Eybers-keur wys veral haar Amsterdamse gedigte het blywende seggingskrag

  • 0

’n Nuwe keur van 134 gedigte uit Elisabeth Eybers se oeuvre van meer as 900 gedigte is saamgestel en onlangs uitgereik as Immigrant. ’n Keuse uit die gedigte van Elisabeth Eybers. Die samesteller is die literator Ena Jansen. As deel van die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam se aanlyn boeke-en-skrywersprogram Boeken uit het Huis het sy met die letterkundige Martina Vitackova oor Eybers se werk, haar vriendskap met haar en die werk aan die bloemlesing  gesels. Die Kaapse debuutdigter en skrywer Veronique Jephtas het op haar beurt van haar ervaring van Eybers se digkuns vertel en werke voorgelees.

 “Een van die allerbelangrikstes”

Jansen beskou Eybers as een van die belangrikste vrouedigters en een van die allerbelangrikstes in Afrikaans teen die agtergrond van ’n taal wat “ongelooflik bevoorreg is met uitstekende digters”.

“Wat baie besonders is van Elisabeth Eybers is dat sy so ongelooflik vinnig en gou deurgebreek het tot die hoofstroom van wat op daardie stadium die belangrikste Afrikaanse digters was. Mense soos NP Van Wyk Louw en WEG Louw. Dit was tipies daardie mense wat bekendgestaan het as die Dertigers. So, vir Eybers om in haar laat tienerjare tot hierdie selekte geselskap deur te dring was iets wat haar eintlik haar lewe lank verbyster het.”

Afrikaanse en Nederlandse lesers

Eybers (1915–2007) het vir 46 jaar in Suid-Afrika gewoon en die tweede helfte van haar lewe in Amsterdam. In die gang van haar klassiek geworde oeuvre het sy sowel Afrikaanse as Nederlandse toppryse gewen terwyl sy deurgaans in Afrikaans bly skryf het nadat sy in 1961 geëmigreer het. In Nederland en Suid-Afrika het bundel ná bundel van haar gelyktydig verskyn. Altyd presies dieselfde Afrikaanse gedigte van haar is uitgegee eers by Van Oorschot, toe by Querido in Amsterdam, en hier in Suid-Afrika is die Amsterdamse bundels uitgegee deur Human & Rousseau, het Jansen gesê.

Al het Eybers in “Brief in Januarie” geskryf dat “selfs die geringste woord wat emigreer / moet risiko en onbegrip trotseer”, blyk dit haar poësie het veel “risiko en onbegrip” ruim oorstyg en dat in 2021 haar Amsterdamse werk aan relevantheid en seggingskrag geensins ingeboet het nie; inteendeel. Vir Jansen is die gedigte wat Eybers begin skryf het vandat sy 46 jaar oud was, eintlik wel die belangrikste in haar oeuvre.

...
Taal word vir haar eintlik al hoe belangriker, die metaforiese implikasies van ’n nuwe geografiese ruimte, vreemde mense ... dit begin sy uitbuit in haar poësie.
...

Inspirerende buitestanderskap

Nadat Eybers in die sestigerjare na Amsterdam verhuis het, het sy te midde van kulturele, akademiese en ekonomiese boikotte teen Suid-Afrika in Afrikaans bly skryf en is daarvoor meermale bekroon in sowel Suid-Afrika as in Nederland, iets waarop Jansen gewys het.

 “Sy bevind haar tussen vreemdelinge, in ’n vreemde taalomgewing, en tog kies sy daarvoor om in Afrikaans te bly skryf. Taal word vir haar eintlik al hoe belangriker, die metaforiese implikasies van ’n nuwe geografiese ruimte, vreemde mense ... dit begin sy uitbuit in haar poësie. Eybers het bly dig totdat sy oor die 90 jaar oud was. Dit is ’n baie lang oeuvre; sy het 21 bundels gepubliseer.”

Eybers was alreeds ’n gevierde digter in Suid-Afrika, maar die feit dat sy met die gedigte wat sy in Amsterdam sou skryf uiteindelik ’n oeuvre van meer as 900 gedigte opgebou het, wys net hoe inspirerend daardie buitestanderposisie vir haar was, het Jansen gesê.

