"En Suid-Afrika het ’n plek vir almal": die viering van Mandela se 100ste jaar

  • 0

In Julie word die amptelike 100-jarige herdenking van Nelson Mandela se geboortedag in Suid-Afrika en oor die wye wêreld gevier, onder meer met oudpres. Barack Obama, Amerika se eerste swart president, wat die Mandela-lesing in Johannesburg kom lewer.

Die Madiba-gees wat aan’t opbou is, herinner op ’n manier aan hoe die 2010 Sokkerwêreldbekertoernooi die land in rep en roer gehad het, kompleet soos wat nou die geval is in Rusland, 2018 se gasheerland.

Omgekeerd sou ’n mens kon sê die beplande Mandela-vieringe vergoed vir die afwesigheid van Suid-Afrika se Bafana-Bafana by die Rusland-toernooi. Nogtans hierdie blye onthou-oomblik: Mandela se optrede – een van sy laastes in die openbaar – by die 2010-eindstryd, toe reeds oud, siek en broos, voordat hy in Desember 2013 op 95 afgesterf het.

Naas die viering van Mandela-dag en die gepaardgaande 67 minute goedheidsdaad waartoe mense opgeroep word en die verwagte Obama-lesing, het die Suid-Afrikaanse Reserwebank nou ook spesiale Mandela-note (R10, R20, R50, R100 en R200) en ’n spesiale R5-munt bekend gestel.

Terwyl die internasionale ikoon van versoening reeds op die voorkant van die bestaande note verskyn, word ’n jonger weergawe van hom ook op die agterkant van die herdenkingsnote gebruik – in die plek van Suid-Afrika se “Groot Vyf”: leeu, luiperd, renoster, olifant en Kaapse buffel – saam met ander ikoniese beelde van sy nalatenskap.

Maar te midde van hierdie saambindende gebeure om Mandela se lewe te vier, ook gebeure wat daarop dui dat die versoeningsprojek wat hy van stapel gestuur het steeds onvoltooid is – of dalk aan’t ontspoor is:

EFF-leier Julius Malema sê hierdie week in ’n onderhoud aan die Turkse TV-netwerk TRT dat swart mense 24 jaar ná die totstandkoming van die land se demokratiese bestel “slegter daaraan af is as onder apartheid”. En dan die waarskuwing dat as dinge voortduur soos wat dit tans lyk, ’n revolusie Suid-Afrika se voorland is.

Wat die wenkbroue egter die meeste laat lig het, is Malema se antwoord op die vraag oor of hy voorspraak maak vir ’n wit “menseslagting”. O, nee, gewis nie terwyl hy leier is nie, keer hy, “beslis nie nou nie”. En toe hy gevra word oor sommige wittes wat dit so mag interpreteer, lag hy dit af, kryt hulle uit as “cry babies”.

Hierdie uitlating volg onder meer op ’n ander veelbesproke uitlating deur ’n politieke ontleder van die Noordwes-universiteit, Theo Venter, in gesprek op radio met Carl Niehaus, woordvoerder van die ANC se militêre veterane (MKVA). Die onderwerp onder bespreking verlede week op RSG was tot hoe ’n mate die ANC as regeringsparty nog sy vorige leier, oudpresident Jacob Zuma, moes ondersteun.

Venter huldig die mening dat Zuma die huidige president, Cyril Ramaphosa, se pogings om die land se reputasie te herstel ná die Zuma-skade, wat grootskaalse korrupsie en sogenaamde staatskaping insluit, ondermyn. Maar Zuma se belewenis, het Niehaus aangedui, is dat daar onbillik teen hom opgetree word en dat die regsprosesse oor sy beweerde betrokkenheid by bedrog eensydig is; wat hom laat glo dat selfs die howe nie objektief oor die beskuldigings teen hom gaan, of kan, optree nie.

Venter aan die woord: “Wel, met so ’n albatros om sy nek – jy weet van die ondersoek na staatskaping, jy weet van die verskillende ondersoeke wat ook deur die parlement gevra word waarby Zuma baie, baie nou betrek word, want sy agt jaar en ’n paar maande is waarskynlik – en ek is bereid om so ver terug te gaan as 1910 – die swakste presidensiële periode in ons geskiedenis ... en ek sluit die apartheidsleiers daarby in.”

Dit was hierdie laaste verwysing, die vergelyking tussen Zuma en die apartheidsleiers, wat HF Verwoerd, DF Malan, John Vorster, PW Botha en FW de Klerk insluit, wat die opspraak gewek het. Niehaus, ’n uitgesproke Zuma-ondersteuner en voorheen ook Suid-Afrika se ambassadeur in Nederland, was “geskok” hieroor; en dís waarom sy organisasie die saak by die NWU-bestuur aanhangig gemaak het.

Venter word nou deur die universiteit ondersoek oor hierdie, in die woorde van die rektor prof. Dan Kgwadi, “onvanpas” en “onsensitiewe” uitspraak van hom.

Dit is dieselfde beskrywing wat ’n ruk gelede gebruik is om die twiets deur die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, af te keur waarin sy gesê het kolonialisme was nie net negatief nie. Haar standpunt was gegrond op die beskikbaarheid vandag van onder meer lopende water uit krane, infrastruktuur en ’n onafhanklike regbank.

Die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, het Zille die afgelope week skuldig bevind daaraan dat sy die etiekkode vir lede van die uitvoerende gesag oortree het en eis dat daar teen haar opgetree word. Hieroor skyn regsgeleerdes dit eens te wees dat die OB haar mandaat oorskry, dat sy mistas met haar bevinding en dat die kwessie veel eerder deur ’n waghondorganisasie soos die Menseregtekommissie ondersoek moes word.

Waarop sowel die Malema-uitlating as dié deur Venter en Zille en die OB se hantering van die Zille-saak dui, is dat Madiba-land steeds gestrooi is met ras-landmyne; dat die een boodskap wat Madiba in lewe probeer oordra het, die een doelwit wat hy die graagste wou bereik, nog nie voltrek is nie.

“We have made it very clear in our policy that South Africa is a country of many races,” het hy in die 1960’s gesê, rondom dieselfde tydperk toe hy lewenslank tronk toe gestuur is. En reeds tóé het hy benadruk: “There is room for all the races in this country.”

Maar dit skyn alte dikwels asof dié realiteit nog nie by die Malemas ingesink het nie. Sonder om dus die EFF-leier se onsinnighede te probeer wegverduidelik of – bid jou dit aan! – probeer regverdig, is dit ook belangrik om ag te slaan op ’n ander aanhaling van Mandela, naamlik: “The world remains beset by so much human suffering, poverty and deprevation.”

Dit is waarna die Malemas wys wanneer hulle uitvaar teen wit mense: dat die “human suffering, poverty and deprevation” wat miljoene swart Suid-Afrikaners steeds ervaar, meegebring is deur kolonialisme en apartheid.

Sowel Zille en Venter se verwysings na (of verheerliking van?) onderskeidelik kolonialisme en apartheidsleiers as Malema se blatante rassisme skreeu daarom ewe hard, ewe onsensitief en ewe plofbaar, téén Madiba se ideale van versoening en nasiebou.

Die 100-jarige vieringe van sy geboortedag bied aan elkeen van hulle, en elkeen van ons, ’n geleentheid om die Madiba in ons te ontdek.

Lees ook

Madiba at 100, South Africa at 24

Mandela-dag 2018: Luisteren naar Afrika

Nelson Mandela geëerd met vredeswandeling door Den Haag

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top