Cyril paai maar Eskom is in sy maai

  • 0

Terwyl president Cyril Ramaphosa buitelandse beleggers Woensdag met ’n Springbokwapen aan sy lapel welkom geheet het in “die land van die kampioene” moes Suid-Afrikaners hoor die kragreus Eskom is besig om verder ten gronde te gaan.

Eskom het gewaarsku dat die kragnetwerk onder ernstige druk is en dat beurtkrag vir die soveelste keer Suid-Afrikaners se voorland is en op kort kennisgewing ingestel kan word.

Die kragvoorsiener sê in ’n verklaring verskeie eenhede het by die steenkoolkragsentrales onklaar geraak. Die hoeveelheid opwekkingsvermoë wat verlore is, beloop ongeveer 12 000 megawatt (MW) as gevolg van die onbeplande terugslag.

Daar word tans van noodstelsels gebruik gemaak om die land se ligte aan die hou.

Foto: Pixabay.com

Eskom sê selfs al probeer hulle om die nodige reserwes weer op te bou, beteken die langdurige gebruik van die noodstelsel dat die kans op beurtkrag al hoe groter word.

Suid-Afrika se gemiddelde energieverbruik in die somermaande beloop ongeveer 30 000 MW. Eskom kan die vraag na krag nog behartig indien ’n maksimum van 9 500 MW se opwekkingvermoë onverwags verlore sou gaan. Met die ongeveer 12 000 MW wat tans verlore gaan, is dit letterlik nag, omdat selfs die noodstelsels dit nie onbepaald kan hanteer nie.

............

Eskom het ’n beroep gedoen op verbruikers om krag te spaar en stel voor mense moet:

  • Lugversorgers op ’n gemiddelde temperatuur van 23 grade Celsius stel. 
  • Warmwatertoestelle tydens spitstye afskakel. 
  • Kouewaterkrane gebruik sover moontlik sodat die warmwatertoestelle nie onnodig hoef aan te skakel nie. 
  • Swembadpompe stel om twee keer per dag drie uur op ’n slag te werk om maksimale energieverbruik te verkry.

............

In sy toespraak voor die sowat 1 500 plaaslike en buitelandse beleggers en sakelui het president Ramaphosa gesê die land se ekonomie is op die regte koers en op pad na herstel.

Ramaphosa het erken die beskikbaarheid en stabiliteit van kragvoorsiening is krities belangrik. Hy sê die staat sal dringend daaraan werk om Eskom se enorme skuldlas te verminder.

Hy het voornemende beleggers by die tweede presidensiële beleggingskonferensie in Sandton verseker dat daar planne in plek is om Eskom by te staan. Hy sê ’n nuwe bestuurshoof sal binne die volgende paar dae aangestel word terwyl die kragvoorsiener binnekort geherstruktureer gaan word.

Eskom skuld sy krediteure meer as R400 miljard en kan nie eers die rente op sy skuld delg nie.

Die benarde toestand by Eskom is een van die redes waarom die kredietgradeerder Moody’s verlede week aangekondig het dat hy Eskom se skuld wat nie deur die staat gewaarborg word nie, nog verder afgradeer tot die derde laagste vlak.

Eskom is ook die grootste rede waarom Moody’s die vooruitsig van die land se kredietgradering van stabiel na negatief verander het.  

Moody’s het in hulle hersiening van Eskom se kredietgradering gewaarsku dat reddingsboeie, staatswaarborge en die talle regrukplanne nie juis hond haaraf sal maak om Eskom te red nie.

Ramaphosa het toegegee dat staatskaping die land duur te staan gekom het en sê die regering is vasbeslote om ’n einde daaraan te maak, dinge reg te ruk en die land se ekonomie weer op te bou.

...........

Lees ook

Platsak Eskom waarsku oor kragonderbrekings

Eskom se korrupsie kos Suid-Afrika miljarde 

Suid-Afrikaners in duister oor Eskom se planne

Eskom se ligte brand al flouer

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top