Titel: Eo
Regisseur: Jerzy Skolimowski
Geskryf deur: Ewa Piaskowska en Jerzy Skolimowski
Hoof van fotografie: Michal Dymek
Hoofspelers: Hola, Tako, Marietta, Ettore, Rocco en Mela as Eo
Tale: Pools, Italiaans, Engels en Frans met Engelse onderskrifte (ook “Donkiaans” sonder onderskrifte)
Diegene wat my goed ken, sal weet dat ek ’n heilige vrees vir Poolse films het. Die Pole se films is so mooi, maar ook onuitspreeklik hartseer. Hulle is skynbaar nie in staat om ’n gelukkige film te maak nie.
Eo het my egter laat besluit om dit tog weer te waag.
Dankie tog, of dalk, donkie tog, ek is bly ek het. Nee, Eo het ook nie ’n gelukkige einde nie, wees nou al gewaarsku, maar jinne, dis ’n goeie film.
Vreemd, maar so mooi
Eo is ’n sirkusdonkie. Die meisie wat saam met hom optree, Kasandra (gespeel deur Sandra Drzymalska), het hom lief en beskerm hom wanneer die mans hom afknou.
Eo is steeks – hy is immers ’n donkie – en dan word hy geslaan. As Kasandra kan, keer sy.
Die sirkus word bankrot verklaar en Eo word aan ’n perdeplaas verkoop. Daarna word hy gestuur na ’n skool wat met kinders werk wat Downsindroom het. Hy is gelukkig hier, maar wanneer Kasandra hom een aand kom opsoek, verlang hy en begin agter haar aan hardloop.
So beland Eo op ’n wandeltog wat hom beide vreugde en baie pyn sou verskaf.
Hy het ’n onderonsie met die brandweer, word onverwags ’n sokkerheld en ervaar dan net daarna erge pyn, toegedien deur die opposisie se sokkerboewe.
Die verhaallyn is egter nie belangrik nie. Dit is die manier waarop Eo die mens waarneem op sy reis wat hierdie film laat uitstaan.
Moenie Babe verwag nie
Ek het destyds Babe saam met my seun gaan kyk. Dit gaan oor ’n pratende varkie wat kommentaar lewer op die mense, ook die feit dat hulle vleis eet. Eo is baie anders. Dit is ’n Poolse film met ’n hoë ouderdomsperk. Dié donkie praat nie, maar hy neem waar.
Die regisseur laat ons toe om met slim filmwerk deur Eo se oë te kyk. Ons mag selfs sy drome waarneem.
In ’n duidelike eerbetoon aan Philip K Dick se roman Do androids dream of electric sheep?, wat op sigself weer aanleiding gegee het tot films soos Blade runner, droom Eo selfs van ’n robothond.
Nog eens, dit is ’n kunsfilm, nie een gemaak vir kinders nie, so jy moet mooi kophou.
Die filmtegnieke en die gebruik van kleur gee wel vir die kyker ’n duidelike aanduiding van wanneer ons Eo waarneem, en wanneer Eo ons waarneem.
Michal Dymek se liefde vir hommeltuie is sigbaar, en van die mooiste tonele word so vasgevang. (Deon Meyer sou dit geniet.) Soms laat Dymek egter die kamera skynbaar aan ’n donkie hang wat loop. Als skud en die fokus is nie altyd 100% nie. Tog, alles werk saam, danksy puik redigering én klank. Eo is ’n kunsfilm wat hoog aanbeveel word.
Klank en musiek
Eo is ’n film oor ’n donkie, dikwels vertel deur die donkie se oë.
Daar is dus min dialoog tussen mense, maar wanneer daar wel dialoog is, kan jy maar luister. Soms is dit Kasandra wat mans vra om Eo nie te slaan nie. By ’n ander geleentheid probeer ’n Poolse lorriebestuurder ’n prostituut uit Afrika uit haar situasie red (baie soos mense Eo probeer red); ’n ander keer kom ons agter dat Eo se een redder ’n baie donker verlede het.
Vir baie minute op ’n slag is daar egter geen mense of mensstemme hoorbaar nie. Eo neem waar en die musiek vertel ’n eie storie.
Die klankbaan is puik, en die gebruik van geluide is angswekkend goed. Dit is ontstellend wat mense aan diere doen – ons hoor dit dikwels as geluide wat visueel te hartseer sou wees om te vertel.
’n Moderne sprokie
Diegene wat Marita van der Vyver se werk volg, sal weet dat sy haarself diep in die broers Grimm se oorspronklike sprokies ingegrawe het. Daardie verhale was nie sag en pienk met Hollywood-ponies in nie. Hulle was hard en kru en het baie te sê gehad oor die mens, al is daar dikwels van dierekarakters gebruik gemaak.
Eo speel ook met die beginsel van daardie oorspronklike, harde sprokies. Die film word uiteindelik ’n blik op mense van die 21ste eeu deur die oë van ’n donkie. Ons word geweeg en dikwels te lig bevind, want ons glo ons moet oor die diere heers.
Eo het by die 75ste Cannes Film Festival gedebuteer, waar dit die jurieprys met Le otto montagne (In Engels The eight mountains) deur Felix van Groeningen en Charlotte Vandermeersch gedeel het. Eo is ook vir ’n Oscar benoem.
Ek is deksels bly ek het hierdie film gewaag. Eo is ’n Poolse film wat ek sowaar ’n tweede keer sal kyk wanneer ek die kans kry.
Hierdie, en baie ander films, was deel van die European Film Festival. Ondersteun hulle gerus; teken nou al in op hulle nuusbrief, sodat jy volgende jaar kan saam kyk: https://www.eurofilmfest.co.za.
- Beeldmateriaal: IMDB
Lees ook:
Close, ’n beeldskone film uit België | European Film Festival 2023
Narcosis, ’n hartseer film uit Nederland | European Film Festival 2023