Suid-Afrikaners gaan die nuwe jaar voel-voel die donker binne met geen idee wanneer en vir hoe lank die ligte gaan brand nie.
Selfs president Cyril Ramaphosa se belofte die einde van verlede jaar dat daar van 17 Desember tot 13 Januarie geen beurtkrag sou wees nie, was ’n leë belofte. Die voormalige redakteur van Financial Mail, Barney Mthombothi, het op Twitter gesê Ramaphosa behoort die persoon wat hom so ’n blatante leuen vertel het, in die pad te steek.
Cyril should fire whoever made him to tell such a blatant lie https://t.co/DLet60gUj5
— Barney Mthombothi (@mthombothi) January 5, 2020
Ramaphosa se belofte dat daar tot ten minste 13 Januarie geen beurtkrag sou wees nie, het ook uit verskeie ander oorde sterk kritiek uitgelok. ’n Ingenieur, Pieter Muller, het in reaksie op Mthombothi se twiet gesê hy het ineengekrimp toe hy verlede maand Ramaphosa se aankondiging van geen verdere beurtkrag oor die feesseisoen hoor.
“Mens kan eenvoudig nie so iets waarborg nie. Masjiene breek en omstandighede verander. Sê dan liewer geen beplande beurtkrag nie maar moenie absolute stellings maak oor wat ’n stelsel sal doen of nie, want daar is talle moontlikhede wat kan gebeur,” het hy getwiet. In sy aankondiging het Ramaphosa gesê Eskom se bestuur het hom die versekering gegee dat daar geen beurtkrag in hierdie tyd sal wees nie.
Hy het ook gesê tot in Maart sal Eskom alles in sy vermoë doen om die kragnetwerk se stabiliteit te herstel.
Ntuthuko Hlanguza het op Twitter gesê president Ramaphosa se belofte laat hom magteloos en sonder rigting voorkom. Hy sê dit laat hom na ’n grap lyk in ag genome sy vorige uitsprake oor die saak wat ook nie realiseer het nie.
Die land was verlede naweek geskok toe Eskom in die middel van die vakansieseisoen uit die bloute aankondig dat fase-2 beurtkrag verlede Saterdagaand van 22:00 tot 08:00 Sondag ingestel sou word. Die verskoning was ’n vervoerband wat glo by die Medupi-kragstasie onklaar geraak het.
Sondagoggend het Eskom in ’n twiet aangekondig dat fase 2-beurtkrag tot Maandagoggend 05:00 sou duur.
’n Onafhanklike energiekenner, Chris Yelland, het aan Netwerk24 gesê hy vind dit verbysterend dat beurtkrag in die week met die laagste vraag na krag in die hele jaar nodig was. Hy sê dit lyk nie asof Ramaphosa se sogenaamde “krygsraad” vir Eskom enigsins in die vakansietyd vergader het nie, wat dit laat lyk asof die regering steeds nie verstaan hoe groot die noodsituasie by Eskom is nie.
Na ’n hele naweek van wipplank ry oor daar dié week beurtkrag sal wees of nie, het Eskom aangekondig daar word geen beurtkrag vir Maandag voorspel nie ondanks druk op die Eskom-stelsel.
Eskom het verbruikers gevra om krag spaarsamig te gebruik en sê hulle sal die land op hoogte hou oor die toestand van die land se kragnetwerk.
#POWERALERT 1
Date: 06 January 2020No loadshedding expected today, despite a constrained and vulnerable system pic.twitter.com/c9KZfj3CXb
— Eskom Hld SOC Ltd (@Eskom_SA) January 6, 2020
Eskom het ook wenke op sosiale media geplaas om verbruikers aan te moedig om krag te spaar. Hulle vra dat mense liewer die koue kraan gebruik sodat die warmwaterstelsel nie elke keer hoef aan te skakel as iemand ’n kraan oopdraai nie. Ander besparingsmaatreëls sluit in die afskakel van ligte wat onnodig brand, swembadpompe, lugversorgers en die gebruik van energiebesparende gloeilampe.
#UseElectricitySmartly Save electricity and costs with these useful tips 👇🏽 pic.twitter.com/u508kNXWW4
— Eskom Hld SOC Ltd (@Eskom_SA) January 6, 2020
Kenners waarsku dat die land hom moet gereedmaak vir baie meer kragonderbrekings in die komende jaar.
Theuns Eloff van die FW de Klerk-stigting sê ingeligte bronne in Eskom wys daarop dat die bose kringloop wat in Eskom met regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging begin is en deur kaderontplooiing vererger is, steeds in volle swang is.
Lees ook
Buro: MvH