Land gis of nuwe Eskombaas die ligte kan aanhou

  • 0

Die persoon wat Suid-Afrika se kragvoorsiener Eskom van ondergang moet help red en toesien dat die land se ligte aanhou brand, se aanstelling is dié week met gemengde reaksies begroet.

Suid-Afrika se twee grootste politieke partye (ANC, DA) het André de Ruyter se aanstelling as Eskom se nuwe uitvoerende hoof verwelkom. Die derde grootste party (EFF) meen egter die aanstelling van ’n wit man in dié pos is rassisties, irrasioneel en instrumenteel in die privatisering van Eskom en die land se ander strategiese bates.

Foto: Pixabay.com

Die EFF se woordvoerder, Mbuyiseni Ndlozi, het die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, daarvan beskuldig dat hy semi-staatsondernemings soos Eskom ondermyn met De Ruyter se aanstelling. Die EFF beweer sy aanstelling is die nuutste voorbeeld van minister Gordhan se “rassistiese projek” om swart Suid-Afrikaners tot ondergeskikte posisies te negeer.

Die departement van openbare ondernemings het Maandag die hele land verras met ’n mediaverklaring dat De Ruyter op 15 Januarie in die pos sal begin. Hy beskik oor ’n LLB- en ’n MBA-kwalifikasie en is tans bestuurshoof van die verpakkingsmaatskappy Nampak. 

Die ANC en die DA het sy aanstelling verwelkom. Die DA glo dat De Ruyter se uitgebreide ervaring hom in staat sal stel om die beleërde kragvoorsiener reg te ruk. Die party sal die verwikkelinge by Eskom dophou en doen ook ’n beroep op De Ruyter om in die beste belange van die kragvoorsiener en die publiek op te tree.

Die ANC se woordvoerder, Pule Mabe, sê die party is tevrede met die aanstellingsproses wat gevolg is. “Die ANC wens De Ruyter voorspoed toe in sy nuwe pos en verseker hom van die party se ondersteuning om Eskom weer op ’n gesonde ekonomiese koers te bring en genoegsame energievoorsiening aan die Suider-Afrikaanse streek te verseker.”

Die National Union of Mineworkers (NUM) het kapsie gemaak oor die feit dat De Ruyter ’n graad in die regte het en nie ’n ingenieurskwalifikasie nie. Die vakbond sê dit impliseer dat hy aangestel is om Eskom te ontbondel en privatiseer, en nié om die kragvoorsiener van ondergang te red nie. Die NUM se koördineerder vir die energiesektor, Paris Mashego, sê die Eskom-raad wat in Januarie aangestel is, bestaan ook uit sakelui wat nie verstaan hoe kragopwekking werk nie.

Die onafhanklike energiekenner Ted Blom het ook kritiek teen André de Ruyter se kwalifikasies uitgespreek sowel as die proses wat met sy aanstelling gevolg is. Minister Pravin Gordhan het tydens Maandag se mediaverklaring gesê De Ruyter se aansoek was een van 142 aansoeke vir die pos. Sy aanstelling is eers ná verskeie rondtes van onderhoudvoering gemaak. Maar, met die probleme wat Eskom ondervind, is dit noodsaaklik om iemand met ’n ingenieurskwalifikasie aan te stel, sê Ted Blom. Hy is ook verras dat die Eskom-raad self by die aanstelling betrokke was.

Gewone Suid-Afrikaners was oor die algemeen positief oor die aanstelling en wil hom graag ’n kans gee.

Ander was egter skepties en meen slegs ’n wonderwerk kan Eskom nog red.

.........

Lees ook 

Cyril paai maar Eskom is in sy maai

Woede en frustrasie na beurtkrag matriekeksamen ontwrig

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top