’n Rigtende skakel met Nederland

“Haar eerste bundel het verskyn toe sy 21 was, in 1936, Belydenis in die skemering. En toe woon sy nog vir 25 jaar in Suid-Afrika. In Suid-Afrika het sy vier kinders grootgemaak en sewe digbundels gepubliseer. Haar huwelik met ’n sakeman het egter uitgeloop op ’n egskeiding en sy het besluit op 46-jarige leeftyd dat sy wil uitwyk na Amsterdam,” het Jansen vertel.

“Nou dis ’n vreemde keuse eintlik om te maak. Jy weet, Afrikaanstalige Suid-Afrikaners het eintlik meer tuis gevoel, op ’n manier, in Engeland. Maar die rede hoekom sy Amsterdam toe gegaan het, was dat daar ’n baie belangrike Nederlandse uitgewer was, Geert van Oorschot. Van Oorschot het in 1957 van haar Versamelde gedigte gepubliseer van wat op daardie stadium haar versameling was. Eybers was eintlik ontsettend gevlei deur al die aandag van ’n belangrike Nederlandse uitgewer. Hierdie Versamelde gedigte is baie goed ontvang en toe sy dus skei, besluit sy sy gaan vir ’n jaar Amsterdam toe. Sy het haar jongste kind, Jeanne, saam geneem. Haar drie ouer kinders was op kosskool of selfs op universiteit en toe kom sy aan in Amsterdam. En ja, dit was ’n verskriklike tyd vir haar. Sy het in onderhoude vertel dat in die eerste jaar wat sy daar was, het sy 10 kg gewig verloor. En sy was al ’n slanke vrou. Sy het dikwels gepraat oor die ellende van heimwee, die moeilikheid van immigrant wees.”

Toewyding en vriendskap

Jansen was goed bevriend met Eybers, maar was eers eintlik formeel met haar in verbinding.

“Daar was lank gelede ’n vrouetydskrif met die naam Sarie Marais wat vir my gevra het toe ek op 23-jarige leeftyd in Amsterdam gaan studeer het om ’n onderhoud met haar te voer. En dit was kort voordat sy 60 was. Ek was 22 of 23, Elisabeth Eybers 60. Ek matig my aan, maar ons het van mekaar gehou en het eintlik ’n vriendskap, nie heeltemal van die begin af nie, gehad. Ek het ná tien jaar in Nederland teruggekom Suid-Afrika toe en het by Wits gaan klasgee, die plek waar sy studeer het.

“Ek het op ’n stadium skielik besef as ’n akademikus moet jy die een of ander tyd jou PhD skryf. Toe dag ek maar ek is uitstekend toegerus om ’n proefskrif oor Elisabeth Eybers te doen. Jy weet, ek ken haar twee wêrelde; ek ken Nederlands oukei, ek ken Afrikaans natuurlik goed, en wat is dit wat so intrigerend is in haar werk dat sy dit reggekry het om twee leserspublieke te boei?

“Ek het uiteindelik my proefskrif oor haar geskryf. Afstand en verbintenis was die handelsuitgawe. En ek het heeltemal ’n ander soort boek gemaak wat Eybers se wêreld vir sowel haar Nederlandse as Suid-Afrikaanse lesers verduidelik, en deur die jare het ek baie artikels oor haar geskryf.”

Immigrant is die vierde bloemlesing van Eybers se gedigte wat deur Jansen saamgestel is.

“Baie jare van my lewe het ek eintlik gewy met groot plesier aan Eybers se werk en ek het ook die voorreg gehad om regtig baie goed bevriend met haar te wees teen die einde van haar lewe.”

Rondom Immigrant

Vitackova het daarop gewys dat die bloemlesing verskyn het ná ’n lang tyd dat daar ’n boek van haar eers in Suid-Afrika uitgegee word. Verskyn daar nog ’n uitgawe vir die Nederlandstalige mark?

Jansen het gesê sy weet nie presies hoekom daar in hierdie spesifieke geval nie kontak tussen die Nederlandse en Suid-Afrikaanse uitgewery was nie.

