Eskom hou SA in die duister met verskonings

  • 0

Keelvol Suid-Afrikaners glo Eskom hou die land letterlik en figuurlik in die duister.

Die kragvoorsiener het die afgelope week wipplank gery soos daar paniekerig van die een na die volgende fase oorgeskakel is om die ligte te probeer aanhou en te keer dat die hele netwerk in duie stort. Eskom hou egter vol die situasie is onder beheer en dat beurtkrag bestuur word. 

Foto: Pixabay.com

Vertragings by die Medupi-kragsentrale, wat al 11 jaar in aanbou is, natgereënde steenkool, ’n dieseltekort en die afgelope dekade se gebrek aan onderhoud is maar enkele van die verskonings wat Eskom die afgelope week opgedis het om die publiek te probeer sus oor waarom daar beurtkrag is.

Die DA-leier, John Steenhuisen, het op Twitter gesê hy dink nie Suid-Afrikaners word die volle waarheid vertel nie. “Dit is tyd dat die president oop kaarte speel met die mense van Suid-Afrika oor wat regtig aangaan en wat ons kan verwag,” het hy gesê.

Cyril Ramaphosa, wat te midde van die kragkrisis sy buitelandse besoek aan Egipte moes kortknip, het probeer om Suid-Afrikaners se gemoedere te kalmeer. Hy sê hy het begrip vir die woede en frustrasie. Ramaphosa sê dit is noodsaaklik dat al die betrokkenes saamwerk om die nodige kragtoevoer in die kortste moontlike tyd te herstel. Hy het ook ’n beroep op die publiek gedoen om elektrisiteit spaarsamig te gebruik.

Die DA het gevra dat Ramaphosa moet afsien van sy besoek aan Egipte. Die party sê die president moet na die land terugkeer om leiding te gee in die beurtkrag-krisis wat die land self veroorsaak het.

Intussen word die land se ekonomie drasties deur die aanhoudende beurtkrag geraak. Selfs die myne is tot stilstand gedwing. Een van die land se grootste diamantmynmaatskappye, Petra Diamonds, het Dinsdag aangekondig dat hy sy bedrywighede in Suid-Afrika tydelik opskort weens die omvang van die kragonderbrekings.

Eskom het Petra gevra om hul elektrisiteitsverbruik by hul drie myne in Cullinan, Kimberley en Koffiefontein tot die minimum te beperk. Mynwerkers is bogronds geneem buiten diegene wat noodsaaklike dienste lewer. Petra sê hy sal die mark inlig oor wat die invloed van dié stap op die maatskappy se prestasie sal hê.

Nog mynmaatskappye moes hul bedrywighede staak weens beurtkrag wat sedert Maandag meer dikwels toegepas word. Sibanye Gold het sy oggendskof opgeskort. Impala Platinum in Rustenburg verbied sy werkers sedert Maandag om ondergronds te gaan. Dié mynmaatskappy sê dat verskerpte beurtkrag ’n groot terugslag vir alle produsente is.

Dit lyk ook nie of daar gou ’n lig vorentoe in die donker tonnel is nie. Die ongekende stap om Maandag vir ’n kort tydperk fase 6-beurtkrag te implementeer, het die vrees laat toeneem dat die land al hoe nader aan ’n totale landwye kragonderbreking beweeg.

“Die land betree nou ongekarteerde terrein wat vernietigend sal wees vir die ekonomie, werkskepping en groei,” het die DA-leier Johann Steenhuisen Maandagaand gewaarsku toe daar na fase 6 oorgeskakel is. Soos baie ander Suid-Afrikaners het hy gesê die verskoning van nat steenkool is net nie goed genoeg nie en dat die regering aan Suid-Afrikaners moet vertel wat regtig aan die gang is.

Netwerk24 berig dat inwoners van Kaapstad ook sonder water kan sit weens die afwesigheid van krag vir waterpompe oor lang tydperke, soos met fase 6-beurtkrag. Kaapstad se inwoners is gewaarsku dat hulle dalk nie water sal hê nie indien fase 6-beurtkrag sou voortduur.

Eskom het Maandag onvoorwaardelik om verskoning gevra omdat fase 6- beurtkrag, en daarna fase 4, geïmplementeer moes word.

Intussen het Eskom belowe dat beurtkrag van volgende week af vir die res van Desember onwaarskynlik is, omdat die meeste fabrieke volgende week sluit. Dit sal glo die vraag na elektrisiteit skerp laat daal en Eskom die geleentheid gee om stukkende kragstasies te herstel.

Gewone Suid-Afrikaners spot egter sonder ophou met Eskom en glo nie meer ’n woord wat hulle woordvoerders sê nie.

 

Lees ook 

Eskom vrot van die skuld

Land gis of nuwe Eskombaas die ligte kan aanhou

Suid-Afrikaners in duister oor Eskom se planne

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top