"Ons het dit verstaan as ’n taal van onderdrukking maar toe besef dit is ook onse taal. Ek dink en droom in die taal so ek kan netsowel daarin sing." ‒ Frazer Barry
Kleinmond is bekend vir ’n paar goed: Proteas, afgetrede Stellenbosch-intelligentsia, Oupa se Boekwinkel, DF Malherbe en 4x4’s in die strate in Desember. Hierdie tyd van die jaar, word die dorp ’n stad. Motoriste wys vir mekaar middelvinger in spitsverkeer (12h00—13h00), die roomystrok blêr iets uit ’n vervalle speaker box en trustfund babies “cheers!” en gil partytjie-lingo met elmboë in die lug.
Tydens die ander drie seisoene sal jy wel iets anders hoor: Stilte.
Dit is in hierdie afwesigheid van stadsgeruis in die Overberg-distrik waar Frazer Barry sy klanke seelug voer.
Hy is bekend as musikant, skrywer en voorsanger van Tribal Echo wat twee hoogsuiteenlopende albums op die rakke het: Grafte Opppi Vlakte en Onner Afrika Son. Hy was onlangs in Nederland vir die Festival voor het Afrikaans en ook as deel van die veelbesproke teaterstuk Krotoa: Eva van de Kaap. Hy het die klankbaan geskep vir hierdie produksie en ook self op die verhoog verskyn met allerlei selfgemaakte instrumente.
Daar is ’n egter ’n beduidende kloof tussen Barry se stilte-filisofie en Grafte Opppi Vlakte. Die swaar kitare op hierdie album knak eers jou knieë en net sodra jy orent wil kom, tref ’n stewel van ’n paar rhymes jou tussen die tande:
Hy was oppad na die skool
Hy wou ’n dokter word
Maar die koeël van ’n gangster het sy lewe verkort
So help me God
Is dit dan onse lot
Onse kinners hettie victims geword van ’n powerstruggle ennie trane vloei.
Hoor die stemme van ons mense wat huil
Onnodige Grafte Oppi Vlakte
As ’n gebaar van dankbaarheid dat jy braaf genoeg was om na hulle eerste album te luister, help Tribal Echo jou weer op die voete met hulle tweede album Onner Afrika Son. Die elektriese kitare is nou veilig in die kluis en wanneer jy viole en saksofone hoor sal jy weet dit is die cue vir stoftrap en skoffel onder die, wel, Afrika son.
Sy jeug was besaai met talle uitdagings wat hom die gravitas verleen om sy boodskap in klankgolwe te laat skree. Sy pa het selfmoord gepleeg toe hy nog ’n baba was en op sestienjarige ouderdom het hy op straat geslaap. Musiek en woorde was ten einde sy redding. In die jare voor 1994 het hy grootliks net in Engels gerymklets as ’n doelbewuste rebellie teen Afrikaans. Hy was op die frontline van die ANC-jeugliga en reg vir aksie. Hy verduidelik dat Mandela op die ou einde die hele ding disarm het en sy besluit tot ’n mate beïnvloed het om in Afrikaans te begin skryf.
"Ons het dit verstaan as ’n taal van onderdrukking maar toe besef dit is ook onse taal. Ek dink en droom in die taal so ek kan netsowel daarin sing. Tydens apartheid was daar natuuurlik ’n openlike protes en skielik was daar hierdie ontwaking in die vorm van taal. Ek het op ’n dag al my Engelse lirieke weggebêre en toe ’n paar lines vir die ouens gegooi en toe besluit ons maar hier hierdie is lekker. Dis ons taal en ons hoef nie skaam te wees nie."
Tydens die onderhoud het ek met hom gesels oor sy voorliefde vir die klank van stilte, bulderende kommentaar oor sosio-politieke kwessies en die klank van tradisionele khoi-instrumente. Sy kommentaar weerspieël die vorm en tongval van sy lirieke: kort fragmente van denke wat oor tyd gestroop is tot die been.