"Ek vermoed dit het te make met die feit dat hierdie bundel, hierdie bloemlesing, verskyn in ’n reeks, en soos jy weet, Martina, dis absoluut lieflike boekies. Dis so ’n boekie met ’n leeslintjie, dis hardeband. Daar het soortgelykes in ’n reeks verskyn met gedigte van Breyten Breytenbach, gedigte van Ingrid Jonker en van Antjie Krog. Ek dink dis omdat Human & Rousseau hierdie reeks het dat hulle nie noodwendig in hierdie geval vir Querido genader het nie. Daar was ook, in die verlede, ’n bloemlesing soos Klinkklaar.”

Sy het twee bloemlesings getiteld Uit en tuis saamgestel, waaronder een saam met die letterkundige Hans Ester, eweneens ’n kenner van Eybers se werk.

Het Jansen nuwe dinge ontdek of dink sy oor sommige dinge anders ná meer as 30 jaar gelede aan die begin van haar akademiese loopbaan? het Vitackova gevra.

Vir haar proefskrif het Jansen gefokus op die gedigte wat Eybers in Amsterdam geskryf het, het sy gesê. "Ek het eintlik daardie eerste sewe bundels van haar nie regtig goed geken nie. Ek ken so half die klassieke gedigte wat voorgeskryf is wat opgeneem is in bloemlesings wat vir ons op skool voorgeskryf is. Ek ken die gedig 'Maria' byvoorbeeld; ek het 'Busrit in die aand' geken; 'Wespark', daardie gedig oor die begraafplaas, maar ek het eintlik nie veel aandag gegee aan haar vroeër gedigte nie. So vir hierdie bloemlesing wat oor haar hele oeuvre moes gaan, het ek baie goed gaan kyk ook na die vroeër gedigte, maar ek moet sê hulle is vir my nogal tydsgebonde. Dis nie gedigte wat my só aanspreek nie.”

Indeling en tematiek

“Eybers is deur mense soos DJ Opperman in sy proefskrif ‘Digters van Dertig’ beskryf as die ‘vroulike komponent van Dertig’. Sy skryf as jong meisie, sy skryf as jong getroude vrou, sy skryf as moeder, sy skryf later as teleurgestelde vrou. Daar is byvoorbeeld ’n bekende gedig, ‘Verhaal’, met die sin ‘die vrou het stil geword van baie wag’. Daardie gedigte is inderdaad nogal vroulik op ’n manier. Dit is ook gedigte wat nog in ’n baie ouer tipe woordeskat geskryf is. Hulle het nie só tot my gespreek nie,” het Jansen gesê.

Immigrant bevat sowat ’n derde van Eybers se gedigte wat sy geskryf het voordat sy weg is uit Suid-Afrika. Dit kom eintlik ooreen met sewe bundels in Suid-Afrika geskryf en 14 in Amsterdam, het sy gesê. “’n Derde van my bloemlesing is Suid-Afrikaanse gedigte en twee derdes is haar Amsterdamse gedigte. Ek het dit nie só gekies nie, maar kwalitatief kon ek die regverdig.

“As bloemleser kies jy die gedigte wat jou aanspreek, wat jou gunstelinge is. Dis ’n soort stempel wat jy as ’t ware wil afdruk, maar ook nie dat jy aan ander mense wil opdwing wat jy dink die enigste Eybers is nie. Die uitgewer se opdrag was op ’n manier aan my: Probeer ook jonger lesers wen vir Eybers.

“Eybers is ’n klassieke digter. Sy het eintlik vir omtrent 80 jaar gedigte geskryf en nooit ouderwets geword nie. Haar onderwerpe het al hoe meer gegaan oor goed soos om ouer te word. Sy skryf altyd op ’n afstandelike, ironiese manier daaroor, maar ook ongelooflik ontroerend. Sy skryf byvoorbeeld êrens hoe mens die lewe, hoe ouer jy word, vashou soos ’n porseleindun bord (‘Pas op’). Almal om jou begin te sê ‘Pas op, pas op, jy gaan val, jy gaan seer kry.’ En sy verstaan, sy weet, sy ervaar dit. Sy het later ook ’n hele klompie gedigte geskryf oor hoe meer gebeur dit dat jy val. Ons weet dit van ons ma’s en oumas. Dat sy dan onthou hoe sy as kind neergesmak het op die Wes-Transvaalse grond en nou, as ouer persoon, skryf sy dan die kuns waarin sy haar nou bekwaam, is val, om te laat los, om nie meer daardie greep te hê van jeug, van ’n toekoms wat voorlê nie. Sy sê ook wat agter haar lê, strek steeds groter en dwingender uit en dit bepaal al hoe meer waaroor sy skryf.”

