Miriam Makeba: Die vloek van "Pata pata"

  • 0

Ek sit by Innibosfees in Nelspruit. Die bisarre feite oor Miriam Makeba se lewe draal reeds vir ’n week in my kop. Hoe gee mens gestalte aan Mama Afrika se lewe binne die bestek van ’n paar honderd woorde? ’n Gepaste invalshoek, steeds ontwykend.   

In ’n oomblik van jolige wysheid maak ek almal stil aan die tafel by die gastehuis waar ek saam met ’n klomp akteurs en musikante bly. “Luister gou, almal,” vra ek. “Wat is die eerste song waaraan julle kan dink as ek sê ‘Miriam Makeba’?”

Dit reën “Pata pata” van die een uithoek van die tafel na die ander. Oud, jonk, halfdronk en halfgerook sing in ’n koor. Die bierbottels word slaginstrumente vir begeleiding en daar word vir tien minute oor en weer “feite” rondgeslinger. In die verste hoek van die tafel brom ’n stem: “Weet julle van Makeba se albino-kitaarspeler?”

“Pata pata” is geskryf in 1956 terwyl sy steeds in Suid-Afrika gewoon het, maar is eers in 1967 uitgereik en sodoende wêreldberoemdheid besorg. Dit was die eerste internasionale treffer vanuit die Afrika-vasteland. Daar is heelwat verwarring oor die ontstaan van die lied en wie verantwoordelik is vir die weergawe wat almal vandag ken.

In die eerste plek is dit, in sy oorspronklike vorm, ’n Zoeloe/Xhosa-danslied wat “Touch touch” beteken. Die danspassies behels aggressiewe en seksuele aanraking deur beide partye. Christine Lucia beskryf dit in The world of African Music: A Reader soos volg: “The male dancers stand in a row with their arms extended out to the front, palms to the floor, while the women pat each in turn in a manner resembling security search body-frisking, after which the men do the same to the women.”

Sekere bronne dui daarop dat sy dit opgeneem het saam met haar groep, The Skylarks, in 1956. Daarna is dit weer opgeneem onder leiding van Jerry Ragovoy met harry Belafonte as ’n tipe toesighoudende mentor. Die melodie van “Pata pata” is gebaseer op ’n instrumentale komposisie deur Shumi Ntutu en Isaac Nkosi. Hierdie weergawe is weer gebaseer op die lied “Noma Kumnyama” deur Alson Mkhize. Nog ’n ander kunstenaar, Masuka, het later jare ook ’n soortgelyke melodie en verwerking van die lied vrygestel en gesê dat Makeba die melodie by haar gesteel het.

Ten spyte van Makeba se sukses en die musiekkritici wat dit bestempel het as “a groundbreaking African gem” het sy dit afgemaak as “one of my most insignificant songs”.

So, aangaande die albino kitaarspeler ... Severino Dias de Oliveira, beter bekend as Sivuca, het in 1960 aangesluit by Makeba se groep as kitaar- en trekklavierspeler. Die aand na die gesprek by Innibos gaan ek op ’n internetsoektog om agter die kap van die byl te kom van hierdie interessante brokkie inligting.

Inderdaad, op vele van haar vroeër beeldopnames van oa “Pata pata” sit daar ’n man in die agtergrond aan’t tokkel op ’n klassieke kitaar. Die rede waarom ’n “wit man” in haar groep so vreemd op die oog val, is die politieke onverdraagsaamheid wat rondom haar doen en late geheers het tydens haar opgang tot ’n internasionale ster.

Sy verduidelik in ’n onderhoud in 1967 dat dit ’n rasseherrie in ’n klomp lande veroorsaak het. Veral in Swede en Brasilië, sy land van herkoms, het hulle onder baie negatiewe kritiek deurgeloop. Mense uit verskeie oorde het gevra hoekom hy saam met “Niggers” speel en gesê dat sy, Makeba, uit die land moet trap. “He isn’t really white, he is Brazilian, but he looks white because he is an albino.” In beide hierdie lande, sê sy, word daar ontken dat daar enige vorm van rassisme is.

Miriam Makeba in 1968

Hierdie is maar een van die talle voorbeelde van haar lewenslange stryd teen ongeregtigheid en vooroordeel. Die moeilikheid het haar reeds vroeg begin volg. Sy is op 4 April 1932 gebore.