Musiekgeheue en klanke in Kleinmond
in klein dorpies is klanke maar skaars
da’s min voertuie wat ry
g’n stedelike noise nie
jy kan enige tyd van die dag ’n walvis hoor balk
die stilte dra eintlik die geraas
as kind was my kop vol klank
dan het ek weggekruip en net geluister
klankgolwe het ’n groot impak op my gehad
ek was ingetune
my emosies was in daai sounds
emotions en musiek:
die tydlyne waar deur mens beweeg
die time frame waarin jy jouself bevind
dit als bepaal hoe jy musiek hoor
wanneer jy iets hoor en dit bêre
maak jou brein imprints daarvan
en so kan ons time travel met musiek
ons onderskat die soundbank in ons breins
van vrugwater tot ons oudag
word alle klanke gespons
wanneer mens create, moet wag vir ’n response
van iewers af
iets kan nie met niks praat nie
en wanneer jy daai response kry
dan het jy die song wat jy moet skryf
Jy speel een chord, like a D major
dan speel jy dalk ’n F
dan kom da’ iets anders uit jou breins
mens weet nie altyd hoe hierdie goed werk nie
Ek het ’n song vir my vrou geskryf
ek het gehoop en gebid en gesmag
na die regte ding om vir haar te sê
en all of a sudden
da’ maak dit musikaal en ritmies sin
diep emosies is nie maklik
da moet ’n resep in jou wees
om dit in musiek oor te sit
daai resep:
dit beweeg in die stilte
dit beweeg in die omgewing
dit beweeg binne jou
Die klanklandskap en instrumente van die Khoi
Die Khoi-taal het vier hoofklanke
dis eintlik die taal van die diere en ons het dit by hulle gekry
dis plofbare klanke
dit boots water, veld en wind na
dis gegrond in die natuur
soos ’n dier se taal
taal vir die khoi was hulle technology
die manier hoe hulle beweeg het in die veld
die manier waarop hulle gecommunicate het tydens jag
hulle moes inblend
hulle jagboog was ook hulle musiekinstrument
alles was connected deur klank
vandag is ons net so afhanklik van klank
Hulle het baie minimalisties gelewe
imagine jy het net een snaar om musiek mee te maak?
Hulle het harmonics uit daai snaar gepluk
die wind nagemaak
dreunsang en meimering: dis hulle klank gewees
En you know, van Riebeeck het gesê:
Die taal klink soos ’n kalkoen wat roggel
Taal en musiek is vir my een
as jy die taal gehoor het
het jy reeds ’n groot deel van die musiek ook gehoor
Foto's: verskaf
Die Krotoa-toneelstuk en die verlede van ons land
My klankbaan versterk vier elemente van Krotoa
wind, see, spanning, twyfel
Ek het ses of sewe instrumente op die verhoog:
’n bamboesboog
’n rainstick
blikviool
kitaar
die accordian het die Europese deel verklank
daar is baie geestelike elemente in die play
ek kon my verbeelding gebruik
Krotoa is ’n verskriklike storie
Suid-Afrikaners deel ’n terrible geskiedenis
wat de hel het ons voorvaders aangevang?
dis nie net bruin mense wat nou ontwaak nie
dis almal
ons is so diep in die gemors
dis ’n process om daar uit te kom
Die beauty daarvan is dat Suid-Afrikaners slimmer raak
ek sou myself nooit twintig jaar gelde khoi genoem het nie
ek kan mos my identity kies
my DNA praat die hardste
Van links: Frazer Barry, Bianca Flanders en Kees Scholten in Krotoa: Eva van de Kaap (Foto: Koert Tomasini)
Sy heilige bewondering vir bamboes
Daai ding hou nie op met lewe nie
wanneer hy uitspoel is hy ’n papperige stuk vel
hy kan nie uitgebrand word nie
as kind het ons daarin gekook
hy reageer op hitte
hy reageer op dinge om hom
baie soos die mens
sy acoustic property is goed
jy kan baie tones uit hom kry
Die veranderende faktore van bamboes
dit is wat my facinate
ek het een wat ek heilig hou in ’n sakkie
Bronne:
Tunes Live podcast: 17/07/2018
https://tunesstudio.co.za/2018/07/17/frazer-barry/
Ingrid Glorie: Frazer Barry: “Ik heb ervoor gekozen om Khoi te zijn" 11/10/2018. Voertaal: Litnet
https://voertaal.nu/frazer-barry-ik-heb-ervoor-gekozen-om-khoi-te-zijn/
KLOP! Onderhoud: Frazer en Deniel Barry. 8/05/2018
https://youtu.be/46rLjcTFuj8
Lees ook
Buro: MvH