle sê die minister van nasionale gesondheid, Zweli Mkhize, kon nog nie daarin slaag om te bewys dat daar ’n verband bestaan tussen rook en die virus nie.

......

“Op die oomblik plaas rokers hulle eie gesondheid en ook dié van hulle gesinne op die spel deur onnodig rond te beweeg op soek na sigarette wat deur onwettige handelaars verkoop word.”

......

Batsa sê in hulle verklaring hulle neem kennis van die regering se reaksie en Ramaphosa se kommentaar Maandag op hulle besware rakende die verbod. “Ons is oortuig dat deur saam te werk daar ’n beter oplossing gevind kan word wat in belang van alle Suid-Afrikaners is.”

Daar bestaan egter steeds ernstige kommer onder wettige tabakhandelaars oor die rookverbod. Onwettige sigaretverkope het die hoogte ingeskiet sedert die verbod in werking getree het. Batsa sê namate rokers se voorrade uitgeput raak, neem die onwettige verkoop van sigarette steeds toe en dit bedreig die werk van diegene wat wettig daarmee handel dryf.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het reeds R1,7 miljard verloor omdat drank en sigarette nie verkoop mag word nie. Die kommissaris van SAID, Edward Kieswetter, het Dinsdag gesê SAID beskik oor duidelike bewyse dat onwettige ekonomiese bedrywighede floreer en dat daar vanjaar ’n groter tekort aan belastinginkomste te wagte kan wees.

Batsa sê terwyl hulle die regering ondersteun in sy poging om COVID-19 hok te slaan en die verspreiding van die virus te bekamp, is dit noodsaaklik dat daar strenger opgetree word teen onwettige tabakhandel. Hulle sê die heropening van wettige, belasbare en gereguleerde tabakverkope moet deel wees van die oplossing.

Daar word voorgestel dat sigarette slegs by goedgekeurde afsetpunte verkoop mag word, waar die korrekte reëls oor sosiale afstand gevolg en toegepas word. “Op die oomblik plaas rokers hulle eie gesondheid en ook dié van hulle gesinne op die spel deur onnodig rond te beweeg op soek na sigarette wat deur onwettige handelaars verkoop word.”

Die president van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, Glenda Gray, het intussen gewaarsku dat ’n reusetoename in die getal COVID-19-gevalle in die volgende paar maande in die land verwag word. Suid-Afrika het reeds 148 sterftes en meer as 7 000 gevalle. Gray het gewaarsku dat die ergste nog voorlê en dat die uitbreking na verwagting eers in September sy piek sal bereik.

Lees ook 

Ramaphosa trap water oor rook

Dit gons oor verbod op tabak- en drankverkope tydens inperking

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top