Slegs 18 dae na haar geboorte word haar ma, Christina, in hegtenis geneem weens beweerde onwettige bierbrouery waarmee sy ’n inkomste verdien het.

So spandeer Miriam die eerste ses maande van haar lewe agter tralies. Haar pa, Caswell, sterf ses jaar later. Haar ouma moet haar grootmaak, want haar ma moet as huishulp gaan werk in Pretoria om die pot aan die kook te hou.

Tydens haar tienerjare sing sy in die kerk, by troues en allerlei sosiale geleenthede.

In 1949 trou sy vir die eerste keer, skenk geboorte aan ’n dogter, Bongi, en skei ’n paar jaar later weens huishoudelike geweld. Sy moes dieselfde lot as haar ma verduur deur as skoonmaker in wit mense se huise te werk.

’n Onafhanklike filmmaker, Lionel Rogosin, sien haar raak by een van haar optredes en gee haar ’n 4-minuut-kamee-rol in die film Come back, Africa. Haar vertolking besorg haar ’n toekenning by die 1959 Venice Film Festival. Dit was haar laaste sien van Suid-Afrika vir meer as 30 jaar.

Sy is hierna New York toe en na die Sharpeville-slagting in 1960 sluit haar dogter by haar aan in die VSA. Miriam se ma sterf kort hierna – op die dag waarop sy ’n telegram gestuur het om te sê dat Bongi veilig in New York aangekom het.

Nog vier egskeidings volg wat haar loopbaan op verskeie vlakke negatief geaffekteer het. Een van haar voormalige huweliksmaats was Stokely Carmichael. Hy was deel van die Black Panther-versetbeweging. Weens sy politieke agendas, asook haar uitgesprokenheid teenoor rassisme in die VSA, word hulle verban.

Sy keer eers weer in 1987 terug na die land waar sy ongekende roem verwerf het.

Miriam Makeba in 2009 (Foto: Paul Weinberg [CC BY-SA 3.0], via Wikimedia Commons)

Sy het nog talle ander terugslae beleef. Haar dogter is in 1985 oorlede. Sy was in hierdie tyd so arm dat sy nie ’n kis vir Bongi kon bekostig nie. Sy kon ook nie haar begrafnis bywoon nie weens haar ballingskap. Sy het twee keer kanker oorleef, asook ’n vliegtuigongeluk en ’n klomp motorongelukke. Die CIA en FBI het haar vir jare agtervolg na haar huwelik met Stokely Carmichael en selfs afluisterapparaat in haar woonstel geplant.

Die platemaatskappye RCA Victor en Gallotone het ’n onderduimse uitkooptransaksie beklink op die kruin van haar sukses in die VSA wat haar geheel en al beroof het van enige toekomstige tantieme van haar eerste albums.

Dit het alles met “Pata pata” begin. Die roem, die assosiasie met Louis Armstrong, haar optrede by JF Kennedy se verjaardagpartytjie (ja, die een waar Marilyn Monroe “Happy birthday, Mister President” gesing het), Fidel Castro en ander wêreldleiers se uitnodigings om by hulle onderskeie vryheidsvieringe op te tree, bewys die mag van ’n catchy melodie.

Sy het twee keer by die Verenigde Nasies se jaarvergaderings getuig oor die euwels van apartheid en voorgestel dat sankies teen Suid-Afrika ingestel word, en het ook haar roem gebruik om die Black is Beautiful-veldtog regoor die wêreld te ondersteun.

Miriam Makeba sterf op die ouderdom van 76 aan ’n hartaanval kort na ’n optrede in Italië op 9 November 2008. Die konsert is gehou ter ondersteuning van die skrywer Robert Saviano wat die Camorra-rebellegroep se moorde op ses Afrika-immigrante openbaar gemaak het. Sedert die verskyning van sy boek vrees hy vir sy lewe en leef ’n kluisenaarsbestaan op ’n onbekende plek.

Minute voor Makeba se dood was daar ’n luide applous vir ’n encore.

“Pata pata” was nie net die begin van haar sukses nie, maar ook haar laaste lied.

....................

Bronne

....................

Kyk hier na onderhoude met Miriam Makeba

....................

Lees meer oor nog ’n musieklegende, Hugh Masekela

Geagte meneer Masekela

In memoriam: Hugh Masekela

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top