Brenda Fassie se lewe word binnekort in ’n film verewig, getiteld Brenda: The true story. Dit was egter nie maanskyn en rose om uiteindelik die groen lig te kry vir die taak nie. Daar is talle faktore wat hierdie proses vertraag het, en mens kan jou net vergaap aan al die hofsake en persoonlike struwelings wat vir bykans tien jaar gewoed het.
Die bokskryt is steeds kniediep in die bloed weens ongeruimdhede oor tantiem-regte van haar talle liedere. Wat ook aan die lig gekom het is ’n vraagstuk oor of ’n individu se lewenswerk, of eintlik hul lewensverhaal, deur iemand besit kan word.
Daar is basies vier rolspelers in die Fassie-filmsage. Haar seun Bongani Fassie, haar bestuurder Peter Snyman, Sello “Chicco” Twala aan wie 75% van haar musikale uitsette toegeskryf word, en die Britse produksiemaatskappy Showbiz Bee wat vroeër vanjaar die filmregte bekom het.
Beweerde onderduimse onderhandelinge, geldverduistering en binnegevegte van diegene wat almal ’n sny van die koek wil kry of hê, is maar net die oortjies van die seekoei. Voor die vuil wasgoed op die tafel uitgepak word, is dit belangrik om eers te kyk na die donker wolk van dwelmmisbruik en ongekende sukses wat vir twintig jaar oor haar as persoon gehang het.
Brenda Nokuzola Fassie is gebore op 3 November 1964 in Langa, Kaapstad. Sy is die jongste van nege kinders wat saam met hul ouers in haglike omstandige die lewe moes trotseer. Ten spyte van die swaarkry was musiek die bindingsfaktor van die 11-lid huisgesing. Haar ma was ’n pianis en haar pa ’n tap-danser. Reeds as vier-jarige het sy in die kerk gesing met haar ma agter die klawers. Haar pa sterf toe sy twee was en haar ma, ’n skoonmaker, is mettertyd langs haar pa begrawe onder ’n armsalige hopie grond. Twee verrotte houtplankies vertoon die name Sarah en Matthew Fassie.
Op die ouderdom van sestien verruil sy die stofstrate van Langa vir die stadsligte van Johannesburg en Soweto. Fassie het in ’n onderhoud met Dali Tambo gesê dat Soweto vir haar destyds die ekwivalent van Hollywood was. Roem was toe wel vir haar beskore met die intrapslag met die groep Joy. Sy moes vir iemand instaan by ’n konsert en die res is geskiedenis. Dit is egter haar werk saam met The Big Dudes wat haar tot die status van ’n ikoon gevestig het.
In 1983 skyn die ligte van die Goudstad ekstra helder op haar met die vrystelling van Weekend Special, haar debut enkelsnit wat handel oor haar destydse kêrel wie sy vir lang tye nie kon sien nie. Ten spyte van die swaarmoedige lirieke tref dit ’n goudaar in talle lande en nie net op eie bodem nie. Sy en haar groep toer daarna dwars oor die wêreld, insluitend: die VSA, verskeie Europese lande, Brasilië en Australia. Tydens ’n besoek aan Tanzanië is die weermag ingeroep om die skares aanhangers in toom te hou tydens ’n rit deur die stad. Na die eerste fase van kitssukses volg nog ’n paar treffers soos It’s Nice To Be With People en No No No Senor.
Suid-Afrika se eerste internasionale popster, The Black Madonna, MaBrrr, of hoe ookal daar na haar verwys word, swig mettertyd onder die druk. ’n Voorliefde vir kokaïene, sakke vol geld, vinnige motors, wilde partytjies en te veel aandag was die begin van ’n donker paadjie. Sy het een bestuurder na die ander in die pad gesteek, ’n paar keer gedagvaar deur konsertorganiseerders na sy nie opgedaag het vir konserte nie en in 1992 beboet oor sy ’n joernalis aangerand het. Sy het op ’n stadium haar huis verloor en was so diep in die skuld dat haar seun geskors is omdat sy nie skoolgeld kon bekostig nie.
Die media het vinnig haar as ’n nuuswaardige verhoogkunstenaar as’t ware opgeraap en deur die loop van haar betreklike kort lewe, haar goeie én slegte kante aan die publiek verkoop. Hier is ’n paar van haar stellings oor die bittersoet verhouding:
“You made me, I didn’t make myself. But I can’t live up to your expectations, unfortunately.”
“The more you criticize me, the more you make me better.”
“When I am dead, I don’t want to tell God that I misused this life that he gave me. So if you make me angry, then that’s your problem!”
“And most of all, thanks for making me famous and for as much as I know, you are going to break me. Don’t do that again. And I would like to tell you that I am yours, so do with me whatever you want to do. It’s ok.”
Terug by die beplande film en die kontroversie rondom die regtelik aspek. Dit is redelik ingewikkeld, maar hier is min of meer die storie:
Die hofsaak tussen Twala en Fassie se seun, Bongani, het gewentel om ’n beweerde kontrak wat Twala gesluit met die Brenda Fassie-boedel in 2012. Die ooreenkoms het bepaal dat hy die reg sou hê om ’n film oor Fassie se lewe te maak en dat die boedel materiaal beskikbaar sou stel vir hierdie doel. Verder sou hy geregtig wees op 45% van die film se opbrengste. Bongani sou 10% kry. Regter Nomonde Patience Mngqibisa-Thusi het bevind dat daar nooit so ’n kontrak gesluit is nie en die saak in die guns van Bongani beklink. Twala is steeds die hoof-aandeelhouer van haar musiek en hou vol dat ’n film oor sy protegé nie geloofwaardig gaan wees sonder sy insette en die gebruik van haar musiek nie.
Showbiz Bee het vlerkgesleep by Bongani, ’n hele paar ponde het hande verruil en die film behoort teen einde van die jaar op die silwerdoek te wees.
Brenda Fassie sterf op die ouderdom van 39. Nelson Mandela was by haar begrafnis, so-ook duisende aanhangers. Al het sy soveel skandes gemaak, brûe verbrand en selfs haar lewensmaat verloor het na hul beide ’n oordosis dwelms geneem het, kan mens nie anders as om dankbaar te wees vir haar bydra tot die Suid-Afrikaanse musiekskatkis nie.
Bronne:
- https://en.wikipedia.org/wiki/Brenda_Fassie
- https://www.theguardian.com/news/2004/may/11/guardianobituaries.southafrica
- https://www.timeslive.co.za/sunday-times/lifestyle/2019-03-31-brenda-fassie-biopic-to-go-ahead-after-lengthy-court-battle/
- https://vimeo.com/211320921
Lees meer oor nog Suid-Afrikaanse musieklegendes:
Buro: MvH