Eskom hou publiek aan die raai oor ’n donker Kersfees

  • 0

Eskom probeer sy bes om die kersfeesligte tot ten minste vroeg volgende jaar sonder beurtkrag te laat brand, maar kan niks belowe nie.

Eskom het Dinsdag gesê hy voorsien nie dat beurtkrag vandeesweek ingestel sal word nie. Die woordvoerder van Eskom, Dikatso Mothae, sê die kragnetwerk is wel steeds onder druk. Sy het ’n beroep op die publiek gedoen om elektrisiteit spaarsamig te gebruik. Mothae het gewaarsku dat beurtkrag weer op kort kennisgewing ingestel sal word in geval van onverwagte of ongewone gebeure.

Dié halfhartige belofte dat die land se ligte oor die feesseisoen sal brand, volg nadat president Cyril Ramaphosa vroeër die maand belowe het daar sal geen beurtkrag wees tussen 17 Desember 2019 en 13 Januarie 2020 nie.

Hy het die versekering gegee nadat die land verlede week onverwags met fase 6-beurtkrag gekonfronteer is. Eskom sê hy is “betreklik” seker dat hy die belofte van geen beurtkrag oor die feestyd sal kan handhaaf. Die publiek en die vakbond Solidariteit is egter skepties of Eskom sy belofte gestand kan doen.

Solidariteit het Dinsdag gesê Ramaphosa se belofte dat geen verdere beurtkrag oor die feesseisoen ingestel gaan word nie maak hulle bekommerd. Solidariteit se energiehoof, Deon Reyneke, het volgens Netwerk24 gesê Ramaphosa se belofte kan te veel druk op kragstasies plaas.

Foto: Pixabay.com

Hy sê die land sit met ou kragstasies wat nie behoorlik in stand gehou is nie en nou beloof die president daar gaan geen beurtkrag wees oor die feestyd nie. Volgens Reyneke is dit dieselfde situasie soos in 2010 met die Sokker-Wêreldbekertoernooi toe “die kragstasies stukkend gery” is.

Hy sê Eskom het toe soveel druk op die kragstasies geplaas wat reeds instandhouding benodig het dat daar meer skade aan hulle aangerig is. Volgens Reyneke moet Eskom eerder beurtkrag toepas waar nodig en sorg dat die kragstasies wat diens nodig het behoorlik in stand gehou word om so gou as moontlik weer aan die gang te kom.

Eskom se bedryfshoof, Jan Oberholzer, het Sondag in ’n onderhoud in Rapport aan Hanlie Retief gesê hy kan verstaan waarom Suid-Afrikaners so keelvol is vir Eskom. Hy het ook toegegee die hoofoorsaak vir die afgelope tyd se beurtkrag is nie sabotasie of reën of enige iets anders in dié verband nie.

“Na 12 jaar se verwaarlosing van die kragstasies is ons stelsel onvoorspelbaar en onbetroubaar. Ek praat nie van ’n pleisterplak nie, ek bedoel werklik diep instandhouding is nodig,” het hy aan Retief gesê.

Verskeie Suid-Afrikaners het hulle misnoeë oor die toedrag van sake by Eskom op Twitter uitgebasuin.

Baie mense was ongelukkig omdat daar op verskeie plekke in die land vir lang tydperke geen krag was nie, ten spyte daarvan dat beurtkrag vir die afgelope langnaweek opgeskort is.

Die kabinet het intussen die hoop uitgespreek dat die nuut aangestelde Eskom-baas, André de Ruyter, wat veronderstel is om Eskom se leisels op 15 Januarie 2020 oor te neem, vroeër kan begin werk om die kragvoorsiener te help stabiliseer.

Lees ook 

Eskom hou SA in die duister met verskonings

Land gis of nuwe Eskombaas die ligte kan aanhou

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top