Vir Vitackova is dit dan ook duidelik dat Jansen haar gedigte lees as persoon, as vrou, as vriendin en as kennis, maar ook as akademikus, en vind hierdie kombinasie heel interessant. Sy wou graag weet hoe die bloemlesing ontstaan het.

Jansen het gesê Nèlleke de Jager is die uitgewer van hierdie reeks by Human & Rousseau, “en hulle wou baie graag hê dat ek dit sou doen; ek was gevlei.” Jansen vertel sy het soveel jare van haar lewe met Eybers gewerk, maar die afgelope jare was sy weer baie besig met ’n heeltemal ander onderwerp, vir ’n boek met die titel Soos familie wat gaan oor hoe Suid-Afrikaanse huiswerkers in die letterkunde voorgestel word, "’n fassinerende projek wat ek jare mee besig was". Soos familie was die eerste weergawe, toe is dit in Nederland ook uitgegee as Bijna familie, en toe deur Wits University Press as Like family, Jansen se eie vertaling. Om daarna terug te kon gaan na Eybers se werk, om haar “eintlik weer ’n ruk in haar poësie in te verdiep” was vir haar ’n groot plesier.

Verantwoording

Vitackova het genoem dat dit opvallend is dat Jansen eintlik “heeltemal afwesig is in die bloemlesing; daar is geen voorwoord of nawoord” nie. Jansen het toe genoem dat as ’n mens so ’n keuse maak, is jy baie betrokke daarby en wíl jy dit eintlik verantwoord.

"Byvoorbeeld vir Klinkklaar en vir die ander twee bloemlesings is daar ’n nawoord, inleiding. So, ja, dit was die keuse van die uitgewers gewees. Dis net die flapteks voor en agterin wat ek geskryf het. En wat elkeen van die samestellers (in die betrokke reeks oor Afrikaanse digters) geskryf het. Dis miskien bietjie ’n gemiste kans, want soos ek sê, ’n mens wil eintlik verantwoording gee van hoe jy tot hierdie keuses gekom het. Maar miskien, jy weet, jy wat my uitvra hieroor, Nèlleke de Jager en ek het ’n lang onderhoud gedoen, Melt Myburgh het vir Voertaal ook ’n lang onderhoud gevoer, dan kry ’n mens tog as 't ware informeler ’n geleentheid om te sê hoekom het jy dit so gedoen.”

Sou Jansen gevra word om so ’n bloemlesing te doen vir ’n Nederlandstalige mark, sou sy dieselfde gedigte kies of sou sy dit aanpas vir jong Nederlandstalige lesers? wou Vitackova weer.

"Ek dink ek sou presies dieselfde gekies het. Kyk, die bundel is nie net op jong lesers gerig nie. Maar miskien kan ek so sê: Die titel wat ek gekies het, Immigrant, is ook omdat ek dink dit baie, jonger lesers sal aanspreek. Baie Suid-Afrikaners, soos julle weet, veral jongmense, is weg uit die land. Ek het ook al gesê hierdie boekie is ’n ideale soort present vir die oumas en oupas wat dit vir hul kinders oorsee kan stuur.

...
En dis eintlik ’n soort las wat van jou afval. As jy net ’n lessenaar om jou het. Jy het nie meer jou hele entourage van jou verlede by jou nie.
...

Migrante-ervaring verwoord

“Eybers was nou wel 46 toe sy Amsterdam toe gegaan het, maar sy verwoord absoluut daardie ervarings van die ekspat. As ’n mens gaan kyk na die teorie in verband met mense wat skryf en weggaan uit hulle land, daar is ’n groot groep, die sogenaamde Exil-skrywers, die Duitse, veral Joodse skrywers wat weg is (uit Duitsland) tydens die Tweede Wêreldoorlog. Dis ’n baie belangrike groep skrywers.

“In Nederland ken ons almal Haffid Bouazza (1970–2021) en Abdelkader Benali. Dit is almal mense wat kom uit Marokko. Daar’s Turks-, Somalies-Nederlandse skrywers. Die migrante-ervaring is in Nederland ook baie bekend, en verwoord deur hierdie Marokkaans-Nederlandse skrywers byvoorbeeld. Amerika ken baie migranteskrywers. So Eybers pas as 't ware in by die verwoording van die ekspat-ervaring.

“Eybers is nie om politieke redes gesê sy moet weggaan uit die land nie. Daar is ’n belangrike groep swart Suid-Afrikaanse skrywers, soos Mongane Wally Serote, mense wat moes weggaan uit Suid-Afrika. Jeremy Cronin het ook. Maar Eybers het vrywillig gegaan. Maar tog, of jy nou vrywillig gaan en of jy geforseer word om te gaan, daardie bewuswording, die bewussyn van weg wees, van heimwee, van geïsoleerd voel van jou taal, van jou vriende, van jou familie, is baie dieselfde. Terselfdertyd is dit iets wat swaar op ’n skrywer druk. Maar aan die ander kant is dit ook iets wat baie stimulerend werk.

“En dis eintlik ’n soort las wat van jou afval. As jy net ’n lessenaar om jou het. Jy het nie meer jou hele entourage van jou verlede by jou nie. Daardie ervaring van doelgerigtheid – net jou skryfwerk en jy en die nuwe ervarings ... dit kan enorm positief eintlik werk.”

Sy het Hugo von Hofmannsthal aangehaal vir wie blootstelling aan ’n ander taal die uitwerking op ’n mens se eie taal het van ’n blom wat aan die verwelk was wat dan as snyblomme in vars water herlewe.

Vitackova het bevestig dat Eybers vir haar heel herkenbare gevoelens en ervaringe beskryf.

"Los van jou eie nasionaliteit en die land waar jy beland, die ervaring van ’n vreemde land en ’n ander konteks is heel herkenbaar.”

“Presies, so baie Nederlandse, Vlaamse, Europeërs, Amerikaners ... dit is ’n universele tipe belewenis nou,” het Jansen gesê.

Keuse van gedigte

Was die feit dat Jansen Eybers persoonlik geken het, iets wat die saamstel van die bundel makliker of juis moeiliker gemaak het?

“Ek dink nie dit maak juis ’n groot verskil nie. Dis nie dat sy byvoorbeeld sekere van haar gedigte afgestoot het of nie meer agter hulle gestaan het nie,” het sy gesê. “Ek en sy het nie regtig baie oor haar werk gepraat nie.” Oor die algemeen hou sy van Eybers se werk sonder dat dit noodwendig is omdat sy met haar bevriend was, het sy gesê.

“Maar sekere goed kan ek invul – sy het byvoorbeeld ’n pragtige gedig, ‘Deesdae’, geskryf wat gaan oor haar kleinseun. Want dis grappig om te weet hoe lyk Jasper, watse soort seuntjie was hy. Hy is natuurlik nou ’n volwasse man.

“Ek kan inskat as sy plotseling, op 50-jarige leeftyd liefdesgedigte skryf, dan weet ek wie is die persoon wat hierdie gedigte geïnspireer het. Maar dit maak nie saak nie. Dit is liefdesgedigte of dit is gedigte wat gaan oor afskeid ... sy skryf oor baie emosies.”

Jansen tipeer Eybers se gedigte as “baie direk” en “emosioneel intens”. “Eybers het altyd gesê sy hou van ’n streng vorm, maar sy het baie keer gewone spreektaal gebruik. Sy gebruik dit egter enorm kompak. Vir Eybers moes gedigte goed klínk, maar ook in ’n streng vorm pas – dis nie lang meanderende gedigte nie. Dis kragtige, bondige gedigte.”

“Uitsig op die kade”

Vitackova het haar gevra om ’n Eybers-gedig voor te lees wat tot haar spreek.

“Keer op keer kom ek op ’n gedig met die titel ‘Uitsig op die kade’. Dis vir my werklik een van haar kragtigste gedigte wat ook heelwat mense aangespreek het. Ek dink dis omtrent drie keer getoonset. Nie dat sy vreeslik gehou het van toonsettings van haar gedigte nie. Maar dit is net ’n aanduiding van hoeveel mense aangespreek is daardeur.

“Ek was baie dikwels by haar op die stadionkade, so ek weet presies waar sy gewoon het toe sy hierdie gedig geskryf het. Die kade is eintlik ’n soort grag voor haar huis daar in Amsterdam-Suid wat uitgekyk het op water. Hoe ouer sy geword het, hoe meer beperk het haar lewe geraak in ’n sin, het sy gesê, dat sy eintlik in ’n tweekamerspeelruim is en dat haar waarnemings al hoe meer gerig word deur die kleinheid as ’t ware van haar waarnemingsvermoë. Maar nou skryf sy oor wat sy sien vanuit hierdie woning.”

Uitsig op die kade

Nouliks vertolkbaar wat hulle my vertel,
spreeus, eksters, meeue, eende, kraaie, al
die ywerige dagloners van die wal,
die reier so afgetrokke opgestel.

Ek mis myself steeds minder. Ek bedoel:
as steeds meer buitedinge my gaan boei
dan sintels van inwendige gevoel
tintel dit of ek selfafstotend groei.

Vermindering neem waarneembaar toe. Ek hoop
om te voldoen aan omgekeerde bloei
en leeg genoeg te loop om vol te loop
met wat vanuit hierbuite binnevloei.

“Dit is eintlik ’n soort Boeddhistiese gedig. Van ’n oopstelling na die wêreld buite haar sodat sy haarself oopstel. Hierdie gedig is eintlik ’n soort saamloop van iemand wat intens waargeneem het en ook intens haar eie gevoelens dopgehou het. Maar teen die einde van haar lewe al hoe meer besef dit raak minder maar dis nog so baie wat vir my boei. Dit bly vir my ’n verskriklike mooi gedig wat ek eintlik nooit genoeg van kry nie.”

Eybers en portretkuns

Op ’n vraag oor die voorblad van Immigrant het Jansen gesê hulle het met opset na ’n foto gesoek wat kom uit die tyd toe Eybers Nederland toe is. “Dit is geneem deur ’n Johannesburgse fotograaf met die naam Leon Levison. Eybers het ’n besonder aansprekende gesig gehad.” Jansen het ook verwys na foto's van Eybers wat geneem is deur fotograwe aan die orde van Wim Ruigrok en Bert Nienhuis. “En Marlene Dumas het byvoorbeeld ’n pragtige skildery gemaak van haar, dis meer as ’n meter groot. ’n Pragtige portret. In tydskrifte en koerante soos NRC Handelsblad of de Volkskrant of de Standaard; enige van die koerante in Nederland en België wat onderhoude met haar wou voer, wou nie maar net die geskrewe onderhoud hê nie, hulle het regtig die moeite gedoen om goeie fotograwe ook saam te stuur. Dieselfde geld as jy dink aan die foto's van Antjie (Krog), Breyten (Breytenbach), hulle is ook baie fotogenies. As jy dink aan die pragtige portrette van Henk Serfontein van Wilma Stockenström. Daar is net eenvoudig skrywers wie se voorkoms ook lesers baie boei.”

Werke van watter ander digters sou sy graag wou bloemlees?

“Ek sou graag my hand wou waag aan ’n keuse uit Marlene van Niekerk se werk en Wilma Stockenström s’n. Dis albei digters wat ek vind op hierdie stadium uitstekende kandidate is vir ’n mooi bloemlesing.”

Debutante en Eybers

Jephtas het op haar beurt vertel dat sy die gedigte van Eybers die eerste keer raakgeloop het op hoërskool en van graad 8 af toenemend. “Later van tyd het ons die gedigte begin ken soos die palms van ons hande. En dit was vir my altyd fassinerend hoe die Afrikaans-onderwysers en die Engels-onderwysers die gedigte ontleed het. En om te sien die gedig ‘Busrit in die aand’ gaan oor baie meer as net mense wat op ’n bus ry, en huis toe gaan en moeg is.

“If someone had to ask me, vyf jaar terug om ’n gedig from the top of my head net so te sê, sou ek dit kon doen, want dit was rêrig soos ’n Onse Vader-tipe ding in die Afrikaanse klas.”

Was die gedig “Busrit in die aand” die Eybers-gedig wat die meeste tot haar spreek of is daar nog ander gedigte waarmee sy ’n persoonlike band het? het Vitackova gevra.

“‘Busrit in die aand’ is definitief die gedig wat ek die beste ken, dié gedig wat my dadelik terugvat skoolbanke toe. Ek is ’n sucker vir poetry, so alle gedigte het vir my so ’n tipe van ’n seer en ek hou van ’n seer. Noem my mal as julle wil. Ek hou van ’n tipe pyn en om te lees van iemand anders se pyn. En dis wat Eybers se gedigte in dit het. Die enigste rede hoekom 'Busrit' vir my uitstaan, is dat dit die een is wat ek al so lank ken. En om selfs na ’n bloemlesing te gaan was vir my soos wow! Ek voel half dom dat ek nie meer moeite gemaak het om te gaan soek, om te gaan lees, om op my eie moeite te maak om bekend te raak met al hierdie digters nie.”

Vanjaar is Jephtas se digdebuut Soe rond ommie bos gepubliseer. Eybers was ook jonk toe sy gedebuteer het. Jansen het gesê sy was 21. Jephtas is 23. En uiteindelik tel die oeuvre van Eybers 21 bundels. Het sy soortgelyke planne? Waaraan werk sy nou? wou Vitackova by Jephtas weet.

“Op die oomblik is ek besig met my kortverhaalbundel wat ek begin het in die Paulet Huis tydens my skrywersresidensie daar. En dis nie gedigte nie. Kortverhale is nie gedigte nie, en ek kom dit agter. Maar hopelik kan ek dit goed doen.”

Inspirasie

Soek Jephtas inspirasie vir haar eie skryfwerk, gedigte of kortverhale by ander skrywers en digters, en is daar gedigte van Eybers wat haar persoonlik aangespreek het en waarmee haar eie werk dalk in gesprek tree?

“Ek soek te alle tye inspirasie. Alhoewel ek my eie styl het, alhoewel ek my eie ding doen, kan ’n mens nie in iets gaan sonder om te besef nie, oukei, daar is mense op wie se skouers ek staan. Ek hou van die manier waarop digters dinge doen, sodat ek kan kyk wat is die 'wenresep' en soort van kan ek my eie spice ingooi. Ek lees baie, ek skryf baie. En ’n gedig in die bloemlesing wat vir my in gesprek tree met “bly nog ’n rukkie” in my bundel is die enigste gedig wat gaan oor liefde wat mens kan sien ek maak oop, ek praat bietjie oor myself ... ‘Papier is geduldig’ het vir my uitgestaan, ook ‘Pas op’. Dis verskriklik hartseer, dis hoekom ek daarvan hou.”

Vitackova het genoem dat Eybers ná haar vertrek na Nederland aanhou skryf het in Afrikaans. Jephtas skryf in Kaaps. Sou sy in enige ander variëteite van Afrikaans wil skryf?

“Afrikaaps is my moedertaal en Afrikaans is vir my net ’n baie, baie besonderse taal. En ek skryf in standaard. Dis net wanneer ek uit my eie mond uit praat of ’n karakter uit ’n mond uit praat wat uit ’n omgewing uit kom wat rondom my is, dan is dit Kaaps, dan is dit baie eg aan die karakter. Baie eg aan my.”

Jephtas het “Busrit in die aand” en “Papier is geduldig” voorgelees en afgesluit met haar eie gedig “briekie kettangs los” uit haar debuutbundel. Sy vertel Soe rond ommie bos is verse in “protesvorm vir bruinwees, vrouwees in Suid-Afrika, born-frees”.

“En van die eerste gedig af tot en met die laaste een is ek besig om te skree en te skel en ek gaan tekere. En ‘briekie kettangs los’ was vir my so ’n gepaste gedig om die bundel mee af te sluit wat gesels oor hare, wat gesels oor slawerny. In een gedig skryf ek om dinge te verander moet mense gedigte skryf al lees niemand meer regtig nie. Ek sal sê dis ’n vertroosting vir myself omdat ek nou net geprotest het oor al die goed en dan weet ek môre gaan alles weer dieselfde wees. So die laaste gedig is soort van ’n gebed.”

briekie kettangs los

vekoep en vemoo was ôs oorie ocean
oorie ocean wat my hare laat krul
sodra ’n drop an my kop raak
oorie ocean wat my starag maa sieke nade trek mettie golwe
diep genoeg vi my om te vesyp
sonne dattie wit man my stoot
jare van ja baas en nee baas
jamme baas, dis my bloed
dié maand is daa niks bloed
jare van my kettangs wat langer raak soesie siklus
jare van velang narie grond
die sand
jare van roes
en sit mettie kroes.

In vraetyd het Jansen verwys na ’n gesprek met ’n ander, betreklik onlangse Afrikaanse debutant, Azille Coetzee. “Sy het onlangs teruggekom uit Amsterdam en sy het ’n boek geskryf, In my vel. En ek het een aand opgetree saam met haar by ’n leeskring, en toe het dit my opgeval hoe Azille se boek eintlik vir ’n nuwe generasie baie van die tipes onderwerpe behandel waarmee Eybers in haar gedigte besig was. Ons het ’n fantastiese gesprek gehad waarin daar juis tussen hierdie jong filosoof-skryfster se werk en Eybers pragtige verbande te trek was.

“Hoe is Eybers relevant vandag? Daar is nie ’n kwessie oor nie. Sy is relevant as ek net onthou en terugdink aan daardie gesprek tussen Azille en my en Eybers wat eintlik uit die coulisse as ‘t ware saampraat.”

...
Eybers verwoord dikwels ervarings van mense, of jy nou self ’n moeder is, of jy self verdrietig is, of jy self siek is of bang is vir die dood of as jy besig is met jou kleinkinders ver weg.
...

Amsterdamse gedigte deurslaggewend

Op ’n vraag wat die toeganklikste bundel van Eybers vir ’n Nederlandstalige publiek sou wees, het Jansen benadruk eintlik ál dié wat sy geskryf het nadat sy in Nederland aangekom en in Amsterdam gaan woon het in 1961. “Maar ek dink die mees toeganklike, die mees bruikbare bundel is maar Immigrant, want daarin is ’n seleksie. Jy kan na Einder gaan kyk, Teëspraak, Verbruikersverse, maar dit is almal bundels wat ’n baie spesifieke snit uit haar lewe verteenwoordig.

“Kyk gewoon in Immigrant en kyk gewoon watter fase van Eybers se werk tot joune spreek.

“Eybers verwoord dikwels ervarings van mense, of jy nou self ’n moeder is, of jy self verdrietig is, of jy self siek is of bang is vir die dood of as jy besig is met jou kleinkinders ver weg. As jy Eybers lees, jy gaan êrens iets vind wat vir jou op jou lewe van toepassing is.”

Jansen verwys na Eybers se gedig “Woordeloos” waarin sy skryf oor hoe dit sou wees as digter om nie meer woorde te hê nie. “Sy het voortdurend gespeel met daardie ding van getye, van wêrelde wat as’t ware in teenstelling is, maar dat watter tyd jy jou ook in bevind, in watter plek jy jou ook bevind, dat jy jou ook weer kan indink waar is die ander, dís vir my iets baie moois van Eybers: die aanwesig stel van die afwesige. Immigrant pas ook daarby. Jy’s in ’n ander plek, jy’s afwesig van waar die mense is wat vir jou omgee in jou land van herkoms, maar jy is aanwesig so. Kyk wat Eybers daaroor geskryf het.”

  • Op Donderdag 30 September om 16:00 op Zuid-Afrikahuis se kanaal op YouTube gesels PP Fourie, skrywer van ’n Hart is so groot soos ’n vuis, saam met die Afrikaanse vertaler Marius Swart en die Nederlandse vertaler Peter Bergsma.

Lees ook:

Elisabeth Eybers, die vrou met ’n blou fiets in Amsterdam

Schrijver Hafid Bouazza overleden

Persbericht: Gouden Ganzenveerlaureaat 2020 – Abdelkader Benali

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top