Verskeie instansies het saamgewerk om twee jaar gelede ’n Nederlandse lespakket saam te stel wat saam met die Afrikaanse kurrikulum in die klaskamer gebruik kan word. Geen ekstra tyd hoef daarvoor ingeruim te word nie. Die pakkette is vir die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (Sasnev) vervaardig en is deur Protea Boekhuis uitgegee. Izak de Vries het met Marieta Nel, die samesteller, gesels.
Die belangrikste vraag vir enige opvoeder in ons huidige skoolstelsel: Kan onnies hierdie lespakket naatloos in hulle reeds vol kurrikulum inwerk?
As oudtaalonderwyser weet ek dat daar glad nie ruimte is vir enige ekstra werk of verryking in die propvol leerplan nie. En dis nou selfs voordat Covid ons getref het ...
Die lespakket is dus so saamgestel dat dit naatloos ’n tweeweeksiklus van die normale kurrikum vir Afrikaans Huistaal vervang.
Daar is ’n lespakket vir grade 6–11. Elkeen van die lespakkette vervang ’n spesifieke twee weke in die kurrikulum, byvoorbeeld Kwartaal 3 week 1. As die leerders in hierdie twee weke die byvoeglike naamwoord moet leer en ’n brief aan die pers skryf, is dit presies net so in die lespakket. Die enigste verskil is die tekste. Die lespakket se tekste is in Nederlands of oor die Lae Lande se taal en kultuur.
Is ek dus reg dat onnies nie ekstra tyd gaan nodig hê om die pakket in te pas nie?
Jy is reg. Dit vervang bloot die twee weke van die gewone kurrikulum. Jy sou jou hele graad ’n venster op die Lae Lande kan bied of dit dalk net vir ’n topklas vir verryking aanbied, of dit selfs gebruik aan die einde van die jaar as jy klaar is met die kurrikulum en leerders kreatief wil besig hou.
Jy was self ’n onnie, soos jy reeds gesê het. Het dit gehelp om hierdie pakket op te stel?
Vir seker. Toe ek self skool gehou het, het ek agterkom dat daar by leerders ’n nuuskierigheid oor Nederlands is, maar dat hulle vinnig afgeskrik word as hulle met net ’n letterkundeteks gekonfronteer word (soos baie van ons in ons laaste twee jaar op skool).
Met die lespakket raak die leerder al van laerskooldae af gewoond aan Nederlands met kort tekste, kort luisterbegrippe, speletjies soos Kwartet en basiese taal. Ons begin elke keer by die bekende en beweeg dan na die onbekende.
Graad 6: Aangename kennis! – Prettig met je kennis te maken!
In die graad 6-lespakket maak die leerder byvoorbeeld kennis met ou bekende karakters soos die Smurwe, Asterix en Obelix en Kuifie (Tintin). Dan volg minder-bekende karakters, byvoorbeeld Manneken Pis, die seuntjie wat sy vinger in die dyk gedruk het, en die legendariese vlieënde Hollander.
Graad 7: Koningskos – Een koningsmaal
Die laerskoollespakkette is ook baie interaktief. In die graad 7-pakket kry leerders die geleentheid om verskillende Nederlandse kossoorte te proe, byvoorbeeld stroopwafels, drop en krokette.
Graad 8: Ridders en rolmodelle – Ridders en rolmodellen
Vanuit ’n taalonderwyser se oogpunt was dit vir my verskriklik lekker om elke keer die leerders te wys op die Nederlandse oorsprong van baie van ons idiome en taalverskynsels, -beginsels en -reëls. In die graad 8-lespakket oor ridders en rolmodelle word daar byvoorbeeld gekyk na die oorsprong van ons idiome uit die riddertydperk.
Graad 9: Fietsry – Fietsen
Graad 10: Kampeer – Kamperen
Graad 11: Sprokie vir ’n stadskind – Sprookje voor een stadskind
Ons gee nie net ’n Nederlandse teks nie, maar dikwels langsaan die Afrikaanse vertaling. So byvoorbeeld is daar in die graad 11-lespakket, “Sprokie vir ’n stadskind”, ’n uittreksel uit Arno Grunberg se Tirza in Afrikaans en Engels.
Eenders en anders. Mooi titel. Hoe speel dit sigself uit in die manier waarop julle hierdie pakkette saamgestel het?
Die materiaal is so saamgestel dat dit enersyds kyk na dit wat dieselfde of eenders is in die twee tale, maar dan brei dit uit na die verskille. Die “eenders en anders” verwys nie net na die taal nie, maar ook na die kulturele ooreenkomste en verskille. In die graad 9-pakket oor fietse en graad 10-pakket oor kampering kyk ons byvoorbeeld na hoe fietsry en kampeer dieselfde in Nederland en België as in Suid-Afrika is, maar ook hoe dit verskil. Ons wys ook op die eenders- en andersheid van die verskillende groepe van die Afrikaanse spraakgemeenskap. By Afrikaanse eetkultuur in die graad 7-pakket wys ons byvoorbeeld op die verskille tussen ’n koesister en ’n koeksister.
Julle het heelwat met tegnologie gewerk. Daar is byvoorbeeld verskeie QR-kodes in die pakkette ingebou. Dit is dus nie bloot ’n enkelvlakkige pakket nie?
Nee. Dis ’n heerlike speletjie vir leerders om hulle slimfoon oor die QR-kodes te hou en dan word hulle geneem na ’n oudio-insetsel of webwerf met verdere interessante inligting. Dit was aanvanklik nie so beplan nie, maar die idee is uit nood gebore toe een van die twee koningshuise weier dat ons ’n foto van die kroonprinses plaas. Ons het toe ’n foto van die paleis geplaas met ’n QR-kode wat die leser na die koninklike webblad toe neem om foto’s van die prinses te sien.
Jy het skynbaar ’n sagplekkie vir die Lae Lande. Is ek reg?
Absoluut. Ek is baie lief vir reis en die Lae Lande is een van my gunstelingbestemmings. As student was ek op ’n uitgebreide toer deur Nederland as deel van die Jongerenprojek (’n uitruil tussen studente van Suid-Afrika en Nederland en Vlaandere). As onderwyser het ek ’n uiters talentvolle seunshokkiespan na Nederland geneem en het sedertdien seker so 20 tot 25 hokkietoere vir my eie skool en ander skole gereël. Hokkie is groot in Nederland en ons is vreeslik vriendelik deur die klubs daar ontvang. HC Rotterdam is die grootste hokkieklub in die wêreld en die Amsterdamse Hockey & Bandy Klub is die heilige graal van hokkie in die wêreld.
Tans het ek ’n lekker verskoning om gereeld nog in Nederland te kom. Ek doen ’n PhD oor Afrikaanse misdaadfiksie deur die Universiteit van Amsterdam.
Die pakket is gedryf deur die Sentrum Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (Sasnev). Dit is uitgegee en word versprei deur Protea Boekhuis. Jy is by LAPA Uitgewers se skolespan. Ons praat dus van ’n breë basis medewerkers. Waarom is ’n kennis van Nederlands tans nog van toepassing op Suid-Afrikaanse skoolkinders?
Die projek is Eureka Barnard van Sasnev se breinkind. Terloops, sy het my die heeltyd daaraan herinner dat ek net soveel aandag aan België as aan Nederland moet gee, en dit gebeur wel so.
Belangstellende skole is diep onder die indruk van wat die lespakket alles aan die leerders kan bied behalwe taal- en kulturele verryking. Nederland en België is nie net vir leerders ’n venster op Europa nie, maar bied ook vele geleenthede aan ons leerders. Ek self wat aan ’n Nederlandse universiteit studeer, is ’n goeie voorbeeld. Die moontlikhede is legio: somerskole, universitêre opleiding, uitruile met Nederlandse skole, studente-uitruile deur die Jongerenprojek. Baie Suid-Afrikaners werk ook deesdae in Nederland en België en dan sal vertroudheid met die taal en kultuur jou nogal nuttig te pas kom.
Bestellings:
Die ses lespakkette word versprei deur LAPA se skolespan. Skole wat belangstel in die pakket kan Marieta gerus kontak by mnel@lapa.co.za of by 084 511 1931.
Dit is ook te koop by Protea Boekhuis.
Dit kan ook op die amptelike webblad bestel word: https://lespakket.co.za/lespakket.
Lees ook:
Persbericht: Bekendstelling van die Eenders & Anders Afrikaans/Nederlandse lespakket en